Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Prof Thias Kgatla tydens ’n groepbespreking saam met lede van die steunspan vir die konferensie.

40 Jaar ná Kerk en samelewing: Wat het gebly, en wat het verander?

’n Onlangse konferensie aangebied deur Excelsus oor die publikasie Kerk en samelewing herinner aan ’n NG Kerk met oop deure, maar in die praktyk is die deure nog nie oop vir almal nie. Foto’s en berig deur Hendrien van Vliet.

 

“Ek het gekom om téén Kerk en Samelewing te stem, broers.” Só het ds Jaco Kuyler by die Algemene Sinode van 1986 gesê. Prof Piet Meiring vertel die storie as die eerste paneelspreker by die afgelope Kerk en Samelewing-konferensie gehou op 17-19 Maart 2026 by Stellastraat-gemeente in Pretoria.

Prof Piet Meiring, dr Pieter van der Walt en dr Ruhan Fourie tydens die paneelbespreking vir die tydperk 1974-1986 in die NG Kerk se geskiedenis.

LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Veertig jaar ná die oop kerkdeur

Hy vertel hoe die sinodesitting saam gelees het uit Romeine 12: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is …” en hy vertel hoe ds Kuyler afgevaardig is om namens die gemeente en die ring die voorgestelde dokument af te keur. Maar deur die loop van die konferensie, weet hy, dis dalk nie wat die Here wil hê nie. Hy bel sy vrou, en hulle bid saam daardie aand. En die volgende dag staan hy op en hy stem dat Kerk en Samelewing aanvaar word.

LEES OOK: ‘Goedkoop versoening rem eenheidsgesprek tussen VGK en NGK’

Prof Cobus van Wyngaard van Taakspan navorsing en ds Anandie Greyling van Taakspan Miga 6:8 gee terugvoer rondom hulle gesamentlike projek tydens ’n middagsessie van die konferensie.

Ek dink nie baie mense besef wat ’n groot gebeurtenis hierdie regtig was nie. Die skaal waarmee die NG Kerk gewerk het in die sewentigs en tagtigs was merkwaardig. Dr Pieter van der Walt vertel oor die werk waarmee Leer- en Aktuele sake besig was voor 1978, wat tóé nog drie aparte kommissies was. Om duidelike standpunte in te neem, en dit te kommunikeer aan lidmate oor, eerstens Leer en Protestantse aksie, maw “om te bewaar teen die Rooms-Katolieke invloed”. Tweedens oor aktuele sake soos gemengde huwelike en egskeidings. En derdens Openbare sedelikheid wat seker gemaak het dat die eerste twee kommissies in die openbaar gestalte kry, byvoorbeeld om die Sondagwetgewing van die land te konsolideer. Geen drank op ’n Sondag, geen werk op ’n Sondag ensovoorts. Diegene wat in hierdie tyd geleef het, sal onthou hoe effektief hierdie kommissies was met die kommunikasie van hulle voorstelle, saam met die wetgewing van die staat. Net so was dit ook met Kerk en Samelewing. Elke gemeente, elke ring, elke sinode het kopieë ontvang van hierdie dokument, om deeglik deur te werk voor die sinodesitting van 1986. Die skaal van hierdie onderneming was groter as wat mense besef. Nie almal was ewe ontvanklik daarvoor nie, maar die werk wat hier gedoen is, was verreikend.

LEES OOK: Is NG Kerk ondanks die insigte van missionale teologie steeds besig om wit belange te beskerm?

Dr Trevor Nthlola, dr Gideon van der Watt, prof Christina Landman en prof Johan van der Merwe tydens die paneelbespreking vir die jare 1986-1994 in die NG Kerk se geskiedenis.

LEES OOK: Hy wou Camino gaan doen, maar nou stap dié leraar van Pretoria die langste roete nog op plaaslike Pelgrimstog van Hoop

Die NG Kerk se geskiedenis is vol van hierdie verhale van spanning binne die kerk oor moeilike sake, veral wanneer dit kom by die geskiedenis van die land. Hierdie spanning loop nie altyd uit op goeie nuus soos in die geval van ds Kuyler se verhaal nie. Partykeer loop dit uit op die skeuring van ’n kerk. Waar 100 predikante en sowat 8 000 lidmate wegskeur en die AP Kerk stig. Maar die Algemene Sinode het die eerste moedige tree geneem in die regstelling van apartheid, soos prof Pieter Potgieter gesê het, en met die aanvaarding van Kerk en Samelewing is die NG Kerk se deure oop. Vir almal.

Maar het dit in praktyk so uitgewerk? Is die deure oop vir almal? Dr Gideon van der Watt vra in sy paneelbespreking of daar ’n vrees was in die kerk vir gelykstelling. Was daar ’n vrees vir dit wat mag volg nadat Kerk en Samelewing aanvaar is? Want die skeuring van die NG Kerk was traumaties. Nie net die kerk het geskeur nie, maar familiebande en vriendekringe is geskeur. Die vrees vir die onbekende, en die vrees vir nog skeuring en trauma het ’n blywende effek op die kerk. ’n Konferensieganger het na die tyd gevra of ons nog steeds daar is? Is ons nog steeds bang vir skeuring in die kerk, en is dit die rede hoekom die NG Kerk soms die ‘goue middeweg’ kies, sodat die vrede bewaar kan word en ons net nie weer sal skeur nie? Want die parallelle tussen die skeuring van 1986 en nou met Koinonia is kommerwekkend.

LEES OOK: Die verkoop van geboue: NG Pretoria se verhaal opper belangrike vrae oor die toekoms van gemeentes en die breër kerkverband

Prof Thias Kgatla, emeritus professor van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie, het gevra hoekom sê die kerk baie en doen min. Die NG Kerk is baie goed daarmee om verklarings uit te reik, maar dis amper soos die “Madiba Jive”. Ons voete is vasgenael aan die vloer, en ons wil nie beweeg nie, maar dit lyk of ons dans. Met ander woorde, daar word nie iets gedoen na die verklarings nie. Die skaal waarop die kerk gewerk het om Ras, volk en nasie, en later Kerk en samelewing te bemark en vry te stel was baie groot. Nou is ons stemme amper ’n fluistering, en dalk ’n bang fluistering sodat ons nie te veel mense kwaad maak nie.

Deel hiervan, is waarskynlik die manier hoe die NG Kerk is en lyk, selfs na 40 jaar van Kerk en Samelewing. Die taakspanne Navorsing en Miga 6:8 (Versoening) het saam ’n projek geloods om te hoor wat sien gewone lidmate in die NG Kerk as ‘versoening’. Uit die navorsing en fokusgroepe se gesprekke het dit elke keer spontaan opgekom, sonder dat enige vrae gevra word oor ras en taal, dat die NG Kerk ’n kerk is vir Afrikaanssprekendes. Hierdie is ’n kerk vir Afrikaners, waar aanbid word in Afrikaans. Dit het amper voorgekom asof hierdie taalidentiteit veel sterker was as enige tipe identiteit gekoppel aan ’n denominasie. Waar versoening wel plaasvind vir die respondente, is buite hierdie identiteit. In werksplekke, in winkels, in kantore, by afsprake, maar nie by die gemeentes nie. Die deure is oop, maar hier word kerk gehou in Afrikaans.

LEES OOK: Dié ‘lisensie’-uitsprake weerspreek Algemene Sinode 2015-besluit

Kerk en Samelewing, en dalk tyd, het tóg ’n verskil gebring in die manier hoe die NG Kerk funksioneer. Die taal wat gebruik word is anders. Prof Nelus Niemandt vertel dat die verandering dalk nie met ’n “big bang” gebeur het nie, maar stelselmatig kon die effek gesien word. Oor die jare praat die kerk nie meer van volkskerk nie, maar eerder geloofsgemeenskappe. Die Bybel is nie meer die basis om mense weg te wys nie, maar in te nooi en te verwelkom. “We went from asking if this person is sinful to what does it mean that this person is created in the image of God?” Mense word nie weggewys omdat hulle sondig is nie, maar juis ingenooi omdat elkeen ’n plek het in die koninkryk van God.

Professor Leepo Modise, moderator van URCSA, het die gehoor, en die NG Kerk opgeroep, om weer hierdie leidende rol wat die kerk in die samelewing het, op te neem. Daar is genoeg kwessies in die land om ons goed besig te hou, maar waaroor ons ook uitsprake móét lewer. Veral oor korrupsie en onreg in sy vele vorme. “Everything has changed, but the legacy is still among us.” Hoe gaan hierdie nalatenskap van die NG Kerk, en Kerk en Samelewing lyk oor nog 40 jaar? Gaan die kerk hande neem, nie net met Afrikaners nie, maar die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap en werk, of sal ons weer by ’n konferensie met 50 mense sit en wonder wat het gebeur.


Ds Hendrien van Vliet is predikant by die NG Gemeente Kempton-Hoogland.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “40 Jaar ná Kerk en samelewing: Wat het gebly, en wat het verander?”

  1. Sleutelbordkryger

    “Veral oor korrupsie en onreg in sy vele vorme.” – beslis ja, dit is lankal tyd dat die NG Kerk opstaan en die regerig vas vat oor die misbruik van die land se mense. Dit sal wel nie gebeur nie want die bestuur stel meer belang daarin om maats te wees met belangrike politieke figure en die Wereldraad van Kerke.

    Wie op dees aarde dink waarlik dat die NG Kerk nie oop is vir almal nie? Weet enigiemand van enige voorbeelde waar enigiemand “weggewys word”? Dit gebeur nie. Meeste kerke is juis desperaat om mense te hou en meer in te wys. En die idee dat die NG Kerk net hande neem met Afrikaners is totale onsin- gaan kyk bietjie wat gemeentes doen vir die gemeenskap elke dag, vir beide afrikaners en nie-afrikaners.
    Dit is inkorrek dat daar nie versoening binne die kerk self is nie, en dit lyk asof die skrywer hierdie skyn toewys aan die feit dat daar Afrikaans gepraat word. Ds Hendrien van Vliet, en Prof Thias Kgatla, wat stel julle voor moet gedoen word om dit meer inkusief te maak? “Met ander woorde, daar word nie iets gedoen na die verklarings nie.” – so asseblief, gee voorstelle, wat moet ons doen?
    Moet ons afstand doen van ons taalidentiteit? Stel jy voor dat ons in Engels begin kerk hou? Dalk is die vraag eerder of die NG Kerk nogsteeds die NG Kerk is as dit nie meer Afrikaans is nie, en of dit sal kan voortbestaan. Of dalk word Afrikaans onwrikbaar in jul gedagtes met apartheid geassosieer.

    Bo-op die skuld wat ons moet voel oor apartheid moet ons ook nou jammer wees dat ons Afrikaans is. Ek vra weer, en niemand kan of wil die vraag antwoord nie: hoe lank gaan ons nog moet jammer sê oor apartheid? Moet ons kinders ook jammer sê? En hulle kinders? Vir ewig skuldig, van geslag tot geslag.

  2. Ds. Pieter de Jager

    Hier gaan dit maar nog steeds om rasgemene kwessies van die samelewing. Hoe eng tog! Die dinge wat bygekom het by die sonde van apartheid, is die etiek en moraliteit van die samelewing, dinge soos selfdegeslagverhoudinge, die vraag na die werklikheid van die duiwel en gesamenlike dienste met nie-gelowiges. Ekumeniese betrekkinge vul almeer die ruim huis van die NG Kerk met groot kommer.

Comments are closed.

Scroll to Top