Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Johan Robyn vertel van uitdagende grootwordjare in Cloetesville buite Stellenbosch. “Stellenbosch is ’n mooi dorp, maar ook ’n dorp met ’n geskiedenis van ongelykheid. Baie rykdom en armoede. Dis regtig ’n dorp met twee lewens. En ons het grootgeword in daai ongelykheid en ons het daai ongelykheid aan ons lyf gevoel. My ma het gewerk by ’n versekeringsmaatskappy as ’n tea lady. Maar sy het vir die hele huis gesorg met daai geld.” Foto: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Johan Robyn: ‘Ek sou sê, gooi die deure oop, nooi almal in …’

“Ek het diep in die oë gekyk van daai ouens wat die gun op my gehad het en ek het regtig daai dag die pyn van armoede gesien, die pyn van swaarkry, die pyn van dis Kersfees en ek moet iets huis toe vat, ek moet iets hê om vir my kinders te gee,” sê hy. Dit het destyds gebeur tydens ’n gewapende roof by MES se kantore in Hillbrow.

Johan Robyn werk die laaste drie en twintig jaar in die hartjie van Hillbrow. Hy het jeugwerk studeer by Hugenote Kollege op Wellington, later ’n honneursgraad in Publieke Administrasie gedoen en is tans besig met ’n meestersgraad wat fokus op voedselsekuriteit.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Rethie van Niekerk: ‘Iets kan gelyk ontsettend pynlik en beautiful wees’

Mense vra hom dikwels waarom hy van Stellenbosch af na Hillbrow, van alle plekke, getrek het; en waarom hy steeds aanbly. Die groot ding wat hom daar hou is sy liefde vir die mense van die stad, sê Johan. En elke dag leer Hillbrow hom iets van homself.

Hy onthou nog die koue gevoel toe hy destyds van die Kaap af soontoe getrek het, maar ook die warmte van veral die straatmense.

“O, die haweloses en die straatkinders, hulle het my regtig omhels, en onmiddellik was ek deel van hulle en kon ek saam met hulle om die vuur sit, praat en stories luister, dinge inneem. Op ’n manier het daai stad van chaos my welkom geheet, gesê jy’s nou deel van ons, jy is saam met ons, en dit was vir my amazing.”

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Marietjie en Niel Steyn: ‘Dis noodsaaklik dat ons nie sal bydra tot die verdeeldheid nie, maar die eenheid bevorder’

Johan het lank vir MES gewerk. Vandag is hy die programbestuurder vir die maatskaplike dienste en die immigranteondersteuningsprogram van die Lutherse Kerk in die middestad van Johannesburg; hulle werk elke dag met onder andere vlugtelinge, haweloses en dwelmafhanklikes en het ook projekte in Musina en Pretoria.

Hy vertel van uitdagende grootwordjare in Cloetesville buite Stellenbosch. “Stellenbosch is ’n mooi dorp, maar ook ’n dorp met ’n geskiedenis van ongelykheid. Baie rykdom en armoede. Dis regtig ’n dorp met twee lewens. En ons het grootgeword in daai ongelykheid en ons het daai ongelykheid aan ons lyf gevoel. My ma het gewerk by ’n versekeringsmaatskappy as ’n tea lady. Maar sy het vir die hele huis gesorg met daai geld.”

En dit is juis sy ma wat die groot inspirasie is vir die onselfsugtige lewe wat Johan vandag lewe. Dis sy wat gemaak het dat hy sy hart vir Hillbrow gee. Hy sê sy het hom geleer, ’n mens gee wat jy het, jy gee in diepte en jy gee jouself.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Ruhan Fourie: ‘Kerk en politiek se saamwees was destyds meer institusioneel, vandag is dit meer opportunisties’

“My ma se droom was altyd om ’n verpleegster te word, maar ongelukkig kon dit nooit gebeur nie. Maar glo vir my, sy het almal se wonde in die huis en gemeenskap genees. Baie kere sal ons na skool by die huis kom, dan wag iemand vir haar wat siek is of die bure se kind wat geval het, of wag iemand vir ’n bord kos.”

Maar daar was ook ander mense en ervarings wat hom by hierdie pad saam met die Here gebring het.

Hy vertel van ’n begrafnis van iemand wat vermoor is waar die dominee gesê het dit is God se wil en niemand mag sy wil bevraagteken nie.

“Dis toe wat ek besef, die predikant verstaan nie eintlik God se grootheid nie. Om te sê dat dit God se wil is, was eintlik ’n klap in die gesig van die gemeente. Dit het my persepsie van God en my hele lewe verander, want God is eintlik genadig,” sê hy.

Een van die groot draaipunte in sy lewe was ’n ervaring een aand op ’n uitreik in Zambië.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Charlotte Sibanyoni: ‘Bring verandering vanuit vrede, nie woede’

“In die middel van die donker nag stop ons. Voor my was die swart nag en toe ek opkyk toe sien ek die grootheid van ’n God wat my eintlik liefhet net soos ek is. En die derduisende sterre wat die hemelruim oorheers. Dis toe dat ek weet, God het ’n plan met my lewe.”

Vandag loop hy steeds gereeld iets van daai grootheid van God en die roeping op sy lewe raak in die middestad van Johannesburg.

Vir lank het Johan Robyn nie net in Hillbrow gewerk nie, maar ook daar gewoon. Vandag woon hy saam met sy vrou en kinders in Riverlea in die suide van Johannesburg, ook ’n plek met groot uitdagings.

“Riverlea het in die afgelope maand bekendheid verwerf vir onwettige mynwerke van die Zama-Zamas, dis geweerskote, dwelms en inbrake en armoede. Maar dis eintlik ook ’n lekker plek. Riverlea is uniek omdat dit heenkome bied vir mense van alle velkleure,” sê Johan, en vertel van ’n treinspoor wat selfs daar die rykes van die armes skei. Hy sê hy sien dit as sy groot taak om van daai treinspore ontslae te raak.

As hy oor die toekoms van Suid-Afrika dink, glo hy wit, swart en bruin kinders kan die toekoms van die land bepaal, ongeag van wat hulle ouers verkeerd gedoen het in die verlede.

Wat pla hom die meeste van Suid-Afrika vandag?

“Oneerlikheid, mensdom, Suid-Afrikaners kan lieg.”

Wat gee hom energie?

“My kinders, om hulle te sien grootword, om te sien hoe hulle ook elke dag worstel met hulle soeke na identiteit en hoe hulle hulleself probeer vind in die lewe. Die woord “daddy”! Om dit elke dag te hoor is eintlik amazing.”

Wat sou hy vir die dominees in die NG Kerk wou sê?

“Die kerk moet ons land versoen, eenheid bring. Te dikwels nog bring kerke onenigheid met al die dogma en reëls. Ek sou sê, gooi die deure oop, nooi almal in, laat almal welkom voel,” sê Johan.

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugbediening en die NG Kerk Villieria.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Jaco Strydom gesels met Johan Robyn: ‘Ek sou sê, gooi die deure oop, nooi almal in …’”

  1. “Ek sou sê, gooi die deure oop, nooi almal in, laat almal welkom voel,.” Ek weet nie van geslote deure nie. Ek weet wel van almal laat welkom voel. En die gemeentes word nie juis oorstroom met mense nie. Selfs nie eers op Ringsvlak nie.

Comments are closed.

Scroll to Top