Kerkbode

NG KERK BARRYDALE, WES-KAAP

Vakature: Bedienaar van die Woord – Vastetermynpos vir drie jaar
Sluitingsdatum: 31 Mei 2018.


GEMEENTEPROFIEL

Barrydale is ’n plattelandse gemeente geleë tussen Montagu en Ladismith op die R62-roete. Die gemeente val binne die Ring van Swellendam en bestaan uit 190 belydende en 36 dooplidmate.

LERAARSPROFIEL

Moet kan aanpas by plattelandse gemeente en gemeenskap. Aktuele prediking, pastorale werk, huisbesoek, ’n lewende belangstelling in jonger mense en kinders en ’n hart vir ouerwordende mense, is vir die gemeente baie belangrik.

WERKSPROFIEL

Artikel 9 van die Kerkorde vorm die basis van die dienskontrak. Spesifieke pligte sal bepaal word in onderhandeling met die kerkraad.

VERGOEDING

R250 000 per jaar (pensioen, medies en reistoelaag ingesluit).

Werkstyd: 75% van die normale werkstyd word vereis.

Pastorie beskikbaar met telefoon vir amptelike gebruik.

Beperking op munisipale dienste onderhandelbaar.

AANSOEK

Enige gelegitimeerde van die NG Kerk is welkom om aansoek te doen. (Proponente, leraars, emeritusleraars tot 67 jaar). Aansoekvorms is beskikbaar by die Skriba, NGK Barrydale, 028 572 1297 of 060 840 3909. E-pos ngkbarrydale@telkomsa.net (Kantoor­ure Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 08:00 tot 11:00).

SLUITINGSDATUM: 31 Mei 2018.

DIENSAANVAARDING: 1 Oktober 2018.

NAVRAE

Ds Willie van Zyl (Huidige leraar) by 082 873 0621.

Fanus Oberholzer by 082 893 1836.

Die kerkraad hou hom die reg voor om, sonder opgaaf van redes, geen aanstelling uit die aansoeke te maak nie.

NG GEMEENTE WESTVILLE

Vakature: Vaste leraarspos – Termyn van drie jaar
Sluitingsdatum: 17 Mei 2018.

In biddende afhanklikheid en leiding van ons God en Hemelse Vader stel die kerkraad die bovermelde leraarspos bekend.

Gemeente- en omgewingsprofiel:

Tussen die stad Durban en die Pinetowngebied is die voorstad, Westville, sentraal geleë en die gemeente bedien hoofsaaklik die groter Westvillegebied en omliggende areas. Met ’n oorwegend Engelssprekende gemeenskap word ’n eie prominente Afrikaanse identiteit gehandhaaf ten spyte van die feit dat ons ons kerkgebou en fasiliteite met die Westville Presbiteriaanse kerk deel. Die lidmateprofiel beskik oor ’n goeie balans tussen ouer en jonger lede, alhoewel daar ’n neiging is na ouer lede en gesinne. Daar is ook ’n goeie deursnit van professionele, besigheids-, afgetrede en jonger persone.

’n Nabygeleë hospitaal beskik oor geneeshere en ander mediese praktisyns soos verwag van ’n stad en die naaste Afrikaansmedium skool, Gelofte Skool, is sowat 12 km vanaf Westville-sentraal, in Pinetown geleë.

Westville-gemeente bestaan uit 322 belydende en 26 dooplidmate en klem word veral op gemeentebou gelê.

Die vakature ontstaan omdat ons huidige leraar op 1 Junie 2018 na die buiteland verhuis om sy roeping in God se diens, daar voort te sit.

Leraarsprofiel:

’n Persoon wat oortuig is dat die Heilige Gees hom/haar sal lei om aansoek te doen sodat hy/sy die gemeente sal begelei in ’n lewende verhouding met Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker.

’n Persoon wat verkieslik ten volle tweetalig is met ’n goeie luister- en fasiliteringstyl van leierskap wat die lidmate mobiliseer, bemagtig en verenig om hul gawes in die bediening van die gemeente uit te leef.

In spanverband met goeie verhoudinge en persoonlike kontak ouer en jonger persone sal besoek en begelei.

Netwerkvorming met verskeie rolspelers in die gemeenskap en groter “Kerk” is ’n vereiste.

Ampspligte sal nakom soos omskryf, met Art 9 van die Kerkorde as riglyn.

’n Persoon wat onder leiding van die Heilige Gees, Skrifgetrou, dinamiese Woord- bediening en prediking baseer op die gereformeerde leer.

Wat betrokke is by gemeente-aktiwiteite en kan help met die vestiging van toepaslike gemeentestrukture.

’n Goeie aanvoeling vir sang- en musiekbediening het.

Wat beskik oor goeie multimediavaardighede en die gebruik daarvan tydens eredienste.

Vergoeding:

Die vergoeding is gebaseer op die totale koste van indiensneming en is onderhandelbaar binne die sinodale riglyne vir vergoeding tot die maksimum van posvlak 6.

’n Subsidie vir behuising word voorsien.

Aansoeke:

Moet vergesel word van ’n volledige CV en kontakbesonderhede van drie referente.

Geliewe daarop te let dat daar van aansoekers verwag sal word om ’n vraelys, wat elektronies aangevra moet word by die ondervermelde e-posadres, te voltooi.

Kandidate moet vir onderhoude en preekbeurte beskikbaar wees. Aansoeke kan gerig word aan die Saakgelastigde:

Per pos: Posbus 164, Westville 3630

Per e-pos: ngkwestville@absamail.co.za

Per faks: 031 266 7479.

Navrae:

Kan telefonies gerig word aan ouderling, bemoeid met gemeentebou, Mike Conradie, by 082 561 3870 tydens kantoorure en 031 262 1486 na-ure.

Sluitingsdatum: 17 Mei 2018.

Algemeen:

Daar kan van kandidate op die kortlys verwag word om tydens die onderhoud ’n multi­media-aanbieding te lewer aan die hand van ’n onderwerp soos vooraf gereël.

Die beroepingsvergadering sal na 15 Augustus 2018 plaasvind waarna die suksesvolle kandidaat, diens aanvaar met ingang 1 Oktober 2018.

Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling uit die aansoeke te maak nie.

NG GEMEENTES FAURESMITH EN JAGERSFONTEIN (IN KOMBINASIE)

Vakature: Vastetermynpos vir ’n termyn van twee jaar
Sluitingsdatum: 15 Mei 2018.

Die kerkrade van Fauresmith en Jagersfontein wag in biddende afhanklikheid van die Here, aansoeke in vir die pos van bedienaar van die Woord.

Gemeenteprofiel:

Die taak van die leraar behels om beide gemeentes te bedien vir ’n effektiewe evangeliebediening. Beide gemeentes funksioneer onafhanklik.

Fauresmith en Jagersfontein is twee aangrensende plattelandse gemeentes (afstand tussen die twee dorpe is 11 km) in die sinodale gebied van die Vrystaat en is onderskeidelik 131 km en 120 km vanaf Bloemfontein. Fauresmith bestaan uit 175 belydende en 27 dooplidmate (vyf plaaswyke en vier dorpswyke). Jagersfontein bestaan uit 162 belydende en 24 dooplidmate (twee plaaswyke en vyf dorpswyke).

Leraarsprofiel: Die leraar moet

• Die gemeente bedien met Artikel 9 van die Kerkorde as taakomskrywing.

• ’n Duidelike roeping van die Here ontvang het om sy/haar werk hier te kom doen.

• Bereid wees om in ’n plattelandse gemeenskap betrokke te wees deur persoonlike kontak en huisbesoek.

• Onderneem om elke Sondag in beide gemeentes ’n erediens waar te neem.

Vergoedingspakket:

• ’n Vergoedingspakket volgens sinodale skaal 3 word aangebied.

• Reiskoste volgens sinodale skaal.

• Huisvesting: Gratis verblyf in pastorie.

• Toelae vir munisipale dienste en telefoon.

Aansoeke:

• Aansoeke moet vergesel word van ’n volledige CV, twee onlangse getuigskrifte sowel as die name van vier referente.

Sluitingsdatum: 15 Mei 2018.

• Kandidate moet beskikbaar wees vir ’n onderhoud, en/of preekgeleentheid.

• Die pos is beskikbaar vanaf 1 Januarie 2019.

Stuur aansoeke aan:

Die Skriba, Posbus 77, Jagersfontein 9974. Telefoon 082 775 0940. E-pos: ngkjf@lantic.net

Navrae kan gerig word aan: W Loftus, tel: 082 778 9928 of ds C Potgieter, tel: 083 276 4742 of J Vermeulen, tel: 082 924 3147.

Die kerkraad behou die reg voor om sonder opgaaf van redes nie ’n aanstelling/beroep uit enige van die aansoekers te doen nie.

Die Lydingsvraagstuk (Teodisee)

Ds Stefaan de Jager van Humansdorp-Oos skryf:

Die lydingsvraag klink min of meer só: “As God dan ’n liefdevolle God is, waarom is daar so baie haat, dood en lyding in die wêreld en as God dan Almagtig is, waarom doen Hy nie iets aan die sonde en lyding in die wêreld nie?” Dis sekerlik een van die moeilikste vrae in die teologie om te beantwoord.

Dis belangrik om net in ag te neem dat lyding en swaarkry nie voor God se deur gelê kan word nie, omdat dit die vrug van die sondeval is. Ons as mense is hiervoor verantwoordelik. Die vraag bly egter steeds waarom die Here dit nie in sy liefde stopsit nie. Hy het immers alle mag in hemel en op aarde om dit te doen.

Die werklikheid is dat ons nie weet hóékom die Here nie die leed, smart en pyn nou alreeds stop nie. Die groter werklikheid is dat die Here vir ons wys hóé om daarmee saam te leef.

Die werklikheid is die lyding wat nog onverstaanbaar met ons is. Die groter werklikheid is dat hierdie lyding my nie meer van die liefde van God kan skei wat daar in Christus Jesus ons Here is nie (Rom 8:35-39).”

Bettie vertel van die werklikheid van haar seun se dood; haar rumatoïede artritis; haar man wat op 64-jarige ouderdom bankrot gespeel het. Sy het ook nie die antwoord waarom die Here nie hierdie dinge gekeer het nie. Die groter werklikheid is egter haar deel. Sy kyk by die venster uit met sagtheid in haar oë. “Al sou ek oor baie dinge in die lewe twyfel, sal ek nooit twyfel dat die Here my liefhet nie.”

Twee ouers vertel van die verdrinking van hul driejarige kind. Die werklikheid is dat hulle ook nie weet waarom die Here dit nie gekeer het nie. Die groter werklikheid is dat die troos in die Here groter geword het as die vrae en die hartseer.

’n Jong ma maak haar drie kinders alleen groot. Die werklikheid is dat sy ook nie verstaan waarom die Here nie gekeer het dat haar jongste ’n verstandelik gestremde seuntjie is nie. Die groter werklikheid is dat Jesus saam met haar oor haar seuntjie huil soos wat Hy oor die dood van sy vriend Lasarus gehuil het!

Kon God, met respek gesê, dan nie in sy almag ’n ander plan gemaak het om ons te red as sy Seun se lyding aan die kruis nie? Hy kon, maar Hy het nie, dis die onverstaanbare werklikheid. Die groter werklikheid is dat daar deur sy wonde vir my genesing gekom het.

Kerk en samelewing

Philip Kriel van Kaapstad skryf:

Kerk en samelewing – dis ’n lewenstyl wat ons nie meer ken nie. Deesdae kan ons maar liewer praat van samelewing met skelms. Dis mos wat ons beleef. Die voorskrifte wat bevat is in die riglyne van geloof, is gedegenereer tot “wat kan ek daaruit kry”.

’n Tyd gelede is daar ’n stelling gemaak in ’n televisieprogram dat wêreldwyd die tendens van meeste politici is om te mik om dié pos te beklee vir wat hulle daaruit kan kry en nie omdat hulle die gemeenskap beter wil dien nie.

In die afgelope dekade of wat gaan ons SA-samelewing gebuk onder dié neiging van die meeste politici. Of hoe voel ons samelewing oor dit wat ons ervaar het? Ek stel dit dat ons dit ervaar hét want nou het ons, hopelik, ’n nuwe bedeling onder ons nuwe president.

Dit het my hart verbly om die gelukwense van dr Gustav Claassen aan ons nuwe president in Kerkbode van 2 Maart te lees. Daar was myns insiens in die termyn van ons vorige president niks om hom voor geluk te wens of selfs sy optrede te kondoneer nie. Met hierdie goeie wense het die kerk weer aanknoping gemaak met die seer geagte heer.

En met die aanknoping wat Claassen se skrywe geskep het, wil ek dit graag stel dat dit die kerk se plig is om ook staatsamptenare te vermaan wanneer hulle so openlik met slinkse skelmstreke optree. Ons word herhaaldelik in die Bybel aangespreek om ons broe­ders te vermaan. Dis ons plig en dus ook veral die plig van ál die kerke in SA om weer die konsep van Kerk en Samelewing te vestig. Die een kan nie sonder die ander oorleef nie. En dit sluit myns insiens al die NG Kerke van al die rasse en al die Christelike kerke wat tog een God dien, in.

So: geluk aan pres Ramaphosa. Mag hy ook op sy knieë sy dagtaak aanpak en bou aan ons reënboognasie. Ja, dis tyd dat ons pres Mandela se droom verder voortleef. Maar sonder Godgelowiges sal dit maar moeilik wees, want dit is mos maar ’n menslike neiging om net jou eie potjie te krap.

Hier is ’n oorsig oor kern­aspekte van missionaliteit

CULTIVATING MISSIONAL CHANGE: THE FUTURE OF MISSIONAL CHURCHES AND MISSIONAL THEOLOGY

Deur Coenie Burger, Frederick Marais, Danie Mouton (redakteurs)

Uitgegee deur Bybel-Media, 2017


Dit was met groot opgewondenheid dat ek Cultivating missional change begin lees het. Die waarde van hierdie boek lê in die kwaliteit, omvang en diversiteit van die 27 artikels wat redaksioneel in een werk saamgevoeg is.

Die oorgrote meerderheid artikels is referate wat gelewer is tydens die konferensie met die tema “The future of missional churches and missional theology” in Januarie 2015 in Stellenbosch. Enkele aanvullende artikels is gedoen deur gespreksgenote wat nie by die konferensie teenwoordig kon wees nie en deur kundiges wat op versoek die gesprek inlei tot sekere kritiese temas wat verdere navorsing en nadenke verdien.

Artikels word in vyf afdelings aangebied. Deel 1 (hfst 1-3) bevat, naas die inleiding, ’n motivering vir die missionale gesprek in Suid-Afrika en ’n evaluering van die impak van hierdie gesprek op kerke en kerklike strukture in Suid-Afrika.

Die ses artikels in Deel 2 (4-9) ondersoek die verloop van die missionale beweging in verskillende ker­ke en op verskillende kontinente, naamlik Suid-Afrika, die VSA, Engeland, Duitsland en Denemarke.

Deel 3 (10-14) fokus op die wêreldwye invloed van die missionale beweging op denominasies en groter sisteme. Persone wat belangstel in die transformasieproses van sisteme as sodanig, sal die twee artikels deur Pat Keifert (13) en Nelus Niemandt (14) waardevol vind om te lees.

Die eerste twee artikels van Deel 4 (15-16) bied ’n kritiese refleksie op toekomstige uitdagings wat die missionale beweging teologies en prakties in gedagte sal moet hou. Die derde artikel in hierdie afdeling (17) bied ’n samevatting deur Coenie Burger van die be­lang­rikste temas wat tydens die konferensie aan­ge­spreek is.

Deel 5 en 6 bevat 10 verdere artikels oor sleutelaspekte binne die missionale gesprek wat verdere navorsing verdien. Die vyf temas van Deel 5 (18-22) fo­kus op temas wat verband hou met die voortgesette ontwikkeling van die missionale teologie, terwyl Deel 6 (23-27) vyf verdere temas aanraak wat verband hou met die praktiese transformasieprosesse van missio­nale vorming.

Cultivating missional change is ’n moet vir enigeen met ’n hart vir ’n Christelike lewe en kerk wat gewortel is in die missio Dei en in die lewe van die Triniteit. Nuwe gespreksgenote vind in een werk ’n oorsig oor al die kernaspekte wat met die teologie en praktyk van missionale vorming verband hou. Gespreksgenote wat reeds diep in die missionale beweging ingekoop het en gewortel is, sal waarskynlik veral artikels wat fokus op nuwe ontwikkelings in die voortgesette teo­logiese gesprek en transformasieprosesse baie insig­gewend en waardevol vind.

▶ Dr Gert Cordier is ’n leraar by Randfontein-Noord. Hy het sy PhD gedoen oor die kernkapasiteite wat nodig is vir die vorming van leraars as missionale leiers.

Die vraag is hóé God teenwoordig is

In die 13de eeu het Thomas Aquinas die opmer­king gemaak dat die ontsaglike diversiteit en pluri­formiteit van die skepping God beter ver­teen­­woor­dig as enige skepsel alleen. Die skepping ver­­­­teenwoordig God.

Ek lees ook Job 12, waar God vir Job sê: “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel, of praat met die aarde dat dit jou leer en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê. Wie van hulle weet nie almal dat die hand van die Here alles gemaak het nie?”

Soos wat ons na enige kunswerk kan kyk en die wese van die kunstenaar daarin kan raaksien, kyk ons na die skepping en sien die wese van die Skepper. Die ganse skepping getuig van God. En terwyl ek David Attenborough se Planet Earth en The Blue Planet dokumentêre kyk, beleef ek die evangelie dat God werklik goed ge­skep het. Hoe langer en hoe dieper ek die kunswerk bestudeer, hoe duideliker sien ek die Kunste­naar daaragter. En ek besef dat as ek werklik vir God wil ken, ek die wetenskap ernstig moet opneem.

Die afgelope tyd dwaal my ge­dagtes herhaaldelik na nog ’n aanhaling wat aan Aquinas toegeskryf word: “’n Fout oor die skepping sal lei tot ’n fout oor God.” Wanneer ons dít wat wetenskaplikes vir ons leer oor die kosmos nie ernstig opneem nie, maak ons foute oor wie God is. Dan skep ons vir God na ons beeld.

Wanneer ek die vestigiale tekens van evolusionêre ont­wikkeling aan my eie lyf miskyk, tekens soos dié van die palmaris longus en die klein spiertjies wat my ore so effens kan beweeg, verstaan ek nie wat ek bedoel wanneer ek bely “ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde” nie.

Om die skepping ernstig op te neem, is egter nie ’n ligte saak nie. Dit beteken dat die goeie saam met die slegte aanvaar word. Dat dieselfde prosesse van tekto­niese beweging wat lewe op aarde moontlik maak ook dodelike tsoenami’s en aardbewings veroorsaak. Hoe is God betrokke by hierdie prosesse? Hoe is God be­trok­­ke in ’n wêreld waar die fondament van alle mate­rie kans en onsekerheid is, soos Heisenberg uitgewys het?

Hoe meer ek worstel met hierdie vrae, hoe dieper vind ek myself geborge in die misterie van wie God is. Die vraag “hoe is God betrokke?” is vir my belangrik. Die vraag is nie “is God betrokke?” nie. In die woorde van die Psalmskrywer vra ek ook: “Waar sal ek vlug om u teenwoordigheid te ontkom?” God is ten volle teen­­woordig in sy skepping. Die vraag waarmee ek sal aanhou worstel en waarin ek meer en meer van God ontdek, is: “Hoe?”

Ds Marius Schoombie is predikant van die NG gemeente Suidkus in KwaZulu-Natal.

Clarens se predikers leer Bybel lees

In Clarens in die Oos-Vrystaat leer onopgeleide predikers uit swart kerke wat oral opgeskiet het, deesdae hoe om die Bybel te lees.

Volgens prof Dons Kritzinger, afgetrede sendingwe­tenskaplike van Tukkies, het ’n golf van Gees-kerke daar, soos op ander plekke, opgeskiet. Dis kerke wat op een of ander manier beïnvloed is deur die Pinkster- en Charismatiese bewegings se dinamiese groei. Kerkies, huisker­kies, familiekerkies, maar ook groot megaker­ke.

Dié kerke het ten minste een ding gemeen: Die leiers het geen teologiese opleiding ontvang nie. Die pro­­bleem is dus dat die kerklike rivier in Afrika, soos ie­mand dit gestel het, baie breed vloei, maar ook onrusbarend vlak.

’n Jaar of wat gelede was die tyd ryp om iets hieraan te doen, sê Kritzinger. Hulle het begin om ’n Veritas-kursus vir kerkleiers en aktiewe lidmate aan te bied. Uit die vreemdste kerklike oorde het mense aangemeld vir die weeklikse klasse van module 1 wat gefokus het op enkele van Paulus se briewe (wat natuurlik die karakter het van lering en vermaning).

Die idee is om die beginsels van verant­woordelike Skrifinterpretasie vas te lê om só by die eintlike boodskap van die bepaalde gedeelte te kom. Hulle is nou al besig met die tweede module, die Ou-Testamentiese verhale, en getuig almal van die persoonlike verryking om die Bybel volgens sy bedoeling te benader.

Veritas College, sê Kritzinger, het in die negentigerjare tot stand gekom toe dr Bennie Wolvaardt, destyds ’n NG predikant in Londen, gekonfronteer is met die behoeftes van die kerke in die Derde Wêreld, maar ook in Oos-Europa. Hy het ’n kursus ontwikkel wat op gefundeerde maar eenvoudige wyse leiding gee oor hoe om die verskillende genres van die Bybel te benader ten einde die oorspronklike boodskap van die Bybel­skry­wer vir vandag te verstaan.

Hierdie kursus is na die mense toe geneem, in die konteks van die kerk. Vandag word kursusse met groot vrug reeds in 40 lande in die wêreld gefasiliteer, waar­van Suid-Afrika een van die grootste deelnemers is.

Die kerke in Clarens is volgens Kritzinger opgewonde hieroor, en wil graag aanbeveel dat gemeentes ook in ander dele van die land hierdie geleentheid sal aangryp.

– Vir meer inligting oor Veritas College, en hulp om kursusse van die grond te kry, skakel met ds Ivan Skinner van die Suid-Afrikaanse kantoor in Stellenbosch by ivan@veritascollege.org, of besoek hulle webwerf by www.veritascollege.org

Hier is die Andrew Murray-prysfonds se wenners

Die 2018-wenners van die pryse en toekennings van die Andrew Murray-prysfonds, is pas aangekondig. 

  • Die Andrew Murrayprys vir ʼn algemeen-Christelike publikasie in Afrikaans is gewen deur André Pretorius vir sy boek, Geloof alleen, uitgegee deur Naledi. Die beoordelaars beskou dié werk as ʼn “totale verrassing”. Deur die Kerkhervorming van 500 jaar gelede uit die hoek van reisverhale te beskou, gebruik die skrywer ’n kreatiewe aanpak wat ’n rits ryk perspektiewe op dié sleutelera in die kerkgeskiedenis ontsluit. Waar die Hervorming dikwels bloot uit die hoek van kerkleer bespreek word, is hier ’n wye kyk wat uiteindelik vra hoe dit die lewe van mense, van gemeenskappe en van generasies raak. Hoewel dit oor ernstige stof gaan, het die boek ’n ligte aanslag. “Dis lekker om saam met André en klein Daniel (sy seuntjie) te reis,” meen die beoordelaars. Hulle is Neels Jackson, redakteur van die Kerkbode, prof Jan-Albert van den Berg van die Vrystaatse Universiteit, en dr Ernst van der Walt, emeritus-predikant. Pretorius is ’n prokureur wat in Londen werk.
  • Die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Christelike en vakwetenskaplike teologiese publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, is gewen deur Louis Jonker vir sy boek, Defining All-Israel in Chronicles, uitgegee deur Mohr Siebeck. Die beoordelaars wys daarop dat Jonker “die hermeneutiese lens van identiteit” toepas in die interpretering van die Bybelboek Kronieke. Hy ondersoek op voortreflike wyse die voordele en beperkings van verskillende sosiologiese modelle. “Dit is ’n werk van puik akademiese navorsing van die hoogste kwaliteit,” skryf die beoordelaars. Hulle is prof Mary-Ann Plaatjies-Van Huffel van die Universiteit Stellenbosch en drr Lodewyk Sutton en Tanya van Wyk van die Universiteit van Pretoria. Prof Jonker is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, is gewen deur Pierre du Plessis vir sy boek, Jesus ruik na mirre en stof, uitgegee deur Lux Verbi. Die beoordelaars skryf dat hierdie boek besonders is omdat dit nadruk lê op die menslikheid van Jesus wat dikwels onderbeklemtoon word ter wille van sy Goddelikheid. “Kortom: eerlike, maar verwonderde gesels in vars Afrikaans oor ’n saak wat duidelik na aan die hart en emosie van die skrywer lê. Die verrassende invalshoek van Du Plessis is sowel intellektueel stimulerend as geestelik verrykend.” Die beoordelaars is dr Hetta van Niekerk, opvoedkundige sielkundige van George, en prof Johan Cilliers van die Universiteit Stellenbosch.
  • Twee toekennings word ook gemaak. Die Andrew Murray-FAK-toekenning vir Christelike Musiek gaan aan Pieter H van der Westhuizen vir sy groot bydrae tot veral die Afrikaanse koormusiek, en ’n Spesiale Andrew Murray-toekenning word gegee aan Timo Crouse vir sy rol in die verspreiding van die Bybel, die bevordering van die Christelike boek en sy aktiewe betrokkenheid by die Andrew Murray-prysfonds sedert die stigting daarvan 40 jaar gelede.

Die pryse en toekennings word op 25 Mei by Neethlingshof in Stellenbosch oorhandig.

NG GEMEENTE DIE STRAND

Vakature: Leraarspos
Sluitingsdatum: Dinsdag, 23 April 2018.

In afhanklikheid van die Here nooi ons leraars uit om aansoek te doen vir die leraarspos.

Gemeenteprofiel:

Die Strandgemeente bestaan uit sowat 900 lidmate. Waar die Strand in hoofsaak ’n aftree- en vakansiedorp is, bestaan ons gemeente grootliks uit senior burgers. Daar is drie aftree oorde binne gemeentegrense – hulle word deur ’n leraar in ’n termynpos bedien. Die gemeente is baie aktief en ons poog om almeer lidmate betrokke te maak by omgeegroepe.

Pligte:

Skrifgetroue prediking, pastorale ondersteuning en sistematiese huisbesoek is vereistes vir die pos. Verder die normale take volgens die kerkorde.

Verdere Aanbevelings:

Leraars wie breedweg tien tot twintig jaar bedieningservaring het, kan aansoek doen. Bewese gemeente inisiatiewe wat tot gesonde gemeentes – gemeentegroei – gelei het, sal in aansoekers se guns tel.

Vergoeding:

’n Pakket volgens sinodale skaal. Daar is nie ’n pastorie nie – daar word wel ’n huissubsidie voorsien.

Aansoeke:

Aansoeke moet vergesel word van ’n CV, twee onlangse getuigskrifte en die kontakbesonderhede van drie referente.

Leraars wie op die kortlys kom, moet die pre-advieskommissie van ’n onlangse preek op DVD kan voorsien en beskikbaar wees vir ’n onderhoud.

Aansoeke kan per e-pos gestuur word aan die skriba van die kerkraad: Sunet.pentz@gmail.com

Sluitingsdatum: Dinsdag, 23 April 2018.

Diensaanvaarding: Verkieslik 1 Augustus 2018.

Lutherane kan NG Kerk help

Frank Ehmke van Nelspruit skryf:

Ek het met belangstelling die berig in Kerkbode van 12 Februarie gelees dat die Lutherse Kerk nouer same­wer­king met die NG Kerk verlang, onder meer die moontlikheid dat hulle in die toekoms NG predikante kan beroep.

Die ooreenkomste tussen die twee kerke is baie meer as die verskille, soveel so dat daar miskien in die toekoms selfs oor eenwording gedink kan word. So iets sal darem nie oornag gebeur nie.

Die Lutherse Kerk is baie meer ingestel op eksegese (Bybelteksuitleg) as die NG Kerk. Dit is ongelukkig so dat sommige NG predikante en gemeentes ’n charismatiese streep het en dat preke neig na ’n soort “geestelike vermaak” eerder as aanbidding en onderrig. Daar is sowaar steeds goeie gelowiges wat buite per­spektief glo die aarde staan op pilare. Vroue moet ook kinders baar om gered te word – 1 Timoteus 2:15.

Daar is ook baie NG lidmate wat steeds die Bybel misverstaan en nie kan begryp nie dat die NG Kerk met selektiewe Bybeltekste gruwelik gesondig het met sy hantering en bevordering van apartheid. Hoe het die groot teoloog Karl Barth nou weer gesê: “The Bible is always right but is our understanding thereof always right?”

Die Lutherse Kerk aanvaar ook gays en selfdegeslag­huwelike. Biskop Eva Brunn, hoof van die Lutherse Kerk in Swede, is kerklik en burgerlik getroud. Sy het ook kinders wat na verneem word in haar kerk gedoop is. Miskien kan die Lutherse Kerk die NG Kerk leiding gee met sy gay-probleem. ’n Mens kan darem nie help om te wonder wat die NG Kerk gaan doen wanneer die wetenskap bo alle twyfel bewys dat homoseksua­liteit ’n normale neuro-genetiese verskynsel soos links­­handigheid is nie. En boonop in die hele skepping voorkom – onder voëls, visse, insekte, diere en wat nog meer.

Ja, ek bid vir my kerk, soos ek ook met apartheid vir haar gebid het.

Gebruik die app: Pray-as-you-go

Jesus nooi ons in ’n eerstehandse verhouding met Hom: “Kom hier, kom saam met My …”

In hierdie leer-ken-van-Jesus speel die tot rus kom by Hom en die leer luister na die Woord ’n baie belangrike rol. Ons het grootgeword met ’n in­for­matiewe lees van die Bybel. Die doel is dan om die Bybel beter te leer ken, om informasie uit die Bybel te kry. Ons word egter uitgenooi om die Bybel ook op ’n formatiewe manier te lees – vanuit die verhou­ding met Hom. Dan gaan dit oor die luister na Hom aan die hand van ’n teks. Dit gaan oor transformasie.

’n Handige instrument wat ons hiermee kan help, is die “Pray-as-you-go”-webtuiste en -app. Ek het so 15 jaar gelede hierop afgekom en gebruik dit gereeld.

Pray-as-you-go is ’n webtuiste en app van die Je­suïete in Londen. Die Jesuïete, ook bekend as “the So­ciety of Jesus” is ’n religieuse orde in die Katolieke kerk. Die Orde is begin deur Ignatius van Loyola in 1540. Die Jesuïete werk as onder meer priesters, onderwysers, akademici, skrywers, me­die­se dokters. Die Jesuïete fokus sterk op God se teen­woordig­heid nou hier by ons. Jesus staan vir hulle sentraal.

Die Pray-as-you-go-webtuiste en -app bied ’n daag­­likse meditasie oor ’n Skrifteks. Dit wil jou innooi om aan die hand van die teks self God se stem vir jou te hoor. Dit volg Lectio Divina se manier van luister na die Skrif. Dit duur omtrent 12 minute.

Die meditasie bestaan uit ’n klokkespel, sang (kore oor die hele wêreld – ook uit Suid-Afrika), Skrif­lesing, vrae wat jou uitnooi om na te dink, ’n tweede lees van die Skrifteks, met nog ’n vraag vir re­fleksie.

Ek kan dit van harte aanbeveel. In ons haastige besige lewe soek ons na tot-rus-kom-plekke vir ons hart … Pray-as-you-go kan so ’n plek vir jou wees. Besoek dit by https://www.pray-as-you-go.org/ of laai die app af op jou selfoon.

▶ Ds Gys van Schoor is verbonde aan die Sentrum vir Geloofsvorming.

Twee getuienisse

Tienie Prinsloo, emeritus van Heidelberg, Gauteng, skryf:

Met verwysing na dr Henk Gous se artikel oor selfdegeslagverhoudings (Kerkbode, 26 Januarie), is dit die behoefte van my hart om oor twee “gevalle” te getuig waarmee ekself te doene gehad het.

Jare gelede het ’n jong onderwyser teenoor my bely dat hy gay is. Ek het hom met begrip en liefde beraad en daarop gewys dat Jesus hom kan help in die lig van Matteus 11:28-29.

Ons het saam gebid en die Here gevra om hom te help.

’n Jaar later besoek hy my in my nuwe gemeente en verras my deur sy nuwe bruid aan my te kom voorstel. Later jare het hy weer kontak gemaak en genoem dat hy die pa van drie kinders is.

In my studentejare het ’n vriend teenoor my erken dat hy gay gebore is nadat ek hom daaroor gekonfronteer het, omdat hy toenadering tot my gesoek het.

Ons het vir ’n tyd kontak verloor, maar ’n paar jare later het ons mekaar by ’n funksie ontmoet en het ek verneem dat hy getroud is. Hy vertel toe dat dr Andries Gous, predikantsielkundige, hom beraad het en selfs terapie toegepas het deur te reël dat hy met dames, wat daartoe ingewillig het, uitgaan. Dit het hom gehelp om die angs wat hy oor die teenoorgestelde geslag ervaar het, te bowe te kom. Hy is toe uiteindelik met een van hulle getroud.

Jare later het ons sy gesin ontmoet met vier pragtige dogters. 

Vir God is alle dinge moontlik, as ’n mens net gewillig is om Hom daarvoor te vertrou.

Vier dekades al wen Lebone saam

“Ons leuse is: ‘Saam wen ons in Jesus naam’,” sê Hermien König, vrou van professor Adrio König en projekleier van die Lebone Gemeenskapsdienspunt by die NG Kerk Lyttleton.

“Die hoofdryfkrag vir die ontstaan van Lebone, was om die liefde van Jesus te deel  met vroue wat baie minder as ons het, hulle lewe te verryk en hulle in staat te stel om hulle inkomste aan te vul,” vertel sy. “Ons teikengroep is huisbediendes. Hulle is een van die mees verwaarloosde groepe in ons samelewing.” 

Wat besonders is van hierdie projek, is dat dit al meer as veertig jaar aan die gang is. Hulle maak klere, daar is lees-en-skryfklasse, en sake soos noodhulp, vigs en veiligheid en werkloosheidsversekering kry alles aandag.

“Die werk is nie altyd maklik nie, maar ek kan net juig om saam met onderwy­se­resse en assistente in ’n span te werk. Vir my is dit ’n droomspan,” sê sy.

Die spannetjie wat leer lees en skryf, groet skaam-vrien­delik. Hulle sit saam met hulle onderwyseres, Jo Pelster, om die groot konsistorietafel. Vandag leer hulle alles van rigting.

Hierdie twee uur lange klas elke Donderdag is vir hulle baie kosbaar.

Peti Adam is al 20 jaar by die naaldwerkklas betrokke. Sy help ook af en toe klasgee.

 “Daar is nooit ’n tekort aan idees as daar vir iemand ’n geskenkie gegee moet word nie,” lag sy.

“In my tyd van siekte was hierdie klas my behoud,” vertel Virginia Machaba. Florenca Fele het soveel vaardighede by die klasse aangeleer dat sy met haar werkge­wer se dogter se troue die bruid en die bruid se ma se rokke kon maak. Die klas het ook hulle eie lekeprediker, Emily Ngo­beni. Sy is prediker by Agapé Victorious Worship Church.

Dan is daar die werkloses. Hulle situasie kontrasteer sterk met die aktiwiteit in die saal. Hulle sit geduldig en wag op die verhoog om ingeroep te word vir werkregistra­sie. Daar word probeer om vir hulle werk te kry en vorms word ingevul. Pick n Pay Mall, met wie Hermien ’n oor­een­koms het, voorsien kos, maar groot bedrae moet uit die donateurs se bydraes verhaal word om tekorte aan te vul.

’n  Bonussie: Daar is al van die vroue op daguitstappies geneem. Dit was vir hulle wonderlik. Een van die hoogtepunte was om vir die eerste keer in ’n hotel te eet. Om ’n gas en nie ’n werker te wees nie.

“Halleluja. Hy is baie goed vir ons,” sê Hermien.

Ek skud my kop

Marinda Cox, Sinodale Evangelisasie, VGK Noord-Tvl, skryf:

Ek skud maar net my kop in ongeloof as ek so na die beloofde land (Ga-Rankuwa) se artikel in die onlangse Kerkbode, 16 Februarie 2018, kyk. Vir jare en jare swoeg en sweet ons om sendingwerk te doen, bou kerke, versprei Bybels, kos, klere en wat ook al daarmee gepaard gaan en een of twee plaaslike gemeentes wat dit amper nie kan bekos­tig nie, reik ons die hand.  Die Here voorsien nog altyd in ons behoeftes.  Nooit dik stukke koek nie, maar ook nooit net krummels nie. Net genoeg! Die Liewe Vader weet hoeveel het ons nodig en hoeveel kan ons vermag. Ek vra maar net, want dit is nie vir my om te sê wat u mag en nie mag doen met u fondse nie.

My ondervinding is dat almal met vuur inspring by ’n projek en na sowat vyf jaar sit almal met hulle voete by die vuur. Soveel keer moes ek hoor: “Mma Coxie, maar die kerk het met soveel beloftes gekom en waar is hulle nou?” Daar is VGK-gemeentes wat letterlik bars om elke maand net te oorleef en ons help waar ons kan met beperkte fondse en dan praat ons nie eens van ons eie mense se nedersettings nie.

Ek gun hulle hulle beloofde land maar wat van ou, gevestigde gemeentes en sendelinge wat swaarkry en ook veg om oorlewing?  Waar die behoefte aan kos voorkeur kry bo die aankoop van ’n Bybel. “Mma Coxie, hoe moet ons Bybels koop as ons nie eens geld het vir kos nie?”

Ek kan maar net sê: “My hulp is van die Here” en dui­send dankies aan ons donateurs met oop hande en harte.

Om te gee is beter as om te ontvang

In die Kaap val ’n glas water aan die ontbyttafel om en die graad R-dogtertjie gaan aan die huil oor die vermorsing van water. Die droogte en waterkrisis in die Kaap het diep in die gemoed van ons almal kom lê. Daar gaan amper nie ’n gesprek tussen vriende en kollegas verby sonder dat ons daar­oor praat nie.

Ja, ons het eers ontken, toe begin vinger wys na Stad Kaapstad se bestuur wat nie die tekens reg ge­lees het en vroegtydig maatreëls in plek gestel het om Dag Zero te voorkom nie. Dit is opgevolg met woe­de oor die duidelike politiekery oor die saak. Is dit onmoontlik vir politici om iets anders te doen as die politieke munt uit alles te probeer slaan? het men­se tereg woedend gevra. Toe het daar ’n weerlo­se magteloosheid tussen ons kom lê. Wat gaan ons maak as Dag Zero regtig aanbreek?

En toe kom daar uit die bloute die aankondiging van die Groenland-watervoorsieningskema uit Gra­bouw dat hulle 10 miljoen kubieke meter water loslaat sodat dit uiteindelik gepomp kan word in die Bo-Steenbrasdam om beskikbaar te wees vir gebruik in Stad Kaapstad se waterstelsel (Kerkbode, 2 Maart 2018).

As gevolg hiervan kon Dag Zero met ’n paar we­ke aangeskuif word tot 9 Julie. Die gebaar het ons ge­meenskap diep geraak. Die radiostasie Kfm het binne dae die samewerking van kunstenaars gekry om ’n gratis musiekkonsert in Grabouw aan te bied om dankie te sê. Ons het begin verstaan dat Dag Zero voorkom kan word as ons bereid is om te deel.

Dink jou ’n bietjie in hoe die gesprek moes gaan om die tafel toe die besluit geneem is. Vir die eerste keer in die geskiedenis loop die Eikenhofdam nie oor nie, die droogte vang hulle ook, hulle sal moet begin om versigtig te werk met hulle water. Ekoloë voorspel dat ons in die Kaap ons gereed moet maak vir ’n langtermynvermindering in reënval. Moet ons nie maar, gegee ons omstandighede, eerder opgaar en die water hou nie?

Goed wetend van die risiko indien daar nie vroeë reën val nie, besluit Johan Groenewald en sy be­stuur hulle gaan oorvloedig skenk. “Hoe kan ons nie deel nie as daar aan die ander kant van die berg ’n tekort is en ons genoeg het om te kan deel?” ver­dui­delik hulle nederig aan almal wat navraag doen.

En dit is nie net hulle wat so dink nie; met die droogte in die Vrystaat ’n paar jaar gelede het Suid- en Wes-Kaap se boere mildelik gehelp met voer. Met die Knysna-brande, het die Vrystaatse Sinode spontaan en mildelik gegee vir die rampfonds. Intussen het daar verskeie sulke inisiatiewe ontstaan wat mense help om hulle bronne met mekaar te deel.

Om te kla verander niks nie, om vinger te wys nog minder, om kwaad te wees en kwaad te bly is ’n vermorsing van energie. Om te deel, maak ’n verskil. Dit gee hoop. Om te gee is inderdaad beter as om te ontvang en beslis beter as om op te gaar.

Dr Frederick Marais is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.