Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dana Snyman: Vir wie om te gee?


Gistermiddag kom daar weer ’n WhatsAppboodskap van haar af: “Ka oom nie my seblif help met ’n paar sente nie? Ons het nie kos en krag nie.” Nes al soveel keer tevore.

Jammer, jy kan nie, laat weet jy terug.

Iewers moet dit end kry. Jy het ook nie meer krag nie.

’n Paar sekondes later piep jou selfoon weer: “Ek gaan mar my goed vat en op straat gaan bly oom.” Dadelik is jy kwaad. Jy stuur ’n kwaai stemboodskap vir haar waarin jy vir haar sê sy moet ophou om jou emosioneel af te pers. Sy is niks van jou nie. Maar nes al soveel kere tevore vee jy die stemboodskap weer uit.

LEES OOK: Só kan jy in 2024 op hoogte van kerknuus, vakatures en amptelike skuiwe bly

Dit is nie dat ’n mens suinig is nie. Die probleem is net vir wie moet jy deesdae gee want almal wil hê? Of só voel dit soms.

Neem maar ’n gewone werksdag. Halfsewe word jy wakker en skakel die radio aan, net betyds om te hoor hoe vra die aanbieder geld vir ’n kinderhuis in Polokwane waar dit sukkel-sukkel gaan. ’n Ander stasie samel weer geld in vir vloedslagoffers iewers. Jy staan op, maar voor jy die ketel aanskakel sien jy die nota wat Agnes sommer voorin ’n Hennie Aucamp-kortverhaalbundel geskryf het: “ek vra R120 vir die rok vir die choir by die kerk.”

Iewers ná agt klim jy in jou bakkie en ry dorp toe om ’n paar goedjies te gaan koop. Jy gaan soek na Beethoven se Sesde op Spotify en luister daarna, op soek na gemoedsrus.

By die tweede verkeerslig in die dorp begin jou wroeging. Ook op Nelspruit staan deesdae mense met bedelgesigte by die verkeersligte. Vir watter een moet jy iets gee? Die rooi oom wat velkanker ontwikkel naby die Spar? Of die werklose moeder naby die Mall? En dan is daar nog die ou wat behalwe sy ander probleme ook erge spelprobleme het: “Werk verlor. Twee kinners.”

LEES OOK: Vele kom huldig ‘geduldige optimis’ Frederick Marais wat preekstoel meer toeganklik maak, pelgrimroetes laat gedy en plek van stilword op Wellington vestig

Boonop het jy vanoggend ’n e-pos van die SA Orgaanskenkstigting ontvang. Wil jy nie dalk van jou organe aan hulle bemaak nie? En jy moenie vergeet nie: jou buurman se seuntjie het gevra of jy hom nie vir twee rondtes in ’n kaskarmarathon kan borg nie. Op ’n koerantplakkaat pleit die Bulls se afrigter vir begrip. Die ou met die clipboard wat soms by die Mall se oostelike ingang staan, is op sy pos. Na bewering kollekteer hy vir bejaardesorg. Hy het ’n Og-Mondino-the-best-salesman-in-the-world-benadering. “Ek wil jou geld vir ’n goeie saak vat, meneer,” sê hy terwyl hy jou aangluur. “Net R60, dankie.”

Sulke ouens laat jou voel of jy die een is met die probleem. Dikwels vat hulle ook nie nee vir ’n antwoord nie.

“Jammer,” sal jy dalk sê. “Ek het nie nou kontant by my nie.”

“Dis reg,” sal hy dan bitter antwoord. “Beroof maar ’n ou tannie.”

LEES OOK: Dana Snyman: ‘Hier waar ons laasjaar nog saam geëet het’

En dan is daar die karwagte. Jou bakkie het ’n immobiliseerder in asook ’n alarmstelsel wat verbind is met ’n sateliet iewers in die ruimte, en hier staan hy voor Checkers, krommerig, met ’n rooi neus en ’n hoesie waarin ’n miljoen filterlose sigarette weerklink, en hy vra: “Kan ek maar ’n ogie oor meneer se kar hou?” ’n Ogie?

Oor karwagte en hulle unieke gewoontes kan ’n mens baie sê. Daar is ook die een met die Stetson-hoed. Hy is maklik vyf jaar ouer as jy, tog noem hy jou “oom”. En dié wat staan onder die yl koeltetjie onder die boompie in die parkeerterrein en jou in ’n moeë stem verseker: “Ek sal mooi na hom kyk, meneer.”

Een kêrel – ’n nie-karwag – het my al genader met ’n aanloklike dog vreemde versoek. Hy het op ’n sypaadjie in Pretoria na my toe gekom en gevra: “Kan ek jou ’n guns vra?”

“Vra maar,” het ek geantwoord.

“Ek wil hê jy moet my slaan.” Toe leun hy vorentoe em tik met ’n vuil vinger op sy ongeskeerde kennebak. “Net hier, donner my net hier, asseblief. Ek verdien dit.”

Toe vertel hy my hoe spyt hy is oor sy verlede, hoe sy gesin onder sy drinkery gely het. Maar nou het hy tot bekering gekom, as jy net vir hom R200 kan leen sodat hy in PE kan kom waar sy broer vir hom ’n werk gekry het.

LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem

Dalk is daar bepaalde ooreenkomste tussen sulke bedelmense en ’n skrywer, het ek al gedink. Ons vertel stories om ’n lewe te maak, stories wat dikwels ooreenkomste met die werklikheid het.

Die meisie wat gistermiddag weer vir my ’n WhatsApp gestuur en vir “’n paar sente” gevra het, is ook ’n karwag, op ’n moedelose dorp in die ou Wes-Transvaal. Hoekom ek my foonnommer vir haar gegee het, weet ek nie. Seker maar oor jammerte. Die son het haar al kwaai verniel. Ek het al gewonder of sulke mense nie ’n onderdrukte begeerte het om hulleself vir ons wat meer bevoorreg is, in die bloedige son, in die openbaar, te offer nie. Asof hulle daarmee wil sê: Ek offer myself op die altaar van jou selfsugtigheid. Want ’n hoed wil hulle nie dra nie.

Bedelaars laat my oor baie dinge dink. Ek het al gewonder of ek nie god speel met daardie karwagmeisie nie. Ek kan besluit of ek iets vir haar wil gee of nie wil gee nie. Dan dink ek weer aan Jesus en die goddelike liefde wat Hy uitgeleef het: om te gee, sonder om iets terug te verwag. Om nie uit jammerte te gee nie, maar uit genade en liefde.

Vir wie moet jy deesdae gee en vir wie nie?

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Dana Snyman: Vir wie om te gee?”

  1. Johan van Rooyen

    Dankie Dana. Ek wag bakhand op jou bydra elke keer. Jy gooi woorde en sinne in my hoed en in my hand. Gee wat jy kan… die liefde en respek waarmee jy mense altyd behandel.

  2. Elsabe Mouton

    Liewe Dana

    Ek dink nie daar is n mens in SA wat nie elke dag deur een of ander vorm van bedelary gekonfronteer word nie!! Want maak nie saak waar jy bly, ry of inkopies doen nie, daar is oral om ons bedelaars.
    En om te gee of nie…. ek het al gegee, maar dis nooit genoeg nie. Moet more en oormore en volgende week, maand of jaar weer gee. So nou gee ek glad nie meer kontant aan bedelaars nie.
    Ek kook sop , heerlike hoendersop wat ek aan ons kerk gee, en van daar word my en vele ander vrouens se sop , versprei na waar nodig. So sus ek my gewete, en verder probeer ek ‘n voorbeeldige lewe lei en om binne my vermoens te leef.

    Maar ja bedelaars gaan nog lank met ons wees.

    Groete
    E Mouton

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.