Op 9 Augustus 1956 het ongeveer 20 000 vroue onder leiding van Lillian Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophia Williams na die Uniegebou gemarsjeer in protes teen die destydse paswette. Die vroue het, nadat hulle 14 000 petisies by die kantoor van die eersteminister gelaat het, vir dertig minute in stilte gestaan en toe saam die proteslied: “Now you have touched the women, you have struck a rock” gesing. Wat hierdie vroue gedoen het, het aandag getrek. En ’n mens kan hierdie simboliese protesoptrede ’n ritueel noem.
LEES OOK | Constantiakruin se koorfees: 32 kore vorm deel van Wes-Randse gemeente se ‘mooi uitdaging’
Enkele dekades gelede nog het die woord “ritueel” by baie mense ’n frons ontlok. Jy sou die woord nie sommer op ’n positiewe wyse in Kerkbode gebruik het nie. Vandag het die term al wyd ingang gevind. Maar waarom was daar dan die frons destyds? Want rituele is dikwels gesien as onnadenkende handelinge. Blote gewoontes. Of erger nog, iets wat met bygeloof te make het. Min mense lig deesdae ’n wenkbrou wanneer hulle die term hoor en die meeste mense weet ook dat die konsep breed toegepas word.
Soms is ’n ritueel ’n lang uitgerekte requiemmis vir ’n gestorwe koningin. Ander kere verwys ritueel na iets so klein soos om jou glas te lig en “gesondheid” te sê. Natuurlik sou ons hier kon hare kloof oor wat presies ’n ritueel is en wat nie. Die punt is – vanaf groot begrafnisse tot by alledaagse heildronke het ons te make met simboliese handelinge wat mense uitvoer. Dit is met ander woorde nie nuttige handelinge soos om ’n koningin sommer net in ’n gat te sit en met grond toe te gooi of om bloot net ’n sluk te neem om jou dors te les nie. Nee, daar is so ’n ietsie meer ter sprake.
Wat is die iets meer? Daar is al dosyne boeke geskryf oor wat daardie iets van ’n ritueel is. Vir lank al krap ons kop oor hoekom mense van antieke tye tot in ons eie dag so bitter graag rituele uitvoer. Wat beteken ’n ritueel of wat doen ’n ritueel? Of is rituele totaal en al nie-funksionele en betekenislose handelinge? ’n Verklaring waarvan ek hou lui baie eenvoudig soos volg: “Ritual is, first and foremost, a mode of paying attention.”
Dit is die mening van die godsdienskundige Jonathan Z Smith in sy bekende boek To take place: Towards a theory of ritual. Doodgewone en alledaagse dinge kry volgens hom deur middel van rituele ’n uitsonderlike plasing. Ons kan ook sê ’n ritueel raam iets of ’n gebeurtenis. Natuurlik gaan ’n ritueel soos ’n erediens oor meer, hoor ek al baie mense redeneer. En hulle sal reg wees, want liturgiese en ander rituele gaan ook oor aanbidding en viering; oor die onderlinge verbinding van mense en die kanalisering van emosies; oor die bewerking van oorgange en die uitdaag van sisteme en nog baie meer. En tog dink ek Smith het ’n baie goeie punt beet met sy siening en wys hy ons op ’n basiese aspek wat dikwels misgekyk word. Sy punt is – rituele help ons juis om nie mis te kyk nie. Dit geld vanaf God, tot die mense om my, ook myself, en die kosmos waarbinne ek leef. Ons druk elke dag net verder, ploeter voort, nog ’n dag, nog ’n week, nog ’n jaar. Rituele sê hokaai, wag ’n bietjie, weifel, gee aandag. En sommige rituele vra vir aandag dat genoeg nou regtig genoem is!
Ek lig my glas, kyk jou reg in die oë en sê: “gesondheid.” Ek kon sommer net gesluk het, maar ek het nie. En so, met ’n klein ritueel word iets doodgewoon wat uiters funksioneel kon verloop het, vir ’n oomblik in die ewigheid vasgevang. Bykans soos deur ’n kamera met ’n vinnige sluiterspoed, word ’n millisekonde van ons bestaan, ’n duimbreedte van ons hier-wees in die kosmos, so geraam, gemerk. En deur die rituele raam sien ek jou. En jy sien my. Ons sien mekaar, beleef die oomblik, die samesyn, ook gesondheid wat nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie.
’n Erediens as ritueel neem dít alles natuurlik veel verder en raam so ook ons samesyn as coram Deo, dus as voor die aangesig van en in die teenwoordigheid van die lewende God. Dit doen ’n tafelgebed by uitstek ook, want dit verander ’n voerkrip in ’n Godgegewe tafel wat na die gebed óók gedek is met disse soos genade en dankbaarheid. Ook ’n protesoptog weens swak dienslewering het hierdie element deurdat dit die gewone aktiwiteite van ’n dorp bemoeilik met mense met plakkate wat in die strate dans en sing en wat so sê: “Gee aandag, hier is ’n probleem”.
Voorbeelde gedy van rituele wat aandag rig. Kinders staan op en sing die skoollied en hulle weet hierdie is nie die Wiskunde- of Geskiedenisklas nie, maar ’n ander byeenkoms met ’n ander doel; ons sing “geluk liewe maatjie”, gee geskenke, doen ’n inskrywing op Facebook, en die aandag val vir een dag in die jaar op jou; ’n kers word aan die begin van ’n seremonie aangesteek en die aandag word verplaas na die “meer” van hierdie lewe.
Dit is onder meer ook die doel van Nasionale Vrouedag, van Vrouemaand, van die dra van swart klere op ’n Donderdag in protes teen geslagsgebaseerde geweld. Dit is waar dinge begin. Dit het die vroue van Suid-Afrika in 1956 goed verstaan. Sonder dat die aandag op ’n saak gevestig word, gaan niks verder gebeur nie. En wanneer die aandag gerig word op ’n saak deur middel van ’n ritueel, kan dit die wêreld en so ook mense se lewe dramaties verander.
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
