Kerkbode: 10 mees gelese stories en ’n pleidooi

Ons staan aan die einde van nóg ’n jaar. ’n Jaar vol uitdagings vir baie gemeentes en lidmate. Namens die Kerkbode-redaksie bied ons ’n oorsig oor lesers se voorkeur besoekpunte in 2021 op ons webwerf en ook ’n pleidooi vir jou voortgesette ondersteuning van hierdie kerklike joernalistiekprojek.

Eers ’n dankie en ’n pleidooi

Eerstens sê ons uit die hart dankie vir elke Kerkbode-intekenaar en ook aan elkeen wat vanjaar as Vriend van Kerkbode aangesluit het. Jou ondersteuning is waardevol. Hier is hoekom. Kerkbode se hoofbron van inkomste, inskrywings vir die gedrukte weergawe, het oor die laaste dekade drasties gekrimp. ’n Tendens wat ons verwag gaan aanhou. Dit beteken Kerkbode moet digitaal inkomste inbring. Vanjaar het Kerkbode se webblad teen middel-Desember net minder as ’n miljoen bladkyke (988 533) gehad. Dit is sowat 380 000 meer klieks as in 2017 en herbevestig wat ons die laaste paar jaar oplet, dat ons lesers al meer hulle kerknuus aanlyn lees, op ons webwerf www.kerkbode.co.za of via die gratis Kerkbode toep (app) vir Android- en Apple-fone. Die uitdaging bly hoe om hierdie kerklike joernalistieke diens volhoubaar aan te bied.

Die oudste Afrikaanse koerant van sy soort het jou voortgesette ondersteuning nodig om hierdie kommunikasiediens aan die NG Kerk en haar lidmate vol te hou. Ons wil nie ’n betaalmuur rondom www.kerkbode.co.za se stories, amptelike nuus, briewe, rubrieke en vakatures oprig nie. Ons wil kerknuus toeganklik hou. Dáárom nooi ons jou graag uit om ’n Vriend van Kerkbode te word deur ’n maandelikse donasie van R20 of ’n jaarlikse bydrae van R240. Lees meer HIER.

Lees meer hier oor hoe om op Kerkbode én LiG in te teken

Kerkbode se 10 mees gelese stories

Die vakatures is met meer as 64 000 klieks (40 000 uniek) loshande Kerkbode-lesers se gewildste besoekpunt. Ons lesers se kliekspore wys hulle lees ook graag die Brieweblad, wil weet wat gebeur in hulle kerklandskap op Amptelike Kennisgewings, volg kerknuusgebeure en geniet veral Dana Snyman se rubrieke.

Dit is interessant dat vanjaar se 10 mees gelese stories ook “Help! My man is ’n narsis” insluit wat lesers steeds herbesoek vir ’n herlees al het dit verlede jaar al verskyn.

2021 se 10 mees gelese Kerkbode-stories in volgorde van gewildheid:

1 Dominee weggeruk in die fleur van haar lewe

2 Help! My man is ’n narsis

3 Dana Snyman: Brief uit Amersfoort: Soveelste plaasaanval ruk klein gemeenskap

4 Pepuda ‘bedreig demokrasie, vryheid’ – NGK

5 Dana Snyman: Gebed van ’n woedende man

6 Dana Snyman: Oor skinder, swyg en stilte

7 Om jou te laat inent is liefdesdaad aan jou naaste

8 Dana Snyman: In die slaapkamer, langs die bed

9 Dana Snyman: Om die binne-chaos te verdryf

10 Die Amalia-geval en die lot van krimpende gemeentes in die NG Kerk

Word 'n vriend van Kerkbode