Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dawie de Wet skryf: Skuldbesef en sonde is die hart van die evangelie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dawie de Wet van Willowmore skryf: Neels Jackson voel: “Om sonde en vergifnis as die enigste manier te sien waarop daar oor die evangelie gepraat kan word, is ’n ernstige verskraling van die evangelie.” 

Nee, Neels, om dit te ignoreer, vermink die evangelie. Kom ons kyk na die voorbeelde waarmee jy jou stelling motiveer: In Jesus se ontmoeting met die blindgebore man (Joh 9) leer hy vir sy dissipels dat hulle nie iets soos blindheid as die direkte gevolg van sonde moet sien nie.

LEES OOK: Neels Jackson skryf: Die enigste manier om oor die evangelie te praat?

Deur die genesingsproses impliseer Hy wel dat die man gereinig moet word: Hy stuur hom om te gaan bad. Daarna kon hy sien – én glo. Hierdie man het óók Jesus se verlossing nodig gehad, en dit gekry. Die meeste ontmoetings van Jesus met mense in nood in die Evangelies impliseer minstens die ondertoon van skuld en vergifnis. Die verlamde man het gehoor: “… jou sonde word vergewe” (Matt 9:2); pas na Saggeus Jesus ontvang het, begin hy restitusie doen. Die vrou wat in owerspel betrap is, hoor: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan en moenie meer sonde doen nie.”

Dan gee jy die voorbeeld van ’n man wat sy vrou verniel en haar vertel dat dit haar skuld is, en sê: “Met so ’n vrou moet ’n mens nie praat oor haar skuld nie. Haar waardigheid en selfrespek moet herstel word.”

Dié vrou moet juis in liefde gelei word om te besef dat sy ook dood was in haar sonde, maar dat Jesus gekom en vir haar skuld volkome betaal het. God kyk nou na haar deur die bloed van Jesus en Hy sien ’n mens wat heilig, onberispelik en sonder smet is (Kol 1:22). Sy is nie meer ’n slagoffer nie. Niemand kan haar meer beskuldig nie, want in Jesus het God (die hoogste regter!) haar vrygespreek (Rom 8:33)! Wat anders kan haar meer waardigheid en selfrespek gee?

LEES OOK: Dawie de Wet skryf: ’n Kerk vry van ideologie?

Ruimte ontbreek hier om jou ander voorbeelde ook te antwoord, maar jou opmerking: “Jesus het nie gesê Hy bring die evangelie van verlossing nie” is ’n ongelukkige oorsig. Jesus sê wel duidelik: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk 19:10). In Johannes 3:17 sê Hy dit ook. Paulus laat geen twyfel nie: “Dit is ’n betroubare woord: … Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste” (1 Tim 1:15).

Ja, die koninkryk van Jesus sluit baie meer in as sonde en verlossing, want dit is net die begin. Die res is ’n hele lewe van dankbaarheid vir verlossing. Maar as jou geloof nie by sonde en verlossing begin nie, bou jy ’n huis sonder ’n fondament. Thomas Aquinas se afwatering van die absolute sondigheid van die mens (en dus die noodsaaklikheid van Jesus se verlossingswerk) het die Roomse kerk se teologie geword en dit was die hoofoorsaak van die Reformasie (Sien Thomas Aquinas and the New Thomism, BJ van der Walt; 2017). Die weerstand wat in sosiale geregtigheid teen die sondeleer bestaan, is ’n voorbeeld van Neo-Thomisme. Waar hierdie siening in die kerk posgevat het, móét hervorming weer plaasvind.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Dawie de Wet skryf: Skuldbesef en sonde is die hart van die evangelie”

  1. Francois Deyzel

    Dawie, ek kan nie anders as om met jou saam te stem nie. Johannes die Doper se eerste prediking : Bekeer julle want die Koninkryk van God het naby gekom.
    Jesus se eerste prediking: Bekeer julle want die Koninkryk van God het naby gekom.
    Hoe kan enige-een dit miskyk?

Comments are closed.

Scroll to Top