Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jaco Strydom gesels met Nic Grobler | Lank dominee, nou op 79 voltyds beeldhouer

“Ek is in totale verwondering oor die handewerk van God in die makro- en mikrokosmos. Ek verwonder my aan die sterrehemel en geniet elke nuwe ontdekking oor die sterre en planete. Die onpeilbare omvang van die heelal wat konstant in beweging is,” sê Nic Grobler. Hy was vir lank ’n dominee, vandag, op 79, is hy voltyds ’n beeldhouer.

Terwyl ek na sy beelde kyk en na sy woorde luister dink ek aan die legende van ’n wyse ou man in die berg. God het vir hom gesê hy kan enigiets vra. Eers wou hy vir wysheid en rykdom vra, maar toe onthou hy Salomo was nie gelukkig nie. Toe wens hy vir verwondering … en hy was vir ewig gelukkig.

Lees ook: Kyk | Leraar getuig: ‘Ons moet oor ons donker tye praat; die siekte gaan nie altyd weg nie’

Nic se verwondering is aansteeklik.

“Ek is in verwondering oor hierdie aarde, die diereryk, voëls, plante, blommeprag en die mikrokosmos,” sê hy en sy oë blink. “Ek kan my verkyk aan die insekte en wonder oor hoe die Skepper dit reggekry het om die ragfyn vlerke van ’n naaldekoker te maak, die kleure van skoenlappers en die strooitjie waarmee ’n muskiet bloed opsuig. Ek sukkel deesdae om ’n muskiet dood te slaan! Ek skep beelde, maar ek ken die lompheid van my eie vingers. My eie beperkinge. God se skepping lewe.”

Hy en Marietjie woon op Stellenbosch. Hulle huis is vol kunswerke: sy eie beelde, Marietjie se kwiltwerke en skilderye deur hulle kinders. Daar is beelde van Bybelfigure, gelykenisse, gekruisigde hande, die kop van ’n visserman, ’n Afrikavrou en Johannes die Doper – om ’n paar te noem.

Elke beeld het ’n storie. Oor en oor vertel hy hoe hy die Here se hand, nie net in die oorspronklike inspirasie nie, maar ook in die proses van die maak van ’n betrokke beeld ontdek.

In die hoek van een van die vertrekke staan ’n borsbeeld van staatspresident Marais Viljoen.

“Ek sou ’n standbeeld van dr Bok maak – hy was glo die stigter van Boksburg. Van my kerkraadslede destyds in NG Boksburgpark, was stadsraadslede, so ek was nogal opgewonde oor die versoek. Maar ek het myself verbind vir ’n jeugkamp, en toe kon ek dit nie doen nie. Ek stoei toe met die Here daaroor, want dit was ’n groot geleentheid. Maar die Woord sê soek eers die koninkryk van God en binne twee weke daarna kry ek ’n oproep van die sekretaris van die staatspresident!”

Nic is getaak om ’n een en ’n half keer borsbeeld van die president te maak. ’n Ateljee is vir hom ingerig in die presidensie.

“Maandae, as dit die dominee se sogenaamde afdag is, het ek deurgery Pretoria toe, en dan sit hy daar en dan werk ek aan die beeldhouwerk. En die eerste dag toe ek moes deurry, kry ek ’n papwiel!” lag hy.

Lees ook: Persoonlike geskiedenis | Gedagtes by die hardloop van ’n eerste Comrades: Berg, klip, tafel …

Nic is soos ’n ontdekkingsreisiger en hierdie is net een van die vreemde reise van verwondering waarop sy beelde hom geneem het. Elke beeld het ’n storie.

Oor en oor vertel hy hoe hy die Here se hand, nie net in die oorspronklike inspirasie nie, maar ook in die proses van die maak van ’n betrokke beeld ontdek. Al dikwels sou ’n beeld wat breek of in sy oë aanvanklik misluk, hom na ’n nuwe, beter plek lei – en dit is die verhaal van baie van sy mees aangrypende beelde.

Hy ken van fynkyk en diep droom. Beeldhouwerk het hom geleer om die oomblik wat die groter verhaal saamvat en beklemtoon raak te sien. Een van sy beelde is van Abraham wat mes omhoog regstaan om Isak te offer. As jy mooi kyk sien jy sy kop is effe gedraai, soos iemand wat iets agter hom hoor.

Kreatiwiteit loop diep in sy gene. “My pa het my geleer om uit die swart potklei wat ons uit die spruit gehaal het ’n span kleiosse te maak. Hy het my ook geleer om riempies te sny uit vel wat eers gebrei is en dan het ons die mooiste ronde swepe gevleg. My ma was altyd skeppend besig. Sy kon die lekkerste kos maak, het lang wit beskuit gebak en kon koek pragtig versier. Sy het ook houtsneewerk gedoen en ons het vandag nog ’n groot horlosie wat sy gemaak het,” sê hy.

So lank as hy kan onthou was hy ’n beeldhouer, ook terwyl hy voltyds predikant was; onder andere in Pongola, Boksburg en Pretoria. Later was hy tentmaker en vir ’n tyd lank die hoof van Afrikaanse programme by Radiokansel.

Lees ook: Rudi Swanepoel: Die radikale Jesus, en ons sukkelende navolging van Hom

Daar was rowwe tye toe die finansies min was. Marietjie vertel hoe hulle op ’n stadium nie ’n motor gehad het nie en Nic met die fiets werk toe moes ry. “Ons het hard gewerk om finansieel onafhanklik te wees en in ons eie behoeftes te voorsien, maar die Here het in sy groot genade nog altyd vir ons gesorg,” sê Nic.

Met die tyd het dinge verander en later in hulle lewe kon hulle na Ramsgate verhuis waar hy voltyds op sy beeldhouwerk kon fokus, asook by gemeentes optree om mense te motiveer om hulle gawes te ontwikkel en gebruik.

’n Paar jaar terug het hulle na Stellenbosch verhuis om naby hulle kinders en kleinkinders te wees. Sy ateljee is ’n eenvoudige studeerkamer. Hy meng sy eie klei en vertel my van die lang, ingewikkelde, duur proses om die beelde in brons te giet.

Op 79 is Nic steeds vol drome en idees. Een van sy mees aangrypende beelde is dié van Jona in die vis. Die vis is ’n spiraal wat op sy kop staan met patrone al teen die binnekant. Nic sê hy droom daarvan om ’n enorme beton standbeeld daarvan te maak, met trappies aan die binnekant waarteen mense kan opklim om langs Jona te kniel en vir ons stukkende wêreld te bid.

Hy tree steeds graag by gemeentes op. “Ek doen ’n PowerPoint-aanbieding en wys ’n wye reeks beeldhouwerke,en bring dan ’n boodskap of ’n reeks boodskappe soos met Paasfees, Pinkster en ander geleenthede, en wys op beeldhouwerke wat daarby pas en die Boodskap uitdra.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top