Trauma: Die eie en die groep s’n

In hierdie uitgawe berig ons oor die skokkende voorval in Secunda waar ’n dominee handgemeen ge­raak het met ’n inbreker ten aanhore van meer as dertig ander dominees wat via Zoom ingeskakel was vir ’n webinaar oor onder meer kollektiewe trauma.

LEES OOK: Kanniedood karretjie hoop alles, verdra alles, glo alles

Ds Sam Heine is beseer, maar het aan Kerkbode genoem dat die uitkoms veel erger kon wees. Hy doen beradingswerk vanuit ’n praktyk by sy huis en op ironiese wyse moes hy skielik as geneesheer homself genees deur hierdie trauma te probeer verwerk.

Sy mede-deelnemers, hoewel geo­grafies ver verwyderd van die ­gebeure, was ewe geskok, blyk dit. “Die werklikheid van misdaad het op traumatiese wyse deel van ons groep geword,” het ds Danie Mouton, een van die deelnemers, na die tyd in ’n boodskap aan die groep geskryf. “Ons is so dankbaar dat Sam nie ernstig beseer is nie.”

LEES OOK: KYK: ‘My kinders moet eendag onthou ek het nie tou opgegooi nie’

Vir Heine was daar troos te vind in die feit dat hy “’n shot of twee ingekry het” voor die inbreker – wat met ’n skroewedraaier gewapend was – laat spaander het. “Dit gaan oor veg, vries of vlug,” het Heine verduidelik.

Nabetragting by trauma (het ek flink gedink? / was ek roekeloos? / het ek gedoen wat ek kon?) is dikwels nie ’n eenvoudige proses met ’n begin, middel en einde nie. Dit kan in sommige gevalle tot diep berou lei. In ander gevalle, so vertel ’n kenner, tot skaamte, daardie bitter swaar emosie. En soms is die ietwat mitiese “closure” waarvan ’n mens ge­reeld hoor, nogal ontwykend.

Wat ’n mens teruglei na die rede hoekom dertig mense in die eerste plek op ’n Donderdagoggend voor Zoom ingeskuif het: om te leer oor trauma. Hoe dit vasgevang kan raak in persone, maar ook in groepe. En hoe dit mettertyd ons stories word.

Word 'n vriend van Kerkbode