Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Teologiese navorsing | Missionale rentmeesterskap: Dit begin by ’n droom wat groter as die begroting is – die verband tussen finansies en geloof


Die meeste van ons dink finansies en rentmeesterskap gaan net oor boekhou, begrotings en die bestuur van geld, maar wat as dit eintlik veel dieper gaan? Dawie Theron skryf hieroor in sy MTh-tesis met die titel: “Missional stewardship”. Dit is ’n studie van hoe missionale rentmeesterskap ’n nuwe lens kan wees waardeur ons die kerk se rol in die gemeenskap sien – een wat nie bloot gaan oor geld nie, maar oor ’n groter droom, ’n roeping wat ons almal deel van die huishouding van God maak. Doret Niemandt vind meer uit.

 

Theron vertel dat hy in die tagtigerjare sy loopbaan in rekeningkunde begin het. Dit was logies om op daardie pad te bly, maar daar was ’n aanhoudende roeping, ’n stem wat nie wou stilbly nie – die behoefte om ook teologie te gaan studeer. Dit klink dalk na ’n vreemde kombinasie, maar vir Theron het hierdie twee wêrelde, finansies en geloof, al hoe meer begin lyk soos twee kante van dieselfde munt. Hy het deur hierdie reis ontdek dat die finansiële aspekte van die kerk nie afgesonder moet staan nie, maar ’n integrale deel van ons geloofsroeping is.

Dawie Theron

LEES OOK: Kerkmusiek: Kurrikulum wink vir die NG Kerk | Doret Niemandt gesels met Riaan Steyn

So, wat is rentmeesterskap? Dalk dink jy dadelik aan die finansies van die kerk, maar dit is nie waar dit begin of eindig nie. Rentmeesterskap kom van die Griekse woord oikos af, wat “huishouding” beteken. Dit sluit alles in wat by die versorging van ’n huis kom, nie net geld nie. Paulus stel dit duidelik: Ons is almal deel van God se huishouding, en ons roeping is om hierdie huishouding hier op aarde op te pas.

Wanneer jy aan jou eie huishouding dink, gaan dit tog oor meer as net geld. Dit gaan oor liefde, versorging, verhoudings, ondersteuning – dinge wat nie met geld gemeet kan word nie. Op dieselfde manier moet die kerk nie net oor finansies dink nie. Ja, geld is belangrik, maar dit is net ’n klein deel van wat die kerk moet doen. Wanneer finansies die hoofonderwerp in die kerk word, is dit dikwels ’n teken dat alles nie pluis is nie.

LEES OOK: Doret Niemandt gesels met Gerbrand Bodenstein: Om dominee te wees in die ‘eeu van egtheid’

Missionale rentmeesterskap vat hierdie idee verder, vertel Theron. Dit gaan oor die huishouding van die kerk, maar ook oor hoe die kerk in die gemeenskap dien. Die kerk is nie net daar vir sy eie lidmate nie, maar ook vir die gemeenskap – die skool, die kinderhuis, die aftree-oord. Dit is God se missie vir sy kerk: om nie net intern gefokus te wees nie, maar om ook die wêreld buite die kerkgebou se mure te transformeer.

Een groot inspirasie in hierdie verband is die werk van Andrew Murray jr, wat in die 1870’s in Wellington groot dinge vermag het. Onder sy leiding het die NG Kerk betrokke geraak by vroue-onderwys, sendingopleiding en die oprigting van ouetehuise en kinderhuise. En dit het alles gebeur in ’n tyd toe die ekonomie glad nie gunstig was nie. Daar was nie altyd fondse nie, maar die gemeente het groter as hulle begroting gedroom, en God het voorsien. Wat hulle gedoen het, het nie net die kerk bevoordeel nie, maar ook die gemeenskap getransformeer.

Theron verwys ook na die finansies van die NG Kerk Wellington deur die geskiedenis, daar is baie wat ons kan leer. In moeilike tye, soos tydens die Anglo-Boereoorlog, het die gemeente se dankoffers nie afgeneem nie, dit het gestyg! Hierdie verhale getuig van ’n gemeente wat op groot droom, eerder as op die kleingeld gefokus het. Wanneer lidmate glo dat hulle drome ’n verskil kan maak en hulle uit hulle gemaksones tree, dan begin dinge verander.

LEES OOK: Doret Niemandt gesels met dr Thys du Toit: ‘Roeping is jou unieke bydrae’

Dit is hierdie transformerende denke wat Theron hoop gemeentes vandag kan omhels. Dit gaan nie net oor die vraag: “Hoe verhoog ons ons inkomste?” nie. Dit gaan oor: “Hoe leef ons ons roeping in die wêreld uit?” En wanneer gemeentes met daardie droom werk, gebeur daar wonderlike dinge. Mense word bemagtig, nie net finansieel nie, maar ook deur betekenisvolle projekte wat lewens verander. Dink aan ’n koffiewinkel in die kerksaal waar senior lidmate mekaar ondersteun, of ’n kwekery op die kerkgronde wat werk skep en die ekologie ondersteun. Dit gaan nie oor ’n lysie maatreëls wat gevolg moet word nie. Elke gemeente is uniek en moet sy eie pad vind. Dit begin by die vraag: “Wie is ons? Waar is ons gesetel? Hoe kan ons deel wees van die verandering wat God in ons gemeenskap wil bring?” Wanneer ’n gemeente begin droom oor hoe hulle gemeenskap verander kan word, kom die finansies vanself reg, vertel Theron. Dit was so deur die kerk se geskiedenis, en dit kan weer so wees.

Die konsep van missionale rentmeesterskap is dus nie net ’n strategie vir finansiële oorlewing nie. Dit is ’n kultuurverskuiwing in die kerk. Dit gaan oor die idee dat elke lidmaat, van die dominee tot die besigste sakeman, ’n aandeel het in die sukses van die gemeente. Wanneer ons almal ons roeping as rentmeesters van God se huishouding verstaan, begin dinge verander.

So, wat nou? Wat van jou gemeente? Miskien voel jy dat julle sukkel om die begroting te laat klop, of miskien is julle vasgevang in die “kerkstrukture”. Maar onthou, dit begin nie by finansies nie – dit begin by ’n droom. ’n Droom wat groter is as die begroting. ’n Droom om God se hande en voete in die wêreld te wees.

Dr Doret Niemandt is predikant by die NG Gemeente Valleisig.

Ds Dawie Theron is as tentmakerleraar gekoppel aan die NG Gemeente Wellington.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Teologiese navorsing | Missionale rentmeesterskap: Dit begin by ’n droom wat groter as die begroting is – die verband tussen finansies en geloof”

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top