Elisabeth Kübler-Ross het ons baie gehelp toe sy in haar 1969 boek On death and dying die proses beskryf het waardeur mense gaan wat verlies of dood verwerk, hulle eie of dié van ʼn geliefde, skryf dr Christo Benadé: van ontkenning tot aanvaarding.
Stef Bos het ’n pragtige lied, “te groot vir woorden”, geskryf. In hierdie lied beskryf hy sy ma se pad met kanker asook haar vriende se ongemak met haar lyding gedurende hierdie tyd. Hy vertel ook self dat hy die lied geskryf het omdat hyself haar dood en lyding moeilik gevind het om te verwerk. Hy skryf:
‘Haar sogenaamde vriende
kom niet so vaak met langs
Die stuur net bloemen die ruiken na die angs
Als sy komen houden sy ’n warme jasen aan
Sy praten over niks en sy kyken haar net aan.’
Hoekom is ons so ongemaklik met die dood? Die meeste van ons weet nie regtig hoe om op te tree of wat om te sê as ons langs iemand se sterfbed staan nie. Die komende verlies is soms vir ons net te oorweldigend. Laurika Rauch beskryf dit so treffend:
‘Maar as iemand wat op my gegroei het
weg moet gaan
dan sit daar ’n seerplek.
Dan sluip ek deur die wêreld,
die kwesbaarheid self:
Ek met my seerplek
wat net nie wil genees nie’
Tog is dit ’n realiteit vir almal van ons – ons gaan geliefdes sien sterf en ons gaan self ook die paadjie loop. Die dood het egter baie klinies en verwyderd van ons geraak. Siek mense gaan dood in die hospitaal, hulle liggame word deur begrafnisondernemers gehaal en versorg. Ons kyk op ’n fisiese en emosionele afstand toe hoe hulle kis gedra word en in die grond afsak. Ons stap weg van die graf sonder om terug te kyk. Met verassing is hierdie afstand nog groter.
Hierdie kliniese afstand van die dood is ’n baie onlangse ontwikkeling. Deur die eeue heen was dood en geboorte deel van die alledaagse bestaan van die mense. Koos du Plessis sing van die kis wat op die solder wag (“Skadu’s teen die muur”). Vir baie jare was daar altyd ’n spaar kis op die solder. Die kis was gereed, want die dood maak nie ’n afspraak nie, as hy kom, kom hy onverwags. Ons voorvaders het geleef met die wete – die kis wag op die solder.
LEES OOK: Help! My man is ’n narsis
Die Bybel help vir ons met ’n goeie perspektief op die dood (2 Kor 4:16 – 5:5). Paulus skryf met diepe empatie en geestelike insig oor die dood. Die eerste saak wat hy duidelik maak is dat ons nooit moet dink aan die huidige lewe as ons permanente woning nie. Hy beskryf dit as ’n tent wat maar net ’n tydelike woning bly. Die feit dat die lewe vol vreugde en geluk is en dat ons so geheg raak aan die aardse lewe, lei ons in die versoeking om te dink dat die aarde ons permanente woning is. Tog was dit nooit God se plan nie. Omdat die Here Jesus die pad met die dood end-uit gestap het, is die angel en die verskikking uit die dood gehaal (1 Kor 15:55). Daar wag vir gelowiges ’n permanente woning by God wat deur Jesus vir ons gereed gemaak is.
Ek kry soms die gevoel dat ons dink aan die dood as die plek waar God verloor het. Ek kan dit heeltemal verstaan. Ons bid soms so opreg vir die genesing van ons geliefdes en as dit nie gebeur nie, wonder ons oor God se liefde en almag. Wil Hy nie gesond maak nie, kan Hy nie – hoe moet ons dit verstaan? Die ironie is dat die dood die oomblik is waar ons God se grootste oorwinning en liefde sien. Dit is juis in Jesus se dood dat ons God se volmaakte liefde en krag ontdek – dat Hy sy Seun opoffer, maar Hom ook uiteindelik weer uit die dood opwek. Omdat Jesus die dood oorwin het, is daar vir ons as sy kinders ook oorwinning.
Nog ’n rede waarom ons sukkel met die dood word blootgelê deur die vraag: “Waar is my grootste belegging”? Die vinnige antwoord kan seker wees, in my huis of pensioen. Die vraag is verder problematies as ons besef dat ons die gehegste is aan die plek waar ons grootste belegging is. As ons lewe fokus op die materiële belegging wat ons maak, gaan ons moeilik afstand doen van die enigste vastigheid wat ons het, maar as ons besef dat ons belegging by God ons kosbaarste bate is, begin ons anders dink oor die dood.
Materialisme is maar deel van ons DNS en die invloed daarvan verander ook soos die seisoene van ons lewe aanstap. Ons word gebore met geen behoefte aan die materiële nie. Ek het nog nie ’n baba teëgekom met ’n behoefte aan ’n blink motor of ’n paar Jimmy Choo- skoene nie. Soos ons opgroei word die materiële al hoe belangriker vir ons. Teen die tyd wat ons begin werk of studeer is dit seker die sterkste en is ons bereid om baie op te offer vir meer geld en goed. As ons op hierdie trajek bly, gaan ons baie swaar afskeid neem van die huidige wêreld.
Gelukkig het God dit so beskik dat daar ’n tyd in ons lewe kom waar goud sy glans begin verloor, wanneer ons begin om na meer te soek, dieper te delf. Dit is ’n belangrike fase, want dit is die seisoen waarin ons begin terug beweeg na ons geestelike kern en gereed maak vir ons volgende reis – die ewigheid in. Hierdie word ’n inwaartse reis, dieper in onsself in, maar veral dieper in God in. As hierdie egter net ’n inwaartse psigologiese tog is, mis ons die belangrikste element … die soeke na sin. Ten diepste bly ons geestelike wesens, Pierre Teilhard de Chardin stel dit so goed, ‘We are not human beings having a spiritual experience. We are spiritual beings having a human experience’. Hierdie geestelike dimensie van ons lewe kom van God (wat sy Gees in ons geblaas het) en soek ten diepste ’n verhouding met die ewige God self.
LEES OOK: Berig uit Goudini: Kan ’n sinodesitting transformerend wees?
Dit lyk vir my dat die meeste van ons vrede kan maak met die gedagte van dood wees, maar die proses van doodgaan bly vir ons ’n vreesaanjaende gedagte. Die Amerikaanse komediant, Woody Allen, bedryf dit mooi as hy sê, ‘I’m not afraid to die, I just don’t want to be there when it happens’. Die onbekende en die vrees vir lyding maak ons bang om dood te gaan. 2 Korintiërs 5:5 gee vir my baie troos as daar staan dat God ons voorberei vir die oorgang na die ewigheid. Ek het al so baie by die sterfbed van mense gesien dat daar ’n punt kom wat iets hulle begin trek, soms word dit verwoord as ’n geliefde wat roep, ’n lig wat hulle sien of Jesus wat aan hulle verskyn. Wat dit is, weet ek nie, maar dat hulle bewus raak van iets beter as hierdie lewe, is vir seker.
’n Vraag wat ek baie kry, is of ons kan bid dat God iemand wat swaar lyding verduur, kan kom haal. Die kort antwoord is, ja. As ons reg is om afskeid te neem, kan ons hierdie behoefte van ons ook aan God bekend maak. Dit is ook kosbaar as ons op hierdie punt gekom het waar ons gereed is om afskeid te neem. God het egter sy eie tyd. Hoekom sommige mense ’n langer lyding het as ander weet ek nie, maar ek troos my daaraan dat God beloof dat Hy saam met hulle hierdie pad stap. Ons moet altyd sensitief wees teenoor ander lede van die familie. Dit is nogal traumaties as een bid vir genesing en die ander vir verlossing.
As die dood ’n realiteit raak in ons lewe is die verwerking daarvan nie ’n oomblik nie maar ’n proses. Elisabeth Kübler-Ross het ons baie gehelp toe sy in haar 1969 boek On death and dying die proses beskryf het waardeur mense gaan wat verlies of dood verwerk, hulle eie of dié van ’n geliefde. Sy noem die eerste fase ‘Ontkenning’. Die gevoel van onwerklikheid, dat ons geliefde enige oomblik weer gaan instap, of ‘die diagnose is verkeerd, ek makeer niks’. Omdat die dood so klinies geraak het en ons so verwyder is van die dood, val ons baie keer in hierdie fase vas. Dit is vir ons nodig om by die sterfbed van ’n geliefde te wees, hulle liggaam te sien. Dit is nie maklik nie, maar dit help ons om die realiteit ons eie te maak en die verwerkingsproses te begin.
Tydens die volgende fase kan woede voorkom. Hierdie woede kan gerig wees op verskillende mense of situasies. Selfs die persoon wat dood is (hoe kon hy my agtergelaat het met al die probleme?), of die dokters, familie en selfs God.
As woede nie werk nie probeer ons onderhandeling, gewoonlik met God (‘ek sal enige iets doen as my geliefde net gesond word?’ of ‘kan ons nie nog hierdie behandeling probeer nie?’)
Die realiteit is dat die onderhandeling gewoonlik nie enige verskil maak nie. Die verlies of komende verlies begin nou ’n realiteit word. Die volgende reaksie is gewoonlik depressie. Hier moet ons baie mooi onderskei tussen ’n langdurige kliniese depressie en ’n depressie as deel van die verwerking van die dood. As deel van die verwerking van dood kan ons gewoonlik self daardeur werk. Sommige van ons kry dit egter nie reg nie of bly te lank in die depressiefase, dan is psigoterapie en medikasie noodsaaklik.
Na al die fases breek daar gelukkig ook die laaste fase van aanvaarding aan. Aanvaarding is die leef met die realiteit van die verlies, maar tog op so ’n wyse dat redelike normale funksionering voortgaan. Ons het ons hartseer tye, maar ons kry ons werk gedoen, onsself en ons gesin versorg en handhaaf gesonder verhoudings met die mense rondom ons en met God.
Kübler-Ross skryf: “The most beautiful people we have known are those who have known defeat, known suffering, known struggle, known loss, and have found their way out of the depths. These persons have an appreciation, a sensitivity, and an understanding of life that fills them with compassion, gentleness, and a deep loving concern. Beautiful people do not just happen.”
Elkeen het maar sy eie pad wat sy stap, die fases volg nie noodwendig op mekaar nie en soms maak ons weer ’n draai by ’n vorige fase. Wat belangrik is, is dat hierdie emosies wat ons het tydens hierdie proses, normaal is en dit tyd neem om daardeur te werk. Dit neem maklik ses maande om deur die fases te werk. As jy op ’n punt kom waar jy voel jy haak vas in ’n fase, gaan praat gerus met iemand.
As jy iemand na aan jou het wat terminaal is of iemand ondersteun wat die dood van ’n geliefde verwerk, onthou ‘Die dood is te groot vir woorden’. Moet nie te veel bekommer oor wat jy gaan sê om hulle te laat beter voel nie. Dit is baie moontlik dat niks wat ons kan sê hierdie las van hulle gaan ligter maak nie. Wat ons wel kan doen is net om daar te wees, nog ’n koppie tee te maak, en sommer net in stilte by mekaar te sit.
Die wete dat die kis op die solder vir almal van ons wag, maak dit nodig dat ons elke dag sal aangryp. Die lewe is ons geskenk, maar die hemel is ons bestemming.
- Dr Christo Benadé is leraar van die NG Gemeente Suider-Strand.
