Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Teoloë kry danksy sentrum ná 21 jaar steeds rigting en moed by Beyers Naudé


“Ons het so baie debatte in kerke en ons moet die kennis, die vaardighede, die waardes ontwikkel om erns te maak met ons verskille binne geloofsgemeenskappe op meer optimale en getroue wyse as wat ons tans doen,” het prof Nico Koopman by die 21 jaar-viering van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie op Stellenbosch gesê.

Die sentrum se “mondigwording” is gelei deur die waarnemende direkteur van die sentrum, prof Sipho Mahokoto, en is deur ’n groepie akademici, studente, navorsers en waarnemers op Stellenbosch bygewoon met bydraes deur sowat 10 mense, waaronder prof Dion Forster, wat tot onlangs aan die stuur van die sentrum was, maar nou in die buiteland werk.

Die vraag rondom hoe wyle Beyers Naudé se nalatenskap kerkleiers en gelowiges in die Suid-Afrika van 2023 rig en inspireer waar ons op ’n nasionale verkiesing in 2024 afpyl en met uitdagings soos werkloosheid, endemiese korrupsie, homofobie op die Afrika-vasteland stoei, was ’n onderliggende tema by die geleentheid.

Jonger “born free” teoloë soos Mx Ashwin Thyssen het in sy bydrae gesê: “Naudé was more than just prophetic. Naudé was also a priest in his solidarity with the oppressed. Naudé challenges us to highest obedience, through prophetic speech, priestly solidarity and servantly stewarding.”

Dr Louis van der Riet het teen die agtergond van homofobie in ons land en op die Afrika-vasteland onder meer gevra hoe “bondgenootskap” met lidmate van die LGBTIQ+-gemeenskap lyk wanneer dit meer is as ’n “dun” etiese verbintenis tot verwelkoming en gasvryheid. Van der Riet het ook uit sy ervaring gedeel met die skep van die Queer Narrative Archive, ’n multimediaprojek wat geroepe gay lidmate in die NG Kerk aan die woord stel.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel aan die US, het die verhaal van die Beyers Naudé Sentrum vertel.

Dr Chris Jones het tydens ’n bespreking sy indruk gedeel dat die NG Kerk en ander Afrikaanse kerke in oorlewingsmodus is. Hy wou weet of ’n kerk in “survival mode” in staat is daartoe om dapper besluite te neem met betrekking tot radikale versoening wat in geregtigheid gewortel is. Jones, wat verbonde is aan die sentrum by een van die samestellende eenhede (Eenheid vir Morele Leierskap), het gesê ’n oorlewingsingesteldheid neig om te veroorsaak dat leiers uitkomsgerig is in die sin van: as ons dít doen, hoeveel mense gaan ons verloor?

LEES OOK: Ope brief spel op vooraand van Algemene Sinode beswaar uit oor ‘foute’

Die sentrum is deur wyle prof Russel Botman en ander rolspelers by die Universiteit Stellenbosch (US) in die lewe geroep. Koopman het Botman se woorde van meer as twee dekades gelede ge-eggo dat die sentrum nie ’n “preekstoel van die kerke in die samelewing” mag wees nie, maar ’n oord vir besinning moet wees sodat “werklike vrae van die publiek” navorsers sal dryf.

Prof Dion Forster het virtueel vanuit die buiteland ingeskakel.

“Die bewyslas rus op die deelnemers in die sentrum om soos Beyers Naudé met integriteit, inklusiwiteit en kundigheid die openbare omgewing te betree as deelnemers aan die skepping en ontwikkeling van ’n openbare opinie in Suid-Afrika wat die toetse van die moraliteit kan deurstaan,” het Botman, teoloog en later rektor van die US volgens Koopman destyds by die stigtingsgeleentheid gesê. Koopman was self van die begin af betrokke by die sentrum en dien deesdae as Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel aan die US.

Beyers Naudé (1915-2003) is bekend as anti-apartheidsteoloog wat wye erkennning later in sy leeftyd geniet het vir sy profetiese stem teen nie net die politieke leiers van die dag nie, maar ook teen die kerkleiers van die NG Kerk – die denominasie waarvan hy vanuit beginsel afskeid geneem het. Ná Naudé tydens Apartheid besluit het om die Broederbond en NG Kerk die rug te keer is hy met verloop van tyd verwelkom as leraar van die NG Kerk in Afrika. “What do we do with that fact that ‘Oom Bey’ found a spiritual home in the Dutch Reformed Church in Africa and later URCSA – in the black church – submitted himself under black leadership and what do we do to continue his dream for church unity,” het prof Reggie Nel, die dekaan van die Fakulteit Teologie, in sy rede gevra.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Teoloë kry danksy sentrum ná 21 jaar steeds rigting en moed by Beyers Naudé”

  1. Ek het die NG Kerk verlaat omdat julle meng met dinge wat julle nie aangaan nie. Los die politiek vir die politici. Leer mense wat die Woord van God bepaal en hou op om mense te probeer behaag. As die LGBTIQ+- gemeenskap nie tevrede is met die NG Kerk soos dit is nie staan dit hulle mos vry om hul eie kerk op die been te bring. Nog ‘n ding wat my grief is die anglisistiese taalgebruik en hoogdawerende stemgebruik. Preek vir die gemiddelde persoon, ons is nie almal teoloe nie en daar is kinders in die kerk wat nie die “taal” kan verstaan nie.
    Bepaal julle by die werwing en versorging van siele vir die Koningkryk dan sal God vir die res sorg.

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.