Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Weet lidmate hoe om hulle geloof in Christus met ander te deel?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Cules Hammann van Pretoria skryf: Ek verwys graag na prof Nelus Niemandt se artikel onder die opskrif “Die Goeie Nuus: meer as ’n oorvloed stellings” in Kerkbode van 13 Mei 2022, waarin hy pleit vir ’n heeltemal ander benadering tot evangelisasie en die inruiming van eredienste.

Sy artikel volg op ’n reeks insiggewende artikels (Deel 1, Deel 2, Deel 3, Deel 4) deur lede van die Algemene Sinode se Werkgroep vir Evangelisasie. In hierdie reeks spreek die betrokkenes hulle kommer uit oor die stand van evangelisasie in die NG Kerk, in so ’n mate dat die sogenaamde “e-woord” ’n verleentheid geword het.

Lees ook: Om aan geestelike wonde te werk, is nooit te laat nie

Die skrywers van hierdie artikels is dit eens dat daar nuut oor evangelisasie gedink moet word, maar spreek feitlik deurgaans kritiek uit oor die nut of doel van kursusse of programme wat gelowiges toerus vir hulle roeping as gestuurdes.

Die een skrywer wys daarop “Christus red meer as net ons siel” – Hy stel dus belang in ons hele menswees – terwyl Niemandt hierby aansluit: “Verlossing moet betekenis hê vir die lewe en dit wat vandag gebeur, en nie net ’n antwoord wees op ‘waar gaan jy heen wanneer jy eendag sterf?’ nie.”

Hierdie bydraes volg op ’n hele aantal artikels deur kerkleiers oor die jare heen, onder andere deur die huidige moderator van die Algemene Sinode en die voormalige moderator van die Wes-Kaapse Sinode, waarin die vraag gevra word of die NG Kerk sy hart vir evangelisasie verloor het. Nogal skokkend dat kerkleiers sulke kritiese vrae oor die kern van die kerk se roeping moet vra!

LEES OOK: Die oogmerk van die NG Kerk se ‘droomscenario’

My ervaring is juis dat lidmate nie weet HOE om hulle geloof in Christus met ander te deel nie. Daarom is daar wel geskikte kursusse (of dan nou programme) waarin lidmate stap vir stap gelei word om met vrymoedigheid van hulle geloof in Christus hulle Verlosser te getuig. Hierdie kursusse het ’n sterk gereformeerde inslag en word reeds oor baie jare met vrug gebruik.

Die groot jammerte is dat ons as kerk steeds met die gewraakte e-woord sukkel, en dit ten spyte van duidelike riglyne wat die Algemene Sinode reeds in 2011 neergelê het. In hierdie duidelike ruglyne moedig die sinode onder meer lidmate aan om die waarheid van die verlossingsboodskap en die krag van ’n persoonlike getuienis oor hulle verlossing in elke situasie uit te leef.

Een van die skrywers van die reeks oor evangelisasie verwys daarna. Ek haal hom aan: “Tans wil dit voorkom asof hierdie proses oor ’n breë front binne gemeentes tot stilstand gekom het, ten spyte van voortreflike verslae wat in 2007 (‘Bediening aan kerklos lidmate en evangelisasie’) en 2011 (‘Gespreksdokument oor evangelisasie’) voor die Algemene Sinode gedien het.” Hy verwys ook na die Seisoen van Evangelisasie wat in die vooruitsig gestel is, maar niks opgelewer het nie.

My vraag is: In hoeveel gemeentes het hierdie besluit van die sinode en die gesprekke op die hoogste kerklike vlak die afgelope jare grondgevat? Terselfdertyd wil ek dankie sê vir gemeentes wat wel hulle lidmate toerus om teenoor mekaar en op die markplein van hulle geloof in Christus te getuig. Dit bly ons roeping en voorreg as gestuurde kerk.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top