Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Van Namibië tot Gasa, van die Groote Kerk tot ’n Karoo-dominee wat die kankerstryd verloor. Hier is Kerkbode se mees gelese stories in 2025.

2025: Kerkbode se mees gelese stories

Soos preke bly sommige stories jou langer by as ander. Hier by Kerkbode wil ons graag op die hoogte bly met wat ons lesers interesseer. So ons het op Google Analytics* gaan kyk wat is die stories of afdelings op kerkbode.co.za wat in 2025 die meeste klikke wys.

#1 Namibië se besluit om uit te tree by AS

Die NG Kerk in Namibië het in Maart tydens ’n streeksinode gestem om uit verband te tree met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika. Dié historiese verwikkeling was “nóg vinnig, nóg sonder teenstemme,” het Le Roux Schoeman berig in Kerkbode se mees gelese nuusberig vir 2025. Lees meer: NG Kerk Namibië tree ná jarelange proses uit verband met NG Kerk se Algemene Sinode

#2 Vasvra-legende se reis met outisme

Mense onthou vandag vir Daantjie Badenhorst as Daantjie Dinamiet, kampioen van TV-reekse soos Noot vir Noot en Flinkdink. Hy het met Annabelle Lombard gesels oor hoe moeilik Aspergersindroom, ’n vorm van outisme, goeie menseverhoudings vir hom gemaak het. Dit was tot hy vir Yolanda, sy vrou, ontmoet het, “die eerste mens wat my aanvaar het net soos ek is,” het hy vir hierdie medewerker van Kerkbode vertel. Lees meer: ‘My vrou was die eerste mens wat my aanvaar het net soos ek is’ – Daantjie Dinamiet vertel van sy reis met outisme

#3 Briewe oor alles van KI tot Groote Kerk

Kerkbode se briewe-afdeling bly immer gewild by lesers. Vanjaar was geen uitsondering nie. Skrywes is ontvang oor alles van kunsmatige intelligensie, die humanitêre krisis in Gasa, die NG Kerk in Namibië se uittrede, hofsake, nuwe verwikkelinge in kerklike groeperinge tot ’n Kaapse gemeente se besluit om gasheer te speel vir ’n intergodsdienstige interaksie met ’n VN-regskenner. Vind alles hier: Briewe

#4 Gemeentes wat kies vir hergroepeer met dié wat eenders dink

Nog ’n verwikkeling waarin lesers baie in belang gestel het was die drie Vrystaatse gemeentes wat gekies het “om ’n liggaam te stig waar lidmate teologies eerder as geografies verenig,” soos Le Roux Schoeman in Julie berig het oor hierdie besluit wat lidmate raak van NG Harrismith, NG Kroonstad en NG Parys-Suid. Lees meer: Nuwe ring wil ‘teenvoeter’ binne NG Kerk skep

#5 NG Kerk se skenking aan slagoffers in Gasa

Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het in Augustus goedgekeur dat ’n bedrag van R250 000 uit die Algemene Sinode se Rampfonds aan ’n Christelike ekumeniese netwerk geskenk word vir hulpverlening aan slagoffers in Gasa. Dié besluit het wyd bespreking ontlok. Moderator Jan Lubbe en dr Nioma Venter, algemene sekretaris, het tydens ’n paneelgesprek met Heléne Meissenheimer vir Kerkbode se Kollig-podsendingreeks meer toeligting gebied oor die gebeure. Luister hier: ‘Hoe dink ons oor hulp?’ – Jan Lubbe in gesprek met ander oor Gasa-skenking

#6 Dié wat groet

Kollegas se hartseer na ’n senior bestuurder by ’n kerklik maatskaplike organisasie in ’n motorongeluk sterf, ’n Karoo-dominee naby aftrede wat sy stryd teen kanker verloor het en ’n leraar wat weens ’n ongeneeslike spiersiekte sterf. Dit is van die brose mensweesstories wat lesers in 2025 ontroer het. Besoek ook: In Memoriam

  • Google Analytics wys in 2025 het in die laaste vyf maande net meer as 81 000 gebruikers meer as ’n kwartmiljoen keer op Kerkbode se webblad geklik.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top