Annette Potgieter

Gereformeerde jeug laat hoor hulle stem

Waar kry ek ’n genadige God?

Dié vraag wat 500 jaar gelede die Reformasie ontketen het, skemer telkemale in die temas rakende sosiale, ekonomiese en ekologiese geregtigheid van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se byeenkoms in Leipzig deur. Ek het die besonderse voorreg gehad om as ’n afgevaardigde vanuit die perspektief van die jeug hierdie geleentheid te kon meemaak.

Die jeug se voorafvergadering het die tema “Buen Vivir”, of “The good life.” Dis aanvanklik voor-die-hand-liggend dat almal ’n goeie lewe wil lei, maar dan word ons gekonfronteer met die term “Degrowth”. ’n Bewustheid om te protesteer teen die oorbenutting van hulpbronne. Om te protesteer teen ongeregtigheid teen die ekologie. Om te protesteer teen gierigheid wat armes marginaliseer. Die globale krisis van magsbehebdheid oftewel “Empire” noop ons as gereformeerdes opnuut om God se stem in die wêreld te verteenwoordig.

Die goeie lewe beteken ’n lewe wat strewe daarna om af te skaal met produksie en verbruik met die doelwit om deur middel van mededeelsaamheid ’n samelewing te kweek wat meer gelukkig en gesond is. Dis ’n lewe wat spruit uit die verstaan wat die beliggaming van Christus in die wêreld beteken. In ’n paneelbespreking in die Gereformeerde kerk in Leipzig bespreek ons moontlike maniere om sosiale-ekologiese-ekonomiese probleme aan te spreek, onder andere alternatiewe saambly-gemeenskappe wat ingestel is om kennis en hulpbronne te deel, om krities op politieke sisteme te wees en nie net te protesteer as ’n saak ons individuele behoeftes raak nie, maar om aan die geheel te dink en om nie kosse te benut wat skaars is in dele waar dit nie ekologies volop is nie.

As jeugafgevaardigdes stel ons ’n dokument op vir die algemene vergadering waarin ons protesteer. Vanuit Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Europa, Asië, Australië en die omliggende eilande, stem ons saam dat geregtigheid ’n fokuspunt in die kerk behoort te wees. Uit een mond, roep ons vir ’n kerk wat mense opvoed rakende die oordeelkundige benutting van hulpbronne, gesondheid, gesinsbeplanning en ’n fokus op ekologie. Ons vra dat ’n sosiale bewustheid gekweek word wat selfsugtige behoeftes vervang met ’n bewustheid vir sosiale welstand. Ons vra vir ’n hernieude soektog na identiteit en die de-kolonisasie van gekoloniseersde paradigmas. Ons vra dat die kerk vroue en mans gelyke kanse gun in die bediening en die stem van die jeug as ’n gelyke vennoot in die kerk sien.

Die WGGK het ons protes gehoor met die aanstelling van vyf jeugdiges in leierskapsposisies waarvan een ’n vise-president is. Die WGGK stuur ’n sterk boodskap uit dat die Gereformeerde familie omgee vir die toekoms, vir geregtigheid en die uitlewing van die beliggaming van Jesus Christus.

Die seëngroet tydens die erediens in Wittenberg bly my by: “Tussen my en jou sal God altyd wees.”

NGK sê nee vir staatsbeheer oor godsdiens

Die NG Kerk het haarself gedistansieer van voorstelle van die Kommissie vir die berskerming en bevordering van Kulturele, Godsdiens- en Taalregte wat sou neerkom op ’n vorm van staatsbeheer oor godsdienste. Dié voorstelle kom nadat die kommissie allerlei misbruike deur godsdienstige randgroepe ondersoek het. Die volledige verklaring van dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, lui soos volg:


Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (hierna NG Kerk) het kennis geneem van die Cultural, Religious, Linguistic (CRL)-kommissie se verslag oor die kommersialisering van godsdiens en die misbruik van mense se geloofsisteme. Die NG Kerk het geen keuse nie as om hulle te distansieer van die sleutelvoorstelle in die verslag. Ons het die voorstelle bestudeer vanuit die gesigspunt van die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede, wat onderskryf is en ondersteun word deur die meerderheid van Christelike denominasies en kerke, lede van die Joodse gemeenskap, die Moslemgemeenskap, die Hindoegemeenskap en verskeie tradisionele Afrika-godsdienste. Ons glo dat die voorstelle nie versoen kan word met die filosofie agter en die bepalings in die Handves nie.

FUNDAMENTELE SKUIF IN GODSDIENS-STAAT-VERHOUDING EN SKENDING VAN GODSDIENSVRYHEID

Ons belangrikste beswaar, wat uiteengesit word in ’n omvattende reaksie wat aan ons lede en ondertekenaars versprei is en aan die Parlement voorgelê is, is dat die voorstelle neerkom op staatsregulering van en staatsbeheer oor godsdiens, wat die volgende ernstige gevolge sal hê:

(a) Dit sal, eerstens, ’n fundamentele skuif veroorsaak weg van die bestaande samewerkingsverhouding tussen godsdiens en die staat na een van staatsbeheer oor godsdiens deur wetgewing.

(b) Tweedens sal staatsregulering en staatsbeheer oor godsdiens die reg tot vryheid van godsdiens skend wat in afdeling 15 van die Grondwet gewaarborg word.

In terme van die voorstelle sal alle godsdiensinstellings, sentrums van aanbidding en godsdiensbedienaars volgens wet verplig word om by staatsaangestelde liggame te registreer en aan staatsbepaalde vereistes te voldoen. Nie-voldoening kan daartoe lei dat iemand se registrasie geskrap word. Verskeie sogenaamde sambreel- en oorsigliggame verteenwoordigend van godsdienste, spesifieke godsdienste en denominasies sal deur die staat aangestel en beheer word, en sal optree in terme van die wet wat hulle magte en funksies bepaal. Die CRL-Regskommissie sal die finale gesag wees oor alle godsdiensaangeleenthede. Dit kom neer op ’n stelsel van staatsregulering en staatsbeheer oor godsdiens, wat die samewerkingsmodel van godsdiens-staat-verhoudings sal omkeer en die reg tot godsdiensvryheid soos gewaarborg in afdeling 15 van die Grondwet op ’n ongrondwetlike manier sal skend.

DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK BETREUR EN BEROU MISBRUIKE

Volgens die verslag, het die voorstelle ontstaan uit koerantberigte en klagtes by die CRL-Regskommissie, asook die daaropvolgende ondersoek deur die kommissie na vergrype wat in sekere godsdiensinstellings plaasgevind het. Die NG Kerk betreur en berou baie ernstig enige voorvalle van misbruik in die naam van godsdiens. Enige persoon of instelling wat skadelike of onwettige optredes in die naam van godsdiens pleeg, misbruik godsdiensvryheid en handel nie onder die beskerming van die Handves nie. Die NG Kerk skaar hulle by die CRL-Regskommissie in die veroordeling van sulke vergrype en in die soeke na behoorlike maniere om dit te elimineer uit die godsdienspraktyk in Suid-Afrika. Verder behoort godsdiensinstellings wat nie voldoen aan aanvaarbare wettige vereistes en norme nie, opgevoed te word in hulle burgerlike verantwoordelikhede, en maniere moet gevind word om die wet meer effektief af te dwing.

STAATSREGULERING EN -BEHEER IS NIE DIE ANTWOORD NIE

Tog beklemtoon ons dat, hoe laakbaar die misbruike deur sommige godsdiensbedienaars wat deur die kommissie ontdek is, ook al mag wees, hulle effektief hanteer kan word deur die reeks regsmiddele wat beskikbaar is in die goedontwikkelde, gevestigde en gerespekteerde Suid-Afrikaanse regstelsel. Staatsregulering en -beheer van godsdiens is nie die geskikte manier om sulke misbruike te beveg nie. Die reg op godsdiensvryheid is ’n fundamentele en gekoesterde reg in ’n oop en demokratiese gemeenskap, wat nie opgeoffer mag word ter wille van aksie teen die misbruike wat deur ’n skynbaar klein minderheid godsdiensbeoefenaars gepleeg word nie. Dit sal godsdiensvryheid vernietig, juis dié reg wat die kommissie voorgee om deur hierdie voorstelle te beskerm.

DIE BESTAANDE REGSRAAMWERK IS VOLDOENDE

Ter regverdiging van die voorstelle vir nuwe wetgewing om godsdiens te reguleer, voer die verslag aan dat bestaande wetgewing óf nie die kwessies effektief aanspreek nie, óf dat godsdiensinstellings nie die toepaslike wetgewing gehoorsaam nie, óf dat bestaande wetgewing nie behoorlik afgedwing word nie. Hierdie argument is foutief en is gebaseer op ’n verkeerde interpretasie van die wet. Die bestaande regsraamwerk is inderdaad voldoende om die saak effektief aan te spreek. Die aktiwiteite van godsdiensinstellings word alreeds aan verskeie wette onderwerp, wat net waar nodig nougeset afgedwing moet word. Nuwe wetgewing om hierdie beweerde tekortkomings aan te spreek, wat die effek sal hê dat dit godsdiens kontroleer en godsdiensvryheid op ’n ongrondwetlike manier skend, is nie die toepaslike voertuig om die misbruike te beveg wat in die verslag genoem word nie. Dan hang die erkenning van ’n fundamentele mensereg af van die staat se vermoë of gewilligheid om sy wetlike verpligtinge na te kom.

TEENSTRYDIGHEID MET AFDELING 185 VAN DIE GRONDWET

Ons tweede beswaar is dat die voorstelle afhang van die toekenning van omvattende afdwingingsmagte aan die CRL-Regskommissie as die sogenaamde finale gesag oor alle godsdienskwessies. Volgens afdeling 185 van die Grondwet is die kommissie egter ’n raadgewende liggaam ten opsigte van die regte van kulturele, godsdiens- en taalgemeenskappe. Nêrens in afdeling 185 word die kommissie bemagtig om ’n regulatoriese of afdwingingsliggaam te wees nie. Afdeling 185 maak nie voorsiening vir die fundamentele skuif in die kommissie se status en magte wat deur die voorstelle geïmpliseer word nie. Die wet wat die werk van die kommissie reguleer, Wet 19 van 2002, is onderhewig aan afdeling 185, en kan nie op ’n wettige wyse gewysig word om magte van afdwinging aan die kommissie oor te dra sonder om die Grondwet te beïnvloed nie.

Om hierdie magte aan die kommissie oor te dra sou dan (op die heel minste) ’n wysiging aan Wet 19 van 2002 verg, sowel as aan afdeling 185. So ’n wysiging sou dan óf die CRL-Regskommissie uit die kader van Hoofstuk 9-instellings haal, óf dit sou impliseer dat ’n Hoofstuk 9-instelling uitvoerende gesag aanvaar, wat teenstrydig sou wees met die gevestigde aard van die kommissie as ’n raadgewende liggaam. Om aan die CRL-Regskommissie die beslissende en finale gesag ten opsigte van godsdienskwessies toe te ken is strydig met die Grondwet, en sal ongrondwetlik en ongeldig wees as dit geïmplementeer word. Om hierdie rede moet die voorstelle deur die CRL-Regskommissie ook misluk.

GEVOLGTREKKING

Verpligte registrasie van godsdiensinstellings, sentrums van aanbidding en godsdiensbedienaars, wat godsdiensorganisasies en ander liggame voorskryf waaraan godsdiensinstellings verplig sal wees om te behoort en wat die CRL-Regskommissie sal adviseer oor godsdienssake, asook ’n staatskommissie as finale gesag oor alle godsdienskwessies, is duidelik in konflik met die gevestigde benadering tot die verhouding tussen en staat en godsdiens in Suid-Afrika. Meer nog, dit kom ooglopend in konflik met die reg tot godsdiensvryheid in afdeling 15 van die Grondwet, wat die reg insluit om in bepaalde geloofsartikels te glo en dit te beoefen, om te kies om aan te sluit by godsdiensinstellings, om vryelik godsdiensinstellings te vestig en organiseer met onafhanklike jurisdiksie oor leersake en interne aangeleenthede. Godsdiensvryheid beteken nie dat godsdiensinstellings bo die reg verhewe is nie: Soos alle liggame van die burgerlike samelewing funksioneer hulle binne die regverdige en billike grense wat deur die reg vasgestel word. Die staat het egter die verantwoordelikheid om ’n omgewing te skep wat die vrye beoefening van die reg tot godsdiensvryheid bevorder en godsdiensinstellings nie onnodig reguleer of belas nie. Die voorstelle van die CRL-kommissie sal nie alleen onnodige laste op godsdiens lê nie, ook finansieel: Dit sal die vrye beoefening van godsdiens tot ’n ondraaglike vlak beperk.

As ’n grondwetlike liggaam het die CRL-Regskommissie ’n invloedryke rol om te speel in die beskerming en bevordering van die regte van godsdienstige gemeenskappe. Die rol wat egter deur die Grondwet in die vooruitsig gestel is, is om by te staan, te ondersteun en raad te gee, en nie om godsdiens te beheer nie. Van die kant van die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede, sien ons uit na ’n verhouding van wedersydse bevoordeling met die kommissie op die basis van die rol wat die Grondwet in die vooruitsig gestel het. Om dié rede moet die verslag van die kommissie nie voortgaan nie.

Homo sapiens het korrupte verhouding met Skepping

Tiaan Boshoff van Grootbrakrivier skryf:

Vuurstorms het in Knysna plaasgevind, soortgelyke brande met groot lewensverlies in Australië, Portugal, Amerika en in Rusland. Waarom?

Pool-ys smelt en miljoene ton metaangas wat in die ys vasgevang was, word in die atmosfeer losgelaat, baie meer as wat die totale mensdom met sy grypsug tot dusver in sy bestaan kon vervaardig. Waarom?

Kan ons as denkende gelowiges nie maar die gewaande strydbyl tussen wetenskaplikes en Christene begrawe nie? Vir ons voortbestaan op planeet aarde het ons mekaar onsettend nodig. Ons rigtingaanwyser, die Bybel, maak dit baie duidelik dat net jou verhouding met God, met jou medemens, asook jou verhouding met Sy skepping belangrik is. Kerke en geloofsgemeenskappe spandeer 99% van hul aktiwiteite aan eersgenoemde twee verhoudings.

Die Groot Gebod noem nie net dié twee nie. Gaan lees weer, die teks eindig met: “soos jouself”. Kan jy jou naaste liefhê as jy jouself, jou totale menswees, ingesluit jou volhoubare harmonieuse voortbestaan in en met die skepping, nie liefhet nie?

Kyk na die heel eerste opdrag. Genesis 1:28 gaan duidelik oor ons verhouding met die skepping. As hierdie verhouding misluk, kan daar geen volhoubare verhouding met jou medemens wees nie. Wat doen ons in ons alledaagse lewe, asook in ons geestelike gemeenskappe om die oorsaak vir die stelselmatige vernietiging van die Skepping te identifiseer en te probeer omkeer? Bid? Dit spreek vanself. Lig ons onsself uit ons warm gebroeide kerkbanke om beskikbaar te wees as instrumente in Sy hande? Wat doen ons om die oorsaak van alle soorte besoedeling, water en voedsel tekorte, aardverwarming, werkloosheid, renosterstropery, plaasaanvalle, roofmynbou, vandalisme, en dies meer te identifiseer?

Natuurlik is daar baie mense wat daagliks uitstekende werk doen vir die oplossing van elk van dié afsonderlike probleme. Ongelukkig word elke probleem op sy eie hanteer.

Staan ons egter terug en sien bogemelde probleme as ’n geheel, spring Genesis 1:28 na vore, ’n gelowiges se heel eerste opdrag. “Vul die aarde en heers” (bestuur). Ons het tot dusver net die aarde gevul, tot oorlopens toe gevul. Van bestuur (heers) het niks gekom nie.

Tyd vir die versuikerde leuens (politieke korrektheid) is vinnig aan die verbygaan. Ons, wêredwyd, is bloot te veel mense vir planeet aarde. Elk van bogenoemde probleme is aanmekaar verweef. Ons getalle neem eksponensieël toe, daarmee ook elk van genoemde probleme. ’n Simplistiese voorbeeld: minder mense sou ’n mindere koolstofvoetspoor hê, aardverwarming sou ’n kleiner effek hê, brande sou beheer kon word, pool-ys sou nie smelt nie, metaangas sou in die ys vasgevang gebly het.

Het dit nie tyd geword dat Christene en Christenwetenskapikes wêrelwyd help om die probleem van oorbevolking op kerklike en regeringsforums te pak nie? Noudat ons wêreldwye verteenwoordiging op kerklike forums het, kan ons asseblief wegkom van die versuikerde leuen?

Vriend, sien in jou geestesoog ’n driebeenpotjie op ’n kampvuur, waarvan twee pote 99% langer as die derde een is. So ’n pot kan nie staan nie, dit het omgeval, jou kos lê in die as, oneetbaar, jy gaan honger ly, tensy …

Kerke vind mekaar oor regverdigingsleer

Delft (Nederland). – Ná 500 jaar het gereformeerdes en Rooms-Katolieke eindelik die strydbyl oor die regverdigingsleer begrawe.

Dit het gebeur tydens ’n indrukwekkende, hoogs simboliese erediens op Woensdagoggend 5 Julie in die stadskerk in Wittenberg, dieselfde stad waar die vader van die Hervorming, Martin Luther, sy 95 stellings op 31 Oktober 1517 teen die deur vasgespyker het.

Reeds in 1999 het die Vatikaan en die Lutherse kerke ’n verklaring onderteken waarin die geskil oor die regverdigingsleer uit die weg geruim word. Sedertdien het die Metodiste bygekom en nou het die WGGK hom nou hierby aangesluit.

Die diens in die Wittenbergse Kerk was die hoogtepunt van die WGGK se sewejaarlikse Algemene Vergadering wat vanjaar in Leipzig gehou word. Die WGGK verteenwoordig 225 kerkgenootskappe en sowat 80 miljoen Christene wêreldwyd.

Die Algemene Vergadering is ook toegespreek deur die Duitse seremoniële president, Frank-Walter Steinmeier, lidmaat van ’n konserwatiewe Duitse gereformeerde kerkgenootskap.

Die regverdigingsleer was die sentrale punt waarop Luther destyds van die Katolieke weggebreek het. Sy oortuiging was dat ’n mens slegs deur geloof en Christus se genade gered word, pleks van deur aflate te koop en goeie werke te doen, soos die Katolieke geglo het.

Gesprekke tussen Katolieke en Protestantse teoloë vind al sedert die vroeë jare sewentig plaas.

In die gesamentlike Lutherse en Katolieke verklaring wat die grootste Gereformeerde liggaam nou ook onderteken het, word gewag gemaak van ’n “welkome mate van samestroming oor die regverdigingsleer”, en dat die “historiese leerverskille … ons nie langer skei nie”. Albei verbind hulle tot ’n “konsensus oor die grondwaarhede van die regverdigingsleer”.

In die verklaring staan uitdruklik: “Die geregverdigde leef vanuit die geloof wat uit die Woord van God kom en in die liefde werk wat die vrug van die Gees is.” En: “Gemeenskaplik bely ons: Alleen uit genade in die geloof aan die heilsdaad van Christus, nie op grond van ons verdienste nie, word ons deur God aangeneem en ontvang ons die Heilige Gees, wat ons hart vernuwe en ons tot goeie werke oproep.”

In sy eie verklaring herbevestig die WGGK dat die mens slegs deur geloof geregverdig kan word. Die WGGK stem saam met die Lutherane en Katolieke dat die regverdigingsleer ’n “sentrale plek in die essensiële leerstellings van die Christelike geloof het”.

Hiermee is ’n wesenlike teologiese verskil tussen Protestante en Rooms-Katolieke uit die weg geruim deurdat laasgenoemdes in wese die Protestantse oortuiging oor die regverdigingsleer aanvaar het.

Uitspraak oor godsdiens by skole laat geen spanning

Dr Gustav Claaassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, skryf in ’n brief aan die kerk se predikante dat daar vanuit ʼn kerklike oogpunt gesien geen spanning ten opsigte van die uitspraak is nie. Hier is die volledige teks van sy skrywe:


Beste kollega

Die afgelope week of twee het die kerk kennis geneem van die CRL se reaksie op onder meer die NG Kerk se kommentaar op die regulering van godsdiens. Die NG Kerk het reeds daarop gereageer en ʼn artikel in Rapport van 2 Julie het berig dat die regulering van godsdiens baie sterk teengestaan sal word. Die NG Kerk se reaksie doen ʼn baie sterk beroep op die vryheid van godsdiens soos in die Grondwet verskans.

Die hofuitspraak rondom godsdiens op skole is ook bekendgemaak. Ek deel graag met jou ʼn perspektief of twee op hierdie uitspraak.

UITSPRAAK OOR GODSDIENS OP SKOLE

In die media is daar die afgelope week kennis geneem van ʼn belangrike hofuitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof oor godsdiens in skole. Uitspraak is gelewer deur regter Willem van der Linde in die saak OGOD (Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie) versus ses skole. Die beheerliggame van hierdie ses skole is almal lid van FEDSAS, wat die skole in die hofsaak bygestaan het. Dié belangrike toetssaak het sy oorsprong in 2014 toe die applikant OGOD die hof versoek het om dit ongrondwetlik te verklaar dat sekere godsdienspraktyke in skole voorkeur bo ander geniet.

Die hof het sy ondersoek op drie vrae gerig. Die eerste het betrekking op sy bevindings of ʼn skool ʼn spesifieke godsdiens ten koste van ander kan bevorder. Die tweede saak aan die orde was of ʼn openbare skool self godsdiensbeoefening kan uitvoer en of dit slegs deur buitepartye op die skole se perseel gedoen mag word. Die derde vraag was of leerders gevra kan word met watter geloof, indien enige, hulle hulle vereenselwig. Die tweede en derde vraag is albei in die skole se guns beantwoord.

Berigte in die media interpreteer die uitspraak wat gelewer is as ʼn oorwinning vir OGOD. So ʼn interpretasie verteenwoordig egter nie die inhoud van die hofuitspraak behoorlik nie. OGOD se hofaansoek het 77 bevele teen ses skole aangevra en slegs twee van hierdie bevele is toegestaan. Die hofuitspraak bevestig in werklikheid die feit dat ʼn openbare skool behoort aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Dit bevestig dat die skool se beheerliggaam verteenwoordigend van die breër skoolgemeenskap is en dat hulle ooreenkomstig die Grondwet (Artikel 15b) en die Skolewet (Artikel 7) die gesag het om besluite te neem ten opsigte van belangrike aspekte soos ʼn skool se taal- en toelatingsbeleid en hoe godsdiens by die skool beoefen word. Dié belangrike aspek van die gesag van ʼn skool se beheerliggaam as liggaam wat ʼn skool namens die onmiddellike skoolgemeenskap bestuur, word deurentyd in die uitspraak bevestig. Die hof bevestig verder dat die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys nie afdwingbare reëls daarstel nie, maar eerder ʼn belangrike dokument is wat riglyne oor godsdiens in onderwys verskaf.

Die Applikant mag nie die gedrag van die skole teen die Grondwet of teen die Skolewet uitdaag nie; dit mag dit net uitoefen teen die skool se eie reëls vir die uitvoering van godsdienstige oefeninge. ʼn Openbare skool mag nie die nakoming van ʼn enkele godsdiens bevorder nie. Die maak van beleid ten opsigte van die gedrag van godsdiensbeoefening by ʼn skool bly egter die reg en verantwoordelikheid van elke individuele skool se beheerraad. Die skool sal wettig optree solank sy godsdienstige nakoming met reëls van sy beheerraad ooreenstem.

Die NG Kerk het nog altyd van die standpunt uitgegaan dat die Godsdiensbeleid en -beoefening by openbare skole op ʼn billike, gelyke en vrywillige grondslag geskied. Hierdie beginsel word baie duidelik verwoord in die Skolewet na aanleiding van die Grondwet. Die NG Kerk was van die begin af ten gunste van vrywillige godsdiensbeoefening. Vanuit ʼn kerklike oogpunt gesien, is daar dus geen spanning ten opsigte van die uitspraak nie.

FEDSAS het die totale verwydering van enige vorm van godsdiensbeoefening vanaf die skoolterrein teengestaan. Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nie soortgelyk aan die Amerikaanse model van ʼn waterdigte skeiding tussen kerk en staat nie, maar lê klem op verdraagsaamheid en diversiteit. Hierdeur het die hof die plek van godsdiens in die publieke sfeer bevestig.

Dit is die mening van regskenners dat die hof se motivering vir die toekenning van deeltydse verligting aan die applikant verrassend dun is. FEDSAS het reeds te kenne gegee dat die uitspraak bestudeer sal word en dat verdere regsprosesse nie uitgesluit is nie.

Vriendelike groete uit Leipzig

Gustav Claassen

Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk

Gereformeerde jeug kom byeen in Leipzig

Leipzig. – “90 miljoen mense – dit is jóú kerk-familie …”

Dit was die woorde van Chris Ferguson, die algemene sekretaris van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, aan sowat honderd gereformeerde jongmense by ʼn jeugbyeenkoms voor die Wêreldgemeenskap se 26ste Algemene Vergadering  van 29 Junie tot 7 Julie in Leipzig.

Die doel van die byeenkoms was vir jongmense van regoor die wêreld om na te dink oor die tema “Lewende God, hernuwe en verander ons”. Dit is ook die tema van die Algemene Vergadering. Dié jongmense, tussen die ouderdom van 18 en 30, is spesifiek afgevaardig om sodoende jonger mense in die samelewing se stemme te laat hoor.

Die afgevaardigdes het temas van geregtigheid vir die aarde, sosiale transformasie en ander plaaslike sowel as globale uitdagings aangepak deur gesprekke te voer, musiek saam te maak, te dans en poësie te skryf.

Daar is ook sterk klem gelê daarop om ekumeniese bande te versterk op die mees organiese vlak, naamlik vriendskappe wat oor kulturele grense strek.

Raissa Brasil, van die Verenigde Presbiteriaanse Kerk van Brasilië, het gesê dat die jongmense van haar kerk wíl betrokke raak in die samelewing en in hulle gemeente. Sy sê dat dit vir haar baie beteken het om die uitdagings van haar eie gemeenskap te kan deel met ander jongmense wat haar dan help om nuwe insigte te kry.

Febrima Yuliana Moulaka van Indonesië, is ook oortuig dat die jeug ʼn baie positiewe bydrae sal lewer in die jaar se vergadering.

Vir Jolanda Boelens van die Verenigde Protestantse Kerk in België, was dit ʼn besonderse ervaring om saam met ʼn klomp verskillende kulture te bid, al verstaan sy nie almal se tale nie.

’n Groen sinode

Een van die kenmerke van 2017 se Vrystaatse sinode is die groen voetspoor daarvan. Van meet af is beplan om die ekologiese impak van die sinode so lig as moontlik te maak.

Anders as met vorige sinodes is plastiekwaterbotteltjies glad nie gebruik nie. Elke sinodeganger en besoeker het ’n glasbottel gekry wat hervul kon word by verskeie waterpunte in die sinodesaal. Die bottels en waterpunte behoort aan die sinode.

Dr. Carin van Schalkwyk, skriba van die sinode, sê dis reeds gebruik in die sinodekantoor dat plastiek tot die minimum beperk word. “Een van die fokusareas van die Vrystaatse sinode die laaste vier jaar was die ekologie, so dis vanselfsprekend dat ons sensitief moes wees daarvoor.”

Die groot hoeveelheid afvalpapier wat tydens so ’n vergadering genereer word, word herwin. Agendas is so ver moontlik elektronies versprei en vir die eerste keer sal die Handelinge van die sinode net elektronies beskikbaar wees tensy iemand spesifiek een bestel.

Bothaville se gemeentes het die etes vir die week voorsien. Hulle is versoek om so ver moontlik voedsel uit die plaaslike omgewing te gebruik, voedsel wat in seisoen is en waar moontlik vars produkte om die voetspoor van vervoer en vervaardiging te beperk.

Afgevaardigdes is ook aangemoedig om met so min voertuie as moontlik na die vergadering te kom. So is daar ook geld gespaar.

Vrystaatse NG Kerk help oral

Een van Rosenhof-meisieskool in Bloemfontein se koshuise het die Dinsdagaand van die Vrystaatse sinodesitting (13 Junie 2017) afgebrand. Byna 50 meisies moes inderhaas ontruim word en verskeie leerders het alles verloor. Groot skade is aan die gebou aangerig en hulle moes dringend in ander geboue gehuisves word.

Die volgende dag onderneem Torings van Hoop in die sinode om saam met Anchors of Hope te sorg vir klere vir die meisies. Ds Willem Botha van Engo (voorheen NG Maatskaplike Dienste) staan op en gee van hul kant af R10 000. Die vergadering besluit om Donderdagoggend ’n kollekte op te neem vir die meisies waarna ds Theo Oosthuyzen van Senekal en dr Leon Foot vanaf die Raad vir die Eenheid vir Ondersteu­ning onderneem om die kollekte aan te vul tot R50 000.

’n Kerk wat ’n verskil maak daar waar dit is. Dit is waarmee dag vier van die Vry­staatse sinodesitting in Bothaville afgeskop het: gesprekke oor die verskil wat die kerk kan en moet maak in die konteks waar dit is. Die tema het inderdaad ’n paar keer gedurende die dag na vore gekom in besluite, gebeure en stories van hoop.

Een so ’n storie van hoop is die van dr Carin van Schalkwyk se tuisgemeente Philippolis. Sy het bewus geraak dat die ontsettende sterftesyfer in die distrik baie kinders gebroke agterlaat. Gemeentedames is gevra om teddiebere te brei vir hierdie kinders om vertroosting te bied en ’n tikkie hoop te bring.

Die beertjies het gelei tot verhoudings wat op natuurlike wyse ontwikkel het tussen dames wat kon brei en kinders wat troos nodig gehad het. Hierdie kinders het grootgeword en die verhoudings het saam gegroei. Teen hierdie tyd het dieselfde verhou­dings dit moontlik gemaak vir sommige van hierdie kinders om te studeer.

Die vergadering het ook ’n besluit goedgekeur om op ’n manier uit te reik na die ge­meenskap van Knysna en omgewing: Uit ’n oorskot van die sinodale bufferfonds skenk die Vrystaatse gemeentes R1 000 000 aan die rampfonds van die NG Kerk in Suid-Afrika om te help met die bestuur en herstel van die ramp daar.

Ander sulke stories sluit in die rol wat die kerk gespeel het tydens die lang voortsle­pende droogte om water te help voorsien in dorpe wat opgedroog het, die ekume­niese ver­houdings wat gebou is en die groot werk wat die Vennote in Getuienis en die Bybel­ge­­nootskap oor verslag gelewer het.

It’s Time Centurion

Johan du Toit van die NG gemeente Sesmylspruit skryf:

’n Groepie gemeentelede wat die It’s Time-gebedsbyeenkoms op 22 April 2017 te Bloemfontein bygewoon het, voel geroepe om die gebedsaksie in Centurion voort te sit. Ons glo dat die Here Jesus ’n verandering kan bring in die toestand waarin ons land verkeer. Ons wil die Here Jesus  vra om die harte van ons mense aan te raak en te verander tot Sy eer en tot die  uitbreiding van sy Koninkryk.

Die plan is om ’n deurlopende gebedsaksie van stapel  te stuur waar volgelinge van die Here Jesus Christus oor kerk–  en kultuurgrense heen van tyd tot tyd vergader om saam te bid.    

Die kerkraad van ons gemeente het besluit om die aksie te ondersteun en die kerkperseel van die gemeente vir hierdie doel beskikbaar te stel. Die inspirasie vir hierdie aksie kom uit  Jakobus 5:13–19.

Die groepie gemeentelede het op 15 Mei 2017 vergader  en het onder die leiding van die Heilige Gees besluit om ‘n gebedsbyeenkoms te reël in die kerkgebou van die Sesmylspruit gemeente op Saterdag 24 Junie 2017. Die aksie sal ‘n aanvang neem om 10h00 en sal bestaan uit lofprysing en gesamentlike gebed.

Belangstellendes word hartlik uitgenooi om dit by te woon.

Vrystaat wil veilige gesprekke oor SGV hou

Die NG Kerk in die Vrystaat staan by die buitengewone Algemene Sinode van 2016 se besluite oor selfdegeslagverhoudinge, maar wil veilige ruimtes skep waarbinne die saak verder bespreek kan word.

Daardeur wil die Vrystaat eenheid binne die sinode bevorder, pleks van die verdeeldheid wat debatte tot dusver gebring het.

By die sinode was die verwagting dat lang uitgerekte debatte gevoer sou word oor verskeie aspekte van selfdegeslagverhoudings. Dít nadat die onderwerp nie net in verslae opgeduik het nie, maar ook die onderwerp was van verskeie beskrywingspunte wat ingedien is by die sinode.

Eerder as die lang ongemaklike debatte en hewige argumente het die sinode egter ’n besluit goedgekeur om eers te besin oor die wyse waarop sulke verdelende kwessies bespreek kan word. Terwyl die gesprekke nie opgehef word nie sal daar nou eers besin word oor die manier waarop die kerk dit voer om te probeer voorkom dat argumente lei tot verdere verdeling en polarisasie.

Dit was egter nie die inhoud van die besluit wat gesorg het vir die grootste verrassing nie, maar eerder die gesindheid wat geheers het ten tye daarvan. Na die neem van die besluit het die sinode kennis geneem van die groot seer wat die laaste paar jaar se prosesse in baie betrokkenes se lewens veroorsaak het. ’n Duidelik emosioneel gelade sinode het ’n oomblik van stilte en gebed gehandhaaf vir medegelowiges aan alle kante van die kwessie wat baie seer gekry het: ’n oomblik wat vir baie sinodegangers onverwags en baie kosbaar was.

Die uitdaging lê natuurlik nou voor vir die kerk om te kyk of daar met iets daadwerkliks vorendag gekom kan word wat wesenlik anders sal verloop as die laaste paar jare se pogings.

Die tweede onderwerp wat gesprek ontlok het is die van die kuratorium, die Teologiese fakulteit en teologiese studies. Die gereformeerdheid, al dan nie, van teologiese opleiding aan die UV het gesorg vir ’n warm debat waarin daar ook meningsverskille uitgespreek is oor die kwaliteit daarvan.

Ten spyte hiervan was prof. Fanie Snyman, dekaan van die fakulteit Teologie opgewonde oor die ongelooflike erns wat die Vrystaatse kerk maak met teologiese opleiding soos daar, volgens hom, weer gesien kon word uit die gesprek. Hy reken verder dat die NG Kerk, veral die Algemene Kuratorium, besig is om homself goed te posisioneer ten opsigte van teologiese opleiding in ’n veranderende wêreld.

Vroeër in die dag is die nuwe getal ringe in die Vrystaatse kerk bevestig as vyftien ringe, ‘n proses wat vir baie meer gesprekke en skommelinge gesorg het as wat verwag is. Dit gee nou geleentheid vir ringe om meer ondersteuning te bied aan gemeentes wat dit benodig, terwyl daar steeds vrese by sommige predikante bestaan dat dit die funksionering van ringe kan bemoeilik.

– Die volledige besluit oor selfdegeslagverhoudinge lui:

  1. Die Sinode volstaan by die 2016 Sinodebesluite oor selfdegeslagverhoudings;
  2. Om ’n taakspan saam te stel om die Moderamen te bedien met ’n prosesvoorstel waarin voorstelle gemaak word vir ’n wye gesprek in die kerk (gemeentes, Ringe en die komende Sinode) oor ons verstaan van God, mensebeskouing en verhoudinge, waarin daar veral ook gefokus word op seksualiteit en selfdegeslagverhoudinge;
  3. Die prosesvoorstel moet handel oor die skep van waardes vir hierdie gesprek ten einde veilige ruimtes te skep waarbinne ons na die Woord, mekaar en ander kan luister;
  4. Die taakspan moet inklusief saamgestel word, wat ook kundiges op ander terreine as die teologie insluit;
  5. Indien die moderamen die taakspan se prosesvoorstel aanvaar, implementeer hulle hierdie voorstelle op geloofsonderskeidende wyse ten einde ’n kultuur te ontwikkel waar gespreksgenote gehelp word om te soek na dit wat ons bymekaar hou eerder as wat ons verdeel.

Sinode wil las op gemeentes verlig

Gereformeerd en pragmaties. Dis hoe die Vrystaatse NG Kerk daarna uitsien op die tweede dag van die huidige Vrystaatse Sinode. Na 500 jaar van reformasie het die kerk baie om te vier en oor na te dink, maar die praktiese werk wat gedoen moet word is baie.

Dr. Carin van Schalkwyk van Philippolis, herverkose skriba van die sinode, reken die grootste werk van die kerk in die Vrystaat is om werklik kerk te wees, betrokke in hul eie konteks en wyer in hul gemeenskap. Om daar te wees waar die mense regtig is en om saam die lewe daar te deel. Dr. Riaan van Zyl van Bethlehem-Wes is verkies tot ondervoorsitter.

Effektiewe kerkwees het egter baie praktiese uitdagings. Dit was duidelik uit Maandag se sakelys. Een van die sake wat onder bespreking was is die herverdeling van ringe, wat implikasies het vir sinodale verteenwoordiging sowel as die samewerking van gemeentes. Daar is lank geswoeg om die getal ringe te verminder en tot dusver is die ringe herverdeel in 15 ringe in plaas van 21. Die proses duur egter voort en ‘n finale besluit daaroor word beplan vir vandag (Dinsdag, 13 Junie).

Finansiële sake was ook op die tafel waar veral die kwessie van gemeentes se sinodale bydraes onder (soms driftige) bespreking was. Die finansiële druk waaronder lidmate gebuk gaan lei tot toenemende druk op gemeentes om maniere te kry om die boeke te laat klop. Die sinode het uiteindelik ‘n besluit goedgekeur wat sal poog om die gemeentes se bydraes tot die sinode oor die volgende vier jaar te verminder met soveel as 30%. Alhoewel dit gemeentes kan help is dit nie noodwendig goeie nuus vir sinodale bedienings en afhanklikes nie.

Dit is duidelik dat gemeentes die druk voel van die laaste paar jaar se droogte asook die skommelinge in die kerk sowel as in die land. Ten spyte daarvan bly die gemoed positief en lyk dit of die sinode gangers die uitdagings met ’n eg Vrystaatse vasbeslotenheid gaan aanpak.

Reaksie: Kerk en Hof

Frits Gaum van Glentana skryf:

’n Paar opmerkings oor dr Chris van Wyk se brief in Kerkbode van 2 Junie 2017.

  • Dr Van Wyk meen verkeerdelik dat ek nie verlede jaar op die voorgeskrewe kerklike manier by die Buitengewone Algemene Sinode (BAS) van my laat hoor het nie. As dr Van Wyk ’n bietjie moeite doen en deur sy sinodestukke blaai, sal hy afkom op my en my vrou, Henda, se voorlegging. Dit was maar een van talryke voorstelle/beskrywingspunte/versoeke die afgelope dekade en langer via die verskillende kerklike kanale om die gay-saak op die sinodes se tafels te kry en dit daar te hou.
  • Dr Van Wyk skryf dat ek en ander die afgelope jaar “dreig” om die kerk hof toe te neem. Hy vergeet dat die kerk maande lank verkeerde regsadvies (let wel!) gevolg het, die Algemene Sinode van 2015 se besluite foutiewelik opgeskort het (wat die moderamen later erken het), appèlle teen die besluite wederregtelik toegelaat het en skromelik versuim het om die 2015-besluite in werking te stel. Die kerk is toe daarop gewys dat die kerklike kanale uitgeput is en, ten einde regsekerheid te kry, die hof genader behoort te word. Sommige lede van die moderamen het saamgestem dat dit al uitweg is. Dit is toe nie in daardie stadium gedoen nie, maar die BAS se hantering van die appèlle verlede jaar het die moontlikheid om die hof te nader, weer vierkantig op die agenda geplaas.
  • Gepraat van die korrekte kerklike kanale. Was die hoogs omstrede “geslote” (sommige noem dit “geheime”) vergadering in Junie 2016 waartydens klaarblyklik stemming gemaak is teen die 2015-besluite, die korrekte kerklike weg om te volg? Dr Van Wyk was volgens berigte die voorsitter van dié vergadering en dit is bygewoon deur sewe van die tien streekmoderators.
  • Dr Van Wyk het beswaar teen die plasing van my artikel in Kerkbode van 19 Mei. Hy reken die redakteur moes dit nie geplaas het nie. Maar dr Van Wyk, dis bloot goeie joernalistiek om ruimte te gee dat verskillende kante van ’n saak in die kerkkoerant (of in enige koerant) gestel word. Die redakteur doen dit nougeset. Daarom gee hy vir my kans, en ook vir jou.
  • Dr Van Wyk sluit sy brief af met ’n interessante sinnetjie: “Dit (gebruikmaking van die kerklike kanale) is hoe dit hoort tussen kinders van die Here”. Nou wonder ek: Hoort dit tussen kinders van die Here dat sommige van hulle ’n streep trek deur besluite wat die menswaardigheid van ander kinders van die Here in elke opsig erken? Dis wat nou gebeur het. Ek glo nie, dr Van Wyk. Ek glo nie.

‘n Groter roeping

“Vrygemaak om ligdraers te wees hier vir God, mekaar en die wêreld”.

So lui die tema van die 53ste vergadering van die Sinode van die NG Kerk in die Vrystaat. Vanjaar se vergadering val saam met die 500 jaar herdenking van die reformasie en dink saam oor waarvan die reformasie gelowiges vrygemaak het asook waartoe dit hul vrygemaak het.

Sinodegangers maak hulle reg vir vier vol dae, met heelwat sake op die agenda wat beloof om nie vir die maklikste vergaderings te sorg nie. Sake soos skrifbeskouing en selfdegeslagverhoudings het die laaste vier jaar vir heelwat kopkrap gesorg in die NG Kerk en daar is by die sinode ook verskeie opinies daaroor.

Dr. Pieter van Jaarsveld van Bothaville wat verkies is as nuwe voorsitter van die vergadering en dus as moderator van die Vrystaatse NG Kerk, reken dis juis hier waar die sinode ’n kans het om werklik spesiaal te wees.

“Daar is geweldige skade in vertroue aangerig die laaste vier jaar wat gelei het tot polarisasie.”

Van Jaarsveld reken egter as die vergadering hul groter roeping in die oog hou, ’n roeping groter as persoonlike standpunte, kan daar weer hande gevat word. Hy sien die herstel van vertroue tussen bedienaars en vertroue in die kerk as geheel as een van die grootste uitdagings vir sy termyn.

Juis hierin lê daar vir hom die opwindende potensiaal van die vind van gemeenskaplike doelwitte in die kerk.

Van die openingseremonie tot die erediens wat die eerste dag van die sinode afgesluit het was dit duidelik dat die onlangse rampe in die Wes- en Suid Kaap swaar rus op die kerk se gemoed. Tydens die opening is ’n minuut van stilte gehandhaaf vir die slagoffers van die storms in die Kaap sowel as die brande in die Knysna-omgewing. Kort daarna het die vergadering ook ‘n besluit goedgekeur dat die eerste aand se erediens in die Bothaville gemeente se kollekte sal gaan ter ondersteuning aan die slagoffers van die Knysnaramp.

Die vergadering strek van 11 tot 15 Junie by Nampo-park, Bothaville.

Parlement moet ontbind, vra SARK

Suid-Afrika se regering het sy morele legitimiteit verloor. Die Parlement het sonde gedoen in sy hantering van die Nkandla-sage. Daarom behoort die Parlement te ontbind en ’n nuwe verkiesing gehou te word. Dit is van die dinge wat die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke sê in ’n verklaring na afloop van sy driejaarlikse nasionale konferensie. Die volledige verklaring lui:


Statement of the 2017 Triennial National Conference of the South African Council of Churches, Benoni, June 6 – 8, 2017.

JOHANNESBURG: The South African Council of Churches (SACC) held its 2017 session of the Triennial National Conference at Kopanong, Benoni from Tuesday June 6 to Thursday June 8, under the theme of Nehemiah (2:17), “Come, let us rebuild… and we will no longer be in disgrace.”

Twenty-five (25) of the major churches in the country and a number of associate member churches were represented at the Conference covering all the traditions and expressions of faith from Catholics, African Independent and indigenous churches, Anglican, Methodists, Lutheran, Reformed, Evangelical, Pentecostal and Charismatic churches throughout the country. Accordingly, the SACC is the most representative churches organisation in the country. 

The Conference unanimously resolved, that the south African government has lost its moral legitimacy. The SACC’s Unburdening Panel Report revealed to the SACC, the systemic patterns of governmental wrongdoing in the design of inappropriate control of State systems through a power-elite that parcels out contracts and other opportunities for their circles against the interests of good governance and against the common good of the South African citizenry.

The stalemate on Nkandla, especially following the SACC meeting with the President, on the 15th December 2015, points to a serious breach of public integrity. The President’s stance in his defence on the matter of the expenses on his private home, seemed syndicated across government and the broad leadership of the governing party. The Minister of Police and other Government Ministers performed what seemed like a choreographed chorus in endorsing the President’s position.  

Parliament, the nation’s mandated representatives to supervise the conduct and performance of the Government Executive, seemed to have shared in the legal portion passed syndicated across the governmental establishment, in displaying complete moral bankruptcy in the execution of their responsibilities in upholding that laws of the Land.

Against these realities, the Conference concluded that the President has caused Parliament, the country’s representatives, and therefore the people of South Africa to sin. (1 Kings 14:16). In confirming the impropriety of their actions against the State, the Constitutional Court further ruled that The President‚ the Minister of Police and the National Assembly must pay costs of the applications including the costs of two counsel. 

These are for the SACC, areas of moral concern, not to mention the very fact that no one in government thought there was an issue of inequality, poverty and homelessness in justifying a personal household development bill of nearly R250 million. Nehemiah exclaims: “What you are doing is not wrong and morally bad. Should you not walk in the fear of God because of the reproach of the nations, our enemies?”  

The Prophet Ezekiel condemns shepherds who feed themselves and starve the flocks? He urge us too to condemn shepherds who eat the fat of the land, and clothe themselves, with the wool, slaughter the fatlings, but do not feed nor strengthen the weak sick, the broken, nor bring back what was driven away, the lost…, (Ezekiel 34:2-5)

In the light of all these, the Conference resolved to:

  1. Call for Parliament to be dissolved and fresh national elections be held to secure a fresh mandate based on acceptable values and on integrity.
  2. Convene a national convention that includes a broad base of South Africans to reflect on these matters and the way forward. This to provide the opportunity for a new consensus on national values, that will for once, help South Africa arrive at a common basis for a common, reconciled citizenship. This would of necessity have to address not only the governmental values and standards, but also how to hasten the establishment of a reconciled social and economic dispensation for the realization of the post apartheid promise of South Africa – a just, equitable, reconciled, peaceful, and sustainable South Africa, free of racist, tribalist, xenophobic and gender prejudices; free of corruption and deprivation, where every child born is free to develop to its God given potential. 

The Conference spent a lot of time both in a special commission and in plenary, deliberating about the scourge of the killing of women, some by their partners, and sad notion of corrective rape and killing of lesbians, as well as people with albinism. A special noontime devotion was conducted on this pain, led by Father Michael Lapsley, Director of the Centre for Healing Memories, together with Major Holmes of the Salvation Army. Some names of the recently murdered were read out symbolically for all those who have perished in this way. Special prayers for Lesotho and Israel Palestine we are also said.

The Conference resolved that churches must take up the struggle against gender based violence in earnest. Including addressing the sinfulness in this regard through the language, culture and practices in churches that may inspire and engender patriarchy and the reducing of the human dignity of women. “As the Church of Christ, we will pause to pray against the wanton killings of lesbians, people living with albinism and women.  What is the current church rhetoric on these issues when God’s heart bleeds?” said Bishop Siwa.

Conference had a number of commissions with resolutions for all the areas of the SACC campaign of The South Africa We Pray For – addressing poverty and inequality where the issues of education were dealt with as it is critical to fight inequality in the long terms. Conference dealt with the matters of the family life, economic transformation that includes the vexed land question, healing and reconciliation, and of course the challenge of anchoring democracy, where the governance issues belong. In this regard Conference follows the prophetic model of Prophet Jeremiah who, when the country was besieged and the economy in a serious junk status with land becoming of no value, bought land to generate hope and said: “For thus says the Lord of hosts, the God of Israel: “Houses and fields and vineyards shall be possessed again in this land.” (Jeremiah 32:15)

Conference elected a new National Executive Committee, with the Praesidium made up of: President – Bishop Zipho Siwa, Presiding Bishop of the Methodist Church of Southern Africa; Senior Vice President – Rev. Frank Chikane, International President of the Apostolic Faith Mission; Second Vice President – Ms Nomasonto Magwaza of The Ecumenical Service for Socio Economic Transformation (ESSET), an affiliate organization of SACC.

This Triennial Conference was graced by the presence of the representative of the World Council of Churches (WCC), the Archbishop Emeritus Anders Wejryd from Sweden, President of the WCC for Europe; the President of the Botswana Council of Churches, Bishop Metlhayotlhe Beleme; the General Secretary of the Council of Churches of Lesotho, Mr Koosimile Emmanuel Makubekube; three former Presidents of the SACC, Bishop Peter Storey, Bishop Mvume Dandala, and Bishop Jo Seoka; two former Senior Vice Presidents, Mrs Thabisile Msezana and Rev Joy Faith Kronenberg; and a former veteran staff member, Rev. Abraham Maja from Limpopo. Archbishop Emeritus Anders Wejryd encouraged the Conference in saying; “Your constitution governs. Your constitution was formed in a process involving many – so that it could serve and govern many. You as churches accept and hail the constitution. It reflects values which we together recognize as serving humanity and God’s will with us, and through us.” 

The SACC is determined and inspired by Nehemiah, to rebuild the nation to be a fully functional and equitable democracy. The SACC is committed to realize the pastoral mandate with God’s help; to pray and work for the restoration (1 Pet 5:10 -11) of the violated social structures and address the mismanagement of the nation’s resources. Thus in this context the church should restore hope in a hopeless and broken society. 

Die Liefdesargument

Ds Marcel Vosloo van die Strand skryf:

Die voorstaanders van gay verhoudinge se uitgangspunt is dat hulle standpunt liefde teenoor persone met dieselfdegeslag oriëntasie toon. Indien die Oorsprong van liefde (1 Johannes 4:8) homoseksuele dade verbied en  as “’n afstootlike sonde/’n afskuwelike sonde” aanwys, behoort ons sekerlik twee keer te dink voordat ons lynreg ‘n ander uitspraak hieromtrent maak.

In e-Kerkbode van 29 November 2016 vertel ‘n anonieme predikant dat hy op die ouderdom van 7 homoseksueel gemolesteer is. Dit het veroorsaak dat hy in ‘n lewenslange worsteling betrokke geraak het rondom sy seksuele oriëntasie. Ek is so dankbaar vir sulke erkennings. (So tussen hakies. Hy eindig sy brief met “En intussen sal ek die haters liefhê, want dit is ook die evangelie.” Om van die uitgangspunt uit te gaan dat persone wie die Skrif anders interpreteer “haters” is, is volgens die Evangelie veroordelend en liefdeloos.)

Navorsing toon dat seuns wat seksueel gemolesteer is, 4 tot 7 keer meer in selfdegeslagverhoudinge belangstel – 65% van die slagoffers meld dat dit ‘n uitwerking gehad het op hul seksuele identiteit (Bolton, Morris en MacEachron). Is dit reg dat Christene hulle blind hou vir feite soos hierdie? Vir gebeure wat hoogs traumatiese gevolge vir kinders tot gevolg het? Is dit liefde wanneer  die kerk ouers nie waarsku oor die moontlike uitwerking van homoseksuele molestering op hul kinders se geslagsoriëntasie nie?

Tydens ‘n besoek van my aan ‘n moeder wat ‘n paar maande tevore haar volwasse homoseksuele seun aan die dood afgestaan het, sê sy die volgende “Ai, hy was so ou pragtige seuntjie, selfs mooier as sy sussie, ek het  kleintyd altyd vir hom rokkies aangetrek en sy ou gesiggie opgemaak…” Ja, opvoeding is ‘n baie sensitiewe saak en om ’n ouer te wees, beteken jy gaan foute maak. Maar wat is die rol van die kerk hier? Moet ons vir ouers sê dat elke faset van die leiding wat jy aan jou kind in gee, gaan ’n uitwerking op die totaliteit van sy lewe hê?

Is dit volgens God se wil dat ons ons kinders sal grootmaak om die geslagsoriëntasie te aanvaar waarmee hulle fisiologies gebore is? Of moet ons ons kinders so grootmaak soos die LGBTi groep nou oorsee agiteer – as onsydig – totdat  die kind self later besluit watter geslag hulle wil wees? In watter mate neem ons kennis van a) die stryd/hartseer daarvan om oortuig te wees dat jy psigies anders is as wie jy fisies is; en b) om anders as die meerderheid van die bevolking, ‘n seksuele verhouding met jou eie geslag te begeer?

Navorsing het aangetoon die afwesige vader, ’n swak verhouding met die vader, oorbeskerming van seuns en egskeiding van die ouers tot ‘n baie hoër voorkoms van selfdegeslag verhoudinge lei. Sal die kerk dit ignoreer? Is dit liefde in aksie om hier voorkomend op te tree – om die waarde van ‘n stabiele huwelik en, in besonder, die vader se rol in die gesinslewe uit te lig? Is dit reg volgens die Woord se liefdeseis, of is dit ‘n betoning van liefde deur hieroor te swyg?

‘Ons en hulle’

In baie gemeenskappe waarbinne die kerk lewe, loop die spanning deesdae hoog. Dat huise op plekke afgebrand word en winkels geplunder word, is ’n verskriklike simp­toom van ’n diepliggende wantroue en vervreemding tussen “ons” en “hulle”.

Die evangelie is duidelik oor die rol van gelowiges in sulke situasies. Ons opdrag is om vir versoening te werk, om grense oor te steek met praktiese dade van liefde, om reg te laat geskied aan almal wat betrokke is, om sodoende heling te bring.

Jesus sê mos in die Bergrede: “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is.” En: “Geseënd is die vredemakers.”

Dit is nie maklike werk nie. Dit vra dat ’n mens jou trots in jou sak steek en dat jy die minste moet wees.

Jesus sê mos dat as jy besef jou broer het iets teen jou, moet jy jou gawe laat staan en eers gaan vrede maak. Dan kan jy teruggaan om jou gawe te bring.

Baie gemeentes doen reeds op verskillende maniere sulke versoeningswerk, maar baie meer daarvan is nodig.

Daarom is die geleentheid wat nou ontstaan het dat gemeentes, ringe en sinodes van die NG Kerk en die Ver­enigende Gereformeerde Kerk van grondvlak af kan begin verenig, iets wat aangegryp behoort te word.

Dis ’n manier om weg te beweeg van “ons” en “hulle” af na ’n groter “ons” toe.

As ons in ons gemeenskappe aanhou dink en praat van “ons” en “hulle”, van “ons” teenoor “hulle”, moet ons nie verbaas wees as huise en winkels en dorpe in vlamme opgaan nie.

Slegs as ons kan begin dink en werk in terme van ’n groter “ons”, waar almal mekaar dien, soos dit in die Ko­ninkryk van God behoort te gebeur, kan ons na ’n beter toe­koms uitsien.