Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
André Mouton van Otavi, Namibië skryf: Die proses waardeur die NG Kerk in Namibië (NGKN) die afgelope jare gegaan het, bied waardevolle insigte vir die breër NG Kerk-familie in Suid-Afrika. Hoewel die selfstandigheid van die NGKN as kerkverband bekragtig is, lê die dieper leer in die wyse waarop die proses bestuur en beleef is.
LEES OOK: NG Kerk Namibië tree ná jarelange proses uit verband met NG Kerk se Algemene Sinode
Eerstens toon die NGKN se ervaring die gevaar van hermeneuties ideologiese polarisasie binne ’n sinodale konteks. Die NGKN is in baie opsigte vasgevang tussen twee rigtings: aan die een kant die behoefte aan selfstandigheid en aan die ander kant ’n oproep tot voortgesette verbondenheid aan die breër NG Kerk. Die gevolg was dat geloofsonderskeiding dikwels oorskadu is deur ’n houding van groepsvorming en verdedigingsposisionering.
Suid-Afrika moet hieruit leer dat kerklike gesprekke oor identiteit en rigting nie vanuit loopgrawe gevoer kan word nie, maar slegs in ’n ruimte van gedeelde roepingsbewustheid. As julle nie fokus om ooreengekome kernwaardes te vestig nie sal vertroue nooit herstel nie.
Tweedens beklemtoon die proses die invloed van houding. Die pyn van die NGKN se proses was minder die besluit self, en meer die veroordelende atmosfeer waarmee dit op sommige stadiums hanteer is. Hierdie veroordelende houding het bygedra tot emosionele vervreemding tussen die sinodale liggame. Die les vir Suid-Afrika is duidelik: dit is nie die reg op selfstandigheid wat verdeeldheid skep nie, maar die wyse waarop broers en susters mekaar in gesprek hanteer en misken. Die ontkenning van ander se reg op ’n geldige posisie lei slegs tot ’n doodloopstraat.
Derdens wys die NGKN-ervaring op die gevare van fokusverlies. Die lang proses van konflikhantering en organisatoriese distansiëring het momentum weggeneem van die die kerk se roepingsgerigte missies. Suid-Afrika se NG Kerk moet leer dat organisatoriese of sinodale prosesse nooit die missionale roeping van die kerk mag oorheers nie.
Laastens toon die NGKN se reis die noodsaaklikheid van inklusiewe gesprekke. Verskeie gemeentes en leiers het gevoel dat versoeningsinisiatiewe en hermeneutiese besinning nie breed genoeg gevoer is nie. Suid-Afrika moet leer dat volhoubare roeping en eenheid gebou word deur sinodale prosesse waar elke stem met egtheid en erns beluister word.
Suid-Afrika se NG Kerk het nou die geleentheid om te leer dat die eenheid van die liggaam van Christus nie net rus op strukture of besluite nie, maar op nederige en opregte gehoorsaamheid aan Christus as hoof van Sy kerk.
Ons moet elkeen ons eie hoeke erken en ook met deernis kennis neem van die ander se blik op die waarheid.
Goeie opsomming Andre. Tog jammer dat die lang luister na mekaar en die opstel van verskillende waarhede wat geakommodeer moet word meer gemilk is daarop om die ander gewoond te maak oor n tydperk aan idees wat vir hulle onaanvaarbaar is.
Ook is daar die Ruimhuis idee wat almal en alles akkommodeer behalwe die groepering van behoudendes wat hulle eie kategoriale sinode gestig het om n groter sigbaarheid en stem te hê asook n tuiste waar hulle nie ignoreer word nie. Hierdie groep word nog steeds misken en die kerk verloor nou n ander sinode wat nie meer kans sien vir wat hulle as onSkriftuurlike besluite en ignorering van onSkriftuurlike uitlatings waarneem onder dosente, soos dat moslems ons broers is ens.
Mag al die sinodes se oë oopgaan vir die skade en verlies wat hierdie dinge meebring en daar duidelike uitsprake wees en aksies geneem word en God se Waarheid eerbiedig word.
Ek waardeer die terugvoer wat ek op my skrywe ontvang het. (buite hierdie forum meestal) Ek wil graag erken dat my brief moontlik in sommige ruimtes as te krities of as ‘n potensiële heropening van gesprekke gesien kon word, waar ons nou almal begeer om in heling en eenheid vorentoe te beweeg.
My bedoeling was om eerlik te reflekteer op lesse uit die proses, met ‘n hoop om ook breër gesprekke te dien. Ek sien egter in dat woorde makliker afstand kan skep as wat ek bedoel het. Ek wil dit dus duidelik stel dat my hart nie is om nuwe loopgrawe te grawe nie, maar om eerder te help om brûe te bou – eerstens hier binne die NG Kerk in Namibië.
Ek glo dat Christus ons roep om nie net waarhede aan te spreek nie, maar dit te doen in liefde en nederigheid. Ek besef dat ek self in hierdie helingspad ‘n leerling is, saam met julle. Ek wil daarom herbevestig dat ek myself verbind tot die roeping van eenheid, nie bloot as ‘n prinsipiële idee nie, maar as iets wat ek prakties saam met julle wil leef.
Soos een van die broers tereg gesê het:
“Laat ons nou vir ‘n slag weer met mekaar praat, en nie oor mekaar nie.”
Ek staan saam in daardie voorneme, en ek glo dat Christus reeds besig is om tussen ons te werk.
Mag ons mekaar steeds in Sy liefde raaksien, selfs in ons verskille.
Vrede aan julle almal,
André Mouton
Dagse’ Andre,
Jong ek sien nie die verskille so erg nie maar dat dat NGKN ‘n kerk word wat getuigend leef in NAM !! Ek wil net weet (al lyk dit vreemd hier) skakel jy erens met Kola Mouton wat destys in Gobabis leraar was en wie ek eers mooi leer ken het in Tergniet.Ons het daar nog saamgewerk in senior bediening in GrootBrak gemeente. Groete uit Mosselbaai!!