Belangstelling, geesdrif én agterdog heers rondom die NG Kerk se langtermyn-proses om deur middel van “Roetemerkers” lidmate meermale die geleentheid te gee om sy/haar geloof te bely deur die klem te versag op ’n eenmalige belydenis van geloof.
Die doop maak jou ’n lidmaat (van die kerk), maar Roetemerkers wil jou help met die belewenis van die diepte van jou lidmaatskap, het ds Tienie Bosman al by die sitting van die Algemene Sinode, in Oktober 2023, namens die Taakspan Roetemerkers aan Kerkbode verduidelik.
Een jaar later, in Oktober vanjaar, is verteenwoordigers van die taakspan met belangstelling deur afgevaardigdes uit al tien die kerk se samestellende sinodes ontvang tydens ’n deeglike ronde terugvoer by ’n vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM).
Taakspanlede het ’n paar hulpmiddels bekendgestel om die aanloop en teologiese begronding van Roetemerkers toeganklik uiteen te sit. Dit sluit ’n animasievideo in, waarin Roetemerkers omskryf word as “fisiese of simboliese punte in ons lewe wat ons help om rigting en perspektief te kry.”
Die videonarratief lui voorts: “Roetemerkers gee ons drie dinge: dit help ons oriënteeer, dit help ons identifiseer wie ons is en aan wie ons behoort en dit gee vir ons ’n geleentheid om te bely en te bevestig wat ons glo,” volgens die Taakspan-video, wat ook op die webblad van die Algemene Sinode gepubliseer is, tesame met ’n Gereelde Vrae-artikel (Frequently Asked Questions).
Volgens ds Anandie Greyling, verbonde aan die taakspan, is daar belangstelling onder leraars en gemeentes wat meer wil weet oor Roetemerkers en dié soort hulpmiddels daaroor. Sy het, naas die video, ook verwys na die boekie Roetemerkers waarvan Greyling en ds Wynand van Niekerk die redakteurs is. Dit bevat informele liturgieë. Greyling en prof Cas Wepener het ook ’n boek saamgestel Ongekaart wat liturgiese voorstelle vir ander oorgange maak.
Daar bestaan tegelykertyd ook onsekerheid, selfs agterdog binne kerkgeledere oor hierdie saak. In ’n onlangse brief aan Kerkbode skryf ds Theo Danzfuss: “Deur openbare geloofsbelydenis te vervang met blote ‘roetemerkers”’ het die AS die NG Kerk stil-stil op ’n verkeerde roete geplaas.”
Danzfuss sit sewe “implikasies” uiteen in sy beswaar, waaronder:
- My lidmaatbewys kan nou slegs getuig dat ek gedoop is.
- Gedooptes wat nooit gekatkiseer of belydenis van geloof afgelê het nie kan nou op die kerkraad dien.
- Ek kan kinders doop sonder enige lidmaatbewys van my eie geloofsoortuigings.
Agtergrond vir die skuif
Die konsep van Roetemerkers hou verband met die veranderinge wat ingetree het rondom die kerk se vereistes vir lidmaatskap en nagmaal. Vroeër jare was die voorwaarde om nagmaal te kon gebruik dat dooplidmate eers gekatkiseer word in die belydenisskrifte en dan daarna voor die gemeente belydenis van geloof aflê. Hierdie openbare belydenisaflegging was ook ’n voorwaarde vir lidmaatskap. In 1998 het die Algemene Sinode besluit dat dooplidmate nagmaal mag gebruik. ’n Paar jaar later in 2002 het die Algemene Sinode die besluit goedgekeur dat om gedoop te wees al voorwaarde is om ’n NG lidmaat te word.
Hierop het al meer lidmate begin vra hoekom dit nog nodig is dat dooplidmate eenmalig hulle geloof voor die gemeente moet bely? Die Algemene Sinode van 2011 het ’n taakspan aangestel wat met die voorstel gekom het vir die ontwikkeling van roetemerkers. Ds Tienie Bosman was die sameroeper van daardie taakspan en by hom hoor ’n mens dat die konsep van Roetemerkers weldra die insig dat geloofsvorming ’n lewenslange reis is, geformaliseer het binne die kerk.
Roetemerkers: Só sê leraars
Nadia Muller van Simondium Familiekerk in die Paarl vertel in hulle gemeente het twee graad 11’s en twee matrieks vanjaar gevra of hulle voor die gemeente hulle geloof kon bely en so wys dat hulle deel van ’n gemeente wil wees. Dit is glad nie ’n geforseerde ding by hulle nie, sê sy, maar dit gaan vir haar oor die jongmens en waar is hulle in hulle verhouding met die Here en hoekom hulle dit doen. Sy voeg by sy is oop vir die skep van meer geleenthede om as geloofsgemeenskap spesiale momente in mekaar se lewe te vier.
Nardus Greyling van Jeffreysbaai-gemeente in die Oos-Kaap sê hulle is in die begin van oorgaan na die nuwe taal van roetemerkers. Hulle praat nog van belydenisklas, maar dit is nie verbind aan lidmaatskap of nagmaalgebruik nie. Vir hulle is hierdie ’n kosbare en belangrike jaar en die belydenisdiens aan die einde van die jaar, sê hy, skep vir hierdie jongmense ’n geleentheid om in antwoord op die doop te sê “hierdie is wat ek glo en wie ek is”. Hy is opgewonde dat roetemerkers kan help om meer sulke geleenthede te kan skep.
Johan Visser en Marius Schoombie van Stellenberg-gemeente in die Kaap is al sedert 2023 besig om wat hulle noem “’n kultuur van roetemerkers” te vestig. Hulle sê dit het ’n baie positiewe impak op hulle gemeente. Daar is verskeie sulke geleenthede deur die jaar soos onder meer vir graad 7-kinders wat hoërskool toe gaan. Elke roetemerker sluit ’n doopherinnering in. Johan verduidelik “roetemerkers help die hele gemeente om saam met die spesifieke groep hulleself te oriënteer, terug te kyk en vorentoe te kyk. Ons is almal op verskillende plekke van die lewensreis, maar kan so saam met hierdie groep ’n belydenis doen van die Een in wie ons glo”.
Na aanleiding van hierdie artikel oor Roetemerkers, wil ek inteken. Stel belang aan nuwe planne en idees.
Dankie
Die gewaar is baie groot dat mens ‘n god kan skep wat pas by sy denke, soos die Israeliete wat van die goue kalf gesê het dat dit die god is wat hulle uit Egipte uitgelei het. So is dit mootlik om ‘n god te skep en dan te sê dat dit die God van die Bybel is. Dan word God se ewige Woord ‘n primitiewe woord wat herinterpreteer moet word deur ‘n meerderheid stemming.