Die vuil seuntjie het op die randsteen langs die pad gesit, tussen die groot woonkomplekse waar Abudja se ryk mense bly. Dit was op ’n draai tussen drie ongemaklik hoë spoedhobbels. My motorbestuurder, Alpha, was besig om my terug na my woonplek te neem. Ek het die seuntjie nie ouer as agt jaar geskat nie. Hy het net een rooi plakkie aan gehad. Ons oë het in die verbyry kontak gemaak, maar hy het net daar gesit. Sy oë het niks gesê nie.
Later die dag het ek alleen met my linkerstuurkar gery om drinkwater by ’n Moslem-oompie se straatstalletjie te gaan koop. Toe het ek daarvandaan ’n entjie verder by die seuntjie gaan stilhou. Hy het steeds op die randsteen gesit. Ek het hom ’n Coke en drie pakkies shortbread-beskuitjies aangebied. Hy het opgestaan, ’n stok langs hom gevat en as kruk gebruik. Tussen die stok en sy regterbeen het sy linkerbeen slap gehang, sonder ’n rooi plakkie aan die voet. Hy het in Engels en met ’n sterk stem “Thank you” gesê, die eetgoed geneem, omgedraai en weer gaan sit.
LEES OOK | Podsending: Wonderwerke, omkeerpaaie, nagstukkies + 7 gewilde Kerkbode Kollig-podsendings
Op daardie oomblik flits daar ’n kar verby ons, al hoppende oor die hoë spoedhobbels, terwyl hy sy toeter druk. By die groot woonkompleks, Flower Gate, waar hy indraai, sien ek die plakker op sy modderskerm: The Lord’s favour rests upon me. Ek het daardie jaar onderwys in Abudja gegee en was teen dié tyd al gewoond aan die alewige health, wealth and prosperity gospel wat besig is om oor Afrika te spoel.
Toe ek later daardie middag, Bybelsak in die hand, op my Sondagwandeling gaan om iewers te gaan sit en my gewete so ’n bietjie te sus, waarsku die wagte by die hek my: “Sir, white people do not walk outside of the estate.” Ek verduidelik dat ek net gou na ’n vriend toe gaan. Met my rooi Jeep-hempie, swart rugbybroekie, wit breë kriekethoed, pienk gebrande bene en baard wat voor my malaria-aanval laas geskeer is, stap ek by die estate uit. Voor ek my kom kry, is ek weer op pad na die vriendelike Moslem-oom se straatstalletjie toe.
LEES OOK | Diep spore van diensbaarheid: Oom Piet Pieterse reflekteer oor 70 jaar in die amp van diaken
Dit is Sondagmiddag en orals ry duur motors sonder duike met netjies geklede insittendes van hulle kerke af terug huis toe. Elke kar het ten minste een plakker op wat spog dat hy by die mees geseënde kerk in Abuja aanbid: No controversy, I’m blessed; I am a winner; I will be perfected; I’m not smarter, it’s God’s favour. Toe ek by die stalletjie kom, is daar juis een van dié mense besig om hard te praat en hande te swaai omdat hy nie die regte soort tandepasta daar kry nie.
Ek koop twee koeldranke en ’n hand vol loslekkers, en vra dat dat die oom sommer ook ’n brood, ’n pakkie kitsnoedels, ’n blikkie sardiens en kartonnetjie melk bysit. Soos gewoonlik tel hy die kleingeld tot op die laaste sent. Ek sê vir hom hy kan dit maar hou, nie omdat ek ’n goeie mens is nie, maar omdat die klein naira-note gewoonlik so verfrommel en grillerig is om aan te vat. “Bless you, sir,” sê hy. “Bless you.”
LEES OOK: Resensies + Leesidees vir oud en jonk dié Kersfees
Die draai waar die seuntjie sit, is omtrent vyfhonderd treë verder. Ek stap soontoe. Hy sien my aankom, kyk na my rooi hemp en grys baard, en voordat ek iets kan sê, vra hy: “Are you … Santa Claus?”
Santa Claus? Verbeel jou! Dit is juis waarvan ek elke jaar in Kerstyd wil vlug. Maar ek glimlag en hou die sak na hom toe uit. Hy neem dit en maak dit oop. Ek het laas so ’n gesigsuitdrukking tydens ’n uitreik een Kersfees in die Klein-Karoo gesien, toe ’n seuntjie ’n speelgoedlorrie en ’n botteltjie water gekry het.
Toe ek wegstap roep die seuntjie agterna: “Thank you, Santa Claus!” Gewoonlik vrees ek dat die oom in die rooi pak die ware Kersboodskap kan steel, maar ek het nie geweet wat anders om vir die seun te gee of sê nie, want die enigste ander Kersverhaal wat hy ken, is net vir die mense in die mooi karre bedoel. Daardie karre met die plakkers wat sê: Living my best life now; I am stepping on to higher ground; Keep off, angels on guard.
Vreemd, daardie dag – 24 Desember 2018 – het ek dit as ’n kompliment beskou om Kersvader te kon wees.
Hein Swart is die skoolhoof by die Laerskool Langebaanweg.