Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kerkbode Kollig Episode 2: Oor grense na hoop

Die effek van nege jaar van droogte word steeds gevoel in dele van die Sinode van Noord-Kaapland – én daar was hierna nog rampe. Dan vra mense weer of die kerk kan help en daarom het hierdie NG Kerksinode besluit om vanjaar weer ’n caminostap te hou om fondse in te samel vir die Red ’n Plaas Red ’n Gemeenskap Rampfonds.

So vertel ds Deon van der Berg van Stella in Noordwes in hierdie week se episode van Kerkbode Kollig. Hy vertel meevoerend hoe die belewenis van rampe mense se geloof toets maar ook hoe enige vorm van hulp, al is dit ’n woestynrosie met ’n briefie in ’n skoenboks weer mense laat voel “die Here sien my raak”. As ondervoorsitter van hierdie rampfondsprojek, vertel hy ook meer van die verskillende maniere waarop nie net ywerige stappers nie, maar gemeentes, skole, ouetehuise en jeuggroepe almal van enige plek af met ’n bietjie verbeelding hierdie projek kan help vleuels gee.

Lees meer: Elders gesien: Nuwe caminostap vir Noord-Kaapse rampfonds

Deon en Gerda van der Berg het ontmoet op 2023 se Red ‘n Plaas Camino. Foto: Verskaf
Stories van planmaak en saamwerk is vertel by die ‘Oplossings vir die platteland-konferensiew wat Landbouweekblad saam met die landbou-organisasie Senwes in die Vrystaat aangebied het. Foto: Le Roux Schoeman

“Op elke plattelandse dorp staan ’n kerkgebou. Wat gebeur reeds daar? Dit is die onderwerp wat ds Jan Lubbe van Bloemfontein aangeroer het op die ‘Oplossings vir die platteland’-konferensie,” het Le Roux Schoeman vandeesweek berig vanaf die Nampo-skougronde naby Bothaville in die Vrystaat. Die moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk was een van meer as 70 sprekers by hierdie saamtrek wat Landbouweekblad saam met die landbou-organisasie Senwes oor twee dae aangebied het.

Tussendeur vertellings oor alles van sopkombuise, kinderhuise en munisipale dienste wat herstel word, het Lubbe gepraat oor wat kerke kan doen om plattelandse gemeenskappe te ondersteun. Hy vertel meer oor die geleentheid in volgende week se episode van Kerkbode Kollig

Kliek hier vir ’n uittreksel van die video oor sy toespraak: Video: Moderator se voorbeeldlys van dinge wat gemeentes rééds doen om gemeenskappe op die platteland te help

Peet Botma is ’n avonturier en lief vir die see. Hy het onlangs die harte van ’n groepie Kaapse kinders, uit moeilike omstandighede, baie bly gemaak toe hy reggekry het om manalleen met ’n roeiboot oor die Atlantiese oseaan te roei.

Jaco Strydom het vir Kerkbode met hom gesels oor sy deelname aan een van die wêreld se mees uitdagende wedvaarte, The World’s Toughest Row. In kort het Botma in 45 dae dieselfde roete van sowat 4 500 km geroei as wat seevaarder Christopher Columbus destyds geseil het. In hierdie uittreksel uit die podsending oor hulle gesprek vertel Peet vir Jaco hy moes as deelnemer ’n “charity” kies en hierdie een het sy aandag getrek omdat hulle vir kinders hoop gee deur hulle te leer van die see en hoe om te surf.

Kliek hier vir Jaco Strydom se rubriek en podsending: LUISTER | Met ’n roeiboot oor die Atlantiese Oseaan: Jaco Strydom gesels met Peet Botma

Peet Botma het met ds Jaco Strydom gesels oor sy deelname aan The World’s Toughest Row. Foto: Verskaf

Kerkbode Kollig is ’n nuwe saamluisterprojek. Dit bestaan uit weeklikse podsendings gevul met insetsels oor kerknuus, geloofstories en gesprekke om jou in te lig, te laat nadink en te inspireer. Elke Sondag word ’n nuwe episode op Kerkbode se webblad gelaai. Laai gerus die gratis Kerkbode-toepassing af op jou selfoon om saam te kan luister.

Deel gerus nuuswenke per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top