Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: God sal rus gee in die land van ‘Liefdaad’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Drie maal is die Woord daardie Sondag aan “eene kleine schare in de Kerktent” bedien. Kinders gedoop, katkisasie gehou en sewe jongelui het hulle geloof bely. ’n Week later, Nagmaal. Dit was Sondag, 2 Maart 1890 – in hierdie weke, presies honderd-vyf-en-dertig jaar gelede. Die plek: ’n plaas met die naam “Liefdaad”; ’n naam wat van die historiese “kaart en transport” van daardie geweste af verdwyn het. Nietemin, ds WP de Villiers van Carnarvon wat die ongeveer 20 gesinne al langs die droë Bakrivier op besoek het, teken in sy verslag aan dat daardie “Veldskoendraers” ’n leraar kort (al sou dit eers net ’n godsdiensonderwyser wees); “een man van beleid, moed en lijdsaamheid.” Want dit was ’n land, wyd en woes geleë. Hoewel, die Rynse Sending was al sedert 1814 in daardie omstreke werksaam …

LEES OOK | Namibië: ’n Besoek aan dié ‘pioniers’ van teologiese opleiding

Nou was daar in dele daar sewe jaar droogte, hoor ons einde Februarie by die vergadering van die Algemene Sinode se Moderamen (ASM). Die gemeentes het klein geword, minder as 12 000 lidmate in 43 gemeentes, 12 sonder ’n leraar. Nógtans, in ons oggendwyding die laaste dag van die ASM-vergadering, lees hulle moedig uit die boek Esegiël aan ons: “Mensekind, profeteer oor die verdroogde beendere: Ek gaan gees in julle laat kom, Ek sal vleis aan julle sit, vel oor julle trek, asem in julle gee, sodat julle kan leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is” (37:4-6). Hý, die Heer en Lewendmaker, só het ons dit elke oggend en aand as ASM saam bely en gebid, die eeue-oue woorde van Nicea. Langs mekaar gesit, die gebreekte brood en wynkelkie in ons hande. “Ons is jammer”, sê een lid van die ASM toe kollega Johannes Maritz klaar vertel het oor waar die NG Kerk in Nambië haarself nou bevind, “… waar ons nie lank genoeg geluister het nie, is ons jammer.”

LEES OOK: NG Kerk in Namibië se San-bediening: ‘Ons leer om saam te stap’

Enkele jare ná ds De Villiers se besoek per perdekar in 1890, is die eerste gemeente ietwat “onverwags en onafgerond” daar gestig, “Groot Namakwaland” (1898); ’n gemeente “buite die Kaapse kerkverband”, maar “onder toesig” van die Ring van Tulbagh. Daarná sou “Gibeon” volg (1902, vandag Mariental), “Moria” (1902, Otjiwarongo), Keetmanshoop (1924), Warmbad (1928), Windhoek (1929). Vir lank en dikwels is daar sommer onder ’n geharde kameeldoringboom kerk gehou. In 1940 is die gemeentes deur die Kaapse NG Kerk in ’n selfstandige ring byeengebring; ’n tweede en derde ring sou volg; “skakelkomitees” tussen die ringe het gesamentlike werksaamhede soos sendingaksies en skoolsake onderneem. ’n Ander land, ’n eie roeping. En op 5 Maart 1957 in Windhoek, het die 27 gemeentes ’n “selfstandige Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suidwes-Afrika” geword, met ’n eie sinode – in die woorde van dr JD Vorster, aktuarius van die Kaapse Sinode. In die Jaarboek van die Gefedereerde Nederduitse Gereformeerde Kerke van 1958, onder die opskrif “Die Suidwes Kerk” ingeskryf: 30 600 siele, 29 gemeentes, vier ringe. Vier jaar later sou die “NG Kerk in SWA” een van die samestellende kerke in die Algemene Sinode wees.

En nou is dit wéér Maartmaand …

Die sesde vergadering van die ASM in hierdie termyn, is verby. Tyd is ingeruim om goed te luister na hoe dit in sinodes en gemeentes gaan. Van hittegolwe en droogtes is vertel, maar ook is ’n video van die Moloporivier in vloed gewys. “As dit reën, reën dit nog nie gras nie, maar dit reën hoop”, klink dit uit die Vrystaat. Oral word ringe besoek. Oral is daar te min dominees. Oral is daar ook onsekerheid oor presies wat besig is om in die groter geo-politieke konteks te verskuif – ’n skuif na “mag is reg”? Maar in die Belydenis van Nicea en die lees van “Die Loflied aan die Seun” (Kol 1:15-20) het ons gehoor dat “as Christus álles is, dan is die keiser en die Romeinse Ryk en alle ryke daarná, dit nié!” Boonop het Jesus die krag van diensbaarheid kom wys; laat sý gesindheid ons weer inspireer! “Ons gaan nie opgee op mekaar en op die ideaal van ’n verenigde en Godvresende Suider-Afrika nie”; “ecumenical spirituality is a spirituality of encounter”. Laat ons in dié gees ’n proses begin om in Artikel 1 van ons Kerkorde, die drie ekumeniese belydenisse – Nicea, Athanasius en die Apostolicum – pertinent te vermeld. Dít is wie ons as NG Kerke is!

KYK OOK: Freddie Faul se verhaal

En, is daar besluit, laat ons die “Kerkverbandverslag van 2019” afstof en die afgebroke gesprek hervat. Waar is ons familie? Die ASM-Dagbestuur is opdrag gegee om saam met die tien sinodes ’n wye konsultasieproses te begin om teologies en vanuit ons gereformeerde belydenis oor die betekenis van kerkverband na te dink, uiteindelik ook oor veranderende werklikhede en strukture. Spesifiek: oor hoe ons onderlinge verbintenisse én ook in ’n algemene sinode, die lewe en roeping en getuienis van gemeentes dien.

Dit is tóé dat in ’n laaste sessie oor “wat ons huis toe neem”, dit daar van die Namibiese tafel af opgeklink het: “Ons is dankbaar dat ons hier ontvang en omarm is. Ons versugting is dat hierdie punt ’n jaar of twee terug al bereik kon gewees het. Nie om wenners of verloorders te hê nie, maar om saam verryk te kan word deur daardie Nicea-woord oor Wie God is, ‘homo-ousios’ (één in wese).” Ons sien Thijs van der Merwe, De Wet Strauss, Annalien Muller en Kenneth McKenzie daar by Johannes Maritz sit. “Vandag was om verskillende redes ’n baie emosionele dag”, sê hy toe ons groet. Die band tussen ons, is Christus, dink ek later. “Waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde,” eindig daardie Matteus 18-perikoop. Oor alle grense heen, ook die Kalahari en die Grootrivier en anderkant ’n pioniersplek wat eens “Liefdaad” genoem was. Ook dáár lui die belofte in die slotwoorde van die profesie: “Ek sal my Gees gee en julle sal leef. Ek sal julle tot rus bring op julle grond” (Eseg 37:14). ’n Lewende kerk in die land van die Namib.


Ds Jan Lubbe is voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen en predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top