Marileen Steyn in gesprek met Enel Lambrechts
As jy by die venster uitkyk, kan jy dalk Knysna se bekende Koppe sien. Maar dis nie dít wat vandag my aandag vra nie.
Daar is twee eienskappe van Enel wat my tref: hoe sy tegelyk sag en sterk vertoon, en hoe haar huisgesin haar menswees aanvul.
Sy stel my reg aan die begin aan haar man en dogter voor, en al voer slegs ons twee die onderhoud, blyk dit duidelik dat Enel haar bediening en haar gesin as ’n geïntegreerde geheel beskou.
Lees ook: Die volledige reeks ‘Predikante in ’n pandemie – Portrette van NG predikante’
Later vertel sy my meer hieroor: “Ons glo dat God ons geroep het om saam in die bediening te wees.” Haar man, ook ’n predikant, word wel nie in die gemeente formeel as predikant geken nie, maar hul bediening is niks minder nie as ’n gesamentlik een.
‘Ek het saans wakker gelê’
Enel, Francois en hul dogter het in Januarie 2020 in Knysna aangekom. Die gemeente is deur baie trauma voor haar aanstelling. In daardie stadium het hulle pas ’n 18 maande lange brugproses* deurloop, en Enel se aanstelling was dus ’n tree nader aan stabiliteit en ’n nuwe toekoms.
Enel kon egter maar sewe keer preek toe die grendeltyd aanbreek.
Sy het onmiddellik etlike moontlikhede begin oorweeg. “Ek het saans wakker gelê, en dan gedroom wat ek kan doen,” vertel sy.
Aanvanklik het sy op eredienste en krisisbestuur gefokus. Die feit dat haar man digitaal goed onderlê is, was vir haar ’n seën.
Sy het dit nie toe besef nie, vertel sy, maar die gemeentemense wou “terug Bybel toe”. Toe sy ’n reeks met Bybeloordenkings vir die lidmate aanstuur, was sy verbaas om agter te kom dat tussen 100 en 150 mense telkens inskakel.
Dis sulke dinge wat haar energie gegee en haar opgewonde gemaak het.
Egtheid
“Om outentiek te wees.”
Dit was volgens Enel wat die koronaviruspandemie aan mense gegee het. Hulle was by mekaar teenwoordig, al was dit digitaal. Sy het byvoorbeeld vir Paasfees ’n regstreekse uitsending van hul gesinsete uitgesaai, en sy was verbaas om te beleef hoeveel mense hieraan deelgeneem het.
Daar is waarde daarin om in dié tyd in ’n ander se huis te kon kom. En niks hoef perfek te wees nie, sê Enel. Dit gaan oor egtheid. Oor dit wat regtig in ’n ander se lewe aan die gebeur is.
Op ’n persoonlike vlak was die grendeltyd vir Enel ’n soort hemel waar sy bloot kon “wees”, al was daar ook baie dinge waarvoor sy verantwoordelik was.
Sy vertel egter dat sy behoorlik lamgelê is deur die sogenaamde tweede golf wat die Tuinroete getref het. Die virus het ’n ál groter werklikheid geword, en dit het haar mense – wat mediese dokters insluit – erg geraak.
“Dis wanneer ’n mens na die dokters se stories luister,” sê sy, “dat jy besef hoe ernstig die saak is.”
Terug huis toe
Die pandemietyd was vir Enel ’n tyd van “terugkeer na God”, die geleentheid om lang rukke aan sy voete deur te bring. Om na te dink, om te mediteer. Haar stiltetyd en haar gesinsopset het haar gehelp om vas te staan in die stormagtige tye.
Wat die gemeente betref, praat sy graag oor goeie spanwerk en oor die waarde wat dit gehad het toe die eerste inperkings later opgehef is en sy en die kerkraad mekaar beter kon leer ken.
Die pandemie, sê Enel, het haar nederig gemaak. Nog meer bewus van die onvoorspelbaarheid van die lewe. Sy bely dat dit kan lyk asof sy van selfvertroue oorloop, maar sy weet dat dit ook oukei is om te sê dat jy nie weet nie. “Ook dit was ’n belangrike les.”
Enel is ’n millenniër, en sy gesels oor haar generasie se behoefte aan kitsoplossings en vinnige antwoorde. Die pandemie het dit kom wegneem. “God se voorsiening is soms ’n langer proses,” sê sy, “dis tydsaam. Maar in die hele proses is God steeds die Rots, die Een na wie jy terugkeer.”
Dít, sê sy, is wat die pandemie ook aan mense gegee het: die geleentheid om terug te keer huis toe, na die Bybel, na God. Die afgelope jaar was ’n geleentheid om terug te keer na ’n eenvoudige stil word-ritme, weg van ’n oorvol program.
Om dapper te leef
Al is Enel se kalender nou weer vol, wonder sy steeds oor wat voorlê.
Sy sê sy sal verkies om meer inligting te hê sodat sy ingeligte besluite kan neem. Sy wil nie hê reëlings moet deur die mat val of byeenkomste moet weer afgestel word nie.
“Nee, jy moenie oor alles bang wees nie, al weet jy hoe ernstig sake is. Jy wil die mens wees wat moedig en selfs onverskrokke is, wat steeds dapper leef. Dis in elk geval wie ek wil wees.”
So beweeg sy steeds vorentoe, terwyl sy, deels te danke aan die pandemie, gereeld terugkeer na wat werklik belangrik is.
*’n Brugproses vind plaas wanneer daar ’n sogenaamde brugpredikant vir ’n bepaalde tydperk in ’n gemeente aangestel word. Dit gebeur wanneer daar groot trauma in ’n gemeente was of drastiese veranderings voorlê.