#Lentekonferensie – Dag 3: Vader Lapsley oor hoekom hy hoop het vir Suid-Afrika as ons na mekaar se stories sal luister

Hy was verlig toe hy hoor hierdie Lentekonferensie is virtueel, bieg die bekende priester vader Michael Lapsley teenoor dr André Bartlett, want hy was bang wat hy te sê het, gaan te na aan die been sny.

“Ek wil praat oor die tema ‘Hoe en wanneer word skuldgevoelens en skaamte heel of gesond?’” sê die eertydse anti-apartheidsaktivis, wat sy hande, oog en oordrom verloor het in ’n briefbom versteek tussen twee godsdienstige tydskrifte wat die Suid-Afrikaanse sekuriteitsmagte in 1990 aan hom gepos het.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: Tyd dat NG Kerk nuwe grense trek?

Voor ’n aanlyn gehoor van 127 intekenare, sy metaalhake klikkend soos hy praat, sê die gebore Nieu-Seelander, wat as jong studentpriester in die 1970’s na Suid-Afrika gekom het, sy indruk toe was wit Suid-Afrikaners steek eerder hulle kop in die sand en sing liedjies oor ‘braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet’ as om die werklikheid in die oë te kyk en te erken die meeste van hulle mede-landsgenote ly onreg en swaarkry.

KYK: Die video vertel vader Michael Lapsley se storie

Ná die bomaanval, bemoedig deur die ervaring van God by hom en mense se gebede, het hy besluit om bitter te bly sal van hom lewenslank ’n slagoffer maak. Hy het daarom betrokke geraak by organisasies soos die Trauma Centre for Victims of Violence and Torture, gesetel in Kaapstad. Dié traumasentrum het nou saamgewerk met die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) voor wie Lapsley sy ervaring ook vertel het in ’n volgepakte saal van 1 000 mense in Kimberley, maar hy kon die aantal wit mense op een hand tel.

Dit is vir Lapsley steeds ’n “tragedie” dat soveel wit Suid-Afrikaners verkies het om hulle radio’s of TV’s af te skakel wanneer WVK-sessies uitgesaai is.

Deur aksie te neem met veilige ruimtes waar mense vir mekaar hulle stories van seerkry en seermaak kan vertel, kan kerke Suid-Afrikaners help om hulle gebroke gemeenskap heel te maak.

“Mense sê hulle het nie geweet nie, maar dit sal nader aan die waarheid wees om te sê jy wou nie geweet het nie,” sê dié man van wie wyle president Nelson Mandela gesê het “Michael Lapsley’s life is part of the tapestry of the many long journeys and struggles of our people”.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 1: ‘Draers van God se hoop in ’n wanhopige wêreld’

As stigter van die Institute for Healing of Memories, ’n nieregeringsorganisasie, reis Lapsley die laaste paar dekades die wêreld vol om werkswinkels aan te bied waar mense met seer heling vind deur hulle stories te vertel – dit is oop vir almal, dié wat seergekry het en dié wat seer uitgedeel het, of dit nou mishandelde vroue, gevangenes in die tronke of verbitterde militêre veterane is op soek na heling vir hulle bitterheid.

Die instituut met takke in Kaapstad, Gauteng en KZN het voortgevloei uit werkswinkels wat in 1996-1997 gelyklopend met die WVK se sessies aangebied is.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 2: Max du Preez oor relletjies binne die NG Kerk, die meriete van rap-musiek en waar SA se heil lê

“Jy het werklik ’n gewonde heler geword,” merk Bartlett op in die vraag-en-antwoordsessie waar intekenare aanlynvrae aan Lapsley kon stel. Die uitdrukking “wounded healer” wys natuurlik terug na die skryfwerk van Henri Nouwen.

“Jou meganiese hande het my dieper geraak as jou woorde, wat dinamiet was,” merk een deelnemer op terwyl ’n ander in die Zoom-chat skryf: “Deur vir die NP te stem, het ons eintlik saamgestem met alles wat onbybels en nie-Jesus was in die Suid-Afrikaanse samelewing oor die algemeen. Hoewel baie nie die omvang geweet het van alles wat die regering gedoen het nie, is dit nie ’n verskoning nie.” Hy eindig met die hoop dat die deelnemers aan hierdie konferensie soos “suurdeeg” die NG Kerk positief sal beïnvloed.

LEES OOK: #Lentekonferensie – Dag 2: ’n Doleansie van 135 jaar terug het heelwat te sê vir die kerk vandag

“Vir hierdie suurdeeg het hy hoop,” antwoord Lapsley. Hoewel die pad na heling vir Suid-Afrika lank en moeilik is, sê hy tydens die pandemie het hy gesien mense omarm ’n nuwe waardestelsel as die materiële een van ‘braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet’. “Ons het gesien hoe gemeenskappe oor ras- en klasgrense heen saam opstaan teen geweld … dit is ’n teken van hoop,” sê Lapsley.

Geloofsgemeenskappe het daarom ’n belangrike rol om te vervul in hierdie tyd. Lapsley moedig predikante en geloofsgemeenskappe aan om veilige ruimtes te skep waar mense oor ras- en klasgrense heen aan mekaar hulle stories kan vertel en na mekaar kan luister. Sy organisasie verwelkom vennootskappe om hiermee behulpsaam te wees.

“Deur self weerloos en oop te wees oor waarmee jy sukkel, gee jy mense toestemming om oor hulleself te deel … ons moet luisteraars wees na die pyn van andere,” sê die priester wat verkies om Jesus se Bergrede te lees as ’n oproep tot aksie.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “#Lentekonferensie – Dag 3: Vader Lapsley oor hoekom hy hoop het vir Suid-Afrika as ons na mekaar se stories sal luister

  1. Vraag aan die Vader of Priester
    Is u mense vandag beter af?

Comments are closed.