Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dié labirint op Williston in die Noord-Kaap is 12 jaar gelede gebou. Die vetplante in die tuin is almal inheems, en meeste uit die Karoo-Hoogland. Foto: Verskaf

Labirint langs NG Kerk op Williston verklap unieke Karoo-karakter

In die suidwestelike hoek van die kerktuin van Williston is daar ’n unieke labirint. Frederick Marais ontdek stories, reuke en simboliek tussen die klippe en vetplante uit dié deel van die Hoogland-Karoo.

 

Elsa van Schalkwyk, al byna lewenslank op Williston, het gedink die Gotiese boustyl van die sandklipkerk en ’n labirint sal goed bymekaar pas. Die 85-jarige het in 1960 as onderwyseres op die dorp gevestig en met ’n boer uit die omgewing getrou. Haar wortels het diep in die Karoo-aarde geskiet en sy het haar verdiep in die kultuurgeskiedenis van die dorp. Vandag bestuur sy ’n gastehuis op die dorp, ’n klipgooi van die kerk af.

LEES OOK: Labirinte – ’n uitnodiging om al wandelend te bid

Die vetplante in die tuin is almal inheems, en meeste uit die Karoo-Hoogland. Aangesien Elsa ’n vetplantkwekery agter haar bekende gastehuis het, kon sy ’n bundel saamstel wat die name van die plante beskryf. Foto: Frederick Marais

Eers moes bome uit

Die labirint is 12 jaar gelede gebou. Theuns Zuurmond, ’n plaaslike besigheidsman, het die labirint ontwerp om in driehoekvorm langs die kerkgebou te pas. Die idee het natuurlik nie byval by almal gevind nie, en wou aanvanklik ook nie pas in die tuin nie. Eers moes die garingbome, wat die kerktuin vol gestaan het, uitgehaal word. Onder andere nadat daar ontdek is dat garingbome nie inheems is nie, en natuurlik omdat die dorings van die garingbome die tuin van die kerk nie baie toeganklik gemaak het nie.

Driehoek: Ongewone vorm

Daarna moes die tradisionele sirkelvorm van labirinte omgedink word tot ’n driehoek sodat die labirint in die tuin kon inpas. Elsa en Theuns het aangehou totdat dit kon inpas in die hoek van die tuin. Hierdie Karoo-labirint is inheems: Die klippe waarmee die paadjie gepak is, is stuk-stuk met bakkies uit die distrik aangery, meestal leiklip, maar daar is ook dolomiet en ’n bietjie kalkklippe. Die uitleg is doelbewus natuurlik om die gevoel te gee dat jy in die Karooveld stap.

Elsa van Schalkwyk. Foto: Frederick Marais

LEES OOK: Spiritualiteit: ‘Kom word met elke sintuig stil’

Bundel beskryf plante se gebruike

Die vetplante in die tuin is almal inheems, en meeste uit die Karoo-Hoogland. Aangesien Elsa ’n vetplantkwekery agter haar bekende gastehuis het, kon sy ’n bundel saamstel wat die name van die plante beskryf. In die gids, wat beskikbaar is vir stappers, word ook die kultuurhistoriese gebruike van plante beskryf. Die genesende karakter van die plante en die kulturele gebruike rondom die plante, verdiep die labirint se inheemse karakter so in die skaduwee van die pragtige Gotiese sandsteenkerkgebou. In my agterkop word die debat oor de-kolonialisering ’n genadige beliggaamde werklikheid soos wat ek tree vir tree op die leiklippe stap en my verwonder oor die karaktervolheid van die plante wat duidelik tuis is in hierdie “Westerse” idee van ’n labirint.

Drie klippale, wat oorspronklik gebruik is as pale vir draadheinings, vorm vandag ’n Karoo-simboliek van die Drie-eenheid. Die kruis is takke van ’n boom wat by die kerk doodgegaan het in die droogte en vandag ’n kruis vorm. Foto’s: Frederick Marais

 

Inheemse kennis en unieke karakter

Die Ghaap, of Hoodia, is deur die boesmans gebruik om dors te les. Hoewel dit aanvanklik bitter smaak, word dit met ’n bietjie geduld suikersoet in jou mond, vertel sy. Vandag word die Ghaap gebruik om pille te maak as verslankingsmiddel. Ek onthou die kruiswoord, “Ek het dors,” en hoe hierdie dood sou lei tot die soetheid van die oorwinning van die opstanding. Lankal reeds in die vesel van die Ghaap opgesluit.

Die bekende kanniedood aalwyn, wat in hierdie labirint doelbewus reg voor die landdroskantoor geplant is, het verskillende gebruike. Dié plantsoort word gebruiklik op grafte geplant, maar as die plant vrek, moet die persoon wat dit geplant het, maar sy eie graf gereed kry, want dit is glo ’n teken dat jou eie dood nader! As jy moet hof toe gaan, is die kanniedood ook van waarde. Sit ’n stuk van die kanniedood in jou skoen en daar ontstaan ’n aura, word geglo, wat maak dat die landdros verder van jou af is en so word jou straf ook ligter. Die feit dat die labirint so tussen die kerk en die landdroskantoor is, dui op die keuse tussen aankla en genade. Wie het nou kon dink dat die kanniedood reeds die evangelie van genade sou dra?

Die droogte se merk

Die gifbol se blom kom eerste en dan die blare. Die los papierblare om die bol, word gebruik om kussings te maak vir mense wat lei aan slaaploosheid. ’n Nag op so ’n gifbolkussing verbeter die slaap. Bilbine, verduidelik sy, is ’n apteek op sy eie. Die blare is goed vir sny- en brandwonde. Verder is die vog uit die blare goed vir enige velontsteking of koorsblare. Die kalkklippe word gebruik om kalkverf te maak. Dit is ’n hele proses waarin die kalkklippe in ’n kuil gepak word, aan die brand gesteek word en dan vir etlike weke smeul. Daarna word die klippe uitgehaal en in ’n bad water gepak. Die gesmeulde klippe laat die water kook en so word die klippe poeieragtig. Die kalkpoeier is gebruik om die kerk wit uit te kalk.

Tydens die droogte kon die labirint nie natgemaak word nie en is daar plante dood, maar die grootste deel het oorleef en groei nou welig.

Die middelpunt van die labirint verklap die Karoo-karakter van die besondere labirint. Drie klippale, wat oorspronklik gebruik is as pale vir draadheinings, vorm vandag ’n Karoo-simboliek van die Drie-eenheid. Die kruis is takke van ’n boom wat by die kerk doodgegaan het in die droogte en vandag ’n kruis vorm. Die uitstalling word afgerond met ’n groot klip waarop die stappers kan sit vir tyd van stilte of gebed.

Die labirint word dikwels gestap deur toeriste wat op Williston oornag.

Dr Frederick Marais is dekaan van die Skool vir Sosiale Innovasie by die Hugenote Kollege op Wellington.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Labirint langs NG Kerk op Williston verklap unieke Karoo-karakter”

  1. Heather Sterling

    I have been a resident of Williston since 2007, and am delighted to see this informative and beautifully descriptive article on my home town. I look forward to receiving more articles of this quality in future. Baie dankie.

  2. Abel Esterhuyse

    Dankie Frederick. Ons heimat. Tannie Elsa is enig in haar soort; altyd aan die bou en bewaar. Die kerk staan as simbool van omsien van geslag tot geslag in die barheid van daardie droë wêreld.

Comments are closed.

Scroll to Top