Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

In November verlede jaar ry ek ’n wye draai deur die land en kom vir die vierde keer in my lewe op Nkandla. Hierdie keer is Manji se oom Jacob in ’n hospitaal in Durban nadat hy uit die gevangenis op Estcourt op mediese parool vrygelaat is. En haar pa, wat ook ’n huis in Durban het, is weer nie tuis nie, vertel Dana Snyman in sy jongste rubriek. Foto: Dana Snyman

Dana besoek: Die ander Nkandla …


Dit gaan goed met Manji Zuma en haar mense op Nkandla. Soos by baie ander in die land sukkel dit maar met geld. Dit is soos dit is.

Ons ken mekaar al tien jaar, ek en Manji. Tog ken ons mekaar ook nie: Sy kan nie Afrikaans praat nie, ek nie Zoeloe nie, en haar Engels is nog meer lendelam as myne.

Maar ons stuur van tyd tot tyd WhatsApp-boodskappe vir mekaar. Kort, byna saaklike boodskappe. “Hallo I hope u fine,” sal Manji op ’n oggend vra. En dan sal ek antwoord: “I’m fine, Manji. Thanks. And you?” Ensovoorts, ensovoorts.

Lees ook | Reeks: Predikante in ’n pandemie 

Onlangs het sy vir my ’n foto gestuur van ’n Nissan-bakkie wat deur die Tugelarivier meegesleur word, met ’n paar woorde daarby: “U see Tugela is dangerous.”

Die Tugelarivier, wat naby Nkandla verbly vloei, het sy walle oorstroom.

Ek vra Manji byna nooit oor haar oom, Jacob, die gewese president, uit nie. Dit is vir my genoeg om net haar en haar ma, Tombi, en haar twee kinders te ken.

Ek was in 2011 vir die eerste keer op Nkandla. Dit was nadat haar oom Jacob – hy was toe nog die president van die land – in ’n koerantonderhoud gesê het elke Afrikaner moet sy eie Nkandla hê, nie ’n staatkundige grondgebied nie, maar ’n sielkundige tuiste waar hy veilig is en die vryheid het om dít wat vir hom belangrik is, uit te leef.

Lees ook: PEN se mooi storie oor 30 jaar was nie sonder pyn nie

Ek wou gaan kyk hoe lyk die president se Nkandla, diep in Zoeloeland, tussen die berge. Dit was ’n Saterdag toe ek uiteindelik ná meer as 1 500 km daar kom.

Die president was die dag nie daar nie – nie dat ek gedink het hy sal my innooi nie. Ek het begin rondvra of daar van sy familielede woon. By ’n winkeltjie – daar is net drie of vier karige winkeltjies op Nkandla – het ’n vrou vir my na die president se een broer, Joseph, se huis toe beduie.

Joseph Zuma se huis is reg langs die presidensiële landgoed – die nasionale skande wat vir sowat R246 miljoen opgerig is. Net ’n dubbele veiligheidsheining skei die twee broers se woonplekke. Die huis is veel kleiner en meer nederig, met ’n veekraal naby die voordeur.

En toe ek gaan klop, maak Manji oop. Haar pa is na ’n begrafnis toe, verduidelik sy. Hy sal die volgende dag, die Sondag, terug wees. Miskien moet ek dán kom.

Ek gaan oornag op Greytown, so 50 km daarvandaan, en die volgende oggend ry ek weer Nkandla toe, met Fanie Smit wat gewyde musiek oor “Loof die Here” op RSG oor die bakkie se radio speel. Maar Joseph Zuma is steeds nie tuis nie. Ek gaan sit in die bakkie onder die naaste koelteboom en luister na die Mormoonse tabernakelkoor en ander Fanie Smit-gunstelinge. Later staan ek buite die bakkie. En wag. En wag.

Lees ook: Hoe rou ons nou? | Le Roux Schoeman gesels met Nicolaas Matthee

Ná omtrent ’n uur kom Manji uit die huis, met ’n botteltjie pienk Brutal Fruit in die hand. Sy gee dit vir my en beduie ek moet saam kom.

Sy lei my by die huis se voordeur in. Binne is slegs ’n ou kombuisstoel, ’n houtbankie, ’n yskas en ’n TV-stel. Manji wys ek moet op die stoel sit en gaan sit langs haar ma, Tombi, op die vloer. ’n Man is koning op Nkandla.

Ons kon nie veel meer vir mekaar sê as “Sawubona” nie, maar van daardie dag af, is ons in mekaar se lewe.

Daarna was ek weer op Nkandla, en toe wéér; en elke keer ry ek daar weg met ’n tradisionele Zoeloe-kleipot as geskenk van Manji en MaTombi, en ’n Mormoonse Tabernakelkoor wat lofliedere in my hart sing.

Iewers in die erge grendeltyd kry ek ’n WhatsApp-boodskap van Manji af: “Hi. I’m selling parts of BMW car, if you want it or can please find me a buyer.”

“How much?” vra ek.

“Nine thousand,” antwoord sy.

In November verlede jaar ry ek ’n wye draai deur die land en kom vir die vierde keer in my lewe op Nkandla. Hierdie keer is Manji se oom Jacob in ’n hospitaal in Durban nadat hy uit die gevangenis op Estcourt op mediese parool vrygelaat is. En haar pa, wat ook ’n huis in Durban het, is weer nie tuis nie.

Ek hou op dieselfde plek stil waar ek tien jaar gelede stilgehou het. Manji-hulle se huis is darem intussen geverf, en daar, langs die kraal, staan die BMW waarvan hulle die onderdele vir R9 000 wil verkoop. ’n Eens spoggerige 7-reeks-model, met breë wiele en ’n nommerplaat wat verklaar: “Animal.” ’n Geskenk van iemand in die familie.

In die huis word ek soos familie ontvang. Daar is nou ’n sitkamer- en eetkamerstel in die leefvertrek, en Manji beduie ek moet by die tafel sit en sy bring ’n hoendergereg en ’n blikkie Coke uit die kombuis. Spesiaal vir my voorberei.

Sy en MaTombi sit en kyk hoe ek eet, en ons gesels ons sawubona-geselse. ’n Mens het nie altyd klompe woorde nodig om tuis in mekaar se geselskap te voel nie. MaTombi sukkel met haar suiker. Manji het vir ’n ruk op Dundee as ’n huishulp gewerk, maar die mense vir wie sy gewerk het, het getrek.

’n Uur of wat later groet ons. MaTombi bring vir my nog ’n tradisionele kleipot en Manji stap saam met my bakkie toe, verby die simpel, pretensieuse BMW waarvan die voorruit nou die dag gebreek het toe kindertjies op die kar gespeel en daarop gespring het.

Soms stuur Manji ’n sms, nie ’n WhatsApp-boodskap nie, maar ek dink dit is wanneer sy nie genoeg data op haar foon het nie. Sy soek steeds na werk, maar MaTombi se suiker is darem beter.

Hoekom vertel ek dit alles? Dalk omdat ek wil hê mense moet weet almal op Nkandla is nie dieselfde nie.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Dana besoek: Die ander Nkandla …”

  1. Marietjie Taljaard van Zyl

    Beslis nie. Na die moord op Albert, my wyle eggenoot, sielsgenoot, Pa en Oupa van ons kinders en kleinkinders het talle mense my gevra of ek swartmense haat …
    NEE! Hulle was 4 uit miljoene ander. Swart, blank, Indiēr en bruin het en bring steeds hulle kinders na ons Tina Cowley Leessentrum en Shiloh3 Learning Brackenfell. Almal word met liefde, passie en eerbied onderrig.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top