Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johan van der Merwe: Op pad na die eeufeesviering van Afrikaans in 2025

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


99 nie uit nie! Dit is nie die aantal lopies wat ’n bekende krieketspeler in ’n belangrike krieketwedstryd aangeteken het nie. 99 is die aantal jare wat Afrikaans in 2024 amptelik oud is nadat dit op 8 Mei 1925 as amptelike landstaal erken is. Dit was die gevolg van ’n jare lange stryd wat reeds in 1875 met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) begin het en wat onlosmaaklik deel van die geskiedenis van die NG Kerk is. Johan van der Merwe vertel meer.

 

Die stryd om die erkenning van Afrikaans het vir meer as ’n 100 jaar fel in die NG Kerk gewoed. Bekende kerkleiers soos di HS Bosman, J van Belkum en proff JI Marais en PJG de Vos het hulle sterk teen Afrikaans as kerktaal uitgelaat. Aan die ander kant was daar ’n groep jonger predikante, onder wie DF Malan, JD du Toit en NJ Brummer wat Afrikaans as kerktaal sterk ondersteun het.

Ten spyte van die sterk teenstand, is Afrikaans in 1916 deur die Vrystaatse sinode as “officiële taalvorm op kansels en elders, naast Nederlands”, aanvaar. Drie jaar later het die Raad van Kerke op 11 Maart 1919 besluit dat sinodes wat Afrikaans nog nie as amptelike taal erken het nie, die nodige stappe moes neem “ter verkrijging van dit recht van onze moedertaal.” Hoe ernstig die stryd oor Afrikaans in die kerk was, word bevestig deur die kerkskeuring wat as gevolg van die verskil oor die gebruik van Afrikaans in eredienste in 1927 te Graaff-Reinet plaasgevind het.

LEES OOK: Teologiese navorsing: Oor leierskap en toekomsvisie

Die vertaling van die Bybel in Afrikaans het hand aan hand met die stryd om die erkenning van Afrikaans as kanseltaal geloop. Reeds met die stigting van die GRA het ds SJ du Toit besef dat die toekoms van Afrikaans en die vertaling van die Bybel in Afrikaans onlosmaaklik aan mekaar verbind was. Daarom was dit ’n verdere hoogtepunt vir die NG Kerk en Afrikaans toe die Carnarvon Castle op 29 Mei 1933 met 10 000 Afrikaanse Bybels aan boord, in Kaapstad vasgemeer het.

Op pad na die eeufeesviering van Afrikaans in 2025 is die taal opnuut onder druk. Die uitfasering van Afrikaans as onderrigtaal by universiteite, die beplande BELA-wetgewing deur die Department van Basiese Onderwys en die verskuiwing van Afrikaanse programme na minder toeganklike TV-kanale is enkele voorbeelde. Dit is egter ook die toenemende gebruik van Engels in eredienste en op vergaderings van die NG Kerk wat die vraag oor die toekoms van Afrikaans opnuut beklemtoon. Die feit dat Afrikaans die kerk eksklusief maak, bemoeilik die saak natuurlik verder. Juis daarom is ’n nuwe gesprek oor Afrikaans in die kerk, en die kerk se deelname aan die eeufeesviering van Afrikaans in 2025 dringend noodsaaklik!

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Johan van der Merwe: Op pad na die eeufeesviering van Afrikaans in 2025”

  1. Hennie van Deventer

    “Die feit dat Afrikaans die kerk eksklusief maak, bemoeilik die saak natuurlik verder …”

    Maak elke ander taal ter wêreld nie die kerk en elke ander instelling wat in daardie taal bedryf word, ewe eksklusief nie?

    Geen taal onder die son kan tog vir almal toeganklik wees nie. Selfs die “wereldtaal” Engels is nie vir almal toeganklik nie en is dus in ‘n sekere sin eksklusief en uitsluitend.

    Ek noem graag ‘n Sothovrou wat op Melkbos gewoon en -werk het, as voorbeeld. Sy het ‘n probleem gekry met haar kredietkaart. Haar werkgewer neem haar toe na die tak van die betrokke bank. Maar daar praat almal net Engels of Xhosa. Sy kon g’n snars verstaan nie; haar behoefte was om in Sotho of Afrikaans te woord gestaan te word.

    Hoe gaan ‘n inklusiewe kerk (met die nuk om Engels te wil praat) haar en al die ander soos sy akkommodeer?

  2. Johan Rademeyer

    So ‘n gesprek is meer as nodig , gesien in die lig van veral musiek in die kerk
    ( Praise and worship ) wat al meer gebruik word.
    Wat het bv geword van ons pragtige halleluja liedere . Woorde en musiek nog net so vars soos ek dit as kind leer ken het meer as 70 jaar gelede .
    Almal verstaan dat vernuwing voordurend nodig is , maar die vraag moet seker ook gevra word , ten koste van wat ?

  3. Cornelis Potgieter

    My Moedertaal is nie op te veil nie. Ek’t toe ek jonk was gekies om n lidmaat van die NG KERK te word, dit het my taal gepraat en die Bybel verkondig. Nou is my Taal “eksklusief”, veronderstel dit my Taal is nie meer geldig nie. Die NG KERK het VELE Andrey Murray Gemeentes waar lidmate in Engels bedien word. Waarom toring aan my Taal?? En n gepraat oor hoe /of die NG KERK aan die EEUFEES viering gaan deel neem. Wat impliseer dit… se Reguit wat jy bedoel, moenie vroom praatjies maak nie ‼️

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.