Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Uit my Kerkdagboek: ‘Dominee, hoekom bly die NG Kerk stil?’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hierdie tyd van die jaar – die maand wat in gereformeerde kerke eindig met Hervormingsondag en 31 Oktober – het die meeste dorpsdominees ’n afspraak met hulle “finalejaarkatkisante” in die “belydenisklas”.

 

’n Persoonlike gesprek, wat ná die inleidingsvrae oor hoe dit by die skool gaan, watter studierigting hy of sy oorweeg en inligting oor die Helpmekaarstudiebeurs, geluksê met die aanwysing as leerderraadslid of eerstespankaptein, verneem na die res van die huisgenote se welstand (ook die geliefde troeteldier) … draai na die afgelope jaar se kategese: Wat het jy geleer uit ons Sondaggesprekke? Wat neem jy saam uit ons kamp oor die groot gesprek met God, oor gebed (spiritualiteit)? Watter een van die Tien Woorde vir ’n Gelukkige Lewe (etiek) het jou die meeste gehelp in jou daaglikse lewe tussen maats? Watter Bybelteks gee jou moed wanneer dit moeilik gaan? Hoe beleef jy jou eie geloofspad tot hier – die verband van jou doop (waarheen jou ouers jou gedra het) en jare se kom na die kategese, met nou aanstons jou antwoord op die vraag “Bely jy dat Jesus Christus jou Verlosser is?” en dan jou opstaan en self na die Nagmaalstafel toe stap?

LEES OOK | Wat’s nuus? Wanneer die leser nie jou stem mis nie

’n Herinnering aan dáárdie afspraak met die dominee in die studeerkamer van die pastorie vier-en-veertig jaar gelede kom onwillekeurig terug. Toe dit by die punt van geloofsekerheid kom, vertel hy van volkere wat die teken van ’n leeu of arend in hulle embleme of landsvlae het en wat deur die eeue heen terugverbind is aan die verlore tien stamme van Israel en hoe ons daardie uitverkorenheid in ons bloed dra, óns die wit stam van Afrika. Ek hoef nie te twyfel óf bang te wees oor ons land vol onrus nie – 1981 – ons is God se uitverkorenes! Sy nekare swel, sy stem driftig, die onwrikbare geloof! Agterna by die atletiek vra ek my maat weifelend hieroor uit; ja, hy het presies dieselfde by die dominee gehoor. Ons vra ons ouers oor dié vreemde dinge en dit kom by die kerkraad uit. Vergaderinge volg. ’n Jaar later is die dominee daar weg met ’n handvol lidmate, ’n dramatiese Sondag by ons “Moedergemeente”! Die eerste indrukke op ’n naïewe kindergemoed van iets onverstaanbaar en hoe kwaad én seer dit maak: Kerkskeuring. In ons finalejaar teologie en die vak “Sekteleer” het ek die naam teëgekom: “Brits-Israelvisie”.

LEES OOK: Diensleraars oor hulle ander beroepe, die waarde van mentors en ’n kultuur van begeleiding

Op die Maandagmiddag van die week waarin 7 Oktober val – dit is twee jaar en duisende lewens ná 2023 – sit hierdie katkisant voor my. In die groep was sy ’n wakker een, dikwels ’n frons tussen die oë, hoewel sy nou eerlik is om te sê “dat die temas waaroor ons gesels het, soms ’n bietjie vervelig was.” En nog voordat ek met my gewone lysie vrae kan begin, draai sy die gesprek onverwags in ’n héél ander rigting: “Dominee, kan ek jou drie vrae vra?” Vraag 3 – op ’n pienk “sticky note” – was dié van ’n tiener wat dink: “Is dit reg om godsdienstige taal in ’n liedjie soos dié van Taylor Swift te gebruik: ‘What if I roll the stone away? They’re gonna crucify me anyway. What if the way you held me is actually what’s holy? I choose you and me, religiously’” (die liedjie se naam is “Guilty as sin”, help sy die ou dominee met sy Liedboek uit ietwat van ’n verleentheid). Op Vraag 2 kon ek darem iets meer geantwoord kry: “Waarom is daar soveel Afrikaanse kerke soos NG en Doppers en Baptiste as Jesus gesê het ons moet één wees?” Maar eintlik het ek dit reeds by Vraag 1 verloor, toe sy my sonder skroom vra: “Dominee Jan, waarom bly ons NG Kerk stil oor Gasa en gays en vroueregte en …?”

LEES OOK: Malan Nel (86) sê wat dit vir hom beteken om leerbaar te bly en Jaco Strydom sê KI skep die behoefte aan rou, eerstehandse ervarings

In my vorige rubriek oor die dood van Charlie Kirk en dit als, het ek ook na Henri Nouwen se boek Creative ministry (1971) verwys, oor die wyse waarop ons ons kinders in geloof begelei. Onder die opskrif “From a violent to a redemptive way of learning” bepleit hy teenoor ’n ingesteldheid van alewige prestasie, eenrigting kommunikasie en inhoud wat kinders uit hulle leefwêreld vervreem, eerder ’n benadering wat uitnooi en ontsluit soos Jesus met sy dissipels gedoen het; ’n gesprek rondom die tafel met mekaar as geloofsgenote; die praat oor en inoefening van ’n alternatiewe styl van leef, nóú, hier ín die klaskamer. Nouwen: “Teachers and students are fellow men who together are searching for what is true, meaningful and valid, and who give each other the chance to play each other’s roles. In this process, it is not the intellectual superiority of the teacher that counts as it is his maturity in facing the unknown and his willingness to leave unanswerable questions unanswered.”

Miskien moes ek dit maar Maandagmiddag gedoen het met dié eenvoudige vraag na die hart van ’n kerk se getuienis in ’n deurmekaar wêreld. ’n Vraag wat berus op die veronderstelling dat as ons dít bely oor Wie God is en hoe mense God se beelddraers is en daarom kosbaar (vir Gód, ten minste!) – soos wat ek dit vanjaar aan hulle uit die woorde van Nicea verduidelik het – ons mos nie niks kan sê of doen oor al die verskillende vorme van onreg wat ons daagliks teëkom nie? Miskien moes ek die onsamehangende woorde oor “geo-politiek” en “kompleks” en “sinode” en “ewewig” en “dolering” net los. Miskien moes ek net erken dat dié vraag oor die NG Kerk moeilik is om te antwoord, my kind. Miskien moes ek maar net sê, “Jammer, ons grootmense en danige ‘kerkleiers’ sukkel self; ons wysheid skiet tekort, ons moed ontbreek.” Miskien – ry ek huis toe en dink – moet ons eerliker met ons katkisante en lidmate saamloop.

Nouwen eindig daardie hoofstuk: “Only he who is not afraid to show his weaknesses and who allows himself to be touched by the tender hand of the Teacher will be able to be a real student.” Iemand wat die genadige roepstem blý hoor – “Volg My” – en wéér probeer.

 

Ds Jan Lubbe is voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen en predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Uit my Kerkdagboek: ‘Dominee, hoekom bly die NG Kerk stil?’”

  1. Norma Rossouw

    Wel ons gemeente is nie stil nie. Ons kinders weet van gay en saambly en wat God se Woord daaroor sê, ons gemeente het op ons gemeente facebook oor Gaza geskryf, ons het Sondag 15 min afgestaan aan die vervolgde kerk en gebid vir ons broers en susters in Nigerië waar die grootste vervolging onder Christene tans plaasvind. Oor ons vroue en hulle regte of enige mensereg as sulks dan. Wel in ons gemeente leer ons eerder dat Christus van ons vra om jouself te verloën (Mat 16:24) en ons lewe moet verloor (Markus 8:35) en moet dien (Markus 10:43). Jesus wie ons volg het nooit aanspraak gemaak op Sy reg nie, inteendeel in Fil 2:5 leer Hy ons dat Hy sy reg prysgegee het, nie daaraan vasgehou het nie, Homself verneder het deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en selfs te sterf. Ons gemeente se stem is nie stil nie! My hart breek vir tieners wie se kerk tog stil is of ‘n afgewaterde teologie gee.

  2. Sleutelbordkryger

    Ds Jan, maar die NG Kerk bly nie stil oor Gasa en gays en vroueregte nie. Die NG Kerk het dan self met ons eie bydraes ‘n skenking aan Gasa gemaak en dit aan die groot klok gehang. En gay huwelike toegelaat, ens, ens. Help my asb, waar moet daar dan verander word? Ek vra dit uit opregte soeke na ‘n antwoord, nie om dwars te wees nie.

  3. Gerrit Kotze, Secunda

    Ek het vanoggend na ‘n video gekyk oor die Hamas invalle in Israel op 7 Okt 2023. Ook het hulle onderhoude gehad met die Israeliese oorlewendes en grepe gewys van wat die Hamas invallers self geneem en op kommentaar gelewer het. Ds Jan, ek verstaan nie lekker wat so moeilik hieraan is om aan ‘n katkisasie kind te vertel nie. In Engels: “its pure evil” wat ons daardie dag gesien het. ‘n Groep mense wat net een oogmerk het: die vernietiging van die Joodse volk. Ek het nie eens nodig om te glo dat Israel spesiaal is volgens die Bybel nie. Ek hoef gewoon te kyk na God se opdrag om ons naaste lief te he en dan te weet wat daardie dag begin is, verkeerd is. Dit maak nie saak wat Israel dalk tot hiertoe verkeerd gedoen het nie om sulke dade te probeer verdedig nie; in elk geval nie naastenby so wreed en onnodig soos ons van Hamas se aksies gesien het nie. Daar was sovele pogings om met Palestyne te onderhandel voor die tyd. Gaza was onder Hamas se beheer vir soveel jare en nou dit!

    Nee, domininee, die antwoord is glad nie moeilik nie. Daar is baie moeiliker dinge in die Bybel om oor te praat en te wonder. Hierso is ‘n geestelike vyand (wat ons Sinode nie so lekker as ‘n persoon kan/wil defineer nie) wat ‘n fisiese mense groep gebruik om ‘n ander mense groep te wil uitwis.

    Vanoggend had ek een gebed op my lippe: Laat U koninkryk kom … en bewaar ons van die Bose!

  4. Radikalisering. Dis die woord wat ager die oorsaak van Gaza is. (En hoekom ‘n gay outjie Charlie Kirk vermoor het.) Ons jeug is nie weerbaar nie. Sosiale Media – en die algoritme daaragter – is ontwerp om tweespalt aan te blaas (konformerende gedagtes kry nie ‘likes’ en ‘subscribes’ nie). Ons moet kritiese denke en mediageletterdheid ‘n verpligte vak op skool maak. Die jare toe ek gekatkiseer het, het ons van alle oorde af gehoor ons mag nie naby die ‘Scope’ kom nie. Komaan, gee jou ouderdom weg en sê jy weet wat ek bedoel! Ek weet nie of hierdie skakel gaan vertoon nie; ek probeer maar… https://youtu.be/GDHKs5PZhh4

Comments are closed.

Scroll to Top