Belhar: ‘Oorweeg dié radikale stap’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Skryf ’n nuwe belydenisskrif in eenvoudige taal wat die gemeensaak in Belhar verwoord en daarop uitbrei, vra LOUIS BRITTZ.


Ek het onlangs “In Gods naam” op YouTube gekyk. Dit is ’n dokumentêr wat handel oor die proses van eenwording tussen die NG Kerk en sy bruin en swart eertydse denominasievennote wat in die apartheidsjare geskeur het. Dit vertel die ryk stories, bevat onderhoude met wonderlike mense en handel veral daarmee dat die Belydenis van Belhar steeds ’n klip in die pad van eenwording is. Dat dit vir die bruin en swart kerk “ononderhandelbaar” is, en dat die NG Kerk in die breё steeds nie sy weg oopsien om dit as ’n belydenisskrif te aanvaar nie.

’n Stukkende kerk

Daar is nie ’n manier om na die stand van sake te kyk en nie te treur nie. Dit is ’n skeur in God se koninkryk wat gebeur het weens ’n geweldige sonde teen die mensdom. ’n Orkaan het ’n verwoestende pad deur die gereformeerde kerke in Suid-Afrika geploeg en duisende mense het seergekry. Geestelik gesproke kan ’n mens jou die skade aan God se koninkryk kwalik indink as ’n denominasievennootskap skeur weens die verwerping van rassegroepe wat aan hom behoort.

Nou, ek het deur die afgelope jare baie eggo’s gehoor van die wit leiers van daardie tyd rakende wat die bedoeling was – dat daar dalk min rassehaat ter sprake was in die hart van kerkleiers wat probeer het om die tydsgees te bestuur. ’n Saak het twee kante en wie kan die motiewe van mense ontleed in besluite wat so lank terug geneem is? ’n Mens hoef eintlik net te vra wat het bruin en swart Christene beleef, en wat beleef hulle vandag nog? Wat was die feitelike uitspeel van die saak en hoe lyk die landskap vandag? ’n Mens vind matelose pyn en verwoesting in menselewens en daarom is hierdie verskriklike sonde erken, bely en wil niemand daaraan herinner word nie.

LEES OOK: Kerkskeuring, kerkherstel of kerkherskikking?

Ons glo egter nie net in die belydenis van sonde nie, maar in restitusie. In die regmaak van die saak. Nie net omdat dit verhoudings tussen mense herstel en die geskiedenis se verloop verander nie, maar omdat dit geestelike grondgebied terugneem wat in ’n oorlog verloor is – dat dit vir die generasies wat volg ’n beter geestelike landskap los om in kerk te wees. Ons glo dit is nodig selfs wanneer dit moeilik is – wanneer ’n nuwe geslag mense baie moet prysgee om dit te herstel wat ’n vorige geslag mense verloor het.

Ons glo dit wys karakterontwikkeling: Dat ons beter kan en wil doen as ons voorvaders. En dat die woorde “Ons is jammer” beteken ons wil die skade herstel. Anders beteken dit niks, en dit is wat ons bruin en swart geloofsfamilie beleef. Ons kan nooit al die skade herstel nie. Die geslag wat die swaarste gekry het is reeds oorlede, of so oud dat dit te laat is. Die kans is verspeel. Maar restitusie gaan nie net oor terugwerkende herstel nie. Dit ontsmet en werk wonde toe sodat die kanker nooit weer kan terugkom nie. Dit is die moeite werd om voor te veg, selfs wanneer die wit kerk eintlik “aanbeweeg” het en met nuwe brandpunte worstel.

Waar staan ons?

Hierdie stukkie agtergrond is ou nuus. Soveel so dat dit kerkleiers wat lank hiermee werk en worstel eintlik ergerlik maak. Dit is nie asof dit nie sedert 1994 ernstige aandag gekry het nie. Baie gesprekke met eerlike, boetvaardige gesindhede is gevoer. Belydenisse is gedoen en vergifnis is aangebied. Kompromisvoorstelle is by sinodes ingedien en aanvaar. Tonne vordering is gemaak en dit mag nie afgemaak word as ’n vlak, oneerlike poging nie. Maggies, dit is 26 jaar se “nader aan mekaar groei” waarvan ons hier praat en ’n nuwe, skoon stroom het die vuil water al probeer wegspoel met alles in sy vermoё. Op grondvlak is daar mooi stories van mense en gemeentes wat oor rasgrense heen hande vat en Christen-familiebande smee asof apartheid nooit bestaan het nie.

Louis Brittz skryf: ’n Belydenis kan nie deur ’n hele denominasie van miljoene mense as deel van hulle geloof omarm word net oor die hart, geskiedenis, konteks en belangrikheid van die bedoeling daaragter nie. Die taal, strekking en eenvoudige suiwerheid van elke sin moet met die lidmaat wat dit bely, resoneer. So nie druip dit die toets as ’n aanvaarbare belydenisskrif.

Vir baie mense maak dit nie eintlik saak of die denominasie op ’n amptelike vlak heel word al dan nie. Maar dit is krities belangrik. As jy die vlak verstaan waarop die skeuring plaasgevind het, die implikasies daarvan vir kerkverband en samewerking op ’n nasionale vlak, die feiteverskil wat dit steeds vir bruin en swart gemeentes kan maak ook op ’n kerkregtelike vlak, die geestelike krag opgesluit in leierskap wat bande herstel wat vorige leiers verskeur het, die landskap wat dit skep vir ’n nuwe geslag leiers om in te arbei, die getuienis wat dit kan uitdra … daar is rédes waarom die pogings tot die eenwording van die denominasie al soveel aandag gekry het. Dit is regtig baie belangrik. Dit gaan nooit ophou belangrik wees nie. Elke lidmaat moet dit besef, daarvoor bid en daarvoor omgee. Dit voel dalk nie so nie, maar dit is ’n dringende saak.

Die goeie nuus is dat daar eintlik net een klip in die pad is, as ’n mens na “In Gods naam” kyk. Die slegte nuus is dat dit ’n rots is wat in 26 jaar nie wou skuif nie. Die Belydenis van Belhar bly vir die bruin en swart kerk ’n belangrike dokument. Hulle onderhandelaars wil nie verder met wit broers en susters praat as die NG Kerk nie hierdie belydenisskrif wil aanvaar nie. Maar slegs enkele NG streeksinodes is bereid. Op nasionale vlak bly die NG Kerk daarteen gekant. Die kommentaar in die onderhoude in die dokumentêr spreek vanself, en ek moedig elke leser aan om dit te kyk. Ek wil nie die tyd neem om dit alles te bespreek of ontleed nie. Die geskiedenis is geskryf en een ding is seker: Dit kla die onderhandelaars aan en bevestig maar net wat ons almal weet – dat ’n “groundswell” van samewerking oor rasgrense heen nie die oplossing is vir leierskap wat weier om te skuif nie. Troepe kan nie die werk van generaals doen nie, en generaals nie dié van ministers nie. Daadwerklike, dringende leierskap is nodig. Pynlike geskiedenis, emosies, teologie en die regsaard van dokumente vermeng in die saak en dit is ingewikkeld om uit te pluis, en tog voel ’n mens dat ’n oplossing al gevind moes kon word.

Ek skryf omrede ek meer as ooit oortuig is van iets wat ek jare terug besef het hieroor. Die saak van eenheid was toe baie meer op die voorgrond as nou en ek het ’n artikel met my voorstel in aangestuur na ’n persoon hoog in die leierskap in die Algemene Sinode wat direk met die eenheidsgesprek gewerk het. Hy het nie gedink alternatiewe is nodig nie. Hy was deel van ’n verligte streeksinode en oortuig dat die NG Kerk die Belydenis van Belhar maklik sou omarm en dat dit nie nodig was om na ander oplossings te soek nie. My invalshoek was anders, juis omdat ek in daardie seisoen baie met NG Kerke reg oor die land gewerk het en ek was baie seker dat die Belydenis van Belhar nié aanvaar sou word nie en dat die eenheidsgesprek op die rotse sou beland. My voorstel om dit te omseil was radikaal, maar ek was oortuig dat daar slegs een manier sou wees om by eenheid uit te kom. Hier is ons nou, vele jare later en nie nader aan eenheid nie. Ek wil dus weer dieselfde radikale voorstel maak en vra of diegene met die regte posisionering dit ernstig sal oorweeg.

Die toets vir ’n belydenisskrif 

Laat vaar die poging om die Belydenis van Belhar aanvaar te kry as ’n belydenisskrif van die NG Kerk. Die poging sal bly faal en dit is alreeds 20 jaar te laat. Die punt is dat die konteks van die belydenisskrif, sommige mense wat dit opgestel het se politieke verbintenisse en selfs die naam daarvan vir te veel NG lidmate en leiers ’n probleem is. Daar is steeds baie agterdog daar rondom. Dit is ’n politieke produk, en al was dit in die hand van die slagoffers en aan die regte kant van die geskiedenis, bly dit vir die nageslag van die verdrukkers ’n stuk “bevrydingsteologie” en iets waarvan hulle wil wegkom. Hierdie redes is ’n werklikheid en dit is sosiale reëls waarbinne ons werk as leiers wat mense na mekaar toe probeer beweeg.

LEES OOK: Brief uit die VSA

Daar is ook beter redes: Die taal van die belydenisskrif is omslagtig en in sommige artikels is die sinne so lank dat die bedoeling van dit wat bely word nie duidelik is nie. In ander artikels is die bedoeling weer duidelik, maar die manier waarop dit uitgedruk is lyk aanvegbaar. Dit is teologies oorbelaai en verwarrend (God versper immers nie die pad van die goddelose nie en laat weinig blindes sien. Hy is nie teen alle armoede nie, ensovoorts.) en dit doen vreemd aan vir die gewone Christen wat dit wil bely. Dit noem dalk nie genoegsaam wat die karakter van God van Christene vra nie en kan sterker wees in hierdie opsig. Dit meng ook teologiese en idiomatiese taal en ek kan aan beter maniere dink om die teologie daarvan in ’n belydenisskrif te vervat waarvan hedendaagse mense kan eienaarskap neem.

Dit hanteer iets eenvoudig en van kritiese belang wat ’n ernstige kerk moet kan bely, maar op ’n ingewikkelde manier. Teologiese kritiek teen die belydenis hou water omdat die taal van die dokument dit laat lyk asof saligheid (in ons taal “redding”) hier ter sprake is, dat die hart van die evangelie geraak word, ook dat dit alle armoede en verdrukking oor dieselfde kam wil skeer. Dit is ’n gewone outydse taalkwessie, maar laat mense wat bevrydingsteologie vrees, se hare orent staan. Belhar is ’n belangrike stuk geskiedenis en vir ons bruin en swart familie is dit heilig, maar dit is nie ’n effektiewe belydenisskrif wat vir hierdie generasie en die volgende een iets gaan beteken nie – en eintlik hoop ons belydenisskrifte sal honderde jare staan.

LEES OOK: Kerkskeuring: 5 vrae aan Theo Danzfuss

Vir my as regsgeleerde is twee dinge duidelik: Eerstens dat die bedoeling van ’n dokument dit nie ’n goeie dokument maak nie. Dit is van enige wet of regulasie die waarheid. ’n Belydenis kan nie deur ’n hele denominasie van miljoene mense as deel van hulle geloof omarm word net oor die hart, geskiedenis, konteks en belangrikheid van die bedoeling daaragter nie. Die taal, strekking en eenvoudige suiwerheid van elke sin moet met die lidmaat wat dit bely, resoneer. So nie druip dit die toets as ’n aanvaarbare belydenisskrif.

Tweedens, en van kritiese belang: ’n Belydenisskrif is bindend op die hele kerk want dit is ’n fundamentele dokument. As ons dit bely, sê ons wat ons gesamentlik glo en dat ons almal dinge wat daarteen indruis nié glo nie. Daar kan nie iets wees soos belydenisskrifte wat sommige gemeentes aanvaar en ander nie. So ’n uitkoms verwater die aard van alle fundamentele geloofsdokumente en laat gemeentelede sonder ankers. Dit skep nie “ruimte” om nader aan mekaar te groei nie. Inteendeel, dit skep verwarring oor waarheen ons enigsins groei en waarop ons staan. Wat is die punt van ’n geloofsgemeenskap waarin almal nie dieselfde fundamentele dinge bely nie?

Is daar dan enigsins ’n pad vorentoe wat eenheid inhou?

Kies die makliker moeilike pad

Ek hoop dat swart, bruin en wit gereformeerde leiers oortuig kan word tot die volgende oplossing wat durf sal verg: Skryf ’n nuwe belydenisskrif in eenvoudige taal wat die gemeensaak in Belhar verwoord en daarop uitbrei, deur kerkleiers van al die bevolkingsgroepe saam geskryf word, ’n nuwe naam het wat vir niemand geskiedkundig belaai is nie, gelyktydig in Engels, swart tale en Afrikaans geskep word en wat bindend is op al die kerke in die geloofsfamilie. Gebruik die geleentheid wat hierdie seisoen bied: Maak geskiedenis eerder as om geskiedenis te omarm. Kom op ’n plek byeen wat vir alle verdruktes vandag iets beteken om dit te onderteken. Mnr Mandela se sel op Robbeneiland, byvoorbeeld.

Vandag weet wit mense ook hoe dit voel om verdruk te word en kan hulle ook teologie omarm wat uiting gee aan God se liefde vir verdruktes, sy wrewel aan verdrukking en sy beroep op ons om een liggaam te wees. Ek glo die meeste van ons is gereed vir so ’n belydenis en wil ook seker maak die kerk kan nooit weer ’n voertuig van verdrukking word nie. Skep ’n eenvoudige dokument met kort sinne wat gehoor gee aan al die eise van ’n gereformeerde belydenisskrif. Skep ’n soliede fundamentele sosiale kontrak. Maak seker daar is geen dubbelsinnigheid, emosie of ervaring te lees nie. Dit is verseker moontlik.

Ek wil nie ’n moeilike saak maklik laat klink nie. As dit maklik was, het eenwording lankal plaasgevind. Ek dink egter die régte moeilike ding moet gepoog word. Ek dink nie ’n bejaarde NG lidmaat in Sinoville kan oortuig word dat die woord “Belhar” vertrou kan word nie. Ek dink nie ’n tiener in Richardsbaai kan die Belydenis van Belhar lees en dit verstaan sodat sy dit kan bely nie. Ek dink nie jongmense vandag weet genoeg van die hartseer geskiedenis van die Belydenis van Belhar om dit om daardie redes te omarm nie en ek dink dit sou swak motivering wees. Ek dink ook nie ’n swart lidmaat in Atteridgeville weet wat Belhar is, of kan die belydenisskrif maklik in sy of haar eie taal verwoord en bely nie. Ek is seker dit gaan altyd ’n moeilike geveg wees om die Belydenis van Belhar aanvaar te kry en ek dink dit is die verkeerde geveg, veral oor die geldige kritiek teen die dokument. Selfs al slaag dit gaan ’n meerderheid lidmate dit nié in hart en siel bely nie, en dit maak dit ’n ongeslaagde belydenisskrif.

Ek is egter oortuig dat die moeilike geveg – om bruin, swart en wit leiers te oortuig tot die skepping van ’n nuwe belydenisskrif – gewen kan word en dat dit die regte geveg is. Ek dink leiers aan alle kante van die tafel kan die pyn van die verlede agterlaat en ter wille van dít wat in die hart van die Belydenis van Belhar staan – dat God ons tot eenheid roep – deur die Heilige Gees oortuig word om saam ’n belydenis te skryf waarmee swart, bruin en wit verdruktes kan weet dat God hulle liefhet en waarmee almal in eenvoudige taal kan bely dat die kerk eensgesind teen rassisme en verdrukking staan en kies om Jesus Christus se hande en voete hierin te wees. Dit voel soos ’n logiese en opwindende stap vir ’n eenwordende kerk in Afrika om te doen: Om saam ’n belydenisskrif op te stel wat ’n fondament vorm vir die eenheid. Dit is regtig ’n wonderlike geleentheid!

’n Nuwe identiteit

Die bruin en swart kerk sal ver moet buig om afstand te doen van die “ononderhandelbare” insluiting van die Belydenis van Belhar, iets wat vir hulle regtig heilig is. Die wit kerk sal ver moet buig om ’n belydenisskrif te skep en omarm wat van ons almal vra om God se liefde vir verdruktes te erken en ons tot aktivisme en diens daarteen roep. Die punt van onderhandeling en mediasie is om daardie insig te bring. Baie emosie en ook trots sal agtergelaat moet word. Onderhandelaars moet fyn gekies word, want pyn en onversetlikheid hoort nie by so ’n tafel nie. Ek glo met alles in my dat dit gaan gebeur.

Prof Hennie Stander maak ’n interessante punt in sy kommentaar op die film. Hy noem dat die tyd gekom het om van “Nederduits” afstand te doen, eerstens omdat min NG lidmate weet wat dit beteken, en tweedens omdat bruin en swart vennote dit ’n steen des aanstoots vind. Dit is miskien ’n gesprek vir ’n ander dag (of generasie) maar dit hoef nie ’n probleem by die onderhandelingstafel te wees nie. Elke vennoot kom tog met sy eie handelsmerk na die tafel toe om onder ’n nuwe sambreel in te skuif. In ’n verenigde kerk behoort die naam dalk te wees The United New Reformed Church of South Africa / Die Verenigde Nuwe Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, wat die volgende kerke insluit: Die VGK, die NG Kerk, The Reformed Church of Africa … en so aan. Identiteit is belangrik. Dat dit verenigd is, nuut is, gereformeerd is en in Suid-Afrika is beskryf die identiteit korrek. Al die res is onderliggend en definitief belangrik in herkoms en geloof, maar nie in die oorkoepelende identiteit nie.

Dink nuut … dis tyd!

Vriende, ek weet ek het groot geloof, maar ek dink dit kan werk en ek weet dit is dringend. Die Covid-19-virus en selfdegeslag-verhoudingsdebat is op die voorblaaie, maar ek is oortuig dit versluier hierdie belangrike saak wat nou tot ’n punt moet kom. Die virus sal verbygaan en seksualiteit, hoe belangrik en verdelend ook al, is niemand se identiteit nie. Maar die kerkeenheid-gesprek gaan oor ’n hele kerkgenootskap se identiteit. Mense word heel as hulle uitvind wie hulle is. Kerke ook. “In Gods naam” maak dit duidelik dat die gereformeerde kerk in Suid-Afrika nog nie sedert die einde van apartheid haarself kon vind nie. Maar eintlik weet ons wie sy is, want ons sien dit werk op die grond. Dit wat al in baie gemeentes en gemeentelede se hande is, moet net onder hulle voete ’n fondament word. So gaan dokumenteer, en maak die kerk van Afrika vir ons kinders heel.

  • Louis Brittz (BLC, LLB) reis die afgelope 27 jaar as mobiliserende liturg deur die wêreld. Hy skryf en begelei aanbiddingsmusiek, regisseer albums, uitvoerings en byeenkomste en lei gemeentes op in allerlei aangeleenthede in praktiese teologie. Die meeste van sy werk was in noue verbintenis met die NG Kerk. Hy is medestigter en direksielid van die #Imagine Jeugbeweging en werk tans as aanbiddingsleraar by Celebration Church Tri-Cities in Tennessee, VSA.
Word 'n vriend van Kerkbode

2 thoughts on “Belhar: ‘Oorweeg dié radikale stap’

  1. Andreas says:

    Louis, soos u terreg noem “die virus sal verbygaan en seksualiteit, hoe belangrik en verdelend ook al, is niemand se identiteit nie [of behoort nie te wees nie].”

    Wanneer u egter noem die “kerkeenheid-gesprek gaan oor ’n hele kerkgenootskap se identiteit” is dit belangrik om te vra: wat beteken dit om ‘n “gereformeerde kerk” te wees? Die verstaan hiervan is natuurlik nie te vind in kerkordes nie, maar in die aanbidding van God self, dié God wat Homself aan die mens deur Sy Woord openbaar. Wanneer dit kom by die inhoud van wat God openbaar deur die geskrewe Woord, raak die belydenisskrifte van die “gereformeerde kerk” belangrik vir redes genoem deur Prof Johan Janse van Rensburg.

    Wanneer dit kom by die skryf van ‘n “nuwe belydenisskrif in eenvoudige taal wat die gemeensaak in Belhar verwoord en daarop uitbrei,” moet ook in ag geneem word dat in Suid-Afrika is verskillende etniese groepe oor die eeue deur ander groepe verdruk, insluitend deur stelsels soos apartheid en BBBEE (veral soos dit gepaard gaan met korrupsie).

    Uit historiese oogpunt is Dr Allan Boesak se bydra tot “In Gods naam” belangrik, maar vir die huidige gesprek is dit verskynlik jammer dat meer onlangse video-grepe van hom in die video verpak is aangesien daar onthou moet word dat hy leer verkondig wat as teenstrydig met die gereformeerde belydenisskrifte gesien kan word.

    In opsomming, mag kerk-eenheid werklik meer sigbaar word (dis ook my hoop), maar kerk-eenheid nie bloot vir die doel tot kerk-eenheid nie (dikwels sonder Waarheid), maar ‘n kerk wat God lief het met gehoorsaamheid (Johannes 14:21).

    In die hemel is die Heer!
    Groete

  2. Andreas says:

    Let wel, daar word nie hiermee bedoel dat x,y,z eers moet gebeur voor sulke nuwe (aanvullende) belydenisskrif gepoog word nie, maar dat gedurende die skryf van sulke belydenisskrif:
    – die Bybel en die “gereformeerde kerk” se ander belydenisskrifte geraadpleeg word,
    – daar mooi gedink word as daar gepraat word van verdrukking (sodat die nuwe belydenisskrif ook oor honderde jare nog gebruik kan word) en
    – dat daar “geen dubbelsinnigheid” in die nuwe belydenisskrif is wat as dwaalleer verwar of gebruik kan word nie

Comments are closed.