Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Franziska Andrag-Meyer het dié treffende prent op die rekenaarskerm hierbo ontwerp om hulde te bring aan vroue wat deur die jare in die NG Kerk gelegitimeer is. Sy het met Kerkbode gepraat oor die meer as 300 name en die silhoeët wat in die beeld sigbaar is. Foto: Hildegard Meyer

30 jaar van vroue in die amp

Name laat verhale herleef

Die inspirasie het van ver af gekom – van die Evangelical Lu­the­ran Church in Amerika –maar as jy fyn kyk is die name in die “woordwolk” plááslike vroue, verduidelik ds Franziska Andrag-Meyer, leraar van NG Gemeente Suidpunt in Struisbaai, wat ook ’n knap grafiese ontwerper is.

“Op die prent is al die vroue se name wat al ooit, sover ek kon uitvind, in die NG Kerk gelegitimeer is, 322 name,” vertel Andrag-Meyer en voeg by dat die “dertig” verwys na die hoe­veelheid jare sedert die Algemene Sinode in 1990 vroue tot die amp toegelaat het.

Die silhoeët wat gevorm word, is dié van prof Elna Mouton. Is dit ’n risiko om ’n spesifieke persoon as model te gebruik, wou Kerkbode weet? “Elna is ’n laatkommer tot legitimasie, maar haar hele le­wensverhaal getuig eintlik van die lewens­take waarvoor ’n mens gelegitimeer word: Woordverkondiging, diensbaarheid, barmhartigheid en sy is vir baie ’n geloofsmentor,” aldus Andrag-Meyer.

“Haar rol in die Circle of African Women Theologians beliggaam iets van ons breër verbintenis met die kerke op ons vasteland. Dit gaan dus oor meer as net ons eie kerkverband. Elna het vir so lank op die drempel gestaan (sy praat graag van liminale spasies) en buitestanders gehelp om in die kerk en kerklike diens tuis te kom.”

Lees ook 30 jaar later: Vrou se pad na kansel steeds nie gelyk, wys data

Vir Andrag-Meyer was dit ’n emosionele ervaring om so deur al die name te gaan met die saamstel van hier­die grafika, wat wyd rondgestuur is in WhatsApp-groepe en sosiale media om hierdie mylpaal te herdenk. “Ons was nog baie minder toe ek 20 jaar gelede gelegitimeer is. Nou ken ek nie die meeste van hierdie vroue nie, so baie is ons. In die name wat ek ken, het ek soveel verhale weer beleef. Baie verhale is vol wanhoop, pyn en frustrasie. Dit is ontnugterend. Dit was vir my erg om soveel vroue se name te kry, vroue wat beter as ek gekwalifiseer is, met ’n groot rykdom gawes, maar gemeentes sien hulle nie raak nie en beroep hulle nie. Baie kry finansieel swaar in deeltydse poste. Party het die bediening heeltemal verlaat ter wille van oorlewing of omdat hulle moed verloor het. Ek het baie gehuil. Daar was ook ander verhale vol hoop en vreugde. Dit vul my met dankbaarheid. Die maak van die naamprent het my weer herinner ek is deel van ’n groter verhaal.”

Lees ook ‘Mag ons krag en moed vind?’

Oor vroue in die amp skryf prof Johan van der Merwe in sy Kerkbode-rubriek oor die kerkgeskiedenis: “Die belangrike besluit wat die deur vir vroue oopgemaak het, is tydens die Algemene Sinode in 1990 geneem. Die vergadering het besluit en erken dat die ampte van dia­ken, ouderling en predikant gelyk is. As vroue as diakens kon dien, kon hulle ook as ouderlinge verkies word en ná teologiese opleiding as predikante na gemeen­tes beroep word. Vier jaar na hierdie historiese besluit is Gretha Heymans in 1994 as eerste vroulike predikant van die NG Kerk in die gemeente Kovsiekampus in Bloemfontein bevestig.”

Andrag-Meyer vertel oor haar eie reis in die bediening: “Ek is al 17 jaar in Suidpunt, en opreg dankbaar vir die onderlinge liefde wat ons in die gemeente deel. Soms, op ’n kusdorp, in ’n plattelandse ring kan my bedieningspad as vrou ’n baie alleen pad wees om te stap. In hierdie tyd wat ons mekaar ook nie in persoon sien nie, het die prent my weer laat deel in ons kollektiewe goeie en slegte ervarings. Dit gee my hoop.”

Lees ook Oor stereotipes en energie

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “30 jaar van vroue in die amp”

  1. Dit is ‘n pragtige en gepaste embleem, met die profiel van ‘n waardige en stille werker vir geregtigheid aan vroue. Vida

Comments are closed.

Scroll to Top