Dit is tyd vir aanbeweeg

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die NG Kerk is stroomop, teen die wêreldkultuur in waarin flink mure gebou en mense met eng definisies afgesluit word van mekaar. Ons is ’n insluitende, meesleurende beweging, waarin elke mens ’n ruimte kan vind om te blom. Ons is oop kanale van God se genade vir alle mense. By die nagmaaltafels van ons kerk rig ons ’n ongekwalifiseerde uitnodiging  aan almal wat glo in Christus as Here om te kom aansit, om saam die brood en die wyn te kom eet en drink, met dankbaarheid en verwondering. Christus het immers kinders en grootmense, vroue en mans, oud en jonk, Jood en Griek, besny en onbesny, “in” en “uit”-mense ingesluit in sy gemeenskap van vriende by wie Hy aan tafel gegaan het. Hy droom van geloofsgemeenskappe wat mense van die strate af innooi na die maaltyd waarvoor baie gesiene mense nie genoeg tyd of aptyt gehad het nie. So droom ons saam met Hom.

Die NG Kerk het die afgelope jare baie tyd spandeer om te dink oor mense met ’n selfdegeslag oriëntasie. Gewoonlik, wanneer kerkmense verskil oor kwessies soos hierdie besluit sinodes om nog navorsing te doen- oor die betrokke verskynsel, oor die Bybel, oor die teologie. Ons hét dit gedoen. Ons kan nie nog navorsing doen nie.

Ons is nou op die punt waar ons nie meer kan toelaat dat mense die slagoffers bly van ons oneindige meningsverskille en teologiese onsekerhede nie. Ons lang gesprek het immers nie in ’n afgeslote laboratorium plaasgevind nie. Mense buite en binne die kerk was pynlik bewus van ons geworstel. Terwyl ons onsself die belangrike geleentheid veroorloof het van teologiese diskussie, het mense binne en buite die kerk die gesprek gehoor. Baie het seergekry. Hulle diepste identiteit was die onderwerp van bespreking. Hulle menswees en karakter is ontleed en ontken asof hulle gewoon nie-vleeslike objekte is. Die gesprekke het dikwels nie rekening gehou met talle gay-gelowiges wie se sogenaamde keuses, toewyding, moraliteit en geloof bevraagteken is nie. Dit gebeur trouens steeds wanneer mense vrae vra soos, ‘kan ’n gay-persoon gelowig wees en die Here dien?’ Die kort en die lank hiervan is dat hierdie debat die lewe in en buite die kerk vir duisende en duisende medegelowiges, insluitende die families en vriende van gay-mense, bitter onaangenaam gemaak het. Die uiteindelike uitkoms van hierdie teologiese gesprek kȧn nie wees dat dit by verstek die lewe van mense met ’n bepaalde seksuele oriëntasie vir altyd misrabel maak nie. Ons kan veel eerder vir mense van alle seksuele oriëntasies ’n lewewyse en lewensruimtes bedink waarin hulle met ’n skoon gewete voor God kan leef. En laat ek maar dadelik sê, die sogenaamde “humanisme” is nie die onderliggende uitgangspunt van hierdie standpunt nie.

Die Bybel vertel immers van Jesus wat al in sy hantering van die skrifgeleerdes se vrae oor die huwelik die diversiteit van mense erken het. “Sommige is so gebore, ander is so gemaak en ander het gekies om so te wees”- dit is nou die wat Hy sê nie kan trou nie (Matteus 19). Watter kategorieë van mense Hy in gedagte het, weet ons nie. Dat Hy duidelik  daaroor is dat alle mense nie inpas in die kategorie vir die “een man, een vrou” bedeling van die huwelik nie, is egter helder. Dit is dieselfde Jesus wat vir hetroseksuele mense sê dat die sonde van seksuele begeertes nie net in hulle dade gesetel is nie, maar in hulle gedagtes. Laat ons die Bybel en dus vir Jesus ernstig neem. Jesus het meer begrip vir die aard van seksualiteit en diversiteit as wat dikwels aan Hom toegedig word.

Lees ook: Jare se besware bekyk 

Daar is ook ander ingeligde afleidings gemaak oor die gesprek binne die kerk oor seksualiteit. Is hierdie mense ernstig oor die Godgegewe menswaardigheid van alle mense? Is dit dan nie die Bybel wat skryf (kontra-kultureel) oor die wederkerige gelyke verhouding tussen man en vrou nie? (1 Kor 7). Is dit dan nie so dat die Bybel praat van een nuwe mensheid van gelowiges in Christus wat ontstaan wat die binêre (tweedelende) skeiding tussen besny en onbesny, ryk en arm, man en vrou te bowe gaan nie (Gal 3). Natuurlik bestaan al hierdie kategorieë van menswees voort, maar in Christus word dit te bowe gegaan. In Christus is almal een, gelykwaardig, nuut, vry.

So leer die Bybel.  

Die Algemene Sinode (6-11 Oktober 2019) moet hierdie gesprek nou vorentoe neem. Regstegniese argumente sal nie antwoorde bied op die legitieme vrae wat gevra word oor ons standpunt oor mense nie. Die minste wat ons kan doen, is om ruimte  te maak vir sinodes en gemeentes wat aan alle mense die vryheid wil bied om Hom met oortuiging te dien, sonder dat hulle hulle diepste menslike identiteit hoef te ontken.

Die NG Kerk het ’n reuse rol om te speel in ons land waar mense se menswaardigheid  ingrypend misken word. Die misbruik van, en geweld teen vroue en kinders, armoede, opleiding van mense en die beliggaming van die evangelie van verlossing behoort binne die helder fokus te val van hierdie mooi kerk om ’n lewegewende verskil in Suid-Afrika te maak. – Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

10 thoughts on “Dit is tyd vir aanbeweeg

  1. Erik Brits says:

    Dankie vir hierdie helder perspektief. Ek sit onlangs in ‘n kerkvergadering van 9 persone waar die negatiewe ervaring teenoor Algemene Sinode uitgewys word. Ek is die enigste een wat die moontlikheid opper dat God deur sy Gees instrumenteel die Algemene Sinode dalk gebruik om ons (deel van sy kerk) by die wese van kerk wees uit te bring – dit wat in hierdie artikel duidelik belig word. Dit sou soveel makliker gewees het om i.p.v ‘n minderheidstem soos in bg. geval net saam te stem. Dan worstel ek met die Here: “Kan ek maar nie net saam stem nie? Is ek die een wat dwaal? Saam met die kerk dwaal?” Dan reën die tekste op my waarop ek my standpunte bou. Dit gaan inderdaad nie oor humanisme nie – net terwille om alle mense hulle sin te gee nie. Dit gaan oor die versoeningswerk van Jesus wat deur sy Gees geloof gee en elkeen wat glo is sy kind en deel van sy huisgesin. Hoe leef ons as huisgesin?

  2. Simon says:

    Liewe Dominee, Broeder in Christus Jesus – onse Heilige Here, as my meerdere in die kennis en uitleg van die geloof rig ek aan jou hierdie brief. As my leermeester – soos aangedui in die gepaste titel wat u amp vergesel – rig ek aan u hierdie vrae wat handel oor die inhoud van u skrywe.
    Is die kern attestasie van die Evangelie nie juis dat die mees intieme (die diepste) identiteit van die gelowige in Christus Jesus gesetel is nie, eerder as in die self of (nog meer oppervlakkig) in die seksualiteit van die self?
    Gegewe hierdie, is dit dan die plek van die Kerk om Christus te verkondig of die self? Indien Christus, in al Sy volmaaktheid, die essensie van ons identiteit is, dan is die diepste identiteit van die homoseksuele individu glad nie wat die Kerk onder bevraagtekening bring in die beoordeling van homoseksualiteit nie – want beide sy eie persoon sowel as die van ‘n heteroseksuele individu kom nie hier ter sprake nie. As sulks, al mag u identifisering van seksualiteit as die diepste identiteit van die individu ‘n sekere gravitas tot u argument byvoeg, is dit misleidend en dra dit nie by tot u gevolgtrekking nie. Retoriek is ‘n pragtige ding, maar waarheid (waarin daar ook mooiheid gesetel is) vereis eerlikheid en duidelikheid bo vloeiendheid. As sulks, vergun tog dat ons die nodige onderskeidings tref. Wat die Kerk dan wel onder bevraagtekening bring is nie die diepste identiteit van die individu nie – hierdie is in Christus gesetel en is as sulks onwankelbaar. Dit is ook nie, sover ek kan aflei, die realiteit van die belangrike seksuele identiteit (soos gemanifesteer in seksuele oriëntasie) van die individu wat die Kerk bevraagteken nie – hierdie is grotendeels gesetel in (sover ons kan seker wees) genetika en eksterne invloede. Wat die Kerk wel bevraagteken, en geregtelik so, is die etiese omvatbaarheid van die homoseksuele huwelik – dit is die hart van hierdie gesprek. Selfs die kwessie van homoseksuele bedienaars is slegs problematies insover as wat dit verband hou met die kwessie van die huwelik.
    Gegewe dat u in u skrywe dit duidelik genoem het dat Christus self individue uitgelig het wat (weens watter komplekse redes ookal) nie kan trou nie, hoe versoen mens hierdie realiteit met die benadering wat u voorhou – ‘n benadering waarin die stelling van die Here self klaarblyklik teengestaan word?
    Ek rig hierdie vrae nie in sinnelose wederstrewigheid nie, ek self ervaar homoseksualiteit as die ongevraagde oriëntasie wat ek toegedien is. En die geweldige worsteling met die aanvaarding of verwerping hiervan is nie van my vervreem nie. Maar ek kan myself nie daartoe bring om die ganse inhoud van onse heilige algemene Christelike geloof te onderwerp aan die outoriteit van een aspek van my identiteit nie… veral gegewe die feit dat hierdie aspek self nie anders kan as om onderworpe te wees aan my identiteit in Christus nie.
    As dit versoenbaar is met die belydenis van die Woord van God dat ek ‘n aktiewe homoseksuele lewe kan lei (binne die perke van die huwelik), dan onderwerp ek myself hieraan in dankbaarheid en verwondering. Aldan nie, is ek tot ‘n ander meer ongemaklike en moeiliker roeping verbind – maar as dit reg is dan wat is daar anders vir my? Ek bid tog dat die Kerk haarself tot haar roeping mag wend met die nodige erns en eerbied – besef tog dat aanvaarding en liefde nie ten koste van die waarheid voorgehou mag word nie, want wat is dit dan anders as leë menslike mosies? Die Waarheid is te kosbaar, Christus is te kosbaar. Ek hou nie voor dat ‘n aanvaarding van die homoseksuele huwelik teenstrydig is met die Skrif nie, ek self is aangaande hierdie kwessie nog onbeslis. Maar ek verset myself wel teen enige benadering wat die saak ‘n onreg toedien omrede ‘n gebrek aan erns en ‘n los hantering van die heilige Evangelie – dít kan ons nie.
    Mag die Here u tog bybly en sterk in hierdie moeisame worsteling waarin die Kerk gedompel is – en mag ons in gehoorsaamheid aan Christus juis deur die loop van hierdie worsteling die Evangelie gedurigdeur omhoog hou en onsself daartoe stem met goeie moed en ‘n onwrikbare vertroue op onse genadige God. In Christus, Simon.

  3. Jean Oosthuizen says:

    Dit is ʼn interessante en welkom perspektief van Nelis. Ongelukkig mosterd na die maal en ietwat te laat. Die kerk het reeds sy integriteit verloor oor sy hantering van die saak. En die moderator was aandadig daaraan dat die kerk sy integriteit verloor het.

    Die moderator het self met regstegniese argumente probeer om die saak te wen tydens die hofsaak. Trouens, die kerk het selfs gesê gays moet hulle eie kerk gaan stig as hulle nie tevrede is met 2016 se besluit nie.

    Eers toe hulle die hofsaak teen hulle verwagting in verloor het, het hulle ʼn ander deuntjie begin sing. Nie omdat hulle in beginsel oortuig was nie. Terloops, wanneer sê die kerk vir sy lidmate hoeveel geld het hulle vermors op 2016 se buitengwwone sinode en die daaropvolgende hofsaak?

    As die NG Kerk effens geloofwaardigheid oor hierdie saak wil herstel sal die moderator, die ATR en almal wat deel gehad het aan hierdie onverkwiklike sage in die NG Kerk se geskiedenis en steeds in leiersposisies is die eerbare weg volg en bedank. Dit sluit ook die algemene sekretaris Gustav Claassen in. Maar ons weet dit sal nooit gebeur nie. Nes in die politiek. Dit gaan nie oor beginsels nie maar oor posisies en mag.

    Die kerk kan nie van politieke leiers verwag om eerbaar op te tree en dit self nie doen nie.

  4. Chael TerBlanche says:

    Die NG Kerk is nie stroomop teen die wêreld nie, maar juis saam met die stroom. Dit probeer ‘n ruimte skep wat nie bestaan nie, ‘n huis met baie vertrekke waar slegs een bestaan, die saam met God. God het bepaal dat die mens geskep is as man en vrou en dat hulle in die huwelikverhouding sal voortplant. Dit is nie iets wat die Kerk kan verander om by huidige omstandighede of standpunte aan te pas nie. Die Kerk kan slegs dit nastreef en doen wat deur God bepaal is. Anders is ons nie die Kerk van God nie, maar ‘n instelling van mense en hulle tradisies. Jesus het deur sy dade vir ons gewys dat niemand uitgesluit moet word nie, maar dat almal deur Hom versoen en gered kan word. Dit beteken egter nie dat ons onveranderd kan voortgaan sonder enige verandering nie. Ons is nuut gemaak en leef nie meer vir onsself nie, maar vir Hom. Om die wêreld hierin na te volg is nie net gevaarlik nie, maar plaas die Kerk bokant God en Sy gebooie en bepaal selfs wat is reg en verkeerd. Die Kerk word dus regter soos wat die Roomse Kerk ook gedoen het. Die Kerk mag nie mense uitsluit wat Christus aangeneem het en deel van die Kerk wil wees nie. Daar is nie groot en klein sonde nie en almal van ons wat deel is van die Kerk is geredde sondaars wat stry teen die sonde tot ons daarvan verlos word. Ons mag nie vir die wat hiermee worstel dit moeilik maak deur dit wat verkeerd is te verklaar as nie sonde nie. Die sinode het in 2016 korrek verklaar dat alle seksuele dade buite ‘n huwelik sonde is en nie goed gekeur kan word nie. Ons moet mekaar hierin behulpsaam wees en ondersteun en nie toegee aan die wêreldse beeld van wat reg of verkeerd is nie. Indien ons hierin faal dan faal ons die gelowiges in hul pad van heiligmaking en staan ons die Gees teen in die werk om ons daarin behulpsaam te wees. Jesus het ons kom red en vrymaak van sonde, alle sonde en dit is die boodskap wat ons vir die wêreld moet bring. Indien ;n gelowige sukkel met enige sonde waarin hy vasgevang is, moet die Kerk hom help en ondersteun, maar indien die gelowige volhard daarin is dit baie duidelik in die Skrif en ons belydenisskrifte van hoe om op te tree. Dit is dus nie die Kerk wat mure bou en skeiding bring nie, maar die sonde.

  5. Wanneer gaan die NG-Kerk besef dat daar ‘n drastiese verskil is tussen die etiek van die Bybel wat ontstaan het as gevolg van sosio-kulturele etiek wat gepas was vir daardie dag en tyd?! Hoeveel historikusse, sosioloë, teoloë en dies meer moet (gesaghebbend) uitspraak lewer dat jy nie die Bybel kan gebruik as bron vir moderne seksuele etiek nie?

    Dit voel vir my as of predikante geen besin het van wat in die Bybel aangaan nie! Hulle lees die ding vir gemeentes soos ‘n sprokiesverhaal. Sonder enige respek of insig van die integriteit van die Bybelse tekste. Die kerk se kop haak vas by om die Bybel as ‘God se Woord’ te aanbid, eerder as Jesus Christus se liefde -en voorbeeld te volg! Die Bybelse konteks van seks, is drasties verskillig van ons moderne konteks en dit is onvergelykbaar. Jy kan dit nie op ‘n moderne samelewing afdwing nie, want dan sal ons almal tot primitiewe etiek moet konformeer soos slawerny, steniging ens.

    Dis regtig nie so moeilik om te verstaan dat die Bybel nie die kerk patentreg gee op seks en die huwelik nie. Ons is hier om liefde te toon, om mense wat ly realisties by te staan en te verwelkom wat deur die samelewing verwerp word! Is dit nie wat Jesus gedoen het nie? Of is die kerk op die boek van die Bybel gebou; nie die liefde van Jesus Christus nie? As dit die Bybel bo Christus se liefde vereer, dan is die kerk op pad uit…

  6. Sarel Strydom says:

    Ek het al verskeie kere kommentaar op die onderwerp gelewer en ek gan volstaan met twee stellings:
    1. Tydens die Twis en gesprekke rondom die onderwerp van gelyke geslag seksualiteit het, watmy aan betref, belangrike Gemeenskaplike aangeleenthede skade gelei. Die Kerk moet groter rol begin speel in Gemeenskappe en verwaarlosing van ons Gesinne en Kinders.
    2. Die skrywer stel dit vir my goed met sy inleiding : “Die Kerk is stroom op teen die WERELDKULTUUR waarin flink mure gebou word en mense met ENG definisies afgesluit word van mekaar”. Is ons besig om weg te beweeg van die Woord van God en na die sg. Wereldkultuur?

  7. Pieter says:

    “…Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.”
    vs. “Ons is ’n insluitende, meesleurende beweging, waarin elke mens ’n ruimte kan vind om te blom. Ons is oop kanale van God se genade vir alle mense. “

  8. Andries Louw says:

    Hierdie artikel van Nelis laat my misrabel voel. Die opskrif “DIt is tyd vir aanbeweeg” kommunikeer na my mening die boodskap dat die besware van mense wat teen Nelis en andere se pro-gay agenda gekant is, nou nie meer ontvanklik sal wees nie, trouens dat dit uiteindelik nou van die tafel gevee sal word. Die ernstige waarskuwings dat hierdie agenda ‘n afwyking van die Bybelse teologie en seksuele etiek verteenwoordig sal nie meer geduld word nie. Dit is ‘n haglike saak wanneer die moderator van die AS daarmee vir die oorgrote meerderheid lidmate sê hulle stemme is nie meer ontvanklik nie en dat die NG Kerk nou ‘n finale keuse moet maak vir die LGBTI+ ideologie en daarmee die Bybelse teologie en etiek oor seksualteit prysgee. Natuurlik word dit gedoen met mooiklinkende “teologiese” argumente wat nie voldoen aan die mees basiese beginsels van goeie eksegese en Bybelse hermeneutiek nie. Die swak teologie en swak etiek wat Nelis beoefen is weliswaar reeds oorbekend en gevestig is (post)moderne kringe van talle hoofstroomkerke plaaslik en wêreldwyd. Dit wyk egter af van die duidelike lering van die OT, van die Here Jesus, en van Paulus, sy belangrikste apostel, sowel as van twintig eeue se kerklike nadenke en lering oor seks en die huwelik. En dit alles sodat ons nie “mense met ’n bepaalde seksuele oriëntasie vir altyd misrabel maak nie”. En verder sodat ons “veel eerder vir mense van alle seksuele oriëntasies ’n lewewyse en lewensruimtes (kan) bedink waarin hulle met ’n skoon gewete voor God kan leef.”
    Om aan te sluit by ‘n vorige uitspraak van Nelis waarin hy sy (irrasionele) geloof gedeel het dat “seksuele orientasie ‘n gawe van God is”, is dit tog steeds meer as duidelik dat hy “seksuele orientasie” daarmee generies, inklusief tov alle orientasies bedoel het. In die lig daarvan het Dr Chris van Wyk krities daarop gereageer dat dit per implikasie dan ook tov pedofilie sou geld. Daarvoor het hy die prys betaal om by die menseregtekommissie aangekla te word en deur akademici van die teologiese fakulteite oor die kole gehaal to word oor onsensitiwiteit en gebrek aan respek vir gays. Intussen het daar pas by Aardklop ‘n gesprek plaasgevind waar ‘n teoloog en ‘n vooraanstaande seksuoloog die implikasies van die LGBTI+ ideologie uitgespel het soos saamgevat met die woorde “Gay, straight of wat ook al”, soos vermeld in Gert van der Westhuizen se artikel daaroor in vandag se “BY”. In die gesprek en die artikel word ‘n hele reeks van seksuele “oriëntasies” benewens gay en biseksueel genoem en gemeld dat “pedofilie een daarvan is wat tans druk bespreek word in wetenskaplike kringe”. Aan die einde word die “utopiese visie vir ‘n goeie, gesonde samelewing” van die teoloog gedeel dat “seksuele oriëntasie en gender identitiet nie meer sal saakmaak nie, en die skrywer van die artikel sluit dan af met die stelling “‘n Plek waar die diversiteit van die skepping waardeer en gevier word.”
    In die lig van die groot ooreenstemming tussen Nelis se omstrede stelling en sy betoog in die artikel aan die een kant en die argumente van die geleerdes by Aardklop en die outeur van die artikel in “By” aan die ander kant, is dit na my mening nie onredelik nie om die vraag prontuit aan Nelis te vra of hy verskillende seksuele oriëntasies soos biseksualteit en mooontlik ook pedofilie as ‘n gawe van God en as deel van die diversiteit van die (Godgegewe) diversiteit van die skepping waardeer en vier. Indien hy nie kans sien om dit op skrif te beantwoord nie, stel ek voor dat die vraag in die komende sitting van die Algemene SInode aan hom gevra word. DIt sal interessant wees om te sien of hy die noodwendige implikasies van sy verwarde denke en verdraaide teologie sal aanvaar. –

    ** Webskakels na die relevante berigte en rubrieke is ingevoeg by die teks van dié leserskommentaar, asook ‘n skakel na die Sielkundige Vereniging van Suid-Afrika se Afdeling vir Seksualiteit en Gender se verklaring getiteld ‘Debates in the Dutch Reformed Church re Sexual Orientation and Misrepresentation of Pedophilic Disorder as Comparable to Same-sex Sexual Orientation’ – Red.

  9. Schalk Naude says:

    Ek het my bedankingsbrief as lidmaat van die NG Kerk klaar geskryf. Afhangende wat tydens die AS van 6 – 11 Okt gebeur, sal ek besluit of en wanneer ek die brief sal pos

  10. ponti venter says:

    In die apartheidsjare het van ons senior N G teoloë soos Adrio K. gesê die Christen moet dwars lê oor die hoofstroom. Tans is die hoofstroom ‘n soort wortel-ideologie wat ons terugneem – soms ver voor die Bybelse tyd – na vrugbaarheidsgodinne en Antieke Orphiese mites. Die hoofstroom van die Weste gaan al van die 18e eeu af duidelik soontoe. Die skerp uitlatings van Romeine 1 teen allerlei vorme van afgodediens en die rol van homoseksuele verhoudings daarbinne, mag juis gerig wees teen Orfiese rituele homoseksuele bedrywe, wat later weer navore getree het toe in die Renaissance die Hermetisme die okkulte seksverhoudings ideaal gemaak het. Waar moet ons GOED onderskei? Ons kan nie met die hoofstroom saam nie – enigeen wat belese is sal besef dat ons breedweg met ‘n herlewing van Gnostiese mitologie te make het. Dis ‘n mengsel: die hoofstroom begin werk met ‘n heroïese vitalisme wat digby Nazisme kom enersyds – maar dit geld net as y reeds op twee bene loop: voor geboorte en oud-wees is iets dierliks waarmee afgedoen kan word. As daa werklik ‘n homoseksuele geen was, kan ek wed dit sou tot aborsies gelei het. Ons moet homo-seksuele gelowiges omarm, maar ook vir hulle geld die reels wat vir ongetroude heteroseksuele geld – leef moreel en moenie alles verwag van die kerk nie. En bly weg van gonsbeledigings soos patriargie. Diegene wat sommer sê: die kerk is AGTER die hoofstroom: seblief – gaan julle die kerk dekoloniseer en die sangomas op die kansel toelaat? Wat herdink moet word is die kerk se pogings om die huweliksbevestiging te kontroleer – dis ‘n staatsaangeleentheid en ons moet dit so hou. Eintlik was dit van oudsher ‘n familiebesigheid – om ‘n ooreenkoms by ‘n prokureur te sluit is nader aan die huwelik van Rut en Boas as om dit in die kerk te doen.

Comments are closed.