Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Baie van ons het grootgeword met Matteus 22:34-40 of Lukas 10:25-28 wat dikwels in ’n erediens in plaas van Eksodus 20 of Deuteronomium 5 as samevatting van die Wet gelees is. Soms het ’n dominee, wanneer hy die Lukas-weergawe van die samevatting van die Wet lees, verder gegaan en Lukas 10:29-37 ook gelees. In laasgenoemde beantwoord Jesus die vraag “Wie is my naaste?” deur die gelykenis van die barmhartige Samaritaan te vertel. Die interpretasie waarmee ek grootgeword het, is dat Jesus sê dat ons nie net ons eie mense (ingroep) moet liefhê nie, maar ook hulle wat nie deel van ons mense is nie (ons uitgroep).
Lees ook: ’n Les uit die ontstaan van Oostelike Sinode
Die meeste lesers weet waarskynlik dat wanneer Jesus antwoord “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand” (Matt 22:37), haal hy Deuteronomium 6:5 aan, terwyl die woorde waarmee hy vervolg, naamlik “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:39), uit Levitikus 19:18 kom. Interessant is dat Levitikus 19:34, soos die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in die Lukas 10-weergawe van die Wet, ook die naaste nader omskryf.
Direk vertaal, staan daar in Levitikus 19:34: “Soos ’n kind van die land onder julle is hy vir julle, die vreemdeling – die vreemdeling onder julle; en wees lief vir hom soos jouself, want vreemdelinge was julle in die land Egipte – ek is JHWH julle God.” Die Hebreeuse woord wat met “kind van die land” vertaal is, dui op iemand wat van hierdie plek is. Dit is iemand wat hoort waar hy/sy is. Met ander woorde die teks beduie dat die vreemdeling (uitgroep) vir God se volk moet wees soos iemand wat onder hulle hoort (ingroep). Deur dié woord eerste in die sin te plaas, dra dit klem, terwyl dié klem versterk word deur die woord vreemdeling naas mekaar te plaas en ook daarop te dui dat God se mense in ’n stadium vreemdelinge was.
Lees ook: Die outo-immuunsiekte van die kerk
In die ou Nabye Ooste was die algemeen geldende reël dat jy jou naaste, jou familie, jou mense (ingroep) lief het en dat jy aan mense wat nie deel is van jou familie of jou mense nie, dus die vreemdeling (uitgroep), gasvryheid betoon. Die skrywer(s) van Levitikus sê met vers 34 egter dat indien jy deel is van die God van Israel se mense, dan is daar ’n ander reël wat geld. Vir die God van Israel is daar geen verskil in die wyse waarop sy mense met alle mense behoort om te gaan nie. Jy het eenvoudig alle mense lief. Die Evangelies van Matteus en Lukas bevestig dit waarvan die Ou Testament reeds eeue tevore getuig – jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
In die Bybelse tyd was “liefde” ’n verbinteniswoord. Liefde het nie beteken almal hou van almal en almal kom ewe goed met almal oor die weg en daar is nooit sprake van woede, konflik of hartseer nie. Liefde het beteken ons bly aan mekaar verbind en ons behandel mekaar deurlopend as familie, selfs wanneer ons nie van mekaar hou nie, sterk van mekaar verskil, kwaad is vir mekaar, ja, selfs ook wanneer ons mekaar seermaak.
Lees ook: Meningsverskil in NG Kerk: ‘Nederige liefde is die sterkste getuienis’
Hierdie verbintenistaal, so getuig God se Woord in beide die Ou en die Nuwe Testament, hoort tot die kern van ons geloof. Dit word in beide die basis van die Ou Testament, te wete die Tora, en die basis van die Nuwe Testament, te wete die Evangelies, as God se gebod vir ons gegee. Om Levitikus 19:34 weer aan te haal “ek is JHWH julle God”, daarom durf ons mekaar nie los nie. Waarom struikel ons as kerk van die Here Jesus Christus so dikwels ten opsigte van die gebod van liefde vir die “kind van die land onder julle”?
- Dr Fanie Cronjé is medeleraar, NG Kerk Lynnwood, Pretoria.