Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

’n Opmerking deur ds Johannes Maritz oor ’n moontlikheid om die verhouding met die NG Kerk se Algemene Sinode “te herdefinieer (en) om nuwe verbande aan te gaan,” het ds Jan Lubbe (middel, bo) se ore laat spits. “Ek is verlig om te hoor dat julle dink oor ’n herdefiniëring van ’n kerkverband, maar dit sou ook sonder ’n Art 37, uittrede uit kerkverband, kon gebeur. En dit is my pleidooi," het Lubbe gesê. Foto's: Le Roux Schoeman

Maritz laat Lubbe se ore spits: Kyk mooi na opsies buiten wegbreek, vra Lubbe aan Namibiërs voor sinode in Windhoek


“As jy ’n band gesny het, geliefdes, om daardie band ooit te herstel, vat dekades, die kerkgeskiedenis leer ons dit,” het ds Jan Lubbe, die voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) by dié se mees onlangse vergadering in Gauteng gesê.

LEES OOK: NG Kerk in Namibië kyk na opsie om verband met Algemene Sinode ‘te herdefinieer’ wanneer sinode einde Maart plaasvind

In ’n slotwoord aan die sowat 60 afgevaardigdes, maar veral aan die klein Namibiese afvaardiging onder leiding van ds Johannes Maritz, het Lubbe gesê: “Ons Vrystaatse Sinode het drie keer Artikel 37 oorweeg, elke keer wil ek sê, gaan jy deur diep donkertes, dis ’n dal van doodskaduwee. Art 37 sê, wanneer dit ‘in die lig van God se Woord en voor sy aangesig geregverdig kan word, tree ons uit die (kerk)verband,’ en daardie frase het ons elke keer laat huiwer,” het Lubbe verduidelik.

“Daarom is my pleidooi van ASM se kant na Namibië, om diep oor daardie punt te dink.”

Lubbe se opmerkings kom voor Namibië, een van die NG Kerk se tien samestellende streeksinodes, op 20-23 Maart as sinode sal vergader om veral te besluit of dié sinode in verband met die NG Kerk wil bly en of laasgenoemde se “ruim huis”-benadering tot kwessies soos selfdegeslagverbintenisse té ruim vir die meerderheid van die sowat 11 800 Namibiese lidmate is.

LEES OOK: Geen formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse: Afgevaardigdes kam saam deur ‘fokusmomente’ in besluitneming sedert 2019

Maritz het op sy beurt ’n prentjie van konflik geskilder binne die NG Kerk in Namibië, wat verdeeld is en vanaf ’n lae basis in lidmaattal krimp. ’n Opmerking deur Maritz oor ’n moontlikheid om die verhouding met die NG Kerk se Algemene Sinode “te herdefinieer (en) om nuwe verbande aan te gaan,” het Lubbe se ore laat spits.

Ek is verlig om te hoor dat julle dink oor ’n herdefiniëring van ’n kerkverband, maar dit sou ook sonder ’n Art 37, uittrede uit kerkverband, kon gebeur. En dit is my pleidooi. Ons het diep begrip dat julle in ’n ander land is, julle het ’n ander roeping as ander sinodes en ’n herdefiniëring van daardie verhouding sou moontlik wees, sonder om noodwendig deur ’n Art 37-besluit te gaan. Dis ons hart, dis ons hart,” het Lubbe gesê.

Oor gemeentes wat doleer en uit verband tree met NG Kerk

Hoe gaan dit deesdae met die NG Kerk en spesifiek in terme van kerkverband in elke streeksinode? Een van die gebruike wat by onlangse vergaderings van die ASM goed gevestig is, is ’n geleentheid vir ’n kort, gefokusde terugvoersessie deur verteenwoordigers uit elk van die streeksinodes oor juis hierdie saak, wat sedert 2019 wye belangstelling onder lesers gelok het.

Dr Tom Smith, Hoëveld

“By ons is daar 21 gemeentes wat doleer uit ons 105. Van daai 21 is daar 18 gemeentes wat sinodale bydraes terughou,” aldus Smith. Hy merk op oor die taalgebruik dat dit “lyk soos trappe van vergelyking: ‘doleer’, ‘opskorting’, wat baie keer die woord ‘tydelik’ byvoeg, wat die versugting oordra dat die res van die NG Kerk tot bekering kom. En dan ‘losmaking’.”

Smith verwys meer algemeen ook na die baie werk wat voorlê om weer lewe in ringe te blaas.

Ds Lizl-Louise Schoeman, Noordelike Sinode

“Ons het vir mekaar gesê, ons visie is, ‘Bring hoop, maak ’n verskil’. Dit is ’n tema wat aanhou,” aldus Schoeman. “Daar is nie veel beweging in terme van gemeentes wat doleer nie. Uit ’n groep van 110 gemeentes het ons vyf gemeentes wat doleer. Een het vir ons ’n akte van opskorting gestuur. Daar is ook ’n ander verhaal. ’n Gemeente wat doleer het en toe vir ons laat weet het ’n mens kan ook nou net so lank huil en treur en dan moet jy ophou,” het Schoeman vertel. “Dan het ons ’n ring gehad wat baie sterk oorweeg het om hulle (volgens Art 32) uit ons sinode te skuif. Ons hele moderatuur van sewe het die pad na die noorde gevat en vir twee dae tyd spandeer om hulle storie en konteks te probeer verstaan. En ek dink nogal as ’n mens kan saam eet en vleisbraai, klink die vergadering die volgende dag anders … En hierdie mense het gesê: Ons gaan nêrens heen nie.”

Dr Leon Foot, Vrystaat

Die NG Kerk Vrystaat het altesaam 152 gemeentes waarvan 18 doleer, volgens dr Leon Foot. “Ons het 99 wat sinodale bydraes betaal – insluitende drie dolerendes. Die ander 15 is deel van die 53 gemeentes wat geen sinodale bydraes maak nie, om verskillende redes,” het Foot later ter verheldering aan Kerkbode verduidelik nadat hy in ’n vroeër weergawe van dié berig aangehaal is dat daar 102 gemeentes in dié sinodale streek is.*

Foot het ook aan die vergadering gesê: “Daar is sewe gemeentes wat aangedui het dat hulle uit die (NG Kerkverband) tree … Dan is daar twee dominees wat in die onlangse verlede bedank het uit die NG Kerk en nou voortgaan om die gemeente te bedryf as gemeente wat geen band met die NG Kerk het nie.”

Dr Grant du Plessis, Goudland

“Ons het 142 gemeentes in Goudland en daar is ’n paar wat doleer en geen gemeente het bande losgemaak of opgeskort nie. Daar is ’n rustigheid. Ons kom van ’n moeilike plek … Ons het vier jaar gelede besluit ons gaan die verhouding tussen ons en die ASM gesond maak, en ek dink ons het dit gedoen.”

Dr Tertius Erasmus, Oostelike Sinode

“Dit gaan goed, 84 gemeentes, twee (met wie gesprek) moeilik is,” het Erasmus opgesom. “Daar is een gemeente wat band wil losmaak, en ’n ander wat besig is. Min gemeentes wat doleer. Wat ek wel wil sê, is daar is regtig ’n baie mooi gesindheid binne die sinode. Ons sal aanhou gesels,” het Erasmus gesê.

Dr Barry Tolmay, KwaZulu-Natal

“U weet dat ons ’n toetssaak gehad het, amper soos Tafelberg-gemeente (wat in die Wes-Kaap hulleself wil losmaak van die NG Kerk) … Dit was baie moeilik,” het Tolmay gesê. “Die mooi is dat ons mekaar vashou en ek wil my kollegas bedank vir hoe ons binne KZN funksioneer,” het hy bygevoeg. “Ons het ’n lekker sinodesitting gehad verlede jaar. Ons het wel ’n ernstige probleem in terme van ringkapasiteit.”

Ds Dewald Davel, Oos-Kaapland

“Van leierskapkant is ons uitgangspunt ons gaan nie besluite neem wat ouens in kampe injaag nie,” het Davel gesê. Daar is ’n stuk rustigheid en dit is asof ons vryheid het om aan ’n klomp ander goed aandag te gee,” aldus Davel.

“Ons het twee (uit 102) gemeentes wat (bande) opgeskort het of op ’n manier besig is om eintlik maar uit die verband uit te tree. Die een het uit-en-uit met selfdegeslagverhoudings te doen, by die ander het dit met ander nuanses ook te doen.”

Ds Marais Kluge, Noord-Kaapland

“Daar het sowat 14 gemeentes nie die streeksinodesitting (in Oktober 2024) bygewoon nie, om verskillende redes, nie almal doleer nie,” het Kluge verduidelik. Sommige van die gemeentes is bloot net stukkend, gebrek aan vermoëns,” het hy gesê. “’n Paar weke gelede het ons iets skriftelik gekry van een van ons dolerende gemeentes, waarmee ’n mens kan begin werk.”

Kluge het bygevoeg: “Uiteindelik moet ’n mens mense terugbring in die kring, met liefde.” Hy het klem gelê op die rol wat predikante, in teenstelling met die hele kerkraad, soms speel by die besluit van ’n gemeente om te doleer.

Ds Marinus Theron, Wes-Kaapland

“In die groter prentjie is verhoudings gesond,” het Theron gesê. Ons het meer om voor dankbaar te wees as waaroor ons angstig raak.” Oor gemeentes wat doleer of die “weg van opskorting met kerkverband” kies, het Theron gesê: “Dit is 11 gemeentes, waarvan vyf in Oudtshoorn is, en wat intussen minus een is, want een van die gemeentes het deure toegemaak in 2023.”

“Ons benadering is, ons het nie die keuse of die opsie om te besluit wanneer ’n gesprek eindig nie. Want dit is hoe familie met mekaar werk. Ons bly daarby staan dat ons vir die gemeentes herinner daaraan dat ons hulle as geloofsfamilie beskou, nie omdat ons hulle familie gemaak het nie, maar omdat die Here ons verbind het.”


* Hierdie berig is ná publikasie aangepas. 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Maritz laat Lubbe se ore spits: Kyk mooi na opsies buiten wegbreek, vra Lubbe aan Namibiërs voor sinode in Windhoek”

  1. Johannes Smit

    Om te fokus op die hoeveelheid gemeentes per streeksinode wat wil wegbreek gee die verkeerde indruk. Lidmate wat nie met die beleid saamstem nie verlaat bloot die kerk en kom nooit terug nie, juis in die gemeentes wat nie doleer nie, terwyl hul eertydse gemeentes se verhoudings “gesond” bly. Kyk eerder na die dalende lidmaatgetalle.

  2. Die NG Kerk staan tans op ‘n belangrike kruispad waar verskillende teologiese en ideologiese invloede mekaar ontmoet. Hoewel daar gereeld gesprekke oor ‘n verskeidenheid sake gevoer word, bly een van die mees kritieke onderliggende kwessies onuitgesproke: die rol van ideologie in ons teologiese opleiding, prediking en kerkbesluite. Hierdie artikel is ‘n oproep tot ‘n eerlike selfondersoek oor hoe ons ideologiese raamwerke die manier waarop ons Skrif interpreteer en kerk-wees benader, beïnvloed.
    Hoewel die NG Kerk homself sien as ‘n kerk met ‘n akademiese en teologies verantwoordbare tradisie, is dit duidelik dat verskillende ideologiese invloede ‘n rol speel in hoe besluite geneem word en hoe prediking en lering gevorm word. Organisasies soos Kairos Netwerk en platforms soos Glo die Bybel het ontstaan juis omdat hulle voel dat ‘n sekere ideologiese rigting stilweg as norm aanvaar word, terwyl alternatiewe beskouings gemarginaliseer word.
    Die wegbreek-poging van die NG Kerk Namibië (NGKN) is ‘n verdere bewys van ‘n dieperliggende ideologiese spanning. Hierdie gebeure dui daarop dat daar ‘n reële verdeeldheid is oor hoe die Bybel verstaan en toegepas behoort te word, maar eerder as om hierdie kwessie openlik aan te spreek, word dit dikwels gesystap of afgemaak as bloot ‘n botsing tussen “liberalisme” en “fundamentalisme.” Hierdie etikettering is egter problematies en verhinder ‘n eerlike teologiese gesprek.
    Wanneer ‘n bepaalde teologiese raamwerk (hetsy konserwatief of progressief) onbewustelik of stilweg as “neutraal” aanvaar word, veroorsaak dit dat standpunte wat nie met die dominante narratief ooreenstem nie, dikwels as “onbybels” of “verouderd” afgemaak word. Gemeentes ervaar dikwels dat die teologie wat van universiteite af kom, ver verwyderd is van hulle geloofspraktyk of verstaan. Wanneer ideologiese verskille nie erken en hanteer word nie, ontaard dit dikwels in polarisasie en uiteindelik skeuring.
    Die NG Kerk het ‘n unieke geleentheid om ‘n voorbeeld te stel van hoe ‘n kerk eerlik en verantwoordbaar met sy eie ideologiese verskille kan omgaan. Dit begin deur die werklikheid van Ideologiese Invloede te erken. Ons moet eerlik wees dat daar verskillende maniere is om Skrif te lees en toe te pas, en dat dit nie bloot ‘n kwessie is van reg teenoor verkeerd nie. ‘n Denkspan wat bestaande teologiese opleiding en kerkpraktyke ondersoek, kan ‘n waardevolle hulpmiddel wees om balans te vind tussen verskillende perspektiewe. Lidmate, predikante en akademici moet aangemoedig word om selfondersoek te doen oor hulle eie voorveronderstellings en hoe dit hulle teologiese raamwerke beïnvloed.
    Die NG Kerk kan nie bekostig om ideologiese spanning te ignoreer of weg te wens nie. Deur eerlik te wees oor hierdie realiteit en ‘n oop en eerlike gesprek daaroor te voer, kan die kerk ‘n gesonder en meer geloofwaardige geloofsgemeenskap vestig. Die ware toets vir ‘n Christelike gemeenskap lê nie in uniformiteit nie, maar in die vermoë om met integriteit en respek verskille te hanteer terwyl Christus steeds die middelpunt bly.
    Die vraag is dus nie of ideologie ‘n rol speel in ons kerk nie – dit is ongetwyfeld so. Die vraag is of ons die moed het om dit te erken en sinvol aan te spreek. Die tyd vir ‘n eerlike gesprek is nou.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Ons kommentaarbeleid

Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.