Te midde van koorsang, ’n versoeningsgebaar teenoor die VGK en leierskapskuiwe in die NG Kerk in Noord-Kaapland, vang iets agter in ’n kerksaal in Kimberley Heléne Meissenheimer se oog op Dinsdag 8 Oktober, voorlaaste dag van dié NG streeksinode se sinodesitting.
’n Klomp A4-blaaie skryfblokpapier op ’n groen aansteekbord trek met oggendtee ’n mens se aandag agter in die groot kerksaal.
Lees ook: “Almal bel vir Christo” – Noord-Kaapse sinode hoor van ‘krisis’ in kapasiteit by sinodale kantoor
Met die nader staan aan die skryfblokblaaie sien ’n mens dit is gebede. Sommige lank, ander net ’n paar sinne. Soos hierdie een, “Ek bid dat hierdie sinodesitting eer aan U sal bring. Bevry ons van ons agenda’s en ego’s en lei ons om u wil in u kerk te laat geskied. Amen.”

Dit is gebede wat sinodegangers die oggend neergepen het tydens die oggendwyding gelei deur ds Marisa Vermeulen, Vanwyksvlei se nuwe jong dominee. Dit is die tweede dag van NG Kerk in Noord-Kaapland se sinodesitting. Bloedsweet om deur die besprekingspunte van die dag te kom.
Hy is dankbaar vir die sagtheid wat vroue na die kerk bring, merk ’n ouer leraar teenoor ’n ander op terwyl hulle voor die bord staan. Dit was nie vroeër jare so toe dit nog net mans in kerkleierskap was nie, voeg hy dan by.

Dit is ’n oomblik wat iets opvang van ’n wat mens beleef van die mooi én swaar van kerkwees in hierdie streek waar soveel wat elders vanselfsprekend is net moeiliker is. Selfs om net ’n predikant, ’n ouderling en ’n diaken bymekaar te kry vir ’n kerkvergadering kan ’n uitdaging wees in ’n streek met meer as een ring wat net enkele gemeentes oor het met voltydse predikante en klein kerkrade.
Sinode stem om kommissie te verkies wat help lei tussen sinodes
Maar daar is ’n veerkragtigheid. ’n Bereidheid om nuwe maniere van doen te probeer omdat gesien word die ou maniere werk nie meer nie. So is vandag die groot stap geneem om na sowat 30 jaar weer ja te stem vir die herinstel van ’n reëling dat vanuit die afgevaardigdes ’n sinodale kommissie gekies kan word om tussen sinodesittings seker te maak die streek se kerklike sake staan nie stil nie. Dit is ’n besluit wat een afgevaardigde leraar wat al 20 jaar in hierdie sinode is beskryf as “monumentaal”.

Band met VGKSA versterk
Die ondervoorsitter van die VGKSA Phororo, ds Mario Ferris, is ’n seënbede toegesing na sy groeteboodskap. Iets wat so ’n paar jaar terug nog ondenkbaar sou wees weens ’n sinodebesluit van 2015 wat luidens ’n verslag “enorme skade aangerig het aan die verhouding” tussen hierdie twee kerkgroepe. Die sinode het hierdie besluit herroep en gesê hulle is spyt daaroor en dat hulle verbind is tot ’n proses van “ontmoeting en genesing”. Dieselfde verslag noem dat ds Christo Jonck as die NG Kerk in Noord-Kaapland se predikant in sinodale diens, ook ’n groeteboodskap gebring het tydens die agtste streeksinode van die VGKSA Phororo in Kathu op hulle uitnodiging.
Later dieselfde middag lees ’n Kalahari-leraar Kobus van Tonder vir die eerste keer in sy lewe ’n verslag in Engels voor by hierdie kerksinode. Dit gaan oor ’n behoeftige Angolees-Portugese NG gemeente vir wie die kerk se taakspan gemeenskapsversorging help om boorgate in te sit, want daar is nie lopende water nie waar hulle bly op ’n verlate weermagbasis in die verre Noordweste.
Lees ook: Twee ‘boere-leraars’ gekies om Noord-Kaapse sinode te lei
‘Meulsteen’ van sinodale bydraes
Daar is ook gewis sake waarvoor daar nog nie antwoorde is nie. Een is dié van sukkelende gemeentes met agterstallige skuld in hulle “gereelde sinodale bydraes”. Die NG Gemeente Williston, wat weer in drie jaar van droogte is, met net ’n jaar breuk na agt jaar van droogte het ’n versoek om kwytskelding gemaak. Op die leierskap se voorstel dat dit afgekeur word, was gister heelwat teenreaksie. Ds Arina Zandberg van die NG Gemeente Bakenskop in Kimberley het verduidelik dié besluit raak ander gemeentes ook. “Daar is gemeentes wat bloot nie die agterstallige skuld gaan inhaal nie,” het sy gesê.

Dan na ’n laatmiddag ter tafel lê van ’n tafelgesprek oor kerkverband, eindig die lang dag met samesang. ’n Groep Angolees-Portugese afgevaardiges lei die groep van meer as 100 Afrikaanse mede-sinodegangers in die sing van ‘Ons is almal hier tesaam’. Elke groep in hulle eie taal en dit harmoniseer so mooi dat ’n Afrikaanse dominee opmerk: “I imagine this is something of what heaven will sound like”.
Tydens die aandwyding bid iemand: “Here, dankie vir wat ons was en wat ons is.”