Wat is die Pelgrimstog van Hoop?
Die Pelgrimstog van Hoop is ’n groeiende netwerk veeldagroetes waar stappers “graad vang” in stilte, stap, uitputting en gasvryheid. En beweeg in ’n spiritualiteit wat dalk te min met die NG Kerk verbind word. Le Roux Schoeman stap saam en doen verslag.
Een na die ander het hulle op die rotse geloop: Die Arniston, Doncaster, Northumberland, Venerable en La Lise … Toe volg ’n plan om die aantal “melankoliese rampe” te verminder.
Dit was 1840 en geesdrif vir ’n vuurtoring aan die suidpunt van Afrika het beursies plaaslik wyd oopgemaak asook onder skeepsmaatskappye so ver as Indië, die Filippyne en St Helena, vertel geskiedskrywers. En hier staan hy steeds – wit en rooi geverf – vlak voor jou soos jy verby ’n vis-en-tjips-winkel en ’n eiendomsagentskap stap: Rigting Kaap Agulhas.
Sestien dae ná hulle vertrek op Mosselbaai word drie stappers onlangs vir die laaste kilometer van hulle roete vergesel deur ’n plaaslike NG dominee. Sy het ’n stil manier en dra verstandige skoentjies en ’n donkerbril vir hierdie sonderlinge taak – om pelgrims te “debrief”.
Die stappers is hier by die eindpunt vredig-vrolik. Hulle vat selfs hande op ’n kol ter viering van die 330 km agter hulle – en dra elk die kenmerkende breërand rooi hoed wat deelnemers aan ’n Pelgrimstog van Hoop (PvH) aangemoedig word om te dra ten einde ander (en hulleself) te herinner dat hulle vir ietwat aweregse redes stap in ’n landskap besaai met staproetes en middel-tot-hoër-middelklasontspanning, wegbreekplekke en selfvermaak.
Die voorstapper is ook ’n dominee, onlangs afgetree, en pastorale terapeut uit Mosselbaai. Die ander stapper is Lorinda Maritz, ’n energieke vrou uit sy gemeente wat tot onlangs aktief op streeksinodale vlak by die NG Kerk betrokke was.
En dan nog ’n stapper, Hubré van Wyk (58), van Riversdal wat al tevore met ’n rooi hoed van Uniondale tot op Mosselbaai gestap het en nou met gesondheidsuitdagings sukkel en soms diep moes delf om die daaglikse afstand van tussen 20 en 30 km in beduidende hitte te voltooi. Ná die staptog het sy op weerlose wyse van ’n byna mistieke belewenis getuig wat spreek van die soort spiritualiteit waarvoor hierdie aktiwiteit ’n tuiste en uitlaatklep bied.
Hier vang pelgrims immers graad in stilte, stap, in verdwaal en in meditasie, afsondering en simboliek. God as onbegryplike. God in uitputting. Daar is agting vir indagtigheid (mindfulness) …
G’n voëltjie was te volop, g’n sonsondergang te ondermaans, g’n opslagveld te kaal, g’n roadkill te grusaam, g’n muishondspoor te dubbelsinnig, g’n blesbokdrol te onbenullig om die stappers tot ’n verwonderde halt te roep tydens die staptog nie. Onderlinge verhoudings het verdiep, stadig soos water wat ’n riviermond wegkalwe.
Pelgrimstog van Hoop: Vorms van spiritualiteit
Hoewel spiritualiteit seker nie staties is nie, is dit stellig steeds nie dié soort “kontemplatiewe tradisie” wat in die eerste plek in die kollektiewe Suid-Afrikaanse verbeelding met die NG Kerk verbind word nie. ’n Denominasie so trots bedeeld met sinodes, taakspanne, kuratoria, legitimasie-eedafleggings, aktes van demissie, praalkansels en babakamers. Hoe ookal, vir vele voel dit eg kerk, blyk dit.
Daar is twee gevestigde, welbekende roetes op die PvH-netwerk: Van Stellenbosch tot hier. En van Uniondale tot op Mosselbaai. Nou het hierdie stappers kom verken of ’n mens ook die ligtoring op Mosselbaai as wegspringplek sou kon gebruik en suid stap om sodoende ’n nuwe “been” toe te voeg in die lig daarvan dat die sogenaamde Tuinroete-opsie reeds vir 2023 vol bespreek is. (Sien video hieronder oor die Tuinroete-opsie – Red).
Dr Gerrie van Deventer, die oud-dominee van Mosselbaai, het die verkenningstog gelei en – rondom die kerngroep stappers – konstant netwerke uitgebou en as hefboom gebruik. Hy’t ’n skrander kaartspesialis en ontluikende ekoteoloog ds Dewald Hoffmann, betrek om die roetemerkers digitaal vas te pen.
En hy’t nog ’n stapper, Ena Briers, wat weens tydsdruk nie die volle roete kon doen nie, vanaf die oornagpunt by Malgas ingetrek en sodoende die groep met nog vars bene en perspektiewe verryk. (Hy het ook Kerkbode genader vir saamstap, nadat ons ’n vorige stel kronieke oor ’n soortgelyke staptog deur die Reënboogkruitvat wat ons Suid-Afrika noem, gewaag het in hierdie blaaie).
Lees ook: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek
Van Deventer werk nou saam met dr Frederick Marais, ’n geestesvader van die PvH wat, as kranige stapper wat destyds die Camino in Spanje gaan stap het, ’n beliggamingselement bring na sy natuurlike gawe vir saamroep.
Dit is meer as domineeskap en stapfiksheid wat Van Deventer bekwaam het om die roete te verken en te help uitlê. Hy verteenwoordig veel van die bewonderenswaardigste elemente van ’n beroep wat soms die kort loot trek wat stereotipies oor dweperigheid, ’n soort lae-oktaan-charisma, bloedlose vroomheid en/of ’n weersinwekkende rigiede benadering tot die lewe se grysgebiede betref.
As iemand wat Foucault kan aanhaal, ’n beesras op ’n mooi afstand kan uitken en ’n 25 km-staptog kan onderbreek om gou vir 20 mense onder ’n witmelkhoutboom nagmaal te bedien, is Van Deventer uitgeknip vir die vaag-omlynde KPA’s van ’n NG pelgrim.
So hier staan jy nou effens flou by die vuurtoring met jou pelgrimshoed en seer kuite. Agter jou lê Struisbaai se strandhuise, hawe, ruwwe kusgebied. De Hoop Marine Bewaringsgebied spog met meer as 250 visspesies, ’n natuurlike crèche vir noordkapperwalvisse en ’n broeikolonie vir die beleërde kransaasvoël.
Onder jou voete deur oor die afgelope paar dae is die vrugbare plaasgrond van plase wat oor generasies heen strek. Jy slaap op die donskussings in oorblyplekke wat die plaaslike grondeienaars wat kies om betrokke te raak, teen ’n fooi beskikbaar maak. In jou maag is die inhoud van hulle gul kospakkies.
In jou blad voel jy nog elke skud. Dikwels is die behuising reeds op AirBnB en ander platforms – reeds bestemmings in eie reg. In ander gevalle is dit vir pelgrims ingeruim en daar is ’n dieper-as-kommersiële inkoop in een of ander soort hoofletter-gasvryheid en onderhandelde mededeelsaamheid. (Dit het soms die gevoel van ’n soort kruipende, veeldag-kerkbasaar).
Lees ook: Droogte: ‘Die Here weet wie jy is, waar jy boer en waardeur jy gaan’
In enkele gevalle probeer Van Deventer pelgrims aanmoedig om grense oor te steek om uit gemak te beweeg na die soort “homestay”-opsie wat ander roetes (dink aan die Oos-Kaap) al ’n geruime tyd benut. Die teoloog Richard Rohr, wat vanuit die einste kontemplatiewe tradisie skryf, praat dikwels oor die wysheid aan die buiterand van die binnekring.
Oor Johannes die Doper, wat glads die venue verander van tempel na rivier, en die manier van doen uitdaag, skryf Rohr: “John the Baptist is the prophet who rejects the status quo without apology, eats the harsh food of that choice, and wears alternative clothing … He lives outside his own system of religion and culture – when his mom and dad were of the priestly class (Luke 1:5-6) … (And, thus, he was not trusted or liked by the authorities (Matthew 21:23-27).”
Om te stap deur die Strandveld – een plaas en nedersetting op ’n slag – om as ’t ware binnegelaat te word – is kennelik ’n voorreg en meer as ’n persoonlike kopreis. Dit is ’n onderdompeling in die kompleksiteit van ons land, ekonomie en samelewing. Die rykdom onder van die boere in hierdie landbousentrum van die Overberg is verstommend.
“Hier waterski ons,” word gesê in die rigting van ’n stuwende rivier. “In hierdie laning neem ons kinders troufoto’s,” volg dit later by die opstal wat meer herinner aan ’n toneel in Sewe dae by die Silbersteins as een nag op ’n pelgrimspad. En tog is dit juis daar waar die gasheer dan een oggend stilraak en die stappers “op die pad sit” met ’n gebed wat ooglopend by veral Van Deventer aanklank vind. “Mag (die stappers) waarneem, inneem en oppas.”