Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Sy het besluit om uit te tree as predikant na maande se sukkel met chroniese moegheid en moedeloosheid sedert sy verlede jaar ‘n tweede keer Covid-19 opgedoen het, maar haar skrywe is nie om oor depressie of haarself te skryf nie; “hierdie is ’n brief van dankbaarheid en ’n getuienis van besondere liefde en ondersteuning aan ’n predikant in haar donkerste tyd,” skryf Jana de Lange.

Mag die sorg wat sy ontvang het, tog die norm wees, vra dominee wat demissie aanvaar

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Jana de Lange beskryf haar dankbaarheid vir ondersteuning wat sy ontvang het as ’n predikant in haar donkerste tyd.

Jana de Lange

Daar is soms moeilike en seer verhale wat in die kerk afspeel. As predikant het ek ongelukkig al ’n klomp verhale gehoor van ander predikante wat ervaar dat hulle alleen is en dat, alhoewel hulle almal anders in hulle donkerste tyd moet ondersteun en bystaan, hulle dikwels nie dieselfde ondersteuning ontvang nie – of dan selfs verder onder druk geplaas word deur ’n gemeente of kerkraad.

Of verhale van predikantekollegas wat nie goed oor die weg kom nie en wat willens en wetens, of soms sonder om te dink, die bediening vir mekaar moeilik maak. Hierdie verhale breek my hart, want dit spreek nie van die liefde van Christus nie en veroorsaak dikwels dat predikante die bediening vir altyd verlaat, terwyl dit ook ons kerk en God se koninkryk skade aandoen.

Ek skryf egter hierdie brief om een van die ander verhale te vertel. Ek doen dit nie om die bogenoemde verhale te ontken nie, maar juis om ’n verhaal van hoop en liefde te vertel, en om te getuig dat die teenoorgestelde ook dikwels in ons kerk gebeur.

In September 2021 was ek vir die tweede keer in vier maande siek met Covid-19. Ek was gelukkig nooit te ernstig siek nie en kon beide kere goed uitrus. Aanvanklik het dit gelyk asof ek geen langtermyn nagevolge of kwale oorgehou het nie. Aan die einde van Oktober het ek egter begin sukkel met moegheid en ’n lae gemoed, wat ek maar net toegeskryf het aan “einde-van-die-jaar-moegheid”. Daarom het ek uitgesien na die Desembervakansie saam met my familie op my gunstelingplekke by die see – die beste medisyne na ’n lang jaar.

Toe ek egter ná my vakansie nie soos ander jare uitgerus en opgewonde teruggekeer het na Pretoria toe nie, het ek besef iets is verkeerd. Twee weke na my terugkeer werk toe, het ek ’n dokter gaan sien. Dit was binne ’n paar weke duidelik dat ek ’n depressiewe episode beleef, heel moontlik as gevolg van Covid (dus, ’n geval van lang-Covid). Nou, enigiemand wat my ken sal weet dat ek allesbehalwe ’n depressiewe persoon is, en ek moet bely ek het nooit gedink dat ék aan depressie sou ly nie.

Lees ook wat skryf nog predikante oor hul ervarings in Covid-tyd: Predikante in ’n pandemie

Nietemin was dit die geval: Ek het gesukkel met chroniese moegheid, moedeloosheid en hopeloosheid en het die knaende gedagtes ontvlug deur te slaap. Ek kon glad nie bedien in my gemeente soos ek graag wou nie. Ek het al tevore ander diep traumas in my lewe beleef, maar nog nooit het ek so sleg gevoel en was die lewe vir my so uitdagend soos hierdie jaar nie. Dit het my uiteindelik gebring by ’n punt om demissie te vra en ek maak einde Julie klaar by my geliefde gemeente, NG Universiteitsoord.

Ek het beslis nuwe begrip en empatie ontwikkel vir persone wat daagliks, chronies en vir jare ’n stryd teen depressie voer en dit daagliks oorkom. Julle is besonders en ongelooflik sterk, al voel dit nie aldag so nie. Hou so aan, en dankie dat jy aanhou ter wille van jouself en jou geliefdes.

Tog is hierdie skrywe nie om oor depressie of myself te skryf nie; hierdie is ’n brief van dankbaarheid en ’n getuienis van besondere liefde en ondersteuning aan ’n predikant in haar donkerste tyd.

Soos genoem kon ek glad nie bedien in my gemeente, Universiteitsoord, soos ek wou nie. Dit was ook ’n uitdagende tyd vir ons as predikantespan, want ons kollega Ronél het verlede jaar Duitsland toe geëmigreer, en ons kon nog nie ’n nuwe kollega in haar plek beroep nie. Ons moes dus die nuwe jaar met een minder leraar as tevore aanpak – ’n jaar waarin ons die verliese van die afgelope twee jaar moes herstel en opbou, veral in ons studentegemeente. In hierdie tyd waarin ek juis met meer woema en dryf wou bedien, kon ek skaars helfte van my werk sinvol verrig (altans, so het dit vir my gevoel).

Terwyl ek op my swakste en laagste was en dit my eindeloos gefrustreer het, het my kollegas en gemeente my gedra en ondersteun, soos net die liggaam van Christus kan.

Aan my kollegas, Fritz Snyman, Arno Meiring, Charlotte Sibanyoni (asook Ronél Meylahn in die buiteland); die personeel, kerkraad en gemeente van NG Universiteitsoord; en my studentelidmate: dankie.

Dankie dat julle my ’n ruskans gegun het wanneer ek dit nie vir myself kon gun nie. Dankie dat julle altyd bereid was om in te spring en die los drade op te tel toe ek dit nie meer kon vashou nie. Dankie vir elke brief, oproep, WhatsApp en besoek om by my in te loer. Dankie vir julle deernis, medelye, liefde, ondersteuning en sorg. Dankie vir elke gebed, in persoon en op ’n afstand, wat my gedra het. Dankie dat julle vir my Jesus se hande en voete was en God se liefde en teenwoordigheid gewys het in ’n tyd waarin God dikwels baie ver en selfs afwesig gevoel het. Dankie dat julle deel is van my wonderlike ondersteuningsnetwerk saam met my familie en vriende.

Dankie dat ek nie die verhaal hoef te vertel van ’n predikant wat alleen voel in haar donkerste tyd nie, maar eerder ’n verhaal van ’n liefdevolle familie van gelowiges wat, soos die lied van Laurika Rauch sê, ’n moskombers om my gevou het en my veilig en warm gehou het.

Dankie dat ek kan getuig van kollegas wat vriende is, wat besorg is oor my en altyd bereid was om in te staan en my by te staan in elke oomblik. Dankie ook aan my Ring van Suidoos-Pretoria en lede van die Noordelike Sinode wat my ondersteun het, sowel as die predikante van ons Oppie Stoep-gemeenskap (ons ekumeniese vennootskap met vyf ander gemeentes in Hatfield). Hoewel ek demissie neem, weet ek dit is nie omdat ek nie liefde en ondersteuning ontvang het nie. Inteendeel, julle liefde en deernis het die besluit om demissie te neem juis moeiliker gemaak. Want hoekom sal ek wil weggaan van so ’n besonderse gemeente? Dankie dat ek demissie kon neem vir my eie beswil en gesondheid en dat julle ook dít vir my met liefde gun.

Julle elkeen is kosbaar en dit is vir my wonderlik om deel te wees van so ’n liefdevolle, genadige en mooi gemeente soos Universiteitsoord. Julle het my so sag hanteer en so sterk gemaak. Dit was vir my ’n voorreg om julle die afgelope sewe jaar te bedien en ook saam met julle te bedien. Hoewel ek nou vir eers klaarmaak by Universiteitsoord, weet ek dat ek altyd tuis is by julle, dat ek elke herinnering saam met julle sal koester en dat ek dikwels sal kom kuier.

Woorde kan nie my dankbaarheid beskryf vir julle liefde, ondersteuning, bystand, begrip en versorging in my donkerste tyd nie. Dankie dat julle ’n gemeente is wat hoop en liefde leef teenoor almal – binne en buite die gemeente.

Mag hierdie verhaal die norm wees in ons groter kerk, en mag elke predikant en lidmaat hierdie liefde, deernis en ondersteuning ondervind in die liggaam van Christus.

Soli Deo Gloria.

  • Ds De Lange se afskeidsdiens by Universiteitsoord is op 31 Julie 2022 om 09:30 en tydens die aanddiens om 19:00.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.