Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dit is die Sondagmiddag ná ’n week van verskrikking in September. Dit “het amper aand geword, die dag is verby”, en twee katkisante uit my belydenisgroep draai soos twee Emmausgangers af en kom teruggestap: “Dominee, kan ons jou iets vra?” Eers grap ek, want het ons dan nie nou net ’n oop vraag-en-antwoord-sessie in die groep gehad nie? “Nee, dominee,” sê hulle grootoog, “wat ons wil vra kan ons nie in die groep vra nie.” Dit was ’n verskriklike week by die skool, begin hulle huiwerig. Sewentien jaar oud, ’n dogter en seun in twee verskillende Afrikaanse skole in die stad; akademies beide sterk, begaafd, musikaal, kan hulle woord doen, kyk my reguit in die oë.
“Wat dink dominee van Charlie Kirk?”
Ek vra hulle om my te vertel. Hulle hét al vroeër van hom geweet (ek nie). “Ons het dit gesien, dominee! Donderdagoggend, in pouse, op ons fone, almal; sy woorde, toe sy bloed; verskriklik!” Dit sink by my in: Hulle hét dus toe ’n “public execution” gesien! Nie in ’n film met akteurs en ’n ouderdomsbeperking soos destyds met daardie gewelddadige Mel Gibson-weergawe van “Passion of the Christ” nie; nee, ’n regte mens, regtig dood, een skoot. Kort daarná lui die pouseklok en hierdie twee kinders en hulle maats – nou getuies van ’n sluipmoord – moet terugkeer na hulle klasse om verder te leer, wiskunde of wetenskap of wie weet wat van ons gaan word uit die geskiedenis. Toe bars die hel los: Vír of téén? Selfs onder die onderwysers en “Ma’s wat bid”. Nie iets tussenin van probeer verstaan wat het Woensdag, 10 September in Utah in Amerika gebeur, waarom, of wat het dit met ons te doen en kom ons praat daaroor nie. Nee, jy móét jou profielfoto verander – ’n identiteitsmerker! Die vlag móét halfmas hang – jou sosialemediastatus! Nóg ’n pastoor met skuim om die mond: “Armageddon – die einde is hier!” (in Amerika; Gasa vir ’n moment vergete). En ná drie dae se verdoemenis op die speelgrond en Tik-Tok staan hierdie twee jong Christene voor my, te bang om ’n vraag te vra.
Lees ook: DINKSTOF: Godsdiens en politiek: ’n Dodelike mengsel
Dit wás ’n week van verskrikking. Vrydag, 5 September, die nuus oor die sluipmoord op Bouwer van Niekerk, prokureur teen korrupsie. Ek vra sy pa se nommer by Coenie Burger, hulle huisvriend: “Hier is dit, Jan. Verskriklik.” Net dit. Die stomme verdwasing oor wat in ons land aan ’t gebeur is, druk al killer en swaarder op ons neer. Daardie selfde naweek: Twaalf mense op die Kaapse Vlakte vermoor. Deur bendes, blaai verby. Of wag, daar dreunsing ’n woedende skare nou: “One gangster, one bullet!” Die Dinsdag: Ses mense in Kraaifontein doodgeskiet. Op ’n plaas in die Vrystaat is ’n liggaam in ’n vlak graf ontdek. Het ons al só gewoond geraak aan die “rondomskrik” hier by ons, dat nie dít nie, maar die gebeure van die Woensdag ver oorkant die see ons kinders se onskuld aan flarde kom ruk?
Een kommentator skryf: “Woorde is woorde, geweld is geweld.” Daar is – anders gesê – ’n verskil tussen debat en doodslag; ek kan sê wat ek wil solank ek jou dit net nie aandoen nie. My mening oor jou is nog nie moord nie. Ja? Nee. Die Christelike etiek lui ánders. Respek vir lewe, alle lewe – en daarom die nie-doodslaan van iemand anders – is deur Jesus geradikaliseer. Hy’t die gebalde vuis en gewapende hand verbind aan vloekwoorde in ons mond, die berekende blik in ons oog, die minagting in ons hart. Dáár setel die wrewel en haat. Hy’t die twee fundamentele vrae van Genesis 3 – “Mens, waar is jy?” – en Genesis 4 – “Waar is jou broer?” – onlosmaaklik aan mekaar verbind met ’n storie oor ’n Samaritaan. Nie woedende woorde en wapens is die pad nie; “Ek is die weg, waarheid en lewe”, het Hy gesê. Daarom het ons gereformeerde voorgangers in hulle katkisasieboek vir kinders by Eksodus 20:13 geskryf: “Ek mag nie my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak, nie met my gedagtes, woorde of gebare nie … Ek moet teenoor my naaste geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees” (Heidelbergse Kategismus, Sondag 40). Sagmoedig. Dit is: deernis, empatie.
Lees ook: Preekreeks: Ons maak Naastes van Verstes
In sy boek Creative ministry (1971) het Henri Nouwen oor die wyse waarop ons ons kinders onderrig, geskryf dat dit dikwels “violent” is; kompeterend, eenrigting en vervreemdend (omdat ons as ouers en onderwysers sélf met ’n diep onsekerheid en vrees leef). “Students sitting around a table, asking questions or phrasing opinions, more like soldiers charging with rifles …” En vervolg hy dan: “A non-violent world cannot be born out of a violent teaching process any more than justice can be born out of jealousy, mildness out of cruelty, or love out of hate.” Daarom bepleit Nouwen eerder “teaching as a redemptive process”. Of dit nou in die laer- of hoërskool is, of op ’n universiteitskampus.
Sprekend van ’n ánder wêreld, soos waarvan Jesus ons ook kom vertel en gewys het. Sy legio gesprekke met gemarginaliseerdes, sy etes met ongewenstes, sy terugsit van die afgekapte oor. Helende lering beliggaam. Dít is hoekom mense Hom as “Leermeester” geag en gevolg het, en verstom was oor sy woorde; “omdat Hy hulle geleer het soos iemand met gesag en nie soos hulle skrifkenners nie” – dié wou argumente wen en só mag oor mense uitoefen (Matteus 7:28-29). Mág, beheer, godsdienstige dwingelandy. Dít is waarom hulle Hom van daardie kant so aanstootlik gevind het en op 33-jarige ouderdom in die openbaar laat teregstel het. #cancelculture.
Dit is waarom die twee katkisante so bang voor my staan. Vryheid van spraak slaan in ’n oogwink om in tirannie.
Ek’t hulle vertel dat in ’n gepolariseerde wêreld wat meer en meer ekstreem raak en waarin dit al gevaarlik word om téén geweld – alle geweld, alle haat – op te staan en te vra vir vrede, daar géén ander evangelie is nie. Géén ander Messias.
Toe hulle wegstap – teen sononder – het ek stil gebid dat Hy, dié Enigste Weg by ons kinders en kleinkinders sal bly.
- Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

Ek hetDs Jan Lubbe se skrywe gelees oor die 2 katkisante wat uitgevra het oor Charli Kirk
Maar wil weet wat was Ds Jan Lubbe se antwoord aan hulle
bessie.dekock@gmail.com
Jan, baie dankie vir jou diep deurdagte stuk. Ons het nog glad nie genoeg gepraat oor ons roeping tot nie-gewelddadigheid in ‘n gewelddadige wêreld nie. Ek het my dekades terug reeds verbind om Jesus in alles te volg, maar sukkel self nog om die radikale eise van volgelingskap, van vredemakerskap, te verstaan. Mag die katkisante en kinders in ons land síén hoe lyk vredemakers as hulle na my en my broers en susters in die geloof kyk, sodat hulle die ware Vredevors kan leer liefkry.