Ons kinders kry swaar!

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Leon Louw van Durbanville skryf:

Ek skryf hierdie brief aan Kerkbode uit ’n gevoel van magteloosheid, maar ook ’n gevoel van verwagting. Magteloos omdat ek nie weet hoe om hierdie boodskap uit te basuin nie en verwagting omdat ek vertrou dat Christene landwyd hulle hande in liefde sal uitstrek.

LEES OOK: Wat Bonhoeffer ons oor kerkwees te midde van Covid-19 kan leer

Ons skoolkinders is besig om te vou onder die druk van skole, portuurgroepe en selfs ons as ouers. Ek het onlangs met ’n groep graad 12’s gesels en dit is verbysterend hoeveel van hierdie kinders sielkundiges se hulp moes inroep as gevolg van die druk van die samelewing. Die hele wêreld gons oor die impak van inperking en die onse­kerheid wat die pandemie meebring, maar ek dink ons gee nie genoeg aan­dag aan die impak wat dit het op ons kinders nie. Hulle is moeg, gefrustreerd, oorwerk, angstig en ongelukkig. Dit is asof hierdie pandemie maar net alles tot ’n punt gedryf het. Daar is nie meer ruimte in ons samelewing vir ’n gemiddelde kind nie. Hulle moet presteer op die hoogste vlak net om toelating te verkry tot tersiêre inrig­tings. Hierdie druk veroorsaak onge­looflike angs in ons kinders, want oor en oor moet hulle hoor dat hulle nie goed genoeg is nie.

By die kerk probeer ons ’n ruimte skep waar kinders net kan wees, maar hulle kan nie. Die angs en die druk kom saam met hulle kerk toe. Hulle hoor dat hulle vir God belangrik is, maar in die wêreld ervaar hulle die teen­oorgestelde. God het jou lief net soos jy is. Regtig? Die wêreld vertel dan vir my dat ek, net soos ek is, nie goed genoeg is nie. My hart bloei vir ons kinders wat nie kop bo water kan hou nie en sukkel om die vrug van God se genade te dra, want dit is nie genoeg vir ons samelewing nie.

LEES OOK: Gebed van ’n woedende man

Dit is seker maklik om die probleem voor onderwysers, skole en die departement van onderwys te lê, maar dit is nie so eenvoudig nie. Wat staan ons te doen? Ons sal moet bid vir ons kinders. Nie net een-een of in kleingroepe nie, maar ons sal as kerk moet intree vir ons kinders. Hulle is besig om te vou. Ons as kerk moet ons kinders verseker van hulle waarde en verseker van ons liefde en verseker van God se troue sorg. Kyk hulle in die oë en druk hulle vas en verseker hulle dat hulle perfek is, net soos hulle is.


Word 'n vriend van Kerkbode