Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

“Ons is ’n groep musikante wat kies om die beste klassieke en gewyde musiek na plekke te neem waar die omgewing saam skep aan die ervaring,” vertel Elna van der Merwe, musiekdirekteur van Gamka Klassiek. Foto's: Ethan Martin  

Klassieke Karoo-innovasie: Gemeente en gemeenskap gebruik musiek om waarlik verwelkomend te wees


Op ’n Karoodorp kan jy nie ’n musiekfees aanbied sonder dat almal hande vat nie, ook die kerk, vertel Frederick Marais. Foto’s: Ethan Martin

 

Ek sit op ’n Saterdagoggend in die Showroom langs die Swartberg-hotel op Prins Albert. In Kerkstraat kom ’n moeë Isuzu-bakkie aangesweef. Die skokbrekers het duidelik al te veel sinkplaatpad gery, dit skwiek en kla op ’n Karoo-majeur, en vir ’n oomblik kom hy in ritme met die strykensemble se sielvolle somber klanke in die saal, en dan sweef hy weer verder op in die straat, nou weer uit ritme met die wonderlike musiek in die saal. Die Isuzu en die strykers is onbewus van mekaar, maar saam skep hulle ’n unieke Suid-Afrikaanse ervaring. Uiteenlopend tot in die uiterste en juis dit maak die ervaring so uniek. “Ons is ’n groep musikante wat kies om die beste klassieke en gewyde musiek na plekke te neem waar die omgewing saam skep aan die ervaring,” vertel Elna van der Merwe, musiekdirekteur van Gamka Klassiek.  

LEES OOK: ‘Ek was ’n agterbanker in die kerk …’ Oud-polisievrou wat nou op die kansel staan vertel haar storie

Deon, Elna se man en ’n boorling van Prins Albert, vertel hoe hulle by die naam Gamka Klassiek gekom het: “Gamka” is die Sanwoord vir “leeu”. Die Gamkarivier ontspring in die Nuweveldsberge en loop suid-wes deur die Groot Karoo waarvan ’n groot gedeelte deur die Prins Albert-distrik. Voor die Swartberg word hy gedam deur die Gamkadam. Vandaar deur die Swartberg met Gamkaskloof daar “binne” na Calitzdorp in die suide. In vele opsigte is die Gamkarivier simbolies van lewe in Prins Albert en die distrik. Dit gee lewe en met sy vloei skep dit soveel hoop en dankbaarheid in soveel mense se lewe. Die term “klassiek” verwys bloot na die tipe, die styl of musiekgenre wat aangebied word. Vandaar die fees se naamkeuse: “Gamka Klassiek”.

LEES OOK: Bloemfonteinse orkes ry 430km om Kerssangdiens op Karoodorp te hou

Op so ’n Karoodorp kan jy nie ’n musiekfees aanbied sonder dat almal hande vat nie, ook die kerk. Ons het ons eerste proeflopie hiermee met die Jazzfees gehad, vertel ds Phillip Scholtz, tot onlangs leraar op die dorp. Daar is nogal gewonder of die gemeente moet deelneem, jazz is nou nie eintlik die gemeentelede se voorkeur musiekgenre nie, maar toe besluit hulle dit is hulle missionale voetspoor om gaste te verwelkom in die kerk deur hulle musiek vir hulle te laat speel. Verniet, het hulle besluit, hulle moet welkom voel op hulle dorp en in die kerk.

Gemeenskap moet saamstaan

Die gemeenskap kom uit ’n verskriklike droogte toe die idee van die fees(te) na hulle gekom het. Hulle is verder geïnspireer om deel te neem aan die feeste toe hulle so die geleentheid gekry het om met ’n gemeenskapstrust te kon saamwerk. So eintlik was dit toe ’n “no-brainer” om hiermee te kon saamwerk omdat die hele gemeenskap voordeel hieruit kon kry. William Berger, die gulhartige bariton van die groep, vertel hoe hulle Vrydagoggend ’n werkswinkel oor klassieke musiek vir kinders van die gemeenskap aangebied het. Hy moes ’n propperse opera-aria sing en hy het al die stoppe uitgetrek. ’n Vyfjarige dogtertjie het verwonderd tot by hom kom staan en oopmond opgekyk en geluister met haar vingertjie wat boor in haar neus, totaal opgeneem in die ervaring. Dalk is sy oor ’n paar jaar die sopraan wat gehore betower.

LEES OOK: ‘Musiek maak gesond’ – Broer en suster nooi orreliste om via WhatsApp note van hoop vir orrel en kerklied te speel

Wat die gemeenskap gedryf het was die idee dat hulle gasvry wil wees teenoor besoekers. Die kerkraad het versigtig gekou hieraan, maar na die eerste fees het dit deel van die gemeente se kultuur geword. Hulle wil gasvry wees. Gasvryheid is vir hulle deel van wat dit beteken om die Here te dien. “Kom ons doen dit deur ons sterkpunte te benut. Ons is geseënd met ’n baie mooi kerkgebou wat wonderlike akoestiek het … Onthou, die ou mense moes ’n kerk bou sonder hedendaagse klanktoerusting. Daar is nie akoestiese dooie kolle in die kerk nie, almal kan hoor, perfek vir klassieke musiek,” vertel Scholtz.

LEES OOK: 9 vrae aan Jan Lubbe ná Namibië besluit om uit verband te tree met Algemene Sinode en sodoende die samestellende sinodes van die NGK van 10 na 9 verminder

Sondag herinner ds Gert Victor ons aan die klassieke belydenis dat Christus die Kurios (die Here) ons troos in oomblikke van reddeloosheid. Hy haal aan uit preke van Karl Barth en verwys na die viering van die Belydenis van Nicea. Die kerk is vanoggend lekker vol met gemeentelede en feesgangers, wat almal getroos word deur dié wyshede. “Ek dink hierdie inisiatiewe het ons gesig in die gemeenskap verander na ’n gemeente wat na buite gerig is en nie na binne nie,” voeg Scholtz by.

Groot respek vir mekaar

Elna beaam dat die uitsonderlike van die fees vir hulle as kunstenaars die mense van die dorp se gasvryheid is. As jy dieselfde konsert aanbied in die Endler op Stellenbosch, of die Kunstekaap in Kaapstad is die ervaring anders, want mense is gewoond hieraan, maar hier op Prins Albert is dit asof die gehoor die musiek soos sponse indrink, en dit haal die beste uit ons as musici, die musiek kom as ’t ware uit die gehoor. Hierdie wederkerigheid gaan nog verder. Na 2024 se eerste poging het hulle besef die liturgiese ruimte kort ’n stewige verhoog, want gebruikte palette kan by wyse van spreke nie ’n stewige opera-aria anker nie. Deon is ’n meganiese ingenieur en het ’n verhoog ontwerp wat maklik op en af kan slaan en waarvoor elke wyk van die gemeente ’n blok geborg het.

Ek vra Elna uit oor die gemoedelikheid wat daar onder die kunstenaars is. “Ons as kunstenaars het geweldige ontsag en respek en waardering vir mekaar! Ek kies in elk geval ook net mense om so ’n naweek mee te maak wat dieselfde missie en doel het, om mense se hart te raak en die mooi musiek so goed as moontlik oor te dra! Ons is almal goeie vriende en gun mekaar alles wat mooi en goed is!”

Coenie se Karoonag

Toe Corneil Muller die bariton Vrydagaand Coenie de Villiers se “Karoonag” sing, is dit asof die kerk se dak oopskuif en die Karoo binnegelaat word om ons te verwonder en betower. Die sopraan, Lyenlle Kenneth, vervolg met Koos du Plessis se “Kinders van die wind”. Dit voel asof ons tuiskom in die eenvoud van die wysheid, “… en eindelik is almal maar, kinders van die wind”. En so word dit Pinkster op ’n koue wintersaand in Prins Albert se kerk. Want die warmte van die erkenning van ons swerwelingskap weeg ons gewaande kennis deur verwondering tot wysheid.

Na die kollekte, Sondag in die erediens, luister ons na “The prayer” van David Frost.

I pray you’ll be our eyes

and watch us where we go,

and help us to be wise

in times when we don’t know.

Let this be our prayer

when we lose our way.

Lead us to a place,

guide us with your grace

to a place where we’ll be safe.

 

Op pad terug sien ek die Gamkarivier staan vol water vanjaar. Die droogte is gebreek!


Dr Frederick Marais is dekaan vir sosiale innovasie by die Hugenote Kollege.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Klassieke Karoo-innovasie: Gemeente en gemeenskap gebruik musiek om waarlik verwelkomend te wees”

  1. Alwyn Carstens

    ‘n Roerende beskrywing van ‘n aangrypende en gasvrye geleentheid.

    Dankie Frederick

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top