Carin van Schalkwyk: Ruim gees en hart vol deernis

Met die dood van dr Carin van Schalkwyk (51) op 7 Maart 2022 om 12:15 in die Paarlse Medi-Clinic, groet die kerk van die Here ’n begenadigde vroueleraar wat haar moedige stryd teen kanker verloor het. 

Ten tye van haar dood was dr Carin skriba van die Vrystaatse Sinode en leraar van die NG Kerk Philippolis asook Bergmanshoogte, ’n wyk van ’n voormalige VGK gemeente. Op haar eiesoortige manier, het sy die laaste twee dekades ’n dinamiese rol gespeel om ’n staanplek vir die Afrikaanse vrouepredikant in die NG Kerk te verseker. Sy was na my mening die rolmodel en emosionele gom wat vrouekollegas bemagtig het om met durf en daad hulle plek in die Wingerd van die Here vol te staan. Die reaksies na haar dood op sosiale media, getuig dat dr Carin baie mense se lewe diep aangeraak en verryk het, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland.

Carin het die evangelie van Jesus Christus in sy volheid probeer uitleef, soms onverskrokke met geen vrees. Haar menswens en versorgende liefde is verleng na armes en gebrokenes, met ’n diep insig in die Godgegewe menswaardigheid van elkeen. Haar aandeel in gendergeregtigheid en haar rol in gay-aangeleenthede op die kerklike werf en voetsoolvlak, moet nie onderskat word nie. Sy sterf op die vooraand van die 54ste vergadering van die Vrystaatse Sinode, waar sy twee termyne as skriba dien en haar afwesigheid akuut ervaar word. Dr Carin van Schalkwyk het in alle lewenseisoene haar lewensmotto uitgeleef: “Jy moet gehoorsaam wees aan jou roeping en nie toelaat dat iemand in jou pad staan nie”.

Lees ook: Honderde byeen vir sinode in Bloem

Catharina Hester Johanna van Schalkwyk is op 26 Januarie 1971 gebore in Polokwane (Pietersburg). Sy is na haar ouma en moeder vernoem en is die naamdraer van ’n geslag wat diep spore in die Paarl getrap het. Haar ouers Wynand en Rina van Schalkwyk, het met liefdevolle meelewing twee dogters, Carin en Elsa en ’n seun Gary, grootgemaak en opgevoed. Carin se vader Wynand was in diens van die SA Weermag en die gesin het baie rondgetrek. Carin voltooi haar laerskooltyd te Hoedspruit en in 1983 tydens haar standerd 8 jaar sterf haar vader en die gesin verhuis na die Paarl. Carin matrikuleer in 1989 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl en word die eerste leerling in die 150-jarige geskiedenis van die bekende skool wat teologie gaan studeer.

Aan die begin van 1990 word sy student aan die Universiteit Stellenbosch waar sy die BA-graad verwerf en toegang kry tot die Kweekskool waar sy die BTh-graad verwerf en op 1 Desember 1995 gelegitimeer word op Stellenbosch. Later behaal sy haar doktorsgraad in Ou Testament en Antieke Nabye-Oosterse studies ook aan Maties met die tema: “Die Logosleer van Filo van Alexandrië – ’n Kultuurhistoriese studie”. Op haar pad na die bediening in die NG Kerk het Carin vir niks gestuit nie en is deur sommige beskryf as domhalsstarrig, Maar sy het voortgebeur op die moeisame pad om ’n vroueleraar, rolmodel en kerkleier in die NG Kerk te word.

Prop Carin van Schalkwyk is drie jaar lank jeugwerker in die NG Gemeente Noorder-Paarl, die gemeente waar sy voorgestel en lidmaat geword het. Dit is ’n moeilike tydperk in die jong Carin se lewe en sy staan in die spervuur om ’n menswaardige plek in Koninkyksdiens te vind. ’n Roepstem kom vroeg in 1998 na die destydse Verenigende Gereformeerde Kerk Bergmanshoogte in Philippolis, in ’n proponentspos wat befonds is deur Bill en Ansie Schoeman, oud-gemeentelede wat in Amerika woon. So verruil proponent Carin van Schalkwyk haar geliefde Paarl vir ’n behoeftige bruin woongebied Bergmanshoogte by Philippolis. Hier sou sy van 1998 tot met haar dood in 2022, die Blye Evangelie met oorgawe verkondig. As jong vroueproponent het sy die hele wêreld geword vir die mense van Bergmanshoogte.

Lees ook: ’n Les uit die ontstaan van Oostelike Sinode

Dr Gideon van der Watt, ’n hartsvriend van Carin, skryf treffend om dit te onderstreep: “Ragel Padda, ’n voorvrou in die gemeenskap, beskryf hulle dominee se spreekkamer. ‘Sy sit maklik op ’n stoepmuurtjie of op die sypaadjie met mense en gesels. Sy praat dieselfde taal as ons. Sy het een geword met ons.’ Hier beleef ds Carin soms moeilike tye, toe mense in 1999 begin doodgaan aan MIV en Vigs. Dit het ’n vloedgolf geword en van die 20 koorlede was daar net vyf wat sy nie begrawe het nie. Maar Carin het met deernis volhard, al het sy soms soos die doodsengel gevoel.”

Met die vertrek van ds Ferdinand Boll in 2006 word die NG Kerk Philippolis vakant en help sy tydelik as proponent in die gemeente. Na twee jaar word dr Carin van Schalkwyk as tentmakerleraar beroep en op 18 April 2008 met handoplegging bevestig, ’n geleentheid wat die skrywer as leraar van Bethulie meegemaak het. In die tyd bedien sy die twee gemeentes op Philippolis en preek ook gereeld op Springfontein en Gariepdam.

Van der Watt, na my mening die Vrystaatse leraar wat die nouste met haar saamgewerk en haar menswees verstaan het, skryf oor haar ewigheidwerk op Philippolis. “Carin begelei die gemeentes te Philippolis deur krisisse en spanningsvolle tye, en bou brûe tussen die verskillende gemeenskappe. Sy open veilings en skoue, sy verkoop vleis as inkomste vir die gemeente; sy ry taxi en laat haar profetiese stem duidelik hoor; intens deel sy in die lief en leed van die dorp en die landbougemeenskap. Diakonale of gemeenskapsdiens was deurentyd haar fokus – ook deur die ontwrigting wat Covid-19 bring. Sy vertel dikwels met groot liefde van die baie interessante en lojale mense van haar tuisdorp en hoe almal leer saamwerk en mekaar leer bedien het.

“Carin se toewyding en talente het gemaak dat haar bediening al hoe wyer uitgekring het oor die hele Vrystaat. Sy word verkies op die Vrystaatse moderamen as skriba en behartig twee termyne die veeleisende pos as skriba en dien op verskeie sinodale kommissies van die Algemene Sinode, ook as lid van die Algemene Sinodale Moderamen. Tot met haar dood, selfs vanuit haar siekbed, lewer sy kosbare diens op die beheerraad van die Christelike Lektuurfonds. Sy bly teologies aktief, gee klas in Zambië en skryf meer kere studiestukke vir sinodes. Vanuit haar pynlike lewenservaring lewer sy ’n kosbare bydrae tot gendergeregtigheid. Haar passie bly diens en getuienis, oor alle grense heen.”

Lees ook | Dana Snyman: Hoekom gryp ’n troue ’n mens so aan?

Die lewensbeeld van dr Carin van Schalkwyk getuig van ’n besonderse mens, wat met haar ruim gees en hart vol deernis uitgereik het na afvlerkmense en randfigure in die samelewing. Sy kon sterk standpunt teen onreg inneem. In die proses het sy onvoorwaardelik haar liggaam én gees op die altaar in diens van haar Here geplaas. Toe Carin in die winter van 2021 met kanker diagnoseer is, het sy op ’n eerlike manier oor haar worstelstryd met dié siekte geskryf en gepraat op sosiale media. So het haar bedieningsnet wyer gestrek en kon sy duisende mense bedien en aanraak met lewensvrae en moed skep op die lewenspad.

Ds Nelis Janse van Rensburg skryf oor haar stryd teen kanker: “Carin se siekte het by my ongekende hartseer ontlok. Was dit haar broosheid? Was dit haar alleenheid? Was dit haar ongekende solidariteit met gebrokenes en die armstes van die armes? Was dit haar lewensverbintenis tot geregtigheid vir alle mense? Was dit haar tevrede-wees met God se wil vir haar lewe? Was dit haar kinderlike geloof, en absolute toewyding? Of was dit maar net die feit dat sy mooi en goed was en ook vir my, soos vir sovele ander, omgegee het en deernis gehad het? Ons bring hulde aan hierdie merkwaardige vrou wat ons lewe aangeraak het met haar siekte en stap met God.”

Die heengaan van dr Carin van Schalkwyk laat ’n groot leemte in die Vrystaatse Kerk, maar haar reusebydrae bly voortleef en sal altyd in dankbaarheid onthou word. Sy het voluit geleef met oorgawe. Maar daar was ook baie pynlike ervarings, diepe eensaamheid en groot teleurstellings. Tog kon sy heerlik lag, kuier en net die lewe as gawe uit die Here se hand geniet. Ons innige meegevoel aan haar oorlede moeder se tweelingsuster, tannie Gertie Hamman van die Huis vir Bejaardes op Trompsburg, haar broer Gary en ’n suster Elsa wat met soveel liefdevolle deernis Carin versorg het tot haar dood in die Paarl. Ons dink ook aan Carin se jarelange vriendin, Erica van Lingen. Saam het hulle wonderlike tye in die ruim pastorie digby die historiese kerkgebou op Philippolis beleef. ’n Begrafnisdiens word DV op Saterdag 19 Maart 2022 in die NG Gemeente Philippolis gehou.

  • Dr Gerdrie van der Merwe is ʼn afgetrede leraar, boer en kerkhistorikus.
  • Hierdie berig is ná publikasie aangepas. – Red

3 thoughts on “Carin van Schalkwyk: Ruim gees en hart vol deernis

  1. Corrie en Ben du Toit says:

    Dankie, Gerdrie. Carin se bediening, haar stryd teen die slopende siekte, haar helder getuienis gedurende haar siekte, en haar uiteindelike heengaan om met Christus te wees, het ons ook diep geraak en geïnspireer.

  2. Emmie van der Berg says:

    So mooi Gerdrie, jy het haar lewe en wie sy was, so perfek saamgevat. Ons treur oor haar.

  3. Rachel Baard says:

    Dankie vir die mooi skrywe oor Carin. Ons was klasmaats op kweekskool, twee van ses vroue in die klas (op daardie stadium die grootste groep vroue in een klas ooit), en het saam spreekwoordelike klippe gekou en koffie gedrink en teologie gesels. Na kweekskool is ons almal in verskillende rigtings, maar ons het kontak gehou. Carin was ‘n dierbare vriendin, ‘n begaafde teoloog, en ‘eenvoudig een van die beste mense wat ek ooit geken het. Haar heengaan laat ‘n reuse gat in so baie mense se lewens. Mag God gee dat haar nalatenskap in Philippolis en in die NG Kerk as geheel aanhou vrug dra. Rus sag, my dierbare vriendin.

Comments are closed.