Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Brief: Help my tog met perspektief op Dag van Verootmoeding

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Johannes Froneman van Kleinmond skryf: Verskeie aspekte van vanjaar se Dag van Verootmoediging het my verontrus – tot so ’n mate dat ek maar stilgebly het waar ek as deel van die gemeente instemmend moes reageer.

Ek het dit ervaar as ’n goed bedoelde poging wat mank gegaan het aan ’n deeglike aanloop en verduideliking. Ja, dit is in Kerkbode verduidelik, maar hoeveel gemeentelede het byvoorbeeld geweet wat bedoel is met “God se droom” vir ons land? Hoe kon almal dan met vrymoedigheid sê: “Ons koester steeds daardie droom”?

LEES OOK: ‘Hoe gemaak as die ASM ons telkens terugverwys na verstopte kerkordelike kanale?’

Iewers het ek duidelik agtergebly, want ek is glad nie seker wat “God se droom” vir die land (die Republiek van Suid-Afrika) is nie. Wat word daarmee bedoel? Dat ons ’n paradys op aarde sal skep waar almal werk het en al “God se kinders” vry en amper gelyk sal saamwoon? Luister na dié paragraaf:

“Dit is die droom dat almal in Suid-Afrika ’n werk kry; dit is die droom dat armoede uitgeroei word; die droom dat onderwys op peil kom; dat al ons mense huise en toegang tot water het; dat almal gelyke geleenthede het; dat ongelykheid drasties verminder; dat geweld tot ’n einde kom; dat korrupsie hokgeslaan word, en dat vertroue herstel word. Dit is ’n droom wat diep gewortel is in God se droom vir ons en vir ons land.”

Het die opstellers dit by dr Martin Luther King gehoor of in die Bybel? Is daar ’n verskil tussen God se droom vir Suid-Afrika en vir al die ander lande van die wêreld? Is daar ’n verskil tussen ’n wonderlike politieke toespraak en “God se droom”?

Hier is ’n stuk onderliggende teologie ter sake wat my ongemaklik maak. ’n Tydige verduideliking van “God se droom vir ons land” sou my en ander lidmate gehelp het om dié teologie te verstaan en nie te laat vermoed dat dit ’n stuk reënboognasieteologie op spoor van Desmond Tutu is nie.

LEES OOK: Biogas van beesmis, buitestort en Bosveld-pastorie – Kerkbode kry ‘groen storie’ in Limpopo

Luister wat die teks sê: “Met hierdie geloof sal ons kan saam werk, saam bid, saam stry, saam moeilike situasies deurstaan, saam opstaan vir vryheid, wetend dat ons almal God se kinders is” (my kursivering). En my vraag: Almal?

Verder moet ek ’n vraagteken plaas aangesien die apartheidsteologie ook hemel op aarde wou meebring, soos wat WA de Klerk so briljant uitgewys het in sy boek Puritans in Africa. En ons weet wat dit ons in die sak gebring het.

Terwyl daar veel in die hele inisiatief is wat goed klink, twyfel ek sterk aan die onderliggende teologie. ’n Verduideliking sal help om dit in die regte perspektief te plaas, al is dit dan mosterd na die maal.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Brief: Help my tog met perspektief op Dag van Verootmoeding”

  1. Groot dank aan prof Johannes Froneman wat ook my ongemak verwoord het. God se droom vir Suid-Afrika is in sy Woord aan ons vervat – dat ons sy voorskrifte vir ‘n heilige en welgevallige lewe sal nakom en Hom bo alles sal eer en aanbid. Hy het vir ons uit sy eie hand die 10 goue reëls vir ‘n gelukkige en geseënde lewe gegee. Maar in Suid-Afrika word elk daarvan gruwelik oortree. Kan ons regtig iets van God vra as ons nie bereid is om te doen wat Hy van ons vra nie. As die NG Kerk haar minder met politiek en meer met diens aan God en naaste besig hou, sal dinge dalk begin verander.

  2. Hoffie Hofmeyr

    Ook ek het my ongemak nie uitgespreek nie en veral nie oor twee sake nie: Eerstens die “Groot Droom” wat lyk my nie veel anders is as die NGK se Droomscenario vir 2030. Dis eintlik niks anders as ‘n nuwe Nasieteologie wat nou gevestig moet word asof ons nie reeds voorheen die dure lesse van ‘n Volksteologie geleer het nie. Tweedens is daar tydens hd Verootmoedigingsproses geen sprake van selfondersoek oor die NGK en sy huidige vreemde agendas nie. Dit maak hd Verootmoedigingsproses eintlik sinloos

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.