Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Johan van der Merwe: Artikel 37: Verleentheid of geleentheid?


Artikel 37 is in die onlangse verlede sekerlik een van die mees gelese artikels van die Kerkorde van die NG Kerk.

Dit is mos die artikel wat lui dat samestellende sinodes voor God en in die lig van die Woord uit algemene sinodale verband kan tree. ’n Voorstel vir uittrede was die afgelope aantal maande op verskeie streeksinodes se agendas. Diegene wat dit ondersteun het, is egter vinnig van skeurmakery beskuldig en so het hierdie artikel eintlik ’n verleentheid vir die kerk geword. Tog word die behoefte aan groter onafhanklikheid by streeksinodes al sterker.

LEES OOK: Dagboek dié … 24 / 25 September is #loopvirhoop: 5km wat jou lewe kan verryk en Hoop gee

Die onlangse besluit van die Sinode van Wes-Kaap oor die aanvaarding van die Belharbelydenis bevestig die standpunt. Dit wil al hoe meer lyk asof die saambindende band van die Algemene Sinode te styf begin druk. Miskien is die Algemene Sinode in sy huidige vorm se rakleeftyd verby. Die groot vraag is: Hoe vorentoe?

’n Herinterpretasie van die geskiedenis van kerkverband in die NG Kerk bied moontlik ’n antwoord. Tot en met 1862 was daar net een sinode van die NG Kerk. Die bekende Loedolff-saak het die kerklike toneel egter dramaties verander toe gemeentes uit die Transgariep sittingsreg op die sinode ontneem is. Wat belangrik is, is dat die hofuitspraak oor sittingsreg op die sinode gehandel het maar niks oor lidmaatskap gesê het nie. Lidmate van die NG Kerk buite die Kaapprovinsie het lidmate van die NG Kerk gebly. Daarom het daar drie nuwe sinodes in die OVS (1864), Natal (1865) en Transvaal (1866) ontstaan. Lidmate van die NG Kerk het oor sinodale grense heen beweeg sonder dat hulle by ’n nuwe kerk aangesluit het, want daar was net een NG Kerk. Hierdie kerklike herorganisasie het in 1907 ’n nuwe vorm aangeneem toe die sinodes in ’n Federale raad saamgegroepeer is. Dit het in 1962 op die vleuels van een volk, een taal en een kerk tot die ontstaan van die Algemene Sinode gelei. ’n Antwoord vir die pad vorentoe lê in hierdie dinamiese hergroeperingsproses.

LEES OOK: ‘Omvorming geskied nie onder narkose’ – Geloofsgewoontes en die plekke waar ’n mens dit aanleer

Dit het dalk tyd geword dat al tien streeksinodes gelyktydig uit algemene sinodale verband tree, maar dan saam tot ’n nuwe vorm van eenheid (Algemene Gemeentevergadering) toetree, waar die eenheid van die kerk en die roeping van die kerk op ’n gereelde basis deur verteenwoordigers van al die gemeentes van die NG Kerk saam gevier kan word. Dit sal nie net die onderlinge eenheid versterk nie, maar ook aan streeksinodes die ruimte bied om belangrike besluite wat hulle eie konteks raak, te neem. So ’n toepassing van Artikel 37 lei dan nie tot kerkskeuring nie, maar eerder tot ’n versterking van die eenheid binne die NG Kerk – inderdaad nie meer ’n verleentheid nie, maar ’n geleentheid!

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Johan van der Merwe: Artikel 37: Verleentheid of geleentheid?”

  1. Gerhard Mahne

    ‘n Algemene Gemeentevergadering is ‘n goeie opsie, mits hierdie vergadering slegs ‘n vieringsfunksie het en van sy besluitnemingsmag namens die NG Kerk – wat uit al sy gemeentes bestaan – afstand doen. Art 37 soos huidiglike in die KO omskrywe beteken egter nie kerkskeuring nie, inteendeel dit verhoed juis kerkskeuring en loop op die ou einde op ‘n kerkvergadering met ‘n federale karakter uit.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top