Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Leë winkelrakke en veelsydige elmboë

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

’n Inkopietog vir die nodigste items op ’n Bolandse dorp lyk drasties anders as gewoonlik nadat die president die Korona-pandemie tot nasionale ramp verklaar het. 

Maar, dalk omdat daar nog geen Koronavirus-gevalle op die dorp was nie, is die paniekmeter nog taamlik laag.

Op 19 Maart het die getal infeksies in Suid-Afrika op 116 gestaan, en met die publikasie van dié rubriek het dit gestyg na 202 gevalle, luidens www.sacoronavirus.co.za.

In die plaaslike apteek dra sommige werknemers seegroen maskers en handskoene vir beskerming. Ander, soos een van die aptekers agter die toonbank, sê weer sy sou graag haar masker wou dra, maar sy voel eenvoudig te benoud. “Hier was darem nog geen gevalle op Wellington nie,” stel sy my gerus. “Maar as die virus onder siek mense begin versprei, het ons probleme. Mense met TB, kanker, diabetes, MIV …”

Lees ook Korona: Doen dít elke dag

My tweede stop is by een van die drie supermarkte. Dit lyk asof almal effens vinniger as gewoonlik deur die gange draf. Sommige stoot selfs hulle winkeltrollie met hulle elmboë … Dit lyk nogal eienaardig en baie ongemaklik. Wat jou dadelik laat dink aan president Cyril Ramaphosa se aanmoediging om jou elmboog oor jou neus of mond te hou as jy hoes of nies.

Hier en daar word daar opmerkings oor die leë winkelrakke gemaak.

’n Ouer dame langs my sê: “Geen hoender nie! Wat gaan ek en my man nou vanaand eet? Ek wonder of daar nog ’n pakkie wors in die vrieskas is,” sê sy terwyl sy in haar handsak begin rond soek na haar selfoon om haar man te bel. 

By die betaalpunt hoor ek hoe twee kassiere redekawel: “Waar’s jou geloof? God sal ons met die Lam se bloed beskerm!” Die ander vrou trek haar gesig. “Julle dink die virus is nie ’n ernstige ding nie. Dis baie ernstig. As dit eers gaan versprei hier op ons dorp …” sê sy terwyl sy haar hande met skoonmaker spuit.

Lees ook Koronavirus bring ook groot besluite vir dié wat haweloses bedien

Laatmiddag staan ek in my kompleks se parkie saam met ander ouers wat kyk hoe hulle kinders buite baljaar. Die mure begin naderhand almal vasdruk. Sommiges kla dat hulle nie hulle werk gedoen kry noudat hulle én hulle kinders tuis is nie. Ander sê hulle sien dit as verpligte gesinstyd, ten spyte van die uitdagings. En dat hulle vroegoggend en laataand werk terwyl die kinders slaap.

 Dalk moet ons probeer om anders te kyk na dit wat nou verander het. Die spreekwoordelike silwer randjie soek in ongemaklike situasies. Dit natuurlik terwyl jy steeds jou elmboog, vir welke rede ook al, gebruik.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top