Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johann Winterbach praat oor rondtas. Hy onderskei tussen twee soorte: rondtas omdat jy weet, teenoor rondtas omdat jy wanhopig is. Foto ter illustrasie

‘God speel wegkruipertjie’


Marileen Steyn in gesprek met Johann Winterbach. 

 

Op ’n grys dag in George is Johann se gunstelingkoffiewinkel ’n welkome tuiste. Die kafee is vol kuns, dis kleurvol en daar is regte “kafee-musiek” in die agtergrond.

Johann is ’n gemoedelike mens. Hy gesels maklik en lekker – en ek glimlag heimlik vir die manier waarop hy sit. Ek kyk graag aan die begin van ’n onderhoud na my gespreksgenoot se gekruiste bene en gevoude arms. Dis alles tekens, só sê die kenners, wat verklap dat die persoon nog nie op haar of sy gemak verkeer nie.

Lees ook: Sien al die onderhoude in hierdie reeks HIER

Johann is anders. Uit die staanspoor lê hy skuins terug op sy stoel, sy arm op die tafel, sy lyf oop. Hy is heeltemal op sy gemak.

Gestroop

En so gesels ons oor die afgelope jaar en hoe onverwags alles was. Johann sê hy het gevoel asof hy op die agtervoet begin, aangesien sy kollega toe pas afgetree het. Vanweë die onsekerhede rakende die koronaviruspandemie wou die gemeente nie beroep nie.

Om alleen predikant in ’n gemeente te wees, was vir hierdie ekstrovert ’n uitdaging. Om die evangelie te moet bedien in ’n wêreld waar sosiale afstand geëis word, was moeilik vir die man wat daarvan oortuig is dat daar niks is wat persoonlike kontak kan vervang nie.

“Hoe bring jy die evangelie as jy nie by mense mag kom nie?” vra hy. “As jy eintlik gestroop is van wie en wat jy werklik is?

Vir Johann het die antwoord veral in gebed gelê.

‘Dis die Here se werk’

Daar was wel die gemeente se kospakkieprojek. Dit was ’n lewensaar.

Vroeg in die grendeltyd het die NG gemeente George-Suid ’n koskombuis van stapel gestuur. Toe iemand boonop bel om te verneem of ’n bepaalde groep mense die kerk se kombuis mag gebruik, het dit hul hande losgemaak om saam met ander gemeentes te werk.

Uiteindelik kon hulle 19 000 gekookte etes aan mense in George se middedorp verskaf, en aan die res van die gemeenskap. En dit deur donasies wat hulle ontvang het.

“Dis ’n beweging van die Gees,” sê Johann. “Dis die Here se werk. Ons kon dit nie keer nie.”

Dit was in die werk agter die skerms, waar die kerksaal byvoorbeeld ’n enorme bêreplek geword het, dat Johann sin en betekenis gevind het. Hy het lewe gevind in die koördinering van die kospakkies, en in die beweging tussen mense.

Johann is veral positief oor die feit dat behoeftige mense gereeld ’n gekookte ete kon ontvang. En dat hierdie kos die gemeenskap van die suidelike deel van George (wat tradisioneel die armer buurt in die dorp is) en dié van Heroldsbaai (tradisioneel die ryker deel) bymekaar kon bring.
‘Wees stil en weet

Buiten vir hierdie interaksie, kon Johann ook krag vind in sy spirituele praktyke. Hy praat oor die geestelike oefeninge van die kerkvader Ignatius, soos verbeeldingryke gebed en die refleksiewe Daaglikse Examen-gebed.

Hy vertel ook van sy maandelikse ontmoeting met sy geestelike begeleier. “Dis ’n gesprek waar sy my help dink wie God is en waar God in my lewe is.”

Soos Johann dit stel: “She directs you back to God.”

Dit help hom om ’n geestelike begeleier te hê, sê hy. Want hy kan dikwels eers in gesprekke met ander sy gedagtes struktureer en bepaalde dinge raaksien ten einde te onderskei waar God was, en waar God is.

Vir Johann beteken spiritualiteit nie ’n spesifieke tyd in sy dag nie; dis eerder vervleg met sy lewe elke dag. Hy erken dat hy wel tye beleef dat sy keel toetrek en hy angstig voel, maar hy het ook gevind dat daar ’n direkte verband is tussen angstigheid, oorweldig voel en ’n gebrek aan stil tye.

Die afgelope klompie maande het Psalm 46 se woorde: “Wees stil en weet, Ek is die Heer” ’n refrein vir hom geword. En as hy vandag op alles terugkyk, kan hy sien hoe dit sy belewenis was dat God die Heer is.

Hy wonder wel hardop hoe dit sou verloop het as die koskombuis nie daar sou gewees het nie. As hy nie uit die huis kon kom nie.

Doen die regte dinge

Johann vertel hy het ’n stuk vryheid beleef waar hy kon doen wat hy moes doen, sonder dat hy in die gewone gang en die sleur van die bediening vasgevang was. Dit was “ook maar reg” as alles nie gebeur het soos en wanneer dit moes nie.

Dit was vir hom goed om te sien hoe bepaalde dinge voortgegaan het sonder dat hy daarby betrokke was, byvoorbeeld die onderlinge versorging. Hier het gemeentelede ’n groter verantwoordelikheid vir mekaar openbaar.

Wat Johann betref, was dit ’n tydige herinnering daaraan dat God buite en sonder hom werk. Dat God hom nie nodig het nie. Dat dit nie hy is wat God in die geselskap inbring nie, maar dat dit God is wat hom, Johann Winterbach, deel van die geselskap maak.

Vanuit hierdie besef hoor Johann ’n uitdaging aan elke predikant: Moenie niks doen nie; doen die regte dinge.

Hy is huiwerig om groot planne vir die nuwe jaar te maak. Die afgelope jaar het hom opnuut laat besef dat ’n mens van niks seker kan wees nie.

Maar dis ook oukei, sê hy. Christus hou self sy kerk in stand.

En hy het die daadwerklike belewenis gehad van ’n God wat naby is, wat sorg.

Vertroue

Ons gesels voorts oor God, veral oor “die onbekende God” van Handelinge 17. Dis ’n God wat is, selfs al moet ons rondtas om Hom te vind.

Hy praat oor God wat ’n misterie is, en hoe sy belewenis van Hom verskil van die lees van ’n speurverhaal. Waar jy in ’n speurverhaal uiteindelik al die antwoorde kry, is God-die-Misterie die Een by wie daar altyd nóg iets is wat ontdek moet word.

“God speel wegkruipertjie,” sê Johann. “Maar Hy maak sy keel skoon sodat ons Hom kan vind. God wil gevind word.”

Ons praat oor “rondtas” – en Johann onderskei tussen twee soorte: rondtas omdat jy weet, teenoor rondtas omdat jy wanhopig is.

Johann sê hy soek na God vanuit ’n plek van vertroue (hy verkies die Engels, “trust”). Hy sê hy het genoeg van God beleef om te weet dat God op bepaalde plekke gevind sal word.

“Al sê ek al hierdie mooi dinge oor vertroue, is dit vir my as ekstrovert steeds moeilik.”

Dan praat hy praat oor die isolasie, sy belewenis van geïsoleerde leierskap, sy gevoel van verantwoordelikheid vir die gemeente en sy algehele uitputting.

 

Johann is nie bestand teen die gevoel van donkerte wat die pandemie kan meebring nie. Tog sien ek in my geestesoog hoe Johann rondtas – deels om iets te vind vir sy hande om te doen, en deels omdat hy vertrou, omdat hy “trust”, dat hy in sy soektog God sal bly vind.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.