Marileen Steyn in gesprek met Bernard Nienaber*
Ek ry na die gemeente om met Bernard te gaan gesels, en dit voel asof ek op ’n soort naat beweeg: Links is die oop veld, en regs ’n inkopiesentrum.
Die hele omgewing adem iets van tussen grense wees, maar ek kan nie my vinger daarop lê nie. Later sê Bernard: “Dis een van die uniekhede van dié gemeente: Plaas en stad lê langs mekaar, en aan weerskante van die grens is die samewerking iets buitengewoons. Hier is nie sommer snobisme of mededinging nie; as daar nood is, werk almal saam.”
En dit maak dit vir ’n dominee baie maklik, sê hy. Veral ook omdat jy nooit op ’n troontjie geplaas word nie.
Petrolgeld word selfoongeld
Bernard het reeds ’n klompie jaar gelede afgetree, maar hy is hierheen beroep met die opdrag pastorale bediening van die aftreeoorde. Hy het ook ’n beperkte aantal preekbeurte.
Die pandemie het dit egter vir hom moeilik gemaak om die een ding te doen wat ’n dominee moet doen: om by sy mense uit te kom.
In hierdie omgewing is daar boonop ’n groot aantal lidmate wie se kinders oor die wêreld heen versprei is.
LEES OOK: Lees die volledige reeks hier
Húlle het baie swaargekry, vertel Bernard. Hulle ervaar ’n groot behoefte aan troos en hoop, en dit is dinge wat hy in die grendeltyd slegs oor die foon kon bied.
Eensklaps het petrolgeld selfoongeld geword. “Die bellery beteken oneindig baie vir gemeentelede, of die beller nou daarvan hou of nie,” sê hy.
“Dis iets so eenvoudig soos om iemand op sy of haar verjaarsdag te bel wat so ’n mens laat voel dat die kerk nie van jou vergeet het nie.”
Uitkoms
Bernard sê hy het die impak van verminderde kontak aan sy eie lyf gevoel. Hy het alleenheid ervaar, hy het ander mense se insette in sy lewe gemis. “Mense is my éintlike liefde, en daarom het ek die interaksie so erg gemis.
Ná die opskorting van die eerste, streng grendeltyd het hy iets soos posttraumatiese stres ervaar. Hy was neerslagtig en het besef dat dié uitdagende tyd hom op ’n manier gedreineer het wat hy nie regtig kon bereken nie.
Bernard kon nou wel nie sport beoefen soos wat hy graag sou wou nie, maar daar was ander aktiwiteite wat hom energie gegee het: lees, stap en tyd saam met sy vrou.
Die tyd wat hy aan sy stokperdjies kon bestee, was ook meer as blote tydverdryf. Dit was as ’t ware ’n geestelike ervaring wat hom daadwerklik gehelp het, en wat uitkoms gebied het.
Die grootste geskenk wat Bernard egter die afgelope jaar ontvang het, was die tye van stilte en afsondering. Dis hier waar hy weer die waarde van stil wees herontdek het. “Ons dominees dink ons waarde vir ander mense en ’n gemeente is geleë in hoe besig ons is, en dis nie noodwendig waar nie.”
Om minder besig te wees, beteken juis meer vir jou geestelike lewe. Die uitdaging is om buite die boks te dink.
Die wete dat God met jou besig is
Tydens sy stiltetyd het hy weer ontdek dat gemeenskap met die Here soms van jou vereis om minder gestruktureer te wees. Om met die Here “besig” te wees, om jou tyd by Hom deur te bring, bring ’n verdieping mee wat nie in boeke gevind kan word nie.
Dis in so ’n tyd dat jy daaraan herinner word dat God in beheer is. En dat jy die lewe moet interpreteer in die lig van die wete dat God met jou besig is.
Om selfs meer te bereik
Die lens waardeur ons kyk tydens ons gesprek, is “minder”. Hy sê hy het in hierdie tyd opnuut ontdek dat om minder besig te wees, nie noodwendig beteken dat jou bediening minder beteken nie.
Wanneer jy kreatief dink aan hoe jy jou tyd bestee, is dit inderdaad moontlik om minder besig te wees. En boonop net soveel of selfs meer te bereik.
Hy praat versigtig hieroor. Tel sy woorde. Hy kon, vertel hy, agteroor gaan sit as hy wou, maar hy het die pandemietyd beleef as ’n geleentheid om juis na te dink oor hoe hy steeds sy werk kon doen en die mense in sy sorg te kon bedien.
Want ook in tyd vol ontwrigting is hy steeds ’n geroepene.
*Skuilnaam