Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Pieter Verster skryf: ‘Jesus op grond van die Skrif waarlik God én mens’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Pieter Verster van Bloemfontein skryf: Die belydenis dat Jesus Christus die Seun van God waarlik God is wat mens geword het, sonder sonde, is vir die kerk essensieel. Dit is nie ’n saak waaroor daar maar soos oor die vrou in die amp, of oor die LGBTQ+-debat geredeneer kan word nie.

Dit raak die hart van die evangelie. Daarmee staan of val die evangelie. Dit is ook nie bevorderlik om te beweer dat die Judeo-Christen-ontwikkeling in die vroegste tyd verskeie moontlikhede moontlik maak wat die belydenis aangaande Christus as God wat mens geword het, misken nie.

LEES OOK: ‘Kreatiewe spanning’ tussen akademiese teologie en kerklike teologie is noodsaaklik, sê dosente by Maties

Eweneens is dit nie behulpsaam om te beweer dat die belydenisse van die kerk oor Jesus teen die agtergrond van die tyd en moontlik tydgebonde gelees moet word nie. Natuurlik stel dit nie die belydenisse op dieselfde vlak as die Skrif nie, maar dit het uit die hart van die kerk, begrond op die Skrif, voortgekom. Daardie belydenisse bely onomwonde die Goddelikheid van Jesus Christus as Seun van God. Is daar dan tog bewyse dat dié belydenis so in die Skrif voorkom? Daar is oorvloedige bewyse daarvan in die Nuwe Testament en slegs eksegese wat nie erns maak met die getuienis van die Skrif nie, sal dit ontken.

LEES OOK: ’n Agtermiddag by Peter Nagel: Oor teologie, tug en Griekse tragedie

Die Logos-verwysing in Johannes 1 en Tomas se belydenis in Johannes 20, wat die ringskomposisie voltooi, bevestig dit oorvloediglik. Larry Hurtado se werk oor die aanbidding van Jesus laat geen twyfel nie. Hermie van Zyl se onlangse artikel oor die doopformule, “doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”, in Matteus as wesenlike deel van Matteus is glashelder. NT Wright verbind die belydenis aangaande Jesus by Paulus aan die belydenis oor JAHWE. Bram van de Beek maak dit in sy Christologie uit die Skrif en die geskiedenis (Athanasius) duidelik. Talle ander, Nuwe-Testamentici en dogmatici, bevestig juis dat Jesus op grond van die Skrif waarlik God en mens is. Die kerk sal onomwonde by dié belydenis moet bly.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Pieter Verster skryf: ‘Jesus op grond van die Skrif waarlik God én mens’”

  1. JG de Bruin

    Hi Pieter, ek hoor jou hart. Ek stem saam met die feit dat die goddelikheid van Christus ‘n belangrike deel van ons Evangelie is maar ek stem nie saam met dat “dit die hart van die evangelie is nie” en ook nie dat daar nie gedebateer kan word daaroor nie. Teologie is op die ou einde, dink, wonder, en vra oor God. Dit is eintlik presies die tipe vra wat ons veronderstel is om te vra in ons geloof. En om terug te kom by my eerste punt, ek dink nie die Evangelie (of euangelion in Grieks – “goeie nuus”) is dat Jesus God is nie. Die goeie nuus wat Christus vir ons gebring het is bevryding. Bevryding en vryheid, op alle vlakke, is die goeie nuus. Dit is (in my ervaring) die hart van die Evangelie.

Comments are closed.

Scroll to Top