Is daar nog ’n plek vir jou en vir my?

Ds Ivor Swartz gesels met Marileen Steyn oor die plek van die wit Afrikaner in die nuwe Suid-Afrika en die invloed wat hierdie gesprekke op die jeug het.

“Dis ’n land van kleure en klank.

Dis ’n land van oorvloed en dank.

Dis ’n land waar almal na strewe.

Dis ’n land sonder horison en

dis ’n land wat weet hy kan

ook ’n blyplek neerlê vir my.”

Ek sing hierdie lied al so lank as wat ek kan onthou. Dít, en natuurlik Byeboerwa. Iewers in my studentejare, seker omtrent in die tyd wat François van Coke met die lirieke rondgespeel het, het ek egter gewonder wie die ‘my’ in hierdie treffer van 1987 is. Vir wie is daar blyplek?

As ek reg luister na ds Ivor Swartz, is die idee van wie in hierdie land nog (bly)plek het en wie nie, steeds ’n brandpunt in die psige van die Suid-Afrikaner, ook in dié van die wit Afrikaner.

In sy kontak met wit Afrikanerjeug en hulle ouers hoor hy die refrein wat ouers aan hulle kinders oordra: “Julle het nie ’n plek in die nuwe Suid-Afrika nie. Julle,” word kinders vertel, “het nie plek in die universiteite of in die werkswêreld van hierdie land nie. Julle gaan aan die bottom of the food chain grootword in die nuwe Suid-Afrika.”

Hierdie refrein, meen Swartz, is nie net onwaar nie, maar help nie versoeningsprosesse nie en wakker rassisme aan.

Swartz verwys na die “disconnect” wanneer hy met die jeug oor versoening tussen mens en mens praat: “Ek weet daardie disconnect kom van die huis af. Die disconnect kom van ’n disgruntled, disillusioned, confused ouer af oor hulle plek in Suid-Afrika tans en dit spoel oor na die kinders toe.

Die gemiddelde wit tiener vandag, brei Swartz uit, het steeds baie meer hulpbronne en netwerke tot hulle beskikking en op hierdie manier bly hulle steeds voor in die ry. Toegegee, erken ek. Maar wat maak ’n mens met die werklikheid dat sommige wit Afrikaners nie geleenthede kry nie vanweë hulle velkleur? Hoe antwoord ’n mens hierop?

Swartz erken dat hy nie naïef oor hierdie werklikheid is nie, maar praat ook van die “harde waarheid” dat die skaal van die sisteem gebalanseer moet word deur sisteme soos BEE. “Dit is nie getarget op jou as individu nie.”

Sê ’n mens dan dat dit nie persoonlik is nie? is die vraag. “Om ook vir iemand te sê dit is nie persoonlik nie is ook nie heeltemal die waarheid nie, want dit is persoonlik, dit is iemand wat vir ’n gesin moet sorg en hy doen aansoek en hy doen aansoek en niks gebeur nie.”

Die idee is nie om die ervaringe van ander te ontken of te kanselleer nie, maar om eerder te gesels oor die feit dat dit nie soseer ’n antagonisme teen wit persone is nie, maar ’n poging tot geregtigheid.

Lees ook: Leraars bied video-reeks as gratis ‘tooltjie’ vir versoening

Wat kan ons dan eerder vir ons kinders oor hulle plek in hierdie land sê? As antwoord, haal Swartz ’n wit wynboer aan: “Ek bly hoopvol oor dié land omdat ek gesien het wat in ’n tydperk van oorgang kon gebeur het, maar nie het nie. Ek bly hoopvol oor wat nog in hierdie land kan gebeur.”

Swartz gaan voort: “Wanneer jou sense of space, jou sense of belonging, gedisrupt word, kan ek verstaan dat jy moerig gaan wees, dat jy kwaad gaan wees, dat jy met ’n stuk bitterheid gaan rondloop, met ’n stuk ‘ek wil nie deel wees met wat julle besig is om te bou nie’.”

Tog meen Swartz moet ons onthou dat almal na ’n plek en ’n gevoel van behoort strewe en dat dit vra dat daar rondgeskuif word om plek vir almal te maak. “Ons gaan hom nie perfek doen nie, maar dit bly ons plek.” So te midde van vrese dat daar nie plek is nie, word ons uitgedaag om tog nie vir ons kinders te leer dat daar geen hoop is nie, maar dat daar plek vir almal kan wees.

Wanneer ons dan “Dis ’n land” sing, hetsy met Carike Keuzenkamp of met Snotkop of Karen Zoid, word ons genooi om die plek van ander in die land raak te sien, maar ons as wit Afrikaners word ook genooi om steeds ons plek in die land raak te sien, al het die manier waarop ons daardie plek opneem, verander.

In hierdie opsig, dig Swartz:

Die een is vir jou, Suid-Afrika!

Nie net vir Siya en Mandela en Francois Pienaar nie.

Dis vir jou wat nog hoop, en skree, en bly, en opstaan, en jou gewig bygooi – al is dit soms moeilik!

Jy is Suid-Afrika;

Jy is the call that comes together;

Jy is waar die kranse antwoord gee!

Jy wat op jou knieë huil, en voor jou vyand met liefde staan.

Jy wat gister se vrees met vandag se dankbaarheid toevou.

Jy wat al beroof en besteel was, maar steeds Nkosi Sikelel iAfrica sing, en dit bedoel.

Wees braaf:

wit, swart, bruin Afrika-kind.

Die son en die sorge;

Die skadu en die vreugde;

Dis joune ook.

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Is daar nog ’n plek vir jou en vir my?

  1. Johann says:

    Ons is lankal verby die punt dat ons na mense in ons land kyk in terme van die kleur van ‘n mens se vel. Waarom dié diskoers lewendig hou, veral in ‘n kerk waar ras en afkoms volgens die Bybel géén rol moet speel nie. Daar is nie iets soos wit Christene én swart Christene én bruin Christene nie. Ons moet ophou om soos die wêreld, en by name die mense wat hulle met identiteitspolitiek besig hou, na mekaar te kyk en oor mekaar te praat. Praat dan liewer slegs van Afrikaners, soos daar by die Hemelvaart na Galileërs verwys is, maar los die rasding uit. Of: rasseapartheid is dood! Lank lewe rasseapartheid in die NG Kerk.

Comments are closed.