Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Johann Theron skryf: Eenheid is nie opsioneel nie, maar verpligtend

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Theron van Kraaifontein skryf: Die meeste mense ken die woorde wat Martin Luther sou sê tydens die Reformasie: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie”. Waar dit gaan oor die kern van die belydenis, is daar geen ander opsie nie. In die afgelope Kaapse sinode, waar die Belydenis van Belhar en kerkeenheid amper ter sprake was, het ’n mens die indruk gekry dat die sinode amper op daardie punt gestaan het. Dit wil egter voorkom of die sinode gesê het: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie … maar ek kan ook daar staan as jy nie wil hê ek moet hier staan nie”. Petrus staan ook by die genade alleen in Galasiërs 2 … maar net tot Jakobus se mense daar aankom.

LEES OOK: Berig uit Goudini: Kan ’n sinodesitting transformerend wees?

In 1829 is Bentura, ’n slaaf, aangeneem as lidmaat in die NG Kerk Somerset-Wes. Van die kerkraadslede wou hê hy moes apart nagmaal gebruik omdat die gemeentes in Stellenbosch en Caledon ook so gedoen het. Die Kaapse sinode het in 1829 egter besluit dat alle lidmate van kleur nie apart nie, maar tesame met die gebore Christene (wit lidmate) Nagmaal moet gebruik en het besluit dit is “’n onwrikbare stelreël op die onfeilbare Woord van God gegrond en dat alle Christengemeentes en elke Christen in die besonder verplig is om so te dink en te handel”. Hiermee het die NG Kerk in wese reeds die Belharbelydenis as Skriftuurlik bely. Die eenheid is nie opsioneel nie, maar verpligtend. Hierdie onwrikbare stelreël is egter direk weerspreek deur die sinode in 1857 waar vanweë die “swakheid van sommige”, aparte aanbidding aanvaar is. Hierdie sondige verset teen die Woord is in die strukture vasgelê.

Hierdie muur wat opgebou is, is egter nog hoër gebou in die NG Kerk in Artikel 44. Met die vereniging van die 4 (wit) NG Kerke in 1962 is daar vasgelê dat die belydenis slegs kan verander as al die sinodes so besluit. Die belydenis is so verskans. In 1998 is die verskansing van die belydenis in Artikel 44.1 dubbeld verskans deur Artikel 44.2 waardeur al tien sinodes met ’n tweederdemeerderheid moet instem om 44.1 te verander. Vanuit ’n hooggeregshofuitspraak in 1998, is hierdie verskansing van Art 44.1 verder verskans deur al tien sinodes tussen 2004-2013 om ook te vereis dat twee-derdes van alle kerkrade in die NG Kerk daarvoor moet stem om die belydenis te verander.

LEES OOK: Sinode van Wes-Kaapland: Afgevaardigdes wil kerkorde by Algemene Sinode wysig om pad vir Belhar te baan

In die 2023 Wes-Kaapse sinode, soos reeds in 2019, is besluit om nie Belhar te bely nie, omdat ’n advokaat so adviseer het. Die sinode het daarteenoor besluit om by die ander sinodes te gaan hoor of hulle Art 44 wil verander. Nie net Bentura staan buite ons NG kerkdeure nie, maar die Woord van God self. Daarbinne sê die hooggeregshof, advokate en daaragter die vrye wil van mense wat ons mag glo. Vir die Kaapse sinode om Belhar bloot as “kategismus van die hart” te aanvaar, beteken om die onwrikbare stelreël op grond van die Woord van 1829 te verwerp, want so word geen lidmaat en geen gemeente verplig om die Woord te volg nie. Ons as kerk moet ons nie verantwoord voor die hooggeregshof van die land nie, ons moet ons verantwoord voor die Hooggeregshof van God.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Johann Theron skryf: Eenheid is nie opsioneel nie, maar verpligtend”

  1. Alwyn du Plessis

    Moeilik om te glo dat due Belydenis van Belgar nog in die koue gelaat word. Hoe verantwoord ons ons voor God Almagtig?

  2. Gerhard Mahne

    Liewe Johann, weet jy wat, geen Christen het beswaar teen Belhar nie. Jy kan eerder beswaar hê teen Sewende Laan as jy wil. Die probleem kom dat jy van Belhar ‘n GEREFORMEERDE belydenisskrif wil maak. Maar daar’s niks Gereformeerd in hom nie. Rooms Katolieke, Lutherane en Charismatiese kerke bely dit ook. Belhar is ‘n besondere goeie Christelike Verklaring wat almal behoort te omarm – soos die Barmendeklarasie ná die Hitlervergrype in die vorige eeu. Gereformeerde Belydenisskrifte onderskei hulleself egter van alle ander Christelike belydenisskrifte waarvan daar letterlik duisende op aarde bestaan.

Comments are closed.

Scroll to Top