Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoffie Hofmeyr skryf: Waarheen is die ASM op pad: Hoop of wanhoop?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Prof Hoffie Hofmeyr van Pretoria skryf:

Dit is met groot teleurstelling dat ek as lojaal-kritiese kerkhistorikus kennis geneem het uit verklarings, beriggewing en persoonlike indrukke vanaf teenwoordiges by die pasafgelope ASM-vergadering oor die gang van sake aldaar. Ek dui slegs enkele indrukke kortliks soos volg aan, waarna ek met ’n opregte pleitrede aan die adres van die leierskap van die NG Kerk kom:

  1. Dit wil weereens voorkom asof die ASM-vergadering in voorbereiding tot die Oktober Algemene Sinode sterk deur bepaalde agendas gedryf word, naamlik onder andere die vooropstelling van die 2030-Droomscenario en uitgebreide bespreking daaroor.
  2. Hoewel daar baie oor versoening veral oor rassegrense by die ASM gepraat is, spreek die houding van die vergadering en van bepaalde groeperinge nie juis vreeslik duidelik van die strewe na versoening binne die NG Kerk self te midde van ernstige spanning nie, en probeer die ASM skynbaar hierdie spanning òf wegwens òf ontken.
  3. Terwyl die ASM op geen manier met die Kairos Netwerk as ’n groepering van besorgde NG predikante en lidmate in gesprek wil tree nie behalwe om van vertragingstaktieke gebruik te maak, sien hy sy weg oop om byvoorbeeld ’n ander groepering naamlik “Inclusive and Affirming Ministries (IAM)” ter vergadering te verwelkom en uitgebreid na hulle te luister. Dit is tog duidelik dubbele standaarde wat weereens ’n bewys is hoe die NG Kerk ’n bepaalde agenda dryf.
  4. Die negatiewe en afdreigende verslag van die Algemene Taakspan Regte (ATR) wat deur die ASM aanvaar is oor die aanstaande Koinonia Sinode, spreek van ’n wanbegrip wat kerkreg is, en van ’n houding van bedreigdheid. Dit spreek allermins van openheid tot gesprek en ’n Christelike weg na versoening deur moontlike bemiddeling.
  5. Dit wil my al meer voorkom asof die NG Kerk besig is om soos in die ou Suid-Afrika nou ook weer in die nuwe Suid-Afrika ’n kritiese fout met sy Droomscenario van 2030 te begaan. Waar die NG Kerk in die ou Suid-Afrika ’n Volkskerk met al sy uitwasse geword het, dreig hy nou om ’n Nasiekerk te word, dit wil sê om die Suid-Afrikaanse nasie en sy (ANC)-regering ter wille te wees. Die NG Kerk kan moontlik veel van sy positiewe identiteit in hierdie nuwe bedeling prysgee terwyl hy skynbaar veral by maatskaplike kwessies betrokke wil wees.

LEES OOK: ASM: ‘Bid vir politieke leiers, beskermingsdienste, regbank, fluitjieblasers en slagoffers van misdaad, korrupsie en geweld’

Ten slotte dan net ’n enkele pleitrede: Gaan die NG Kerk progressief sy relatief mooi geskiedenis en identiteit, ten spyte ook van groot foute wat hy gemaak het, eenkant gooi en afsweer of gaan hy positief die verdere uitdagings van die 21e eeu aanpak? Daar is myns insiens net een weg van hoop oop vir die NG Kerk en dit is om op ’n gesamentlike Skrifgefundeerde basis na egte versoening binne sy eie geledere te soek. En dan nie op ’n verwronge horisontalistiese, humanistiese of ideologiese wyse na versoening in die samelewing te streef nie maar uitgaande primêr van die Bybel en nie van die konteks nie. Alleen net met ’n welwillende en opregte versoeningsgesindheid gaan die NG Kerk van sy huidige maalkolk en verwording verlos en bevry word om opnuut sy regmatige rol op pad na ’n onsekere toekoms te speel. Die wanhopige alternatief vir ’n kwynende NG Kerk is andersins “too ghastly to contemplate”.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Hoffie Hofmeyr skryf: Waarheen is die ASM op pad: Hoop of wanhoop?”

  1. Bernhard Ficker

    Prof Hoffie Hofmeyer se skrywe is rigtinggewend en van besondere belang. Die vraag is wie is die gekose bedmaats van die algemene sinode? In watter rigting beweeg hulle en waarheen wil hulle die lidmate lei met die Scenario2030? Gaan die NGK in n staat van vasgeloopenheid bly? Het die algemene sinode die vermoe om die kerk uit die moeras van leerstellige vasgelooptheid te lei of gaan die dolerendes n permanente beweging binne die NGK bly? Gaan die behoudendes die NGK in al hoe groter getalle verlaat? Strategiese vrae wat wysheid van bo gaan benodig. Daar moet ag geslaan word op die wysheid van mense soos prof Hoffie.

  2. Philip Venter

    Wysheid? Asseblief nie. Verstokte verkramptheid weggesteek agter ‘n sogenaamde akademiese kwalifikasie. Vra maar vir die (oud) NG Kerk lidmate jonger as 40 jaar, of die dominees op die harde platteland.

  3. Johann Fourie

    Amen, Prof Hoffie. As leraar wat steeds in bediening is maar in 2006 reeds die NG-Kerk moes vaarwel roep huil my hart steeds oor die NG-Kerk wat ek liefhet en met alle in my tot diens wou wees.

Comments are closed.

Scroll to Top