Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Aletia Grundling (links), MCM Miqlat se hoof, vertel hulle storie vir ’n podsendingepisode op Kerkbode Kollig. Foto: DJ Muller, Kaapkerk

Podsending: Wonderwerke, omkeerpaaie, nagstukkies + 7 gewilde Kerkbode Kollig-podsendings


’n Regsprofessor wat van ’n wonderwerk met terminale kanker vertel. ’n Kerkleier wat ’n verbeeldingryke evangelisasie-uitreik helder onthou waaroor mense 50 jaar later steeds praat. Dominees wat vertel van omkeertye in hulle belewenis van die bediening … en oor nuwe boeke.

Hierdie is ’n paar van die gewildste podsendings op aanbod by Kerkbode Kollig – ons eie podsendingreeks. Ons het hierdie inisiatief in Februarie vanjaar met ’n mengsel van bewerasie en opwinding afgeskop. Die idee was om op hierdie manier Kerkbode se storie-aanbod uit te brei met weeklikse lekkerluister-episodes gevul met stories oor die kerk en geloof.

Bykans ’n jaar later sien ons met blydskap dat meer as 3 000 luisteraars ons klankaanbod van 35 episodes op Klank Kompas soveel geniet het dat 70% van hulle podsendingepisodes (wissel van tussen 12 en 25 minute lank) deurgeluister het van begin tot einde.

Hier is sewe van vanjaar se gewildste podsendings vir ’n lekker weer of eerstekeer luister:

1 Podsending: Twee vertel hoe Jesus se lyding hulle dieper geraak het

Twee stories: Emeritus-prof Pieter Carstens van Pretoria vertel vir Heléne Meissenheimer van sy innerlike stryd rondom bystanddood na ’n terminale kankerdiagnose. Carel van der Merwe is op 53 bevestig in sy eerste pos as diensleraar by NG Moedergemeente Worcester. Hy het met Le Roux Schoeman gesels oor sy kronkelpad van mega-melkstal tot op die kansel.

2 Ma kry gesonde baba ná chemo: ‘Ek het geveg vir my baba en vir myself’

Ds Arina Zandberg van Kimberley het op 39 jaar in April vir ’n tweede keer ma geword van ’n gesonde babadogtertjie. Dít ten spyte daarvan dat Arina ’n aggressiewe vorm van kanker gehad het waarvoor sy chemoterapie moes ontvang.

3 Kollig | DJ en Nadia Muller gesels oor roeping, seerkry en genade

DJ Muller het sy roeping gekry onder ’n boom in Mosambiek. Nadia, sy vrou, het hare gehoor tydens ’n erediens in ’n kerkgebou. Die twee besige mense vertel hulle storie. Van waar hulle ontmoet het as teologiese studente op die Universiteit van Pretoria se kampus. Getrou het en saam by hulle eerste gemeente op die Noord-Kaapse platteland begin bedien het. Tien jaar later lê ’n hele stuk leef tussenin. Onder meer ’n worsteling met presies wat roeping vir hulle elkeen beteken …

4 Kyk: ‘Dit was die Here se jaar’ – Prof Malan Nel vertel van die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974

Meer as 350 000 jongmense het hulle saamtrekke bygewoon. “Die leuse was ‘Lewe vir Christus en vir sy kerk’.” So onthou prof Malan Nel op 85 helder die gebeure rondom hierdie projek wat die Elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE) beskryf as “een van die merkwaardigste uitreike van die NG Kerk in die 20ste eeu na die jeug”.

5 ‘Ek het baie om voor dankbaar te wees’ – Frits Gaum

Dr Frits Gaum, die prominentste lid van die groep lidmate wat die NG Kerk in 2017 hof toe gevat het, het kort voor sy afsterwe op 84 met Le Roux Schoeman gepraat oor die kerk, die hof en die kanker wat by hom gediagnoseer is. ’n Uittreksel uit hulle gesprek kan op Kollig geluister word – kry die volledige gesprek in hierdie Kerkbode-artikel: ‘Ons sal mekaar waarskynlik nie oortuig nie, máár …’ – Frits Gaum

6 Luister | ‘In my andersheid het God my geroep’ – Farren Cloete oor dominee en jou eie mens wees

Farren Cloete is bekend as die flambojante jong dominee van die VGK-gemeente op Lambertsbaai wie se “bediening” ook insluit die meer as 260 000 wat haar op TikTok volg. Sy is ’n anderster dominee, vertel hierdie gebore Namakwalander wat in haar eerste boek haar storie vertel, getitel Geroep vir ’n tyd soos hierdie.

7 Kollig met Jaco Strydom | Stories, nagstukkies en doegongs

Hy is al lankal gefassineer deur die doegong, ’n rare en misterieuse seedier van die Ooskus van Afrika. So vertel predikant en skrywer Jaco Strydom wat vanjaar sy eerste storieboek, Daka, gepubliseer het. Hy het hierdie soogdier, wat verbind word met die legendes oor meerminne, ingebring as ’n mistieke element in sy fiksiedebuut, vertel die NG dominee wat reeds verskeie geestelike boeke agter sy naam het. Dit is ’n storie van ’n ou se worsteling, ook met wat geloof is, terwyl hy deur ’n baie moeilike tyd gaan en dan iets ergers doen en moet wegraak. So vertel hierdie skrywer wat glo stories help ons om goed raak te sien en dat die Christelike lektuur kan doen met meer honesty soos wat ’n mens kry in die Bybel. Meer “nagstukkies” saam met al die dagstukkies.

Luister hier na Kerkbode Kollig-podsendings:

Die Kerkbode Kollig-podsendingreeks is op ons webblad en toepassing – kyk uit vir die woord Kollig.

Dit vorm ook deel van die inhoudaanbod op Kaapkerk se Klank Kompas-podsendingplatform. Soos op die platform se webblad verduidelik, is hierdie ’n gesamentlike projek van talle podsendingvervaardigers om sodoende op een plek ’n versameling van “shows” aan te bied wat luisteraars neem “op ’n reis van geloof en lewe”. Via hierdie platform kon Kerkbode Kollig klankvlerke sprei na gewilde podsendingplatforms soos iono.fm, Spotify en Apple.com.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top