Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Francois Terblanche van Bloemfontein skryf: Die afgelope tyd het sogenaamde profete groot opslae gemaak met ’n dramatiese wegrapingsvoorspelling wat ’n vaste datum vir die gebeure aangedui het. Hierdie voorspelling het groot aanhang geniet, maar toe dit nie plaasvind nie, het dit wydverspreide teleurstelling, verdeeldheid en selfs geloofsverlating tot gevolg gehad.
LEES OOK: Wat kitsmode aan ons planeet doen en watter alternatiewe daar vir jou as verbruiker bestaan
Die Bybel waarsku duidelik teen sulke datumvoorspellings. Jesus sê in Matteus 24:36 dat niemand die dag of uur van sy wederkoms ken nie, en Deuteronomium 18:22 verduidelik dat ’n profesie wat nie vervul word nie, nie van God afkomstig is nie. Die gebruik van geïsoleerde Bybelverse en numeriese spekulasie buite konteks het in hierdie geval weereens geblyk om teologiese verdraaiing te wees.
Filosofies stel dit belangrike vrae oor epistemologie (hoe ons weet wat ons weet), etiek (die gebruik van mense se emosies vir persoonlike agendas) en eksistensialisme (die wanhoop wanneer geloof met die werklikheid bots). Denkers soos Karl Popper, Immanuel Kant, Søren Kierkegaard en Albert Camus bied insig in hoekom vals profesieë nie net intellektueel nie, maar ook moreel problematies is.
LEES OOK: ‘Wat ek as lidmaat by ’n leergeleentheid vir dominees en teoloë geleer en ervaar het’
Verder is Joodse feeste (soos in die verlede) as geheime kodes vir eindtydvoorspellings misbruik, ten spyte daarvan dat die Bybel dit as herinneringe aan God se verlossingsdade en vooruitwysings na Christus aanbied – nie as numeriese raaisels nie.
Psigologies gesproke kan sulke bewegings verklaar word deur verskynsels soos godsdienstige waansin, kognitiewe dissonansie en massasuggestie. Navorsers soos Leon Festinger het beklemtoon dat mense dikwels hulle geloof verdiep ná ’n mislukte voorspelling deur rasionalisering: “God het ons getoets” of “nou is daar ’n herlewing”.
Die gevolge is egter ernstig – vrees, angs, verdeeldheid, verwarring, geloofsverlating en selfs selfdood. Jakobus 3:1 waarsku dat geestelike leiers ’n groot verantwoordelikheid het en strenger geoordeel sal word. Bybelse kriteria vir ’n valse profeet sluit vals voorspellings, leuens in God se naam en die misleiding van mense in (Deuteronomium 18:22; Jeremia 23:25-26).
Navorsing oor apokaliptiese bewegings toon dat sogenaamde “herlewings” ná sulke mislukkings dikwels net verdedigingsmeganismes is om kognitiewe dissonansie te verlig. In werklikheid lei dit tot groter verdeeldheid, verlies aan geloof en skade aan die getuienis van die kerk.
Hierdie onlangse geval herinner ons dat ware profesie altyd hoop bring, na Christus wys en in lyn is met die Skrif – nooit met vrees, manipulasie of verdraaiing nie.
Bronne: Festinger, L, Riecken, HW & Schachter, S 1956. When prophecy fails: A social and psychological study of a modern group that predicted the destruction of the world. Harper-Torchbooks. Kant, I 1785. Groundwork for the metaphysics of morals. Harper & Row.

Die Wegraping bybelse dwaallering is deur Amerikaanse pastore ontwerp- en hul volgelinge glo hulle selfs nadat hulle verkeerd bewys is. Daar is nou ‘oproep tot gevestigde kerke soos die NGK en VGK om ‘n teologiese konferensie te organiseer om leiding aan lidmate te gee. Een rede waarom predikante dit ignoreer en nie hieroor Preek of Lesings reel nie is die feit dat Gereformeerde kerke is in die konsep van die Wegraping glo nie. Maar dit is miskien een rede waarom die Amerikaanse pastore die leemte gevul het . Ek sal voorstel dat die kerk nou ‘n aanlyn Wegraping (“Rapture”) konferensie deur US of ander universiteit reel om geloofwaardigheid aan die gesprek te gee.