Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Willem Louw van Pretoria skryf: Die kritiek teen die Groote Kerk en die standpunt dat ’n kerk hom van “politiek en ideologie” moet weerhou wanneer dit standpunt inneem oor die slagting in Gasa, klink oortuigend vir dié wat godsdiens (kerk) as ’n veilige, privaat morele ruimte wil hou.
Tog getuig die Evangelies daarvan dat Jesus juis nie ’n apatiese of neutrale figuur was nie. Jesus het nie sy bediening in ’n vakuum uitgeleef nie; hy het in ’n wêreld van Romeinse militêre en Griekse kulturele oorheersing en ’n hegte alliansie tussen politieke mag en godsdienstige elite opgetree.
Sy verwysing na ’n nuwe koninkryk was nie net ’n geestelike metafoor nie – dit was ’n uitdaging aan die gevestigde magte van die dag. Jesus het die tempelleiers gekonfronteer en die waardigheid van die armes, siekes en gemarginaliseerdes probeer herstel.
LEES OOK: Alle lesersbydraes
Wanneer Jesus sê “geseënd is die vredemakers” en “alles wat julle aan die geringstes doen, doen julle aan my”, roep hy volgelinge op om morele oordeel uit te spreek oor ongeregtigheid.
Hierdie uitsprake is nie ideologies of polities neutraal nie; dit verwoord ’n etiese standpunt wat gesag, mag en geweld aanspreek.
LEES OOK: ‘Die kerk is nie ’n galery vir politieke solidariteit nie’
Dit is geen wonder dat Jesus deur die politieke en godsdienstige maghebbers as ’n bedreiging gesien is nie. Sy arrestasie en kruisiging was nie toevallige godsdienstige vervolging of die volbringing van profesie nie, maar ’n polities-gemotiveerde poging om ’n rebel stil te maak.
Wanneer kerke (ook die Groote Kerk) dus stem gee aan lyding – of dit Goeie Vrydag in Jerusalem, Soweto in 1976, of Gasa in 2025 is – tree hulle in ’n historiese lyn met profetiese getuienis op.
Om stil te bly uit vrees vir “politiek” of “ideologie” is self ’n politieke of ideologiese keuse: ’n keuse vir die status quo. Die evangelie beroep hom op geregtigheid, barmhartigheid en waarheid.
’n Kerk wat sy stem verhef teen menslike lyding volg nie ’n politieke ideologie nie – dit volg Jesus van Nasaret, die rebel vir liefde en waarheid.


Hoekom verhef die Groote Kerk nie sy stem oor die slagting in Israel op 7 Oktober 2023 en spreek “morele oordeel oor ongeregtigheid” daaroor uit nie? Hoekom word Israeli’s nie genooi om hulle vlag in die Grootte Kerk te kom hang en toegelaat om ook te skree dat ander uit die land verwyder moet word nie? As die Kerk nou gebruik gaan word as ‘n openbare platform vir sulke kwessies (wat nie veronderstel is om te gebeur nie), gaan julle nou in “gasvryheid” die deure en preekstoel oopmaak vir almal? Mnr Louw, die toets wat jy gebruik word nie deurgaans toegepas nie. Die Grootte Kerk het kant gekies, waar dit nie veronderstel was om kan te kies nie – dit is die probleem.
Weereens – en hierdie vraag word nooit beantwoord nie – hoekom word daar bykans niks gesê oor ander oorloë of die slagting van Christene op ander plekke in die wêreld nie? Hoekom is die fokus altyd net op die lyding van die een kant en die blamering van die ander kant, en net in hierdie een oorlog? Asof dit so eenvoudig is om te sê die een kant is reg en die ander kant is verkeerd? Die antwoord is dit: Die Groote Kerk is gevange geneem deur ‘n ander agenda, en dit bevorder nie die Koningkryk van God nie.
Die Kerk moet Jesus se boodskap uitdra in woord en daad, en nie ‘n veilige knus ruimte wees waar net konserwatiewe wit Afrikaners tuis voel nie.
As jy die voorbeeld van Jesus wil gebruik moet jy eers seker maak jy het die regte inligting oor sake. Daar is ontsettend baie propoganda van Hamas se kant af om Israel te laat sleg lyk. Die ANC spesialiseer daarin om ook al hierdie propoganda te glo. ‘n Goeie beginsel is altyd: Audi alterem partem – hoor (ook) die ander kant.
Wanneer hou hulle gesprek oor die verskrikking in die Soedan en gaan die vuisiewysers oor Israel ook teenwoordig wees?